Skrifberyming 50

Skrifberyming 50

1.  O grote Christus, eewge Lig,
niks is bedek vir u gesig,
wat ons bestraal waar ons ook gaan,
al skyn geen son, al blink geen maan.

2.  Toon ons u goedheid en u mag
deur u beskerming hierdie nag;
wil in die donker oor ons waak,
sodat geen plaag ons tent genaak.

3.  Verkwik ons deur 'n soete rus,
dat ons mag werk met nuwe lus;
laat ook ons luisterende oor
die nag se diepe wysheid hoor.

4.  Leer ons om in die lewensnag
verlangend op u koms te wag,
daar ons in stil vertroue leef
dat U ons al ons skuld vergeef.

5.  Beskerm ons in die bange tyd
van sielsversoeking en van stryd;
help as die Bose ons bestry
dat hy oor ons geen voordeel kry.

6.  Bewaar die Kerk wat nou nog stry,
en wil haar onder kruis verbly;
vertroos die neergeboë hart,
genees die krankes in hul smart.

7.  O Vader, laat u liefde ons blyk;
o Seun, maak ons u beeld gelyk;
o Gees, send u vertroosting neer;
Drie-eenge God, U sy al d'eer!