God is vir ons ’n veilige vesting

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-12-21
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52 vraag en antwoord 127
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 21 Desember
2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps 133:1,2

Votum

Seën

Ps 46:1

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 4:1-11

Sb 28:2

Skriflesing:
Lukas 22:39-62

Sb 28:4

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 52 (vraag & antwoord 127)

Preek

Ps 46:4,6

Gebed

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Ps 84:1

Kollekte

Ps 84:2,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 52,127

‘n Kind voel
by die huis meestal die veiligste.

Toe jy as
kind vir die eerste keer vir jou ma winkel toe moes gaan, was dit ’n spannende
avontuur.

Ook
grootmense voel tuis die veiligste.

As jy in ’n
moeilike situasie tereg gekom het, bv. ’n ongeluk, of jou motor wat gaan staan,
dan verlang jy dat jy maar net tuis was.

Tuis is dit
veilig.

Tuis is die
mense wat jy ken, en wat jou liefhet.

Tuis wag jou
ma, jou pa, jou man of jou vrou, jou broers of susters, noem maar op.

Ons het
nounet uit Psalm 46 gesing: “Die God van Jakob sal vir ons ’n veil’ge vesting
wees.”

’n Vesting,
’n burg, ’n kasteel, dit is ’n plek waar jy veilig kan voel.

’n Vesting
wat bestand is teen alle aanvalle van buite.

As ons in
die lewe bedreig voel, dan kan ons na God toe vlug.

Ons mag tot
Hom bid dat Hy ons bewaar vir alles wat ons bedreig.

Dit is
waaroor die 6e bede gaan.

As ons bid:
lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose;

dan gee ons
daarmee te kenne dat ons by God veilig voel.

Die tema vir
die preek is daarom:

Tema: God is vir ons ’n veilige vesting

1                  
Die noodsaak
van hierdie bede

2                  
Die
betekenis van hierdie bede

1                  
Die noodsaak
van hierdie bede

Ons is in
onsself so swak...

Met hierdie
nugter woorde begin die Kategismusantwoord.

Dieselfde
Kategismus het ’n paar Sondae gelede gepraat oor die ou en nuwe mens.

In Christus
is ek ’n nuwe mens.

Hoewel dit
’n feit is dat ek in Christus ’n nuwe mens is, moet daar nog steeds aan
toegevoeg word:

Ek bly nie
uit myself staande nie.

Die ou mens
wat nog êrens in my wegkruip, laat my keer op keer struikel.

Die woorde
van ons Heiland klink ons telkens in die ore:

“sonder My
kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).

Daarom die noodsaak van hierdie bede.

 

’n Gesonde
dosis nugterheid.

Petrus
skryf: word nugter en waaksaam. Julle teenparty die duiwel gaan rond soos ’n
brullende leeu, en hy soek wie hy kan verslind.

As jy nugtur
is, hou jy dus rekening met die duiwel.

As jy nugter
is, hou jy rekening met die mag van die kwaad.

Broer,
suster, hou u daarmee rekening?

Is u nugter
in hierdie opsig?

 

As eerste
doodsvyand noem die Kategismus die duiwel.

As ons die
bede bid: verlos ons van die bose,
bedoel ons dus daarmee die duiwel.

Mens sou die
woord Bose met ’n hoofletter kon
skryf.

Met hierdie
woord word nie net iets algemeens bedoel nie.

As Jesus ons
hierdie bede leer, dan het Hy ’n spesifieke persoon op die oog.

Dit blyk ook
uit sy gelykenisse, byvoorbeeld die gelykenis van die saaier in Mattheüs 13.

Daar staan:
dan “kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is”
(Matth 13:19).

As ons
hierdie selfde gelykenis in ’n ander Evangelie lees, naamlik in Markus, dan
staan daar:

“En dit is hulle wat langs die pad is--waar die woord
gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die
woord weg wat in hulle harte gesaai is.” (Markus 4:15)

Die Bose is
dus die Satan, die duiwel.

 

As ons met
hierdie bede bid: lei ons nie in versoeking
nie, dan dink ons dus konkreet aan die werk van die duiwel.

In die Bybel
word satan die versoeker genoem.

Byvoorbeeld
in 1 Thessalonisense 3 sê Paulus: “of die versoeker
julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie.” (1 Thess
3:5)

 

Die Duiwel,
die Bose, die Versoeker is dus ons doodsvyand.

Dit was hy
ook vir Jesus.

Hy het ook
vir ons Heiland aangeval.

Hy het Hom
ook versoek.

As die
doodsvyand het hy geen geleentheid verby laat gaan om Hom te laat struikel nie.

Hy het alle
middele gebruik wat hy in die hande kon kry.

Selfs die
vriende en dissipels van Jesus.

Die
doodsvyand het mag gekry oor Petrus.

Jesus moes
hom waarsku: Gaan weg agter my, satan!

Die
doodsvyand het ook mag gekry oor Judas.

Hy het hom
te grond gerig.

So het die
duiwel alles in sy vermoë gedoen om die wêreld rondom Jesus in sy mag te kry.

 

Dit is dan
ook die tweede doodsvyand wat die Kategismus noem: die wêreld.

Nou is dit
nie die bedoeling dat mens by die woord ‘wêreld’ dink aan dinge soos kos en
klere, geld en besit nie.

Hierdie
dinge is nie vyande nie.

Dis nie die
geskape aarde wat sondig is nie, maar die mense wat daarop rondloop.

Die woord
wêreld dui hier op die mensheid wat God die rug toegekeer het.

En wat dus
ook God se gawes misbruik.

As ons so na
die woord wêreld kyk, dan verstaan mens ook die uitspraak van Jesus in Johannes
15:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy
My voor julle gehaat het.” (Joh 15:18)

Met die
woord wêreld bedoel Jesus dus hier
daardie mens wat in opstand teen God se Gesalfde kom.

Heel
konkreet: die afvallige Joodse volk van daardie dae.

Paulus het
ook aan hulle gedink, as hy in die boek Handelinge daaroor kla dat die satan
hom verhinder het om ’n bepaalde reis te maak.

En wat hy
dan bedoel is, heel konkreet, dat die Jodewêreld wat sy rug op die Messias
gedraai het, ’n instrument in die hande van Satan geword het.

 

Met die
woord wêreld bedoel die Kategismus
dus:

Die van God
afvallige wêreld vir sover ons daarmee te make kry.

Jesus het
aan die afvallige Joodse volk gedink.

Die
opstellers van die Kategismus het waarskynlik aan die afvallige Roomse kerk
gedink.

Vandag kan
ons aan die afvallige kerk, en die afvallige Christenheid van ons dae dink, en
aan almal wat ons Christelike lewenswandel negatief beïnvloed, wat ons probeer
verlei om water by die wyn te doen, oftewel om nie voluit vir die HERE te lewe
nie, en in alles sy gebooie voorop te stel nie.

Die wêreld
lewe vir homself, vir sy eie genot, en vind nie meer sy hoogste vreugde in God
nie.

Die wêreld
gaan te gronde in sy eie egoïsme.

 

En dit bring
ons by die derde doodsvyand.

Ons eie
vlees, oftewel ons eie sondige natuur, jou ou mens.

Die ou mens
bly helaas tot op jy sterfdag nog ’n doodsvyand.

Jy ervaar
die kompetisie in jou eie liggaam.

Die ou mens
teen die nuwe mens.

Paulus het hierdie kompetisie as slopend ervaar.

Hy het
uitgeroep: “as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek
verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien 'n
ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange
neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens!
Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:21-24)

En dan volg
die antwoord direk daarna as ’n geweldige oplugting:

“Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom 7:25)

In die brief
aan die Galasiërs skryf Paulus:

“want die vlees [dit is die ou mens] begeer teen
die Gees [dit is die Heilige Gees wat die nuwe mens in ons skep], en die Gees
teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar” (Gal 5:17) – dws hulle is aartsvyande.

En: “Maar die wat aan Christus behoort, het die
vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal 5:24).

Geliefde,
die ou mens bly ’n dodelike vyand.

Luister
daarom na Jesus se oproep: Waak en bid – ja bid hierdie bede – sodat julle nie in
versoeking kom nie.

Die gees is
gewillig, maar die vlees is swak.

Jesus het
hierdie woorde die eerste keer vir Petrus gesê, ons het dit gelees.

Helaas het
Petrus die woorde in die wind geslaan.

Hy het gedog
dat hy self sterk genoeg sou wees.

Dat hy hierdie
bede nie nodig gehad het nie.

Maar later
het hy die noodsaak van hierdie bede ingesien.

Later het hy
nie meer groot gedink oor homself nie.

In sy eerste
brief skryf hy: “God weerstaan die
hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petr
5:5)

Wees op jou
hoede vir jou eie sondige natuur.

Dit kan ’n
welkome invalspoort vir die satan wees.

Besef daarom
die noodsaak van hierdie bede: Lei
ons nie versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Verlos ons
van ons doodsvyande.

 

(Tema: God
is vir ons ’n veilige vesting

1       
Die noodsaak van hierdie bede)

 

 

2      
Die
betekenis van hierdie bede

In die
Middeleeue was ’n kasteel ’n belangrike plek.

Dit was ’n
vesting waar die vyand nie binne kon dring nie.

As mense rondom,
burgers en boere, die berig ontvang het dat daar gevaar dreig, het almal na die
vesting gevlug.

Daar was
hulle veilig, en van daaruit kon hulle die stryd voer.

God is vir
ons ’n veilige vesting.

Met die 6e
bede vestig ons ons oë op Hom, ons vesting.

Dit gee ons
vastigheid en veiligheid in die stryd.

As ons oog
in oog met ons doodsvyande staan, bly ons nie uit onsself staan nie.

En dan kan
ons maar net bid, met die woorde van die Kategismus:

Wil U ons
tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons in
hierdie geestelike stryd nie beswyk nie, maar altyd sterk teëstand bied.

Met God aan
ons kant bly ons staan.

Sonder Hom
sak ons in mekaar; gee ons toe aan die versoeking.

Met die 6e
bede bid ons of God ons staande wil
hou te midde van versoeking.

 

Nou is dit
goed om op hierdie punt vir ’n oomblik stil te staan by die woord versoeking.

Hierdie
woord het al vir heelwat misverstande gesorg.

In die
Jakobusbrief lees ons byvoorbeeld:

“Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek
word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en
self versoek Hy niemand nie.” (Jak 1:13)

Hoe rym ons
dit met die 6e bede, waar ons vir God vra: lei ons nie in versoeking
nie?

In hierdie
verband is dit goed om te kyk na die presiese betekenis van die woord versoeking, of versoek.

As ons die
woord versoeking hoor, het dit vir
ons ’n negatiewe klank.

Soos Jesus
byvoorbeeld vir die duiwel in Mattheüs 4:7 sê: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”

Tog is
hierdie woord vroeër ook gebruik om iets positiefs aan te dui.

In die
Statevertaling lees mens byvoorbeeld in Deuteronomium 8: Die HERE het Israel in die woestyn met honger versoek, om te toets of
hulle wel op Hom vertrou het.

Ons sou
vandag eerder sê: God het die volk op die
proef gestel.

Vroeër in
die Nederlandse spraakgebruik kon die woord versoek
dus gebruik word vir sowel iets positiefs as negatiefs.

Deesdae
gebruik ons die woord net nog vir iets negatiefs, terwyl vir die positiewe kant
ons ’n ander woord verkies, soos bv. op die proef stel, of beproef.

Daarom klink
dit vandag vir ons snaaks in die ore as ons in die Bybel lees dat God iemand versoek.

Ons sou
eerder die woord beproef vir God
gebruik.

Maar goed,
in ons Bybelvertaling het ons dus nog te make met hierdie ou gewoonte om die woord versoek vir sowel iets positiefs as iets negatiefs te gebruik.

As God
versoek, is dit positief.

As die satan
versoek, is dit negatief.

Ek noem dit
sodat ons nie ’n verkeerde beeld van God kry nie.

’n Soort
godsbeeld wat ons vir Hom sou bang maak.

Want dit sou
nie in ooreenstemming met die Bybel wees nie.

God versoek
niemand nie, en Hy kan ook nie deur die kwaad versoek word nie.

 

Wat wel so
is, is dat ons in ’n spesifieke gebeurtenis in ons lewe terselfdertyd ’n
beproewing en ’n versoeking kan ervaar.

Ons voel die
kompetisie, hoe daar aan ons getrek word.

Ons ou mens
trek die een kant toe, en die nuwe mens die ander kant toe.

God beproef
ons, Hy bring jou in ’n situasie waar jy as gelowige, as nuwe mens, die regte
keuse moet maak; waardeur jy nog sterker in jou geloof te staan kom.

Maar in
dieselfde situasie doen die duiwel sy bes om jou ou mens vorentoe te druk.

En wat is
die nut as ons dan die 6e bede bid, lei ons nie in versoeking nie?

Dan vra ons
vir God of Hy ons nie in sulke moeilike situasies sal bring wat ons nog nie sal
kan bolwerk nie.

En ons vra
vir die krag van die Heilige Gees.

Die krag van
die Heilige Gees hou die nuwe mens regop.

Sê nou maar,
om ’n konkrete voorbeeld te noem, jy loop in die winkel en iemand voor jou laat
per ongeluk ’n R200 val.

Tel jy die
geld op en steek dit vinnig in jou eie sak?

Of tel jy
dit op en gee dit vir die persoon terug?

Met die 6e
bede vra ons God dat Hy ons die krag van sy Gees gee, sodat ons ’n goeie
besluit neem.

Of, anders
gesê, ek vra God, as ek as christen nog nie so stewig in my skoene staan nie,
om my liewerste nie in so ’n situasie te bring nie.

Want dit sou
daartoe kon lei dat ek ten val kom.

 

Ons bevind
ons elke dag midde in ’n geestelike stryd.

Dit is dus
noodsaaklik dat ons elke dag hierdie bede bid.

Die 6e
bede, in die formulering van die Onse Vader, of in jou eie gebed, in jou eie
formulering.

Maar moet
net nie dink dat jy sonder hierdie bedde heelhuids deur die lewe gaan kom nie.

Onverskilligheid
in jou gebedslewe is, veral wat hierdie bede betref, dodelik.

In 1
Korinthiërs 10 waarsku Paulus:

“wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val
nie.” (1 Kor 10:12)

Alleen deur
die krag van die Heilige Gees bly jy staan.

Sonder Hom
lê jy by die eerste die beste versoeking op jou rug.

Maar as jy
op die Here vertrou, dan het Paulus nog ’n boodskap vir jou:

“God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo
julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die
uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Kor
10:13)

 

Die duiwel
kan dit regkry dat jou lewe snaakse draaie maak.

Maar as jy
dan nie meer grond onder jou voete voel nie, kyk op tot God.

Hy is ons
veilige vesting.

Die lewe bly
’n stryd.

Jy ervaar
dit dalk nie elke dag so nie, veral nie as jy jonk is nie, maar dit is wel so.

Van twee
kante word daar aan jou getrek.

Die liefde
van God trek, maar ook die suigkrag van die sonde.

Jy ervaar
die aanmoediging van God, maar ook die verleiding van die doodsvyande.

Deur die
geloof sal jy staande bly.

Die geloof
is die bewys dat die Heilige Gees in jou werk.

En hierdie
stryd het gelukkig nie maar ’n onbesliste einde nie.

God is vir
ons ’n veilige vesting.

In hierdie
lewe, tydens die geestelike stryd, is die 6e bede elke dag
noodsaaklik.

In hierdie
lewe beteken hierdie bede vir ons ontsaglik veel.

Dit hou ons
staande.

 

Ons weet dat
ons in Christus reeds oorwinnaars is.

In die
Kategismus staan: “totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.”

Let goed op
hoe dit hier verwoord word.

Ons het al
die oorwinning op sak, maar ons het dit nog nie volkome nie.

Ons ou mens
is nog nie finaal oorwin nie.

Dit gebeur
eers as ons hemel toe gaan, of die dag as Christus terugkom.

Dan behaal
ons die oorwinning ook volkome,
oftewel volledig.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)