Sb 6

Skrifberyming 6

1.  Oor die kruis neersinkend, bid Hy:
"Vader, ag vergeef hul dit,
want hul weer nie wat hul doen nie."
As Hy so sy bede bid,
dan weerklink daar, slag na slag,
hamerhoue van die wag.

2. Aan die moord'naar, haas verlore,
word die hoogste guns bewys:
"Hede sal jul met My saam wees
in die vredesparadys."
Dan troos vrede in volle vloed
die verbryselde gemoed.

3.  By die kruispaal staan Maria,
en Johannes word haar kind:
deur die kruiswoord: "seun" en "moeder",
word sy aan sy sorg verbind.
En hy't haar, van nooddruf vry,
al sy liefde toegewy.

4.  Middagklare son word duister:
deur die duister noodgeskrei:
"O my God, my God en Helper,
waarom tog verlaat U My?"
Jesus sink, na sware stryd
in die dubb'le donkerheid.

5.  In 'n wêreldwye dorheid,
met 'n brandend-droë bors,
roep die Heer van alle dinge,
Skrifvervullend: "Ek het dors!"
En hul het Hom in sy wee
edik uit 'n spons gegee.

6.  Toe die offerwerk verby was,
na Gods hoë ordening,
het die Heer, sy daad deurgrondend,
uitgeroep: "Dit is volbring!"
En, die hoof omlaag gebuig,
het Hy sterwend dit betuig.

7.  Laaste en luide roep van Jesus,
en dan skei Hy uit die vlees:
"Vader, in u veil'ge hoede,
in u hande ontvang my gees."
Aardse en helse raserny
snel ontwykend, is Hy vry.