Die nagmaal soos die Here Jesus dit bedoel het

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-10-16
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 16 Oktober 2016 AD, 17:30
(nagmaal)

Votum

Seën

Ps 145:10

Gebed

Nagmaalsformulier
(kort)

Gebed

Sb 28:1-4

Aan tafel: Skriflesing:
Lukas 22:14-38; Johannes 6:48-59

Aan tafel:
Ps 145:11,12

Dankgebed

Teks: Heidelbergse
Kategismus Sondag 29

Preek

Ps 145:3,4

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 138:4

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 29

Vandag mog
ons nagmaal vier. En ook in die preek vanaand skenk ons aandag aan die nagmaal.
Ek verkondig u die evangelie met hierdie tema:

Tema: Die nagmaal soos die Here Jesus dit
bedoel het

1 Nie towery nie, maar geloof

2 Rotsvaste beloftes

1 Nie towery nie, maar geloof

Sondag 29 skenk
aandag aan hoe Jesus die nagmaal
bedoel het. Sondag 29 verduidelik dit teen die agtergrond van die skeefgroei
wat in die Roomse kerk plaasgevind het. Daardie manier het nie meer
ooreengestem met die Here Jesus se bedoeling nie. En vervolgens gaan Sondag 29
terug na die Bybel self, om daaruit af te lei wat wel die bedoeling was. Nou is
die opskrif bo die eerste punt van die preek vanaand: nie towery nie, maar
geloof. Dit is eintlik in ‘n neutedop die boodskap van Sondag 29. Die Roomse
manier kom neer op towery. Die Bybelse manier vra geloof.

Die nagmaal
is nie towery nie. Die brood verander nie in vleis nie. Die wyn verander nie in
bloed nie. Dit was die Roomse gedagte. Die kerkgangers het vorentoe gekom na
die priester. En versigtig het die priester ‘n stukkie brood op die tong van
elke kerkganger geplaas. So het elkeen ‘n stukkie van die Here Jesus binne
gekry. So het jy deel gekry aan die Here Jesus. So het jy ook deel gekry aan
die vergewing van sondes, wat Hy aan die kruis verdien het. Dit kan mens towery
noem. Deur die sakrament, die feit dat die priester ‘n stukkie brood op jou
tong lê, daardeur het jy die vergifnis letterlik ingekry. Hulle het hierdie
denkwyse op Jesus se uitspraak gebaseer, toe Hy gesê het, daardie aand toe Hy
die nagmaal ingestel het: dit is my liggaam. Ons het dit weer gelees vanaand
uit Lukas 22. Dit het Jesus letterlik gesê. Dit is my liggaam. Dus, word daar
geredeneer, die brood moes wel sy liggaam, sy vleis, wees. En het Jesus nie in
Johannes 6 gesê: Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe? My
vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.  Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My
en Ek in hom. (Joh 6:54-56)

Maar,
gemeente, Sondag 29 lê hierdie uitsprake anders uit. Want as jy na die konteks
kyk, is daar niks wat aanleiding daartoe gee dat Jesus se uitsprake so verklaar
moet word asof daar toe ‘n wonder gebeur het nie.

Asof daardie
aand toe Jesus met sy dissipels aan tafel was, die brood daar in vleis verander
het. Ja, Jesus het baie wonders verrig toe Hy op aarde was.

Maar daardie
aand het Hy nie ‘n wonder verrig nie. Hy het die nagmaal ingestel, en wat Hy
gesê het, het Hy oordragtelik, oftewel simbolies bedoel.

Net soos die
ander keer toe Hy byvoorbeeld gesê het: Ek is die lewende water. Dit is almal
uitsprake met ‘n simboliese betekenis. Of toe Jesus gesê het: Ek is die deur
vir die skape. Ook dit moet ons nie letterlik opvat nie.

Vraag en
antwoord 78 vergelyk dit ook met die doop, die ander sakrament.

Die water
word nie die bloed van Jesus nie, maar simboliseer wel sy bloed.

Soos water
die vuil van jou liggaam afwas, so was Jesus se bloed die sonde uit jou liggaam
weg. V/a 78 sê: by die doop word die water nie verander in die bloed van
Christus nie. Die doop is ook nie die afwassing van die sondes self nie. Maar
dit is ‘n simbool, ‘n teken, ‘n waarborg daarvan.

En dieselfde
geld nou ook vir die nagmaal. Brood en wyn word nie letterlik vleis en bloed
nie. Dit bly tekens daarvan. En dit is tipies vir ‘n sakrament.

Die
bedoeling van ‘n sakrament is dat dit ons aandag volledig op iets anders rig. Sien
jy die brood en wyn, dan dink jy aan Jesus se vlees en bloed. Dan dink jy aan
Christus aan die kruis. Daarom is dit, gemeente, nie towery nie, maar geloof. Jy
sien brood en wyn hier op tafel staan. As jy dit sien, dink jy dadelik aan
Jesus. En dan glo jy, dat Jesus sy liggaam en bloed vir my en jou gegee het. Soos
brood en wyn my liggaam voed, so voed Jesus my siel.

Soos die
formulier sê: Hy voed my vir die ewige lewe. Dit is dus ‘n geloofskwessie. V/a
79 sê: nie die brood en wyn nie, maar sy gekruisigde liggaam en bloed is die egte spys en drank, waardeur ons siel
tot die ewige lewe gevoed word. Net soos brood en wyn ons liggaamlike lewe
onderhou, so onderhou Christus se liggaam en bloed ons ewige lewe.

Gemeente,
wat gebeur nou as jy sonder geloof
nagmaal vier? Eintlik heel eenvoudig: daar gebeur niks nie. Jy kom sit, jy eet ‘n stukkie brood, jy drink ‘n slukkie
wyn, jy kyk bietjie rond. En dit was dit. Dit doen jou verder niks nie. Want
die nagmaal is nie towery nie. Die brood en wyn sal nie ‘n uitwerking op jou
hê, as jy nie glo nie. Sonder geloof nagmaal vier baat jou niks nie. Dit skaad
jou eerder. Soos ons gelees het, dan word jou oordeel net swaarder.

Maar as jy glo dat brood en wyn ‘n geestelike
betekenis het,  as jy glo dat Jesus jou van jou sondes reinig,
 dan gebeur dit ook.

Dit is dan
ook die rede, gemeente, hoekom die nagmaal net bedoel is vir belydende lede. Hulle
wat reeds onderskeidingsvermoë het, geestelike onderskeidingsvermoë. Dit gaan
nie net daaroor dat jy ‘n stukkie brood eet en ‘n slukkie wyn drink, en dit
saam met die ander nie. Dit gaan daaroor dat jy dit ook moet doen vanuit die
besef van wat die Here Jesus vir jou gedoen het. Om nagmaal te vier, vereis ‘n
volwasse geloof. Nagmaal vier op sig baat jou niks, soos gesê, dit sal jou
eerder skaad. Nagmaal vier in geloof,
dit is wat jou voed en verkwik, soos die formulier sê. Dus nogmaals, nagmaal
vier is nie ‘n vorm van towery nie, dit moet gebeur vanuit ‘n volwasse geloof.

2 Rotsvaste beloftes

Voordat ons
gaan kyk na hierdie rotsvaste beloftes, eers nog dit. Die tema vir vanaand lui:
Die nagmaal soos Jesus dit bedoel het.  Dit
is belangrik dat ons onsself afvra of ons hierdie fees wel so vier. Kyk, ons
kan natuurlik jaar in jaar uit luister na preke uit die Heidelbergse Kategismus
wat oor die nagmaal handel, Sondae 28 -30,  Sondag waarin haarfyn die verskil verduidelik
word tussen die Roomse mis en die Protestantse nagmaal.

Ons kan elke
keer weer kritiek lewer op die Roomse kettery met betrekking tot die nagmaal. Maar
kyk ons elke jaar, as dit oor die nagmaal handel, ook wel krities na onsself? Vergelyk
ons die praktyk, hoe ons nagmaal
vier, ook elke keer met die maatstaf van die Bybel? Ek is daarvan oortuig dat
daar ook ‘n groot verskil is tussen ons manier van nagmaal vier en soos die
Here Jesus dit ingestel het. Nie dat ons manier heeltemal verkeerd is nie, maar
die manier waarop ons dit vier kan mens wel ‘n verarming noem.

‘n
Verskraling. Jesus het brood gebreek en aan die dissipels uitgedeel.

Die
uitdrukkig brood breek, dui nie op
dit wat ons doen nie, maar dit dui veral daarop dat hulle saam ‘n maaltyd
genuttig het. Hulle het nie net ‘n piepklein stukkie brood geëet nie. Verder
het Jesus tydens die nagmaal gesprekke met sy dissipels gehad. Dink aan dit wat
ons uit Lukas 22 gelees het, die gedeelte oor wie die grootste en die kleinste
sal wees in die koninkryk, byvoorbeeld.

En die feit
dat hulle van een brood geëet het, het gesimboliseer dat hulle ‘n eenheid
gevorm het, ‘n hegte gemeenskap. Maar tydens ons viering het ons geen gesprekke
nie. Dit is moontlik dat die persoon langs jou ‘n slapelose nag gehad het, of
propvol sorge is, maar aan die nagmaal kom jy niks daarvan agter nie. Elkeen
sit hier met gladgestrykte gesigte. Dit is, gemeente, ‘n verarming vergeleke
met die oorspronklike bedoeling.

Die
gemeenskaplike element het baie verskraal. Dit het ‘n bekende ritueel geword.

En agteraf
word daar maar weinig nagepraat oor die wonder van die offer van Christus. Daar
sal eerder nagepraat word oor iets wat toevallig verkeerd geloop het tydens die
viering. Is dit dan verbasend dat baie mense nie werklik lus is om kerk toe te
gaan, daardie Sondag as daar nagmaal gevier word nie?

Dit is hoog
tyd dat ons met mekaar hieroor besin. En dan praat ek nie oor vernuwinge nie. Ek
dink ‘n ander woord is meer op sy plek: verbeteringe.

In die kerk,
in die erediens, behoort nie iets verander te word nie, tensy dit ‘n
verbetering is. Verbetering hou onder andere in dat ons terugkeer na die
oorspronklike bedoeling, waarvandaan ons met ons manier van viering afgedwaal
het. Dit was naamlik Christus se bedoeling dat die nagmaalsviering die mense
juis aan Hom sal laat dink. Dat ons, indiwidueel maar ook saam, daarop fokus. En
dan praat ons oor die rotsvaste beloftes, die tema vir die tweede punt van die
preek. Kyk, die nagmaal het wat dit betref dieselfde funksie as die doop. Die
doop is ook ‘n rotsvaste belofte.

God beloof
vir die gedoopte: Net soos water jou liggaam skoonwas, so sal die bloed van my
Seun jou sondes wegwas. Elke keer as jy vir vergewing in sy Naam bid, sal Ek jou
sondes vergewe en vergeet. Dit beloof Ek vir jou, by jou doop. ‘n Rotsvaste
belofte.

En so werk
dit ook by die nagmaal. As jy hier voor in die kerk sit, en jy eet die stukkie
brood. As jy die beker vat, en jy neem ‘n slukkie wyn. Dit is handelinge wat
duidelik sigbaar is. Jy kan dit met jou videokamera opneem, jy kan later
terugkyk hoe jy dit gedoen het. Dit is ‘n duidelike feit.

Nou, sê God,
net so ‘n rotsvaste feit is dit wat Ek vir jou beloof, maar wat jy nie met jou
oë kan sien nie. Naamlik, dat jou sondes vergewe word.

Dat jy die
ewige lewe sal ontvang.

Want,
gemeente, wat sien ons van die toekoms met ons oë? Niks nie.

Wat kan ons
van die toekoms op ons videokamera vaslê? Niks nie!

Al wat ons
sien, is die hede. Die hede is nie altyd rooskleurig nie.

Sommiges van
ons het die afgelope week ‘n geliefde gesien, wat gesterf het.

Dit is die
laaste wat ons van iemand sien. Maar as ons die Bybel lees, dan lees ons wel
baie mooi dinge oor die toekoms. Oor ‘n ewige lewe, oor die hemelse
heerlikheid. Oor ‘n nuwe aarde, waar daar vrede sal heers. Waar daar geen dood
sal wees nie. Dit is die dinge wat die Bybel beloof. Maar met ons gewone oë
sien ons dit nie. En juis daarom het Jesus gesê:

Hou veral
aan om nagmaal te vier, totdat Ek terugkom.

Want wat ek
beloof, is rotsvaste beloftes. Elke keer as jy saam brood eet, elke keer as jy
dieselfde beker deel: dink dan aan wat Ek beloof het.

Dat dit waar
is. Daardie heerlike toekoms kom. Dit is net ‘n voorsmakie, aan die
nagmaalstafel. Maar die heerlike toekoms moet nog kom, en dit gaan kom. Verseker.

 

En, sê v/a
29 ten slotte, jy hoef nie te twyfel oor of jy ook daarby gaan wees nie. Alhoewel
jy sondig is, is dit vir God nie ‘n belemmering nie. Want Christus het die
belemmering weggeneem. Hy het gedoen wat jy moes gedoen het. Heel sy
gehoorsaamheid en lyde word ons deel. Asof ons in eie persoon vir ons sondes
alles gely het en alle skuld vir God betaal het. As ek hierdie sin so lees, dan
moet ek dink aan sulke hout figure, wat mens soms by ‘n museum of so vind. Die hele
liggaam is afgebeeld, maar waar die gesig behoort te wees, is ‘n gat. As jy dan
agter die hout figuur gaan staan, dan kan jy met jou eie gesig deur die gat
kyk. Dan lyk dit of jy iemand anders is.

Dan kan daar
‘n foto van jou gemaak word.

Eintlik is dit
wat Jesus met jou doen. Hy beklee jou met sy gehoorsaamheid en goeie werke. As
jy voor God verskyn, dan plaas Hy jou gesig voor die Vader, maar die res is van
Hom. Dan kyk die Vader na jou asof jy self vir al jou skuld betaal het. Jy mag
in die klere van Jesus Christus voor die Vader verskyn. ‘n Blinkende gewaad. En
dit is dus wat daar gebeur aan die nagmaal. Jy eet Hom en jy drink Hom.

Wat Hy vir
jou gedoen het, dit is vir jou voedsel tot die ewige lewe.

Dit is die
nagmaal soos Hy dit bedoel het. So mag ons deur hierdie viering ontsaglik bly
word. So mag ons dit meemaak, saam met baie ander.

Want dit is
een brood. So mag ons weer oortuig word van die sekerheid van die ewige lewe.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)