Christus vereis orde en tug in sy kerk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-11-08
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 32
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
8 November 2015 AD, 17:30

Voorsang: Ps 1:1-4

Votum

Seën

Ps 141:5,9,10

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 18:15-35

Ps 89:12,15,16

Skriflesing: 1 Korinthiërs 5

Ps 50:9,10

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 32

Preek

Ps 52:2,4

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 66:4,5,6

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 32

Hierdie artikel handel oor die
orde en tug van die kerk.

Christus
vereis orde en tug in sy kerk

-         
alleen volgens sy Woord

-         
die trappe van die tug

-         
die afsnyding

-         
Alleen volgens sy Woord

Die basiese uitgangspunt om dit
te bewerkstellig, is dat die kerk moet hou aan dit wat Christus, ons enigste
Meester, ingestel het.

Nie meer of minder nie.

Die Sola Scriptura-beginsel kom baie
sterk uit in hierdie artikel.

Dit is daarom dat die kerkorde ‘n
beperkte omvang het.

Die bedoeling van die kerkorde is
nie om ‘n wetboek te word, vol reglemente, wat tot in details beskryf hoe alles
moet gebeur nie.

Die kerkorde moet kort en bondig
bly, en die beginsels van die Skrif op die voorgrond plaas.

Op grond van die Skrif se
beginsels moet die regeerders van die kerk, in wysheid, elke praktiese situasie
beoordeel.

Die kerkorde reël in hooflyne die
plaaslike kerklike lewe asook die saamleef van kerke onderling.

Behalwe vir die kerkorde bestaan
daar plaaslik nog spesifieke reëlings, byvoorbeeld hoe ‘n ampsdraersverkiesing
plaasvind, of hoe laat die eredienste begin, ensovoorts.

Die kerkraad het ‘n dokument wat
ons die ‘kerkraadsreëlings’ noem, waarin ‘n aantal onderlinge afsprake op skrif
staan.

Hierdie ‘kerkraadsreëlings’ word
van tyd tot tyd verander, na gelang van wat as nuttig, goed en opbouend beskou
word.

Maar ook hier moet die fokus nie wees
om soveel as moontlik afsprake vas te lê in die vorm van reglemente of wette nie.

‘n Kerklike lewe moet nie
gereglementeer word nie, maar moet gebou word op die Skrif, op die beginsels
wat uit die Skrif tot ons spreek.

Die tendens om alles in
instruksies vas te lê – hetsy in geskrewe of ongeskrewe reëls – van die klere
waarmee die dominee op die kansel moet verskyn, tot die tempo van die
gemeentesang, om maar iets te noem, dit sou ‘n ongesonde tendens wees.

Dit kan die kerklike lewe
wettisisties maak.

Belydende lede moet juis leer om
vanuit die beginsels van die Skrif elke konkrete situasie te beoordeel, en hoe
om in elke konkrete situasie die regte ding te doen.

Die kerkorde is daarby kort en
bondig, en wys die rigting.

Nou lewe ons in ‘n tyd waarin die
ongebondenheid aan reëls en regulasies hoogty vier.

In baie kerke sien mens ook die
invloed hiervan.

Mense wil hulle nie meer aan
vaste afsprake hou nie.

Al riglyn wat hulle nog volg, is
of iets vir hulle ‘n goeie gevoel gee.

Hoewel baie kerke nog ‘n kerkorde
het, is hulle amper trots om vir jou te vertel hulle hou hulle nie meer daaraan
nie.

Hierdie wêreldgelykvormigheid het
‘n verwoestende effek op die kerklike lewe.

Elkeen, elke gemeente doen wat
goed is in sy eie oë.

Maar gemeente, in reaksie op
hierdie tydsgees, is daar ook die gevaar dat ‘n gemeente kan oorreageer na die
ander kant toe.

Miskien is dit iets wat ons as
gemeente ter harte moet neem.

In reaksie op die ongebondenheid
mag ons nie deurslaan in ‘n oorreglementering van die kerklike lewe nie.

Dan raak ons soos die Fariseërs,
wat met hulle wettisisme oorgereageer het teen die Sadduseërs.

Waar die Sadduseërs hulle dikwels
nie aan die sabbatsgebod gehou het nie, het die Fariseërs oorgereageer na die
ander kant en ‘n maksimum afstand vasgestel wat iemand op die sabbat mog loop –
‘n sabbatsreis.

Uit Christus se onderwys is duidelik
dat Hy nie met sulke oorreglementering saamgestem het nie.

In ons land is daar baie
Christene wat hulle ook nie aan die 4e gebod hou nie.

Die 4e gebod sê dat jou dienskneg
en jou diensmaagd ook moet kan rus op die sabbat, en ook die buitelander in jou
midde.

Baie Christene in Suid-Afrika
laat hulle bediendes en tuinmanne op Sondag werk.

Baie Christene in Suid-Afrika
gaan op Sondag uiteet, en laat daardeur die kelners, wat meestal buitelanders
is, vir hulle werk.

Hierdie is wêreldgelykvormige
gewoontes, en ons moet dit ten sterkste afkeur.

Maar in reaksie daarop gaan ons
nie weer, soos die Fariseërs, ‘n sabbatsreis instel nie.

Of, soos ook wel gedoen is in die
verlede, mense verbied om fiets te ry, of kar te ry op ‘n Sondag nie.

Hierdie is een voorbeeld, ons kan
nog meer noem.

Die Fariseërs het meer as 600
reglemente aan die wet van die Here toegevoeg.

Hulle het vir die gelowige
kerkvolk ‘n dwingende juk van eiewillige godsdiens opgelê.

Die bedoeling is nie dat ons as
kerk ook ‘n dik reglementeboek of besluiteboek moet hê nie.

Deur ‘n menigte aan
organisatoriese bepalings word die vryheid van amptelike optrede van ampsdraers
aan bande gelê en ‘n valse heerskappy ingevoer.

Die bedoeling is dat ons as
volwasse Christene leef onder aansturing van ons Hoof in die hemel, Jesus
Christus.

Sy Woord wys vir ons die rigting.

Lojaal en gehoorsaam daaraan sal
ons in staat wees om besluite te kan neem in elke konkrete situasie.

Ons geloofslewe word nie daardeur
gekenmerk dat ons lewe volgens die kerk se reëls nie.

Ons geloofslewe word gekenmerk
deur ‘n lewende geloof in ons Here Jesus Christus.

Dit is die uitgangspunt van art.
32 van die NGB, en ook van die kerkorde.

Nie ‘n individualistiese geloof
nie.

Elkeen maak nie net vir homself
uit hoe hy sy geloof wil uitleef nie.

As kerk is ons ‘n liggaam, wat
harmonies as ‘n eenheid behoort te funksioneer, onder direkte heerskappy van
haar hoof Christus en sy Woord.

(Tema: Christus vereis orde en
tug in sy kerk

-         
alleen volgens sy Woord)

-         
Die trappe van die tug

In sy Woord vind ons byvoorbeeld
Mattheüs 18, wat ‘n belangrike riglyn gee vir orde en tug tussen gelowiges.

Art. 32 van die NGB beklemtoon
dat die ban en alles wat daarmee saamhang nodig is.

Die ban kan Skriftuurlik toegepas
word, dit kan ook misbruik word.

Ons weet van die voorbeeld dat
Marten Luther in die ban geplaas is.

Maar nadat die pous vir Marten
Luther in die ban geplaas het, het Luther in 1822 die akte, oftewel die banbul,
verbrand.

Hy het daarmee aangegee dat hy
nie die geestelike gesag van Rome erken het nie.

Toe Luther die dokument verbrand
het, het hy egter nie daarmee aangedui dat alle kerklike afsprake met
betrekking tot tug oorboord gegooi moet word nie.

Dan sou hy spreekwoordelik die
kind met die badwater weggegooi het.

Misbruik hef die goeie gebruik
nie op nie.

Tugbediening is naamlik ‘n
intergrale deel van Christus se onderrig, soos ons byvoorbeeld in Mattheüs 18
sien.

Wat daar in ons kerkorde oor
tugbediening staan – die verskillende trappe van die tug – is direk op Mattheüs
18 gebaseer.

Tugbediening is ook nie net iets
wat die dominee of ouderlinge doen nie, maar dit is net soveel die taak van die
gemeente.

Gelowiges behoort mekaar te
bemoedig, aan te spoor tot die goeie, indien nodig te vermaan en te bestraf.

Ons lees in Hebreërs 3:13: “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit
vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde
verhard word nie.”

“en laat ons op mekaar ag gee om
tot liefde en goeie werke aan te spoor, en laat ons ons onderlinge byeenkoms
nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate
julle die dag sien nader kom.” (Hebr 10:24)

By elke stap van kerklike tug
behoort gemeentelede betrokke te wees.

“as jou broeder teen jou sondig,
gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.” (Mattt 18:15)

“Maar as hy nie luister nie, neem
nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke
woord kan vasstaan.” (Matt 18:16)

Met getuies word hier nie in die
eerste plek mense bedoel wat ook ooggetuies is van die sonde waarin die persoon
leef nie, maar met getuies word bedoel mense wat kan getuig van die
Skriftuurlikheid van die vermaning.

Hierdie reël van Mattheüs 18 geld
vir geheime sondes, by openbare sondes lê dit anders, en kan direk die kerkraad
ingeskakel word.

Die kerkraad se taak is om
uiteraard om vas te stel of die reël van Mattheüs 18 nagekom is, en of die
beskuldiging waar is.

In geval van onenigheid of
verskil van mening is die kerkraad altyd verplig om na beide partye te luister.

Wie, soos die kerkorde sê,
hardnekkig die kerklike vermaning verwerp, sal afgehou word van die nagmaal van
die Here.

As dit tot inkeer lei, sal die
kerkraad toesien dat daar versoening plaasvind, na gelang van die
omstandigheid, of dit openbaar was of vertroulik.

As daar egter by voortgaande
vermaning geen bekering volg nie, word die oortreding waarin die persoon
volhard, aan die gemeente bekend gemaak.

Die gemeente word opgeroep om
voorbede te doen en so die arbeid van die ampsdraers te ondersteun.

Die naam van die persoon word nie
genoem nie.

Maar as bekering steeds uitbly,
word by die tweede openbare vermaning die naam wel genoem.

Die kerkorde vermeld dat voordat
dit gebeur, die kerkraad die advies van die klassis moet inwin.

Die klassis vervul ‘n kontrolerende
funksie.

Die kerkraad sal swart op wit aan
die klassis moet bewys dat die ampsdraers gereeld die persoon besoek het, dat
daar ‘n pad van liefdevolle vermaan met die persoon gestap is.

As dit nog steeds nie baat nie,
word by die derde openbare vermaning – weer eens eers nadat die klassis se
advies gehoor is – afgekondig dat die persoon van die gemeente afgesny sal
word.

‘n Datum sal genoem word waarop
dit sal plaasvind, tensy die persoon voor die tyd tot inkeer gekom het.

Christus vereis orde en tug in
sy kerk

-         
alleen volgens sy Woord

-         
die trappe van die tug)

-         
Die afsnyding

Vir die afsnyding of ban het die
kerke ‘n gesamentlike formulier vasgestel.

Daar word amptelik verklaar dat
hierdie verbondskind uit die gemeenskap van die kerk afgesny word deur sy /
haar moedswillige ongehoorsaamheid aan die verbond van God.

Hy / sy het geen deel meer aan
die heil van Christus tensy die persoon homself van die verkeerde pad bekeer
nie.

En die gemeente word opgeroep om
die persoon te behandel soos ‘n heiden en ‘n tollenaar volgens die bevel van
Christus was sê dat alles wat sy bedienaars op die aarde toesluit, in die hemel
toegesluit bly.

Die gemeente word opgeroep om die
persoon te vermy, sodat hy / sy beskaam kan word.

Hiermee word bedoel, by wyse van
spreke: as iemand uit die kerk afgesny word, kan gemeentelede nie nog steeds op
Saterdagaand met hom by die klub sit en kuier asof daar niks gebeur het nie.

Vriendskap met die persoon asof
daar niks aan die hand is nie, moet vermy word.

Terselfdertyd word die gemeente
opgeroep om die persoon nie soos ‘n vyand te behandel nie, maar te vermaan soos
mens ‘n broer of suster sou vermaan.

As iemand afgesny word, word die
toegang tot die sakramente verbied.

Afsnyding beteken nie dat iemand
verbied word om in die kerk te kom nie.

Al te dikwels gebeur dit dat
afgesnyde mense die kerk vermy.

As afgesnyde persone die
eredienste besoek, is dit in beginsel ‘n positiewe saak, en ‘n mens mag bid dat
daardeur hulle hart saggemaak word.

As ‘n afgesnyde persoon die
eredienste besoek om bewus tweedrag te saai in die gemeente, het die kerkraad
nog steeds nie die bevoegdheid om ‘n persoon fisies te belet om die erediens by
te woon nie.

‘n Kerkraad se gesag is mos
geestelik.

Die kerkraad kan nie fisiese
maatreëls neem nie.

Deur die openbare tugbediening en
afsnyding het die kerkraad wel duidelik en publieklik die persoon en sy slegte
invloed geïsoleer.

Afsnyding is, in kort, ‘n
dramatiese gebeurtenis, maar soms baie noodsaaklik.

Is afsnyding ‘a point of no
return’?

Die feit dat die kerke ook ‘n
formulier opgestel het om afgesnyde lidmate weer in die gemeente van Christus
op te neem, maak duidelik dat dit nie ‘a point of no return’ is nie.

Solank iemand nog lewe, is dit
genadetyd, en is daar die moontlikheid van terugkeer.

In Sondag 31 van die Kategismus
bely ons dat daar twee sleutels is vir die koninkryk van die hemel.

Die verkondiging van die
evangelie en die Christelike tug.

Deur beide word die koninkryk
sowel oop- as toegesluit.

Deur afsnyding word die koninkryk
toegesluit vir ‘n volhardende sondaar.

Die afsnyding laat die boodskap
na hom uitgaan: solank jy volhard in hierdie manier van lewe, in hierdie sonde,
sal jy beslis nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar sal jy
verlore gaan.

Soos Jesus gesê het: wat julle op
aarde bind, sal in die hemel gebonde wees.

En wat julle op aarde ontbind,
sal in die hemel ontbonde wees (Matth 18:18).

Maar die wederopneming sluit die
koninkryk weer oop vir hulle wat opregte berou het.

Net so is die prediking van die
Evangelie ook ‘n sleutel.

Die prediking is nie net ‘n
stigtelike woord wat gespreek word nie.

Die prediking handel oor die
ewige wel en wee, die ewige bestemming van elke mens.

God sal volgens die gepredikte
evangelie oordeel sowel in hierdie as in die toekomstige lewe.

Die prediking open die hemelryk,
dit wys die weg na Jesus Christus.

Die prediking sluit ook die
hemelryk.

Die prediking handel nie net oor
saligheid nie, maar ook oor rampsaligheid vir hulle wat aan die Seun van God en
aan sy Woord ongehoorsaam is.

Nadat Petrus bely het dat Jesus
waarlik die Messias is, het Christus vir Hom gesê: “Jy is Petrus, en op hierdie
rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doeryk sal dit nie oorweldig
nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee ...”
(Matth 16:18-19).

Met hierdie sleutels, die
prediking en die tug, versamel Christus vir Hom ‘n gemeente, en beskerm Hy sy
gemeente.

Behalwe vir hierdie gedeeltes uit
die Mattheüsevangelie, Mattheüs 16 en 18, is daar nog baie ander gedeeltes in
die Skrif wat dit bevestig.

In 1 Korinthiërs 5:13 roep Paulus
die gemeente in Korinthe op: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”

Paulus skryf dit in verband met
die persone waarvan ons in vers 11 lees: “maar nou skryf ek aan julle om nie om
te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of
‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n
rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”

En Paulus skryf aan Titus (Titus
3:10): “Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek na die eerste en
tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en
selfveroordeeld staan.”

In die algemeen word ons as kerk
van Christus opgeroep: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.” (1 Kor
14:40)

Die ban of ekskommunikasie of
afsnyding of uitsluiting is ‘n laaste maatreël om die liggaam van Christus
gesond te hou.

Die tug van die kerk is
geestelik.

Die kerk het geen swaardmag, die
kerk kan nie tugtig met liggaamlike strawwe, of deur iemand sy vryheid te
ontneem nie, soos die owerheid wel kan doen.

Uitsluiting uit die gemeenskap is
ook ‘n geestelike maatreël.

Die doel van afsnyding is ten eerste
om die sondaar te red.

Soos Paulus skryf in 1
Korinthiërs, moet ‘n sondaar wat in sy sonde volhard, onder die gemeente uit
verwyder word, en aan die Satan oorgelewer word tot verderf van die vlees,
sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.

Deur uitsluiting moet die
volhardende sondaar besef hoe ernstig sake is, dat hy reguit oppad hel toe is,
as hy nie omdraai en die sonde agter hom laat nie.

Dit dus in die eerste plek.

In die tweede plek is die doel
van afsnyding om die gemeente te beskerm.

‘n Bietjie suurdeeg maak die hele
deeg suur, skryf Paulus in 1 Korinthiërs 5:6.

‘n Appelboks met een vrot appel,
sal veel vinniger almal vrot word as ‘n boks sonder vrot appels.

Die kwaad is aansteeklik.

Dit moet uit die midde van die
gemeente uitgesny word.

En ten derde gebeur afsnyding tot
eer van God.

God is ‘n heilige God.

Hy het die sondaar lief, maar
haat die sonde.

Afsnyding laat nie net die gemeente
nie, maar ook die wêreld weer onder die indruk kom van God se heiligheid.

Toe die Heilige Gees self vir
Ananias en Saffira uit die eerste Christelike gemeente afgesny het deur hulle
dood te laat neerval, lees ons wat die effek daarvan was:

“En ‘n groot vrees het oor die
hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het ... En daar was niemand van
die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het
hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg.”
(Hand 5:11,13)

Geliefdes, net soos ‘n land waar
daar orde en tug heers, gelukkig geprys kan word, so kan mens ook ‘n kerk waar
daar orde en tug heers gelukkig prys.

‘n Land waar die owerhede die
voortou neem in korrupsie, sal met lede oë moet aansien dat sy burgers
dieselfde begin doen.

‘n Land waar die kwaad nie
uitgeroei word nie, word ‘n siek en onaangename plek.

Al hierdie dinge kan mens ook oor
‘n kerk sê.

‘n Kerk wat nie die tug as
sleutel van die hemelryk hanteer nie, ‘n kerk wat mense wat volhardend in sonde
leef, aan die nagmaal toelaat, ‘n kerk wat egbrekers en hoereerders nie tugtig
nie, ‘n kerk wat hulle wat die eredienste nie bywoon nie tugtig nie, ‘n kerk
wat nie hulle tugtig wat met ‘n wrok aanhou lewe teenoor ‘n medemens,
ensovoorts, so ‘n kerk word ‘n siek kerk, is eintlik die naam kerk nie meer
werd nie.

Soos art. 32 sê, die ban is nodig.

Die ban is volledig in
ooreenstemming met Christus se woord.

Die ban dien om eendrag en
eenheid te bewaar.

Wie dit wat verkeerd is, deur die
vingers sien, beoefen ‘n valse liefde.

Dit is ‘n egte vriend wat vir jou
die waarheid sê, juis met die bedoeling om jou te behou.

Christus vereis orde en tug in sy
kerk, juis omdat Hy ons liefhet.

Juis omdat Hy wil hê dat sy skape
nie afdwaal nie.

Die Goeie Herder het sy stok en
staf vir ‘n goeie rede.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)