Die skepping gee vir ons ontsag vir die Skepper.

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-04-19
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 12
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
19 April 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 8:1,3,4,5

Votum

Seën

Ps 91:4,6

Gebed

Skriflesing: 2 Petrus 1:12-2:14

Sb 29:1-5

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 12

Preek

Sb 29:6-9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 103:10,11

Seën

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 12

Hierdie artikel begin met ‘n
inleidende paragraaf oor die skepping, en daarna val die hooffokus op die
engele:

-         
Die skepping van die engele en hulle werk

-         
Die val van sommige engele, hulle verderf en straf

-         
Verwerping van dwalinge tov die engele

 

Ons sal eerstens op enkele
aspekte fokus mbt die skepping – belangrike dinge wat die NGB aanstip.

Daarna sal ons tweedens nader kyk
na die skepping en bestaan van die engele, soos hierdie artikel doen.

 

Die skepping
gee vir ons ontsag vir die Skepper. Dit geld ook vir

1)    Die doelmatigheid van die skepping

2)    Die skepping van die engele

 

 

1)    Die doelmatigheid van die skepping

In die eeu van die Reformasie was
die skepping as leerstelling nie ‘n twispunt tussen die Protestante en Roomses
nie.

Eers later in die geskiedenis,
met die opkoms van die ewolusionisme in die 19e eeu, het die skeppingsleer ‘n
groot twispunt geword.

In die afgelope 150 jaar het die
ewolusionisme uitgegroei tot ‘n lewens- en wêreldbeskouing.

Dit is geen wetenskap nie.

Daar is geen enkele wetenskaplike
vandag, of hy ‘n geoloog of bioloog, sterrekundige, of wat ook al is, wat sy
werk vandag nie sou kon doen, of dalk minder goed, as hy die ewolusioteorie nie
sou aanhang nie.

Daarom is daar vandag in elke
denkbare vakwetenskap Christene werksaam, wat nie die ewolusionisme aanhang
nie, en wat leiers is in hulle vakgebiede.

Dus nogmaals, die ewolusionisme
is ‘n wêreldbeskouing, wat mens nie in die wetenskap nodig het nie.

 

Ons bely met die NGB dat God
alles uit niks geskape het.

Mens kan dink aan hoe Hebreërs
11:3 dit verwoord: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord
van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit
sienlike dinge nie.”

 

Wanneer het God alles geskep?
Hier staan: toe Hy dit goedgedink het.

Hierdie frase – toe Hy dit
goedgedink het – is sinoniem aan die frase aan die begin van die Bybel:

“In die begin het God die hemel
en die aarde geskape...”

Wanneer was die begin?

Dit is vir ons as mense nie
eenvoudig om presies die dag en datum daarvan te bereken nie.

Wat ons wel weet is dat dit
gebeur het op daardie oomblik, daardie historiese oomblik, toe God dit
goedgedink het.

Niks het toevallig ontstaan nie.

Daar was ‘n bewuste wilsbesluit
van die HERE wat alles tot stand gebring het.

 

God het nie net ‘n soort oerstof
geskep, waaruit alles verder vanself ontwikkel het nie.

Maar God het aan elke skepsel sy
wese gegee, sy gestalte, sy uiterlik, sy spesifieke funksie, of werksaamheid.

In kort, God het elke skepsel doelmatig geskep.

Met ‘n unieke funksie, binne die
geheel van die geskape netwerk.

 

Dit is asemrowend om dit te
besef.

Elke geskape wese het sy funksie.

God weet van die bestaan van elke
geskape wese.

Daar is baie seediere, veral in
die diepsee, wat die mens nog nie ontdek het nie.

Daar is baie insekte wat die mens
nog nie ontdek het nie.

Daar is miljoene sterre en
planete wat die mens nog nie ontdek het nie.

God ken hulle almal, hy roep
hulle by naam, soos daar in Jes 40 staan.

Hierdie is so ‘n mooi vers, ek
wil dit graag lees:

Jes 40:26: “Slaan julle oë op in
die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare
uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid
van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”

 

God ken nie net elke spesie nie,
Hy ken ook elke indiwidu.

Hy het elkeen geskape.

Elke muskiet ken Hy persoonlik.

Elke sneeuvlokkie se unieke vorm
ken Hy.

Elke afgeleë ster, planeet, maan,
komeet het in sy geskape netwerk ‘n unieke funksie.

Elke skepsel het sy doel op
aarde.

 

Die ultieme doel van elke skepsel
is natuurlik om God te dien.

Maar die NGB wys ook op die mens
se belangrike posisie in die skepping.

Die mens is rentmeester oor die
skepping, beheerder, hy is onderkoning.

Die skepping dien die mens in
daardie hoë posisie, sodat hy sy God kan dien.

‘n Baie verantwoordelike posisie
wat die mens ontvang het.

Hy is in staat om die geskape
werklikheid te beheer, te onderwerp, te manipuleer.

Maar die mens moet homself elke
dag afvra: met watter doel doen ek dit?

Doen ek dit tot eer van die
Skepper, van wie ek ook ‘n skepsel is?

Of kom die mens in opstand, en
ontken dat hy ook ‘n skepsel is?

Begin hy om die skepping te
manipuleer en uit te buit tot sy eie gewin?

 

Hierdie gevaar is des te groter
as God as Skepper ontken word, soos die ewolusionisme doen.

As die mens nie meer iemand bo
hom het om verantwoording teenoor af te lê nie, dan dreig willekeur.

Dan kan die mens doen wat hy wil.

Die grootste misbruik en uitbuiting
van die skepping het dan ook plaasgevind in lande – veral Westerse lande sedert
die 19e eeu – wat die ewolusionisme omarm het.

Daarteenoor bely ons in art. 12:
Ons glo in God as die Skepper van
alle dinge.

Juis die feit dat ons in Hom as
Skepper glo, moet ons verhinder om die werk van sy hande te misbruik.

Want uiteindelik is alles geskape
om God te eer.

Dit is die ultieme doel van die
skepping.

Soos ons in Kolossense 1:16 lees:
“alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” 

Die doelmatigheid van die skepping
blyk ook uit ‘n teks soos Hebreërs 3:4 “want elke huis word deur iemand gebou,
maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”

In hierdie vergelyking hoor mens
ook die doelmatigheid.

Voordat ‘n huis gebou word, word
dit eers beplan.

‘n Huis word doelmatig gebou,
sodat dit kan voorsien in die behoeftes en wense wat die eienaar het.

So het God die aarde, en alle
dinge, doelmatig gebou.

Alles is beplan, niks het
toevallig tot stand gekom het.

Alles is in die fynste detail
beplan.

In die eerste plek sodat elke ding
die doel kan dien waarvoor dit geskep is.

En in die tweede plek sodat elke
ding ook kan funksioneer in die netwerk van alle ander dinge wat geskape is.

Die ultieme doel waarvoor elke
ding geskape is, word pragtig onder woorde gebring in Openbaring 4:11:

“U is waardig, o Here, om te
ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en
deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

 

Om saam te vat, die doelmatigheid
van die skepping het meerdere dimensies.

In die eerste plek is elke
skepsel uniek geskape om te kan pas en te kan funksioneer binne die netwerk van
die hele skepping.

In die tweede plek is die doel
van die skepping om die mens te kan dien, soos die NGB sê.

Die mens wat as onderkoning die
skepping beheer.

En in die derde plek is alles
geskape om die Skepper te dien, te aanbid, loof en prys.

Hierdie briljante doelmatigheid
van die skepping boesem ontsag in, dat Iemand dit so kon ontwerp het!

 

(Tema: Die skepping gee vir ons
ontsag vir die Skepper. Dit geld ook vir

1       
Die doelmatigheid van die skepping)

 

 

2)    Die skepping van die engele

 

Engele is geeste, hulle is nie
liggaamlik soos mense nie.

Engele is persone met spesifieke
eienskappe. Om ‘n paar te noem soos ons dit uit die Bybel ken:

-         
Hulle het selfbewussyn (“Ek is Gabriël”  - Luk 1:19)

-         
Hulle het gevoelens

(hulle kan bly wees: Luk 15:10 –
“So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar
wat hom bekeer.”)

-         
Hulle aanbid ook God (Hebr 1:6 “En al die engele van God moet Hom
aanbid.”)

-         
Hulle kan ook praat (1 Kor 13:1 “Al sou ek die tale van mense en
engele spreek...”)

Uit die Skrif weet ons ook dat
God baie engele geskape het, tienduisende, waarskynlik miljoene.

 

‘n Verskil tussen die mensdom en
die engelewêreld is dat die engele almal tegelyk aan die begin geskape is.

Wat ons uit die Skrif weet, is
dat daar nie ‘n fluktuerende aantal engele is nie, soos met mense die geval is.

Die mensdom is soos ‘n boom, wat
klein begin het, maar met elke seisoen, of elke generasie, uitbrei en
omvangryker word.

Dit is sover ons weet met engele
nie die geval nie.

Daar is dus nie sprake van
familiebande by die engele nie.

Wel is daar verskillende soorte
engele.

Cherubyne of gerubs (Hebr 9:5),
serafyne of serafs (Jes 6:2), owerhede, magte en trone (Kol 1:16).

Daar is ook sprake van range of
gesagsverhoudings in die engelewêreld.

 

Die engele is aan die begin
geskape, en hulle getal bly konstant.

Hulle is nie sterflik nie, in die
liggaamlike sin van die woord.

Wel ontvang engele wat in sonde
geval het, die ewige straf, of die tweede dood, soos die Skrif dit noem, net
soos die mense wat kies om onbekeerd te bly.

 

Net soos alle ander skepsels, is
die engele ook met ‘n spesifieke doel geskape.

In die hele geskape netwerk is
hulle veral gespesialiseer daarin om boodskappers te wees.

Dit is ook wat hulle naam
beteken.

Engel beteken boodskapper.

Hulle spesifieke doel of funksie
word mooi in Hebreërs 1:14 verwoord: “Is hulle nie almal dienende geeste wat
vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”

Dit is ‘n geweldige bemoediging
om te weet dat daar ‘n ontelbare menigte engele is, wat die gelowiges beskerm.

God het sy engele aangaande ons
bevel gegee om ons te bewaar op al ons weë – Psalm 91:11.

 

Die NGB skenk ook aandag aan die
geskiedenis van die val van sommige engele.

Hulle word hier genoem: die duiwels
en bose geeste.

Wanneer die val, of die opstand
van hierdie groep engele plaasgevind het, is nie presies bekend nie.

Daar is eksegete wat dit plaas in
die tydperk tussen die laaste skeppingsdag – die sewende dag – en die sondeval
van die mens.

‘n Deel van die engele – ons weet
dat dit oor duisende gaan (Luk 8:30) het teen God in opstand gekom.

‘n Ander, groter deel, het gekies
om aan Hom trou te bly.

Oor die aard van hierdie
engele-opstand word in die Skrif baie min geopenbaar.

Ons kan dink aan 1 Tim 3:6, waar
staan oor ‘n aspirant ampsdraer: “Hy moet nie ‘n nuweling wees nie, sodat hy
nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.”

Die duiwel het dus verwaand
geword.

En in Judas 1:6 staan daar: “En
die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat
het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die
duisternis bewaar”.

Uit hierdie gedeeltes kan mens
aflei dat die sonde van die opstandige engele bestaan het uit hoogmoed.

En dat hulle die posisie, wat God
aan hulle toegewys het, nie wou bly inneem nie.

Die gesagsorde wat God ingestel
het, wou hulle nie meer eerbiedig nie.

Die hoof van die opstandige
engele se naam is satan, die teenstander van God.

Hy stry met sy baie aanhangers, die
opstandige engele, of bose geeste, teen die kerk, en teen elke gelowige persoonlik.

In Efesiërs 6:12 lees ons: “Want
ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen
die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die
bose geeste in die lug.”

Uit die res van Efesiërs 6 is
duidelik dat hier nie net mense bedoel word nie.

As dit die geval was, sou die
stryd met konvensionele wapens gestry kon word.

Want ‘n mens kan met ‘n swaard,
‘n spies, ‘n geweer, of ‘n bom doodgemaak word.

Maar dit geld nie vir die bose
geeste, die opstandige engele nie.

Daarom het ons ‘n ander
wapenrusting nodig om teen hulle te stry, soos Efesiërs 6 uitwys:

Die wapenrusting van God – die
waarheid, geregtigheid, geloof, verlossing, die Woord van God, en die gebed.

Dit is die wapens waarteen die
bose geeste in die lug nie bestand is nie.

 

Ook in die tweede brief van
Petrus lees ons oor hierdie opstand van die engele.

2 Petrus 2:4: “Want as God die
engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en
aan kettings van duisternis oorgegeee het, om vir die oordeel in bewaring gehou
te word...”

Om hierdie gedeelte te verstaan,
is dit belangrik om die konteks te begryp.

Ons het hierdie gedeelte saam
gelees.

Kom ek skets kortliks die apostel
Petrus se argumentering.

In die vorige hoofstuk lê hy
naamlik klem op die betroubaarheid van die profetiese woord.

Die gelowiges hoef nie te twyfel
daaraan nie.

2 Petr 1:19 en vervolgens: “En
ons het die profeties woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos
op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester
opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van
die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur
die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het
die heilige mense van God gespreek.”

Wat Petrus hier skryf, staan in
kontras met die volgende hoofstuk, waar hy sy lesers attent maak op die
realiteit van valse leraars.

Valse profete, wat verderflike
ketterye heimlik sal invoer.

Met heimlik word bedoel: hulle
sal dit begin bemark as ‘n wettige alternatief naas die ware leer.

Hierdie valse profete handel aan
die einde van die dag uit hebsug.

Ongelukkig is dit ‘n feit dat
hulle dikwels baie mense in hulle val lok, en agter hulle aan sleep.

Dit was in die Ou Testament so,
en in die toekoms, waarsku Petrus, gaan dit nie anders wees nie.

Maar, en dit noem Petrus dan as
‘n vertroosting, uit die Ou Testament is ook duidelik, dat die HERE nie passief
is nie.

Die HERE sal die getroues bewaar,
en Hy sal die valse profete, en almal wat in opstand teen Hom en die waarheid
kom, aan bande lê.

Om dit te illustreer, noem Petrus
dan drie voorbeelde.

Drie voorbeelde wat illustreer
dat God hulle wat teen Hom en sy waarheid opstaan, nie net hulle gang laat gaan
nie.

Die eerste voorbeeld wat Petrus
noem, is die geskiedenis van die engele wat afvallig geraak het.

Vers 4: God het die engele wat
gesondig het, nie gespaar nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van
duisternis oorgegee, om vir die oordeel in bewaring gehou te word.

Wanneer hierdie opstand van die
engele plaasgevind het, word nie vermeld nie.

Wel is dit duidelik, dat dit
gebeur het.

En dit is ook duidelik dat God
hulle gestraf het – daar word na die hel verwys waarheen hulle gestuur is.

Hulle is gebonde, hulle kan nie
net doen wat hulle wil nie, hulle mag op aarde is beperk.

En hulle sien die dag van oordeel
al nader kom, wanneer hulle defnitiewe vonnis gevel gaan word.

Die tweede voorbeeld wat Petrus
noem, van hoe God aktief was in die Ou Testament om die opstandiges te straf,
is die geskiedenis van die sondvloed.

God het die ou wêreld nie gespaar
nie.

Hy het die sondvloed oor die
wêreld van goddelose mense gebring.

En die derde voorbeeld van God se
straffende hand is wat met Sodom en Gomorra gebeur het.

Hy het hulle tot as verbrand,
hulle tot ondergang veroordeel, en as voorbeeld gestel van die wat in die
toekoms goddeloos sou wees.

Daarteenoor het God sy kinders,
die wat aan Hom vasgehou het, deur die oordeel juis bewaar.

Petrus noem die voorbeelde van
Noag en Lot, wat aan God se straf ontkom het en gered is.

So mag die gelowiges in Petrus se
tyd ook vertroos wees.

Die Here sal sy oordeel oor die
valse profete, die valse leraars, laat kom, en Hy sal die getroues bewaar.

Soos ons in vers 9 lees: “die
Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te
bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word”

 

Om saam te vat, die Woord van God
openbaar aan ons iets van die engele-opstand, maar nie baie nie.

Sodoende word ons op ons hoede
gestel.

Daar is magte van die kwaad, wat
teen hulle Skepper opstaan.

Dit is magte wat nie
verwaarloosbaar is nie, dit is ‘n gedugte teenstand.

In Lukas 8 lees ons byvoorbeeld
dat die bose geeste hulleself legio noem.

Luk 8:30-31 “Daarop vra Jesus hom
en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio – want baie duiwels het in hom
ingevaar. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die
onderwêreld af te vaar nie... Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar
in die varke in...”

Die woord legio beteken duisend,
of duisende.

 

Hierdie menigte aan magte van die
kwaad het hulle gemunt op die kerk, en op elke individuele gelowige.

Hulle weet sommige mense in hulle
kielsog te kry, wat daardeur werktuie van die satan word.

Nie net daardie besete man van
Gadara uit Lukas 8 nie, maar ook mense soos die Fariseërs.

Jesus spreek hulle aan: “Julle
het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy
was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat
daar in hom geen waarheid is nie.” Joh 8:44

 

Maar die opstandige engele, die
duiwels, is veroordeel tot die ewige verdoemenis, saam met almal wat agter
hulle aanloop.

Matt 25:41 “Dan sal Hy ook vir
die aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur
wat berei is vir die duiwel en sy engele.”

 

Art 12 van die NGB sluit af met
‘n verwysing na twee dwalings.

Eerstens, die dwaling van die
Sadduseërs – hulle het ontken dat daar geeste en engele is.

Sien Hand 23:8 “Want die
Saduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar
die Fariseërs bely albei.”

Die Sadduseërs het hoogstens
beweer dat die engele kragte is wat van God uitgaan.

En dan tweedens die dwaling van
Mani, en sy volgelinge die Manicheërs.

Naamlik dat die duiwels hulle
oorsprong uit hulleself het, reeds van nature sleg is en nie sleg geword het
nie.

Volgens hierdie wêreldbeskouing
was daar al vanaf die begin bose en goeie magte langs mekaar aanwesig in die
wêreld.

Dit kom ooreen met die dwaling
van Marcion, wat gepraat het van ‘n goeie liefdevolle god en ‘n kwade wrede god
wat langs mekaar vanaf die begin daar was.

 

Alles wat ons tot dusver gehoor
het in die tweede punt, wat handel oor die engele, hulle skepping, maar oor die
deel van die engele wat afvallig geraak het, dit is alles inligting wat mens
behoorlik kan laat nadink.

Mens se gedagtes kan op hol raak.

Dit is fasinerend, om jouself in
te dink dat daar ‘n engelewêreld is.

Dat daar op hierdie oomblik
engele om ons is.

Dat daar dalk engele hier in die
kerk is.

Dat daar dalk engele wag hou om
die kerk.

Sou slegte engele dit dalk kan
regkry om hier in die kerk binne te dring?

Dit is alles dinge wat vir ons
moeilik voorstelbaar is.

Maar die engelewêreld is ‘n
realiteit.

En wat nog meer fasinerend is, is
die feit, soos die NGB sê, dat hulle dienende geeste is, met as primêre doel om
God se uitverkorenes te dien.

Dit laat mens eintlik klein voel,
dit laat mens dalk skaam kry.

Dat God sulke magtige kragtige
wesens geskape het, terwille van ons.

En dan die feit dat dit uit die
Bybel duidelik is dat die mense belangriker is as die engele.

Ons mag ons God se kinders noem.

Die engele is slegs diensknegte.

Wat ‘n voorreg!

Maar dikwels moet ons ons koppe
in skaamte laat sak, omdat ons wat belangriker is as hulle, die naam van ons
God van tyd tot tyd te skande maak.

Ja die Here Jesus stel die
gewillige engele ons selfs ten voorbeeld, dat ons God se wil net so getrou moet
doen as die engele in die hemel – dink aan die derde bede.

 

Dit was maar weinig mense
beskore, om met hulle menslike oë die engele te mog sien.

Ons mag wat dit betref uitsien na
die dag as God ons in sy heerlikheid opneem, dan sal ons ook hierdie magtige
wesens mag aanskou wat sy troon omring.

In die tussentyd, solank ons hier
op aarde is: laat ons as rentmeesters van die skepping ons skoene probeer
volstaan, trou in sy diens lewe.

En saam met die hele skepping, ja
saam met die magtige engele wat altyd aan hulle Skepper trou gebly het, aan Hom
die eer en aanbidding skenk.

Laat ons op aarde Hom loof, en
instem met die woorde van die hemelse menigtes, soos ons dit in Openbaring 19
vind:

“Halleluja, die heil en die
heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is
waaragtig en regverdig.” (Openbaring 19:1,2)

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)