Skrifberyming 35

Skrifberyming 35

1.  O dieptes vol geheimenis
wat vir ons oog onpeilbaar is!
O wysheidsbron en kennis wat
die som van alle dinge omvat!
Nog dieper as die hemelrond
is God se oordeel, sonder grond.
En dieper as die diepste seë,
so onnaspeurlik is sy weë.

2.  Het ooit 'n mens of hemeling
in Gods gedagtes deurgedring?
Of wie is daar so groot van gees,
dat Hy sy raadsman ooit kan wees?
Wie 't eers aan God so 'n guns bewys
dat hy van Hom vergelding eis?
Wat is by God, so onvolprese,
die mens dan in sy waarde en wese?

3.  Uit Hom - die Bron van alle goed;
deur Hom - wat alles dra en voed;
tot Hom - die eind van al wat streef,
wat is en word, wat roer en sweef,
tot Hom is alle dinge wat
Hy met een wilsgreep gans omvat,
Aan Hom, die God wat ewig lewe,
sy ewig lof en eer gegewe.