Christus verwag dat ons lewens elke dag geestelike vrugte sal oplewer

Minister: 
Ds. GF Mnisi
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-04-10
Text: 
Markus 11: 1-14
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, In die somer het ons ‘n oorvloed van groente en vrugte. Gestel dat in die wintertyd ‘n kind onder ‘n wynstok staan en huil omdat daar geen druiwe aan die wingerd is nie. Hierdie kind verstaan nie en kerm dat die wingerd geen vrugte dra nie. Hoe kan dit dan enigsinds ‘n wynstok genoem word, as dit nie druiwe dra nie?

Ek neem aan dat u aan die kind sal verduidelik dat dit inderdaad ‘n wynstok is maar dat dit nog nie druiwetyd is nie. Dis nie die seisoen vir druiwe nie. 

Broeders en susters ons kan saamstem dat vrugte soos mango’s, waartlemoen, perskes, druiwe ens. kom alleenlik in die Somer op ons vrugteboorde voor. Dit is dus onwaarskynlik dat jy in die wintertyd van hierdie vrugte sou kon oes. Dit sou daarom vreemd wees as iemand enige van die vrugte in oorvloedige mate beskikbaar sou wees gedurende die koue winterseisoen. ‘n Mens sou kon sê so ‘n persoon is onkundig is. So iemand vertoon die gedrag van ‘n kind wat huil omdat daar geen druiwe aan die wynstok is nie. ‘n kind wat duidelik nie van beter weet nie. 

Geliefde gemeente, dit is presies wat ons Here Jesus Christus ook doen in die teks. Ek wil dit benader en ek sê dit met ‘n gevoel van onsteltenis, omdat ek hoor dat sommige mense Jesus openlik simpel en kinderagtig noem. Ek sou liewer sulke uitlatings vermy, as om so van onse God en Vader te praat. 

Die Here doen hier in ons teks iets ongeloofliks. Hy gaan na die vyeboom  en verwag vrugte, terwyl Hy weet dat dit nie die seisoen vir vye is nie? Dit is vreemd. Jy sal nooit vye aan ‘n vyeboom vind as dit nie die tyd vir vye is nie. Dieselfde vir ons vandag, ons kan nie al die vrugte op die mark verwag as dit winter is nie. 

Maar onthou geliefde gemeente, ons praat hier van die Een wat alles geskep het, alles wat sigbaar is en bestaan. Die Een wat alle bome geskape het asook die tyd wanneer daar vrugte gedra word. Die Here het dit alles geweet, dit was nie onkunde van Hom om vrugte te verwag nie. Hy het geweet dat dit nie die tyd daarvoor was nie, daarom stem ek nie saam met ‘n verklaring wat meen dat Jesus op soek was na ‘n klein/vroeë vruggie wat alreeds in sy vroeë stadium eetbaar is nie.  

Broeders en susters, dit is ‘n doelbewuste teleurstelling met ‘n spesiale doel; en dit is om ‘n belangrike punt te laat deurskemer vir die dissipels en Jode in Jerusalem. ‘n Belangrike doel ook vir ons vandag. Dit is my doelwit om vanaand saam met u by hierdie lewensbelangike les stil te staan.    

EK verkondig aan u: 
Christus verwag dat ons lewens elke dag geestelike vrugte sal oplewer
1. Omdat Hy die saad in ons harte geplant het
2. Omdat Hy dooie hout in SY heiligdom vernietig 

1. Omdat Hy die saad in ons harte geplant het

Ons lees in vers 11 dat Jesus in die tempel ingekom het na sy triomfantelike intog in Jerusalem.  Omdat dit al laat was, het Hy rondgekyk en na die stad Betanië vertrek, bes moontlik na die huis van Lasarus wie Hy opgewek het uit die dode. 

Ons lees verder; Die volgende dag is Jesus oppad na Jerusalem vanaf Betanië. Jesus os honger. Hy het van ver af die vyeboom gesien, nader gekom en onderrsoek of Hy vrugte aan die boom kon vind. Hy het slegs blare gevind (13), “want dit was nie die tyd vir vye nie.” As gevolg hiervan het Jesus die boom vervloek en gesê, “Laat niemand in der ewigheid van jou ‘n vrug eet nie!”. Ons lees verder dat die vyeboom die volgende oggend verdroog was van sy wortels af. (20)

Waarom het Jesus die vyeboom vervloek? Markus sê tog duidelik dat dit nie die seisoen vir vye was nie. Broers en susters, Jesus het dit gedoen, soos ek reeds in my inleiding genoem het, om ‘n punt te maak aan die Jode en ons vandag. 

Jesus het in Jerusalem ingegaan gedurende die tyd van die Pasga. paasfees-naweek. Ons weet dit is ‘n belangrike Pasga, want Hy sou self as Paaslam vir ons sondes aan die kruis sterf. Ons lees in vers 11 dat, “Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel”. Dit was ‘n groot tempelhof. Wat het Jesus verwag om hier te vind? 

Ons weet vanuit die Ou Testament, dat hier in die tempelhof ‘n plek was om die Here te aanbid, in Jesaja 56: 7 lees ons “hulle sal ek bring na my heilge berg, en ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.“ Hierdie vers herhaal Jesus dan in vers 17 van ons teks.

Jesaja verwys hier na die heidene wat gekom het om in die tempel te aanbid. Hulle was toegelaat tot die tempel, maar beperk tot waar die handelaars ook kon kom. Jesus het mense verwag wat sou bid in die voorhof, maar inpleks daarvan het Hy hierdie heidene gevind wat nie in die ander dele van die tempel kon kom nie. 

Broeders en susters, in hierdie voorhof was daar dus veronderstel om aanbidding en lof offers aan die Here te wees. Jesus het verwag om God se kinders, gebroke van gees en verslae harte, wat vir die Here bid, dien en eer. Hier was veronderstel om priesters te wees wat die volk begelei hoe om die die Here te dien en die verskeie rituele aan die volk te verduidelik. Daar was veronderstel om stapsgewyse begeleiding te wees volgens die voorskrifte van die Wet. 

Jesus het verwag om priesters te vind wat aan die volk verduidelik hoe die geregtigheid en regverdigheid van die Here verwag dat sondaars moet sterf vir hulle sondes, en dat dit alleen deur die Genade van die Here is, dat die sondaars vergewing van hulle sondes ontvang.

Broeders en susters my punt is dat Christus, in die paar dae voor paasfees, verwag het om mense te vind wat dankbaar was vir God en die aanbidding van Hom in die tempel, mense wat die Here dien en eer.

Ons lees in vers 11: “Jesus het in Jerusalem ingekom en in die tempel.” Wat dink u het Jesus hier gesien? Moontlik nederige sondaars wat hulle sondes bely en wat dan deur entoesiastiese priesters die evangelie van God se Genade aan hulle verkondig?

Het hy dankbaarheid gewaar op die sondaars se gesigte vir die verlossing van God? Nee, geliefde gemeente, hy het slegs handelaars gevind wat hulle produkte verkoop het!

Christus het aanbidders gevind wat net geld wou maak. Die tempel van God was verneder tot iets soortgelyks soos die Johannesburgse Effektebeurs of die Wêreldhandelsentrum. Glad nie meer ‘n huis van godsdienstigheid en dankbaarheid nie.  

Die volgende oggend lees ons oor die episode met die vyeboom. Hier lê ‘n verbintenis met die vorige gedeelte. Jesus Christus gee vir ons ‘n gelykenis in aksie. Ek glo dat al die wonders van Jesus werklik gelykenisse in aksie is. Ek sê dit, nie om die historiese waarheid van die wonders van Christus in twyfel te trek nie, maar ek glo dat met die wonders, Christus ‘n boodskap gehad het vir sy volgers. En in hierdie geval het Hy die geestelike afval van die kinders van Israel ontbloot en dit het baie te doen met wat hy die vorige dag in die tempel gesien het. 

Dit is waar gemeente as ons verstaan dat as ons kyk na die Ou Testament, dan is die vyeboom ‘n teken van die Here se seën oor Israel. Vyebome was baie algemeen in Israel en die Midde ooste. Hierdie bome het groot blare en bied genoegsame skaduwee teen die warm son. 

Vyebome dra ook heerlike vrugte, twee keer ‘n jaar, dit is besonder, is dit nie? Hier in Suid-Afrika dra die meeste vrugtebome slegs een keer per jaar, maar die vyeboom dra twee keer ‘n jaar, ongeveer Junie en Septembermaand.

Op hierdie manier word die vyeboom ‘n simbool van vrede en oorvloed, vanweë die seën van God op die vrug. In Deut 8:8 beskryf God die beloofde land aan die kinders van Israel deur te sê, “’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome,..”

As daar gepraat word van die vrede in Israel tydens die heerskappy van Koning Salamo, skryf die skrywer van die boek 1 Konings, “waar Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom,..” (1Konings 4: 25).

Die profeet Miga spreek oor die Messiaanse Ryk en die vrede wat sou kom, “en hulle sal van hulle swaarde pikke smee  en van hulle spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek”. (Miga 4: 3c-4).

Die profeet Sagaria spreek dieselfde in sy profesie oor Christus, “In die dag, spreek die Here van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom.” (Sagaria 3: 10).

Broeders en susters, dit is presies dieselfde rede dat ‘n vrugtelose, of dooie vyeboom, die teken is van vervloeking. Met die verbond sluiting van God met die volk Israel, beloof God ook dat daar plae, siektes sal wees en dat die bome van die velde geen vrugte sal dra nie (Deut 28). Dit is vir hierdie selfde rede wat Jeremia skryf, “Saamskraap, wegraap sal Ek hulle, spreek die Here. Daar is geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie”. (Jeremia 8: 13). 

Die Here sê deur Amos, “baie van julle tuine en julle wingerde en vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.” (Amos 4: 9). ‘n Vrugtelose boom is ‘n teken van vervloeking van God. 

Jesus het nou vir 3 jaar gepreek en is oppad om te sterf aan die kruis. Hy kom die die stad Jerusalem binne waar die tempel is. Dit is die plek waar verlossing aan alle mense bekendgemaak moet word. Dit is die plek waar die gemeente van Christus hulle offers moet bring uit dankbaarheid. Jesus vind hier presies die teenoorgestelde.

Die volgende oggend sien Jesus vanaf ‘n afstand ‘n vyeboom met blare as ‘n simbool van God se seën, net soos die tempel ook ‘n teken is van God se seën. As Jesus nader aan die boom kom, sien hy geen vrugte nie, net blare, net soos die tempel. Jesus bestraf die boom, “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ‘n vrug eet nie!”

Die tempel was baie mooi en wonderbaarlik om te sien. Ons lees in hoofstuk 13, dat Jesus se dissipels die tempel dopgehou het vir die skoonheid daarvan. Christus verseker hulle dat geen enkele steen sal oorbly van die tempel nie, alles sal afgebreek word. (Markus 13:1). Ons weet dat hierdie geskiedenis plaasgevind het ongeveer in die jare 70nC. 

Broeders en susters, seuns en dogters, ek wil aan julle verkondig dat hierdie tempel afgebreek was as gevolg van die onvrugbaarheid en geestelike verval van die volk Israel. Ek verduidelik dit verder in die tweede punt.

Die gedeelte leer ons om nie seisoenale Christene te wees nie. God verwag vrugte elke dag. Christus het verwag om vye te vind aan die boom, al was dit nie vyetyd nie. Soos ek reeds gesê het, dit was ‘n doelbewuste teleurstelling, Christus het geweet dat Hy nie sou vye kry aan die boom nie, maar Hy het nogtans die boom vervloek. Dit was vir die Jode en vir ons onderskeidelik gewees, sodat ons geestelike vrugte elke dag moet voortbring. 

Ons moet ‘n lewe leef wat God behaag elke dag. Ons het van hierdie lewe gelees uit die boek Galasiërs, waar die Apostel Paulus skryf, “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie,“ (5: 16). Die woord “wandel” as dit verduidelik word uit die oorspronlike teks, dan het dit die konnotasie om jou in jou lewe te gedra en jou lewe in te vul volgens die Skrif en daarvan ‘n gewoonte te maak.

Dit beteken dat ons in die Gees leef elke dag. God is by ons elke dag, in die week, by die huis, by die skool, by die werk. Die vrugte van die Gees moet duidelik sigbaar wees in ons lewens. 

Dit doen ons nie deur ons eie krag nie, maar wandel in die Gees beteken dat ons vashou aan die Heilige Gees. Die Gees laat ons die vrugte dra elke dag. Laat ons ons harte nie verhard nie. Moenie die Gees dooddruk in jou hart nie. 

Christus het vir 3 jaar aan sy volgelinge die evangelie verkondig en ons weet uit die Evangelie van Johannes dat Hy die tempel meer as een keer besoek het. Selfs hier in ons teks wil die Here nog steeds die evangelie van God verkondig, nadat Hy die vyeboom vervloek het en die tafels van die handelaars omgekeer het. Hy haal aan uit die Ou Testament om die volk te herinner en te wys op hulle vrugtelose dade.

Wat doen die mense? Het hulle berou oor hulle dade en gryp die evangelie van Christus aan. Nee! Ons lees, “En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring, “(vers 18). ‘n Vrugtelose en onvrugbare nasie, geen tekens van vrugte nie. Jesus het geen keuse gehad as om met hierdie aksie hierdie optrede te vervloek nie.

En dit bring ons dan by my tweede punt.

2. Omdat Hy dooie hout in SY heiligdom vernietig 

Die volgende dag, na die reiniging van die Tempel, terwyl Jesus en sy dissipels op pad was van Betanië na Jerusalem sien Petrus die boom wat verdroog was. Die boom was verdroog vanaf sy wortels af.  (20-21) Hier sal geen lewe meer in kom nie.

Wat is die betekenis hiervan, sal u wonder. Hierin is ‘n les vir die volk Israel en selfs vir ons. U onthou dat ek aan u gesê het dat die boom vervloek is om die vrugtelose en onvrugbaarheid van die volk Israel uit te wys.

Die volgende vraag wat u mag vra is, waarom het die boom tot in sy wortels verdroog? Die Here kan tog die boom vrugteloos maak sonder om die boom heeltemal te vernietig?
Die Here het die boom vervloek sodat,  “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ‘n vrug eet nie!” Dit was dus nodig dat die hele boom uitgewis moes word. 

Jesus Christus verseker nie net daar nie van die vrugtelose boom geëet word nie, dit is weer ‘n gelykenis in volle aksie. God verwag vrugte van ons en as Hy dit nie ontvang nie sal Hy ons volkome vernietig in die toekomstige oordeel.

Maar dit is ook belangrik om die teks binne konteks te verklaar. Die vervloeking van die vyeboom vanaf verse 12 – 14 word onderbreek deur die tempelreiniging vanaf verse 15 – 19. Dan die verduideliking en vervolg van die vervloeking van die vyeboom wat ons wys om te luister na die woorde van Jesus, “Jesus antwoord en sê vir hulle; Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur- hy sal verkry net wat hy sê.” (22,23) 

Broeders en susters ek verkondig aan u dat die berg waarvan Jesus praat hier in die teks is dieselfde berg waarop die Tempel gebou is, met ander woorde die berg Sion, die huis van die Here.  

Jesus verwys na die vernietiging van die Tempel van Jerusalem wat werklik plaasgevind het 70nC. Soos ek genoem het in my eerste punt.

Nou weet ons dat Jesus Christus nie werklik kinderagtig is om die vyeboom te vervloek nie, soos ek in my inleiding genoem het. Hy leer ons ‘n waardevolle les hier. Kom ons wees op ons hoede om die seisoenale Christene te wees nie. Kom ons dra geestelike vrugte soos die Apostel Paulus ons leer in die boek Galasiërs 5: 21. Kom ons wandel in die Gees dag vir dag. 

Dit is alleenlik moontlik as ons op Christus ons hoop stel en op Hom bou wie die werk van verlossing vir ons volbring het aan die kruis, en Wie dit ook ten volle sal voleindig.

1. Welgeluksalig is die man,
    wat nie wandel in die raad van die goddelose
    en nie staan op die weg van die sondaars
    en nie sit in die kring van die spotters nie;
2. maar sy behae is in die wet van die Here,
    en hy oordink sy wet dag en nag.
3. En hy sal wees soos ‘n boom wat
    geplant is by waterstrome, wat sy vrugte
    gee op sy tyd en waarvan die blare nie
    verwelk nie; en alles wat hy doen, voer
    hy voorspoedig uit.

Amen

Liturgie: 

Votum
   Sing Psalm 121:1

Seëngroet:
Genade vir u en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe geeste wat voor sy troon is en van Jesus Christus die getroue getuie die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen

Sing: Psalm 106:1-2

Gebed

Lees:
   Markus 11:11-26;
Sing Psalm 46:6
   Galásiërs 5:16-26;
Sing Skrifberyming 14:2 

Teks:
   Markus 11:1-14

Preek

Amenlied:  Sing Psalm 2:1-2

Gebed

Apostoliese Geloofbelydenis: Skrifberyming 71

Kollekte

Sing Skrifberyming 24:6-7

Seëngroet:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee
Amen