Ons God is die enige God en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-01-18
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 1
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
18 Januarie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Ps 141:1,6,7,8

Votum

Seën

Ps 117:1

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-14;
Johannes 4:19-26; Johannes 14:1-12

Sb 5:1,2

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 1

Preek

Ps 136:1,2,3,20

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Sb 34:1,3

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 1

Ek wil hierdie preek graag begin
met die uitspraak van ‘n ou Joodse wetgeleerde.

Hy was in gesprek met iemand wat
daaraan getwyfel het of God wel bestaan.

Die persoon het gesê: ‘ek kan hom
nie sien nie – hoe moet ek dan in hom glo?’

Die rabbi het toe geantwoord: kan
jy die son sien?

Ja, het die persoon geantwoord.

Kyk dan bietjie na die son, het
die rabbi voortgegaan.

Nee ek sal nie, want dan word ek
blind, het die persoon gereageer.

So, het die rabbi geantwoord, kan
jy ook nie God sien nie.

Die lig van sy heerlikheid is
verblindend.

Wie kan Hom sien en bly lewe?

Dit is met hierdie houding dat
ons vanaand fokus op wie die enige God is.

Ons kan nie oor Hom praat met die
houding asof ons Hom kan ontleed nie.

Ons kan nie objektief oor Hom
besin soos die wetenskap oor dinge nadink en besin, deur bv. ‘n
persoonlikheisanalise te maak nie.

Selfs die teologie – die woordjie
teologie beteken – die kennis van God – eintlik ‘n geweldig aanmatigende begrip
– selfs die teologie kan nie een sinnige woord oor Hom spreek nie, as dit nie
net die naspreek is van sy eie Woord nie.

Sy heerlikheid en heiligheid is
so groot en ontsettend, dat ons nie naby Hom kan kom nie.

Laat staan dat ons kan praat oor
wie en hoe Hy is.

Laat staan dat ons enigsins Hom
kan begryp.

Hy gaan ons verstand heeltemal te
bowe.

Ons is skepsels, Hy is die
Skepper.

Ons kan nie oor laat staan met ons
Maker praat asof ons op dieselfde vlak is nie.

Dit is slegs met die diepste
eerbied en aanbidding wat ons voor Hom kan nader.

En ook dit is nog nie genoeg nie.

Soos ons later sal sien, slegs en
alleen in die Naam van ons Here Jesus Christus het ons ‘n toegang tot die enige
God, wat ewig is, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig,
volkome wys en regverdig en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed
is – om die woorde van die NGB te gebruik.

Tema: Ons
God is die enige God en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

1                  
Hoe God wel en nie is nie

2                   
Deur Christus ken ons God as die
alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

1                  
Hoe God wel en nie is nie

Tussen hakies, al hierdie
begrippe of karaktereienskappe wat in art. 1 genoem word, is nie dinge wat die
skrywer self uitgedink het nie.

Dis ook nie ‘n samevatting of
sinopsis van wat die teologie al oor God uitgedink het nie.

Soos ons in die preek van verlede
week gesien het, is dit die doel van die belydenisskrifte om bloot die Skrif na
te spreek.

Elke artikel van die NGB gee ‘n
beknopte samevatting oor ‘n Bybelse tema, vir sover moontlik ook met gebruikmaking
van Bybelse begrippe.

En selfs as begrippe gebruik word
wat nie letterlik so in die Bybel staan nie, is dit bedoeling nog steeds dat
daardie begrippe met ‘n Bybelse inhoud gevul word.

So gebruik die NGB byvoorbeeld
die term Drieëenheid, of die term sakramente.

Dit is twee woorde wat nie in die
Bybel staan nie.

Tog funksioneer hierdie terme as
aanduiding van ‘n volledig Skriftuurlike saak.

 

So moet ons dus ook na die terme
in NGB art. 1 kyk.

Daar is mense wat beweer het dat
Guido de Brès by die skryf van hierdie artikel te veel beïnvloed is deur die
Griekse filosofie.

Tipies aan die Griekse filosofie
was ‘n groot onderskeid wat gemaak is tussen gees en materie.

Die geestelike is verhewe en
goed.

Die materie is aards en sleg.

God as geestelike wese sou dus
goed wees, en teenoor die aardse staan, ver daarvan verwyderd wees.

So moet ons egter nie hierdie term “geestelike Wese” uit
art. 1 lees nie.

Want dan vul ons die term met ‘n
inhoud uit die Griekse wysbegeerte, en nie met ‘n Skriftuurlike inhoud nie.

Wil ons dus weet wat met
“enkelvoudige geestelike Wese” bedoel word in hierdie artikel, dan moet ons
teruggaan na die Skrif.

Ons kan dan aan ‘n teksverwysing
dink, Johannes 4:24.

Die Afrikaanse vertaling van die
NGB is afgedruk agter in ons psalmboek, maar nie altyd met die Skrifverwysings
daaronder nie.

Die nuwe uitgawe van die
Psalmboek het darem wel ook die Skrifverwysings afgedruk.

Hierdie teksverwysings is
uiteraard baie belangrik, want dit was juis die bedoeling van Guido de Brès, en
van die Dordtse Sinode, om terug te verwys van die Bybel.

 

En soos gesê, onder aan art. 1
staan Johannes 4:24 as teksverwysing.

Dit kom uit die gesprek van ons Heiland
met die Samaritaanse vrou.

Christus sê dan: “God is Gees, en
die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Ons bid tot God deur met Hom te
praat, met die wete dat Hy wat Gees is, ons hoor, waar ons ook al is en of ons
roep of fluister, maak nie saak nie.

Hy hoor ons, ook as ons nie
aanbid in Jerusalem of op die berg waar die Samaritane aanbid het nie.

Daar is nog ‘n teksverwysing: 2
Korinthiërs 3:17: “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar
is vryheid.”

Wat hier bely word, is dat God
Homself in die Skrif openbaar as ‘n Gees, nie ‘n Persoon met ‘n liggaam soos ‘n
mens het nie.

Hy is ‘n geestelike wese.

Ook die engele is byvoorbeeld
geestelike wesens, hulle het nie liggame soos mense het nie, hoewel engele ook
geskape is, en God ongeskape is.

Die feit dat God ‘n geestelike
wese is, impliseer nie dat liggaamlik sleg of sondig sou wees nie.

God die Seun het wel ‘n liggaam
aangeneem, toe Hy na die aarde gekom het, en steeds was Hy sonder sonde.

Mens moet dus nie ‘n verkeerde teenstelling
maak – geestelik = sondeloos; en liggaamlik = sondig.

Dis nie so nie.

Ook Adam en Eva is geskape met ‘n
liggaam in die paradys, en hulle was sondeloos.

 

Die Bybel praat soms oor God in
liggaamlike terme.

Dink aan uitdrukkings soos: God
se hand; of God se uitgestrekte arm.

Soms word daar verwys na God se
hart.

Telkens is dit wel uit die
konteks duidelik dat dit hier oor beeldspraak gaan.

En dat daar gepraat word oor ‘n eienskap van God.

God se hand dui byvoorbeeld op sy
sorg en voorsienigheid.

God se uitgestrekte arm dui op sy
krag.

God se hart dui op sy
wilsbesluit.

Mens kan daaruit dus nie aflei
dat God ‘n liggaam het nie.

 

Ek hoop dit is nou duidelik wat
die NGB bedoel met die term “geestelike Wese”.

Die Bybel moet met Bybelse inhoud
gevul word.

 

Dit geld ook vir die term dat God
‘n enige Wese is.

Daar is – soos die Skrif op so
baie plekke duidelik maak – niemand soos Hom nie.

Niemand kan met Hom vergelyk word
nie.

Alle ander gode is nie gode nie,
maar afgode, bedinksels van mense.

Hy is die enige wat ongespake is.

Die duiwel en alle bose geeste is
geskape.

En afgode is uitvindsels van
mense, onder invloed van satan en sy bose geeste.

 

Die NGB sê verder dag God
eenvoudig is.

In die nuwere Afrikaanse uitgawe
word die woord enkelvoudig gebruik.

Ook hierdie term moet reg
verstaan word.

Dalk is eenvoudig die beste
vertaling van die oorspronklike woord wat De Brès gebruik het.

Al kan die woordjie eenvoudig misverstand oproep, omdat ons
eenvoudig meestal gebruik vir iets of iemand wat dalk arm is, of iemand wat nie
koninklik is nie, maar van ‘n laer stand.

Met die woord eenvoudig word hier egter iets anders
bedoel.

Mens sou dalk ook die woord
ongekompliseerd kon gebruik, of die woord betroubaar, of opreg, of
voorspelbaar.

Dit wil sê, daar is nie innerlike
teenstrydighede in God nie.

Dit is nie so dat God vandag een
ding sê, en môre die omgekeerde nie.

Ook is God se karaktereienskappe
nie innerlik teenstrydig nie.

Dis byvoorbeeld nie so dat sy
liefde en sy regverdigheid teenoorgesteldes is nie.

In die teologie is dit soms ‘n
risiko dat teoloë – in hulle verwaandheid – innerlike teenstrydighede by God
opmerk.

Byvoorbeeld dat God aan die een
kant almagtig is, maar dat Hy aan die ander kant magteloos staan teenoor die
kwaad.

Dat God aan die een kant ‘n
reddende God is, maar dat Hy aan die ander kant ‘n lydende God is wat nie kan
keer dat die kwaad mense tref nie.

Dit is pure onsin.

Sulke deftige teologiese konstruksies
doen God oneer aan.

Dit kom by teoloë vandaan wat die
verwaandheid het om op hulle eie iets oor God te durf sê, sonder om net
gehoorsaam die Skrif na te spreek.

Uit die Skrif is dit duidelik dat
God ongekompliseerd is, Hy is volledig betroubaar.

 

Maar ongekompliseerd beteken dus
nie dat God eenvoudig is in die sin dat ons Hom met ons menselike verstand
maklik kan verstaan nie.

Wat opval in artikel 1 is hoeveel
keer die voorvoegsel on- gebruik
word:

Dit is almal begrippe wat aandui
wat God nie is nie.

-         
Onbegryplik

-         
Onsienlik

-         
Onveranderlik

-         
Oneindig

Dit bring ons by ‘n geweldig
belangrike saak.

God is onbegryplik.

Daarmee word bedoel: ons kan nie
God verstaan, of verklaar, of uitpluis nie.

‘n Mens kan byvoorbeeld ‘n
rekenaar oopskroef, en dan uitpluis hoe so ‘n masjien presies werk.

‘n Mens kan ‘n motorkar se enjin
uit mekaar skroef en verklaar hoe dit presies werk, en waarvoor elke part
bedoel is.

Die mensheid is tans nog steeds
besig om die menslike liggaam te ondersoek – anatomie noem ons dit – om uit te pluis
hoe dit presies werk, en waarvoor elke orgaan presies bedoel is.

Die mensheid is nog lank nie
daarmee klaar nie, want noudat ons dalk min of meer weet waarvoor elke orgaan
bedoel is, nou duik die mens se genetiese samestelling op,

en dit gaan nog jare neem voordat
daar ‘n klein bietjie duidelikheid is waarvoor elke geen bedoel is.

En teen daardie tyd sal daar
moontlik weer iets nuuts ontdek word waarvan die mensheid tans nog niks weet
nie.

Die menslike liggaam is
ongelooflik kunstig en doeltreffend, dit getuig van ‘n vir ons totaal
onbegryplike Skeppershand.

En dit bring ons terug by God.

Hoeveel weet ons van God?

Om ‘n eerlike antwoord te gee:
bitter bitter weinig.

Met ons piepklein verstandjies
kan ons maar bitter weinig van Hom afweet.

 

Maar leer die Bybel ons dan nie
alles oor God nie?

Nee, as die Bybel ons alles oor
God sou moes leer, dan sou die Bybel nie so dik gewees het soos dit nou is nie,
maar oneindig dikker.

In die Bybel openbaar God Homself
vir sover Hy dit vir ons – klein mensies – nodig ag.

Vir sover Hy dit nodig ag wat ons
van Hom moet weet.

Soveel nodig is om in vertroue op
Hom te kan lewe.

Soveel daar nodig is vir ons
saligheid.

En boweal: soveel as wat nodig is
om Hom al die eer te gee, Hom te dien in hierdie lewe.

Maar wie God is, sy grootheid,
almag, ensovoorts ensovoorts, dit gaan ons begrip volledig te bowe.

Hy is oneindig, soos die NGB dit verwoord.

 

Wat ons wel kan sê is dat dit wat
ons van Hom uit die Skrif weet, betroubaar is.

En dat dit wat ons nie van Hom
weet nie, dat dit nie dit wat ons wel van Hom weet sal weerspreek, of sal
kanseleer nie.

In die sin bedoel die NGB dat Hy
eenvoudig is.

Hy is voorspelbaar en betroubaar.

Soos ‘n klein kind wat dalk nog
maar bitter weinig van sy pa weet, maar wel sy pa volledig vertrou, omdat sy pa
betroubaar is, en die kind hoef dus nie bang te wees vir onaangename
verrassings nie.

 

Dit stem ook ooreen met die
woordjie onveranderlik.

Soos God in die verlede was, is
Hy vandag ook en sal Hy tot in ewigheid wees.

Ook dit onderstreep sy
betroubaarheid.

Soos God Hom aan die volk Israel
geopenbaar het, soos God met sy verbondsvolk destyds omgegaan het,

so is Hy nog steeds, en so doen
Hy nog steeds met sy kinders vandag.

 

Hy is ook ewig.

Hy staan bo die tyd.

Hy het nie ‘n begin en ‘n einde
nie.

Die tyd is ‘n produk van sy
Skeppershand.

Hy kan die tyd knee soos ‘n
pottebakker ‘n kleipot.

Ons as skepsels funksioneer binne
die tyd, ons kan hier op aarde nie uit die tyd uitstap nie.

God het die tyd egter in sy hand
en Hy vorm dit, verleng of verkort dit, soos dit Hom pas.

Soos ‘n kleipot is die tyd ‘n
produk van sy hand.

 

 

2          Deur Christus ken ons God as die
alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is

Die volgende artikel van die NGB
(art. 2) handel oor die middele hoe ons God ken.

Dat ons Hom uit sy skepping – sy
eie handewerk ken – en – nog duideliker – uit sy geopenbaarde Woord.

Mens kan art 1 en 2 nie van
mekaar skei nie.

Ons het ook al kortliks daaraan
aandag geskenk dat ons God ken vanuit sy Woord, vir sover vir ons lewe en
saligheid nodig is.

God is oneindig, onbegryplik.

Dit wil egter nie sê dat ons niks
van God weet nie, en dat alles wat daar oor God gesê en geskryf is maar net
gissings is nie.

As dit so sou wees, dan sou die
mense wat hulleself agnosties noem, gelyk hê.

‘n Agnostikus beweer dat ons nie
weet of daar ‘n God is nie.

En mog daar een wees, dat ons Hom
dan in elk geval nie kan leer ken nie.

Ons kan nie sy bestaan bevestig
of ontken nie.

 

Hierdie denkwyse is dus
teenstrydig met art 1 en 2 van die NGB.

En soos gesê, hierdie artikels
berus op die Bybel.

In die geopenbaarde Woord ontvang
ons wel betroubare kennis van God,
wie Hy is.

Inderdaad nie alles oor Hom nie, maar wel wat nodig is
vir ons behoud en saligheid.

 

Dit is hier ook belangrik om die
konneksie te maak tussen die Woord – die geopenbaarde Woord – en God se Seun
Jesus Christus.

In die Bybel lees ons dat
Christus die Woord is.

Hy is die Woord wat vlees geword
het.

Soos ons in Johannes 1 lees:
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy
was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het
nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was
die lig van die mense...”

En dan ‘n paar verse verder: “En die
Woord het vlees geword en het onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid
aanskou, ‘n heerlikheid soos die Eniggeborene wat van die Vader kom.”

En later in die Johannesevangelie
sê die Here Jesus eksplisiet, Jesus wat dus self die Woord is: “niemand kom na
die Vader, behalwe deur My nie.” (Joh 14:6)

En: “Hy wat My gesien het, het
die Vader gesien” (Joh 14:9)

Dit bring ons tot die volgende
konklusie.

As ons sê: ons ken God slegs uit
die geopenbaarde Woord, dan sê ons dieselfde as wanneer ons sê: Ons ken God
slegs deur Jesus Christus.

Christus is die weg na kennis van
God.

Christus is die weg na God self.

Buite Christus om is daar geen
kennis van die enige God nie.

 

NGB art. 2 – waarna ons volgende
keer gaan kyk – sê: ons ken God uit twee middele:

Eerstens die skepping en
onderhouding van die wêreld.

Tweedens die Bybel.

By altwee is Christus direk
aanwesig, van altwee is Christus – die Woord – die outeur.

Christus wat self ook God is, wat
deur die Vader gestuur is om aan ons betroubare kennis te bring oor wie Hy is.

En so – danksy Christus – weet
ons wie God is, in die kader van die diens aan Hom, en in die kader van ons
skepping en verlossing.

 

En as daar een ding duidelik is,
as daar een ding is wat soos ‘n paal bo water staan,

dan is dit die feit dat God die
alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is.

Wie Hy is, en wat Hy doen,
oorskry by verre die grense van ons begripsvermoë.

Die NGB wil dit veral beklemtoon,
met die teksverwysing na: Jesaja 40:14(&15):

“Met wie het Hy raad gehou, dat
dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom
kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? Kyk, die nasies
is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word
hulle gereken.”

 

Maar hierdie feit dat Hy soos
onbegryplik groot en almagtig is, neem nie weg dat ons ook met absolute
sekerheid kan bely, dat Hy ‘n alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed
is.

Hoe min ons ook van Hom weet, dit
staan soos ‘n paal bo water.

Om Hom te ken, en om met Hom te
lewe, om elke dag met Hom te wandel, is om soos langs ‘n alleroorvloedigste
fontein te woon.

Die heerlikste varste water, wat
van tuin en jou lewe ‘n paradys maak.

Dikwels word God in die Skrif
vergelyk met ‘n fontein, ‘n bron, die oorsprong van ‘n rivier.

Dink maar net Openbaring 22: “’n
suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom
uit die troon van God en van die Lam.” (Open 22:1)

Aan daardie rivier staan die boom
van die lewe, wat die hele jaar deur vrugte dra.

En die blare van die boom is tot
genesing van die nasies.

As ons oor Hom praat, doen ons
dit met die grootste eerbied,

beseffende dat soos die glans van
die son te helder is vir ons oë,

so sy heiligheid en almag vir ons
klein en nietige mense.

Maar desnietemin, hierdie God,
Vader, Seun en Heilige Gees mag jy en ek ken, dien, eer, vertrou en liefhê.

‘n Alleroorvloedigste fontein van
alles wat goed is.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)