Artikel 8 - God is een Wese en onderskeie in drie Persone

Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse ondeske dat hierdie drie Persoon slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid af in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16; Joh. 1:14; Miga 5:1.