Die Heilige Gees help ons in ons gebedswakheid

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-06-15
Text: 
Romeine 8
Preek Inhoud: 

Romeine 8:26,27

Ds C Kleyn - Sondag 15 Junie 2003

Lees:

Romeine 8:12-39.
Sing: Ps 139:1-3; Ps 143:8,9; Ps 95:4; SB 20:5-8; Ps 27:6.

Tema:

Die Heilige Gees help ons in ons gebedswakheid.

  1. Die noodsaak van die hulp;
  2. Die werklikheid van die hulp; en
  3. Die verhoring van die hulp

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Ons as gemeente en ons as individuele gelowiges mag tempels van die Heilige Gees genoem word. Die Gees het in ons kom woon. Die Heilige Gees het nie net ’n besoek by ons kom bring nie om daarna weer te vertrek nie. Nee, Hy het in ons kom woon en werk. Sien daar die groot rykdom van die nuwe verbond waar ons vorige week by stilgestaan het. Besef ons nog wel die geweldige werklikheid?

Die teks van vanoggend praat ook van die werk van die Gees in ons. Die verband waarin dit genoem word is die lyding van die teenwoordige tyd. Ja, dit staan in verband met die tema van die apostel: van lyding tot heerlikheid. Kyk maar na vers 17: ons is mede-erfgename met Christus, as ons naamlik saam met Christus ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Van lyding tot heerlikheid is dus die tema van die apostel. Ons volg Christus wat van lyding tot heerlikheid gegaan het. Die tema word in die verse 35-39 herhaal. Verdrukking, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, swaard, dood of magte kan ons nie skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie.

Paulus weet waaroor hy praat. Sy lesers weet ook uit ondervinding wat die lyding van die teenwoordige tyd inhou. Daar was vervolging, mishandeling, gevangenskap. Geen wonder dat Paulus die lyding nie net terloops kan noem nie. Die lesers in nood moet hul lyding in perspektief sien en verseker word van die heerlikheid wat kom. Daarvoor haal Paulus drie getuies aan: die skepping, die gelowiges en die Heilige Gees.

Paulus praat van ’n drieërlei sugtinge. Daar is die sug van hele skepping. Die skepping sug onder haar slawerny aan die verganklikheid. Alles loop op die dood uit. Daarom ook die roep om lewe. Daarom sien die skepping uit na die herstel van alle dinge.

Die gelowiges sug ook. Hulle het die Gees as eerste gawe, as waarborg, ontvang. Hulle sien met sterk verlange uit na die volkome heil, na hulle verheerliking wanneer dit volkome duidelik sal wees dat hulle kinders en erfgename is.

Ten slotte is daar ook die sug van die Gees. Die Gees self pleit vir ons met onuitspreeklike sugtinge. Daar is dus ’n sug van die skepping, ’n sug van die kinders van God en ’n sug van die Gees. By die lyding van die teenwoordige tyd is daar een groot gesug.

Vanoggend wil ons kyk na die sug van die Gees. Ek verkondig aan u: die Heilige Gees help ons in ons gebedswakheid

  1. Die noodsaak van die hulp
  2. Die werklikheid van die hulp
  3. Die verhoring van die hulp

In al die lyding van die teenwoordige tyd bly daar nog steeds ’n uitweg. ’n Uitweg wat deur God gegee is. ’n Uitweg wat ons as Christene moet gebruik. Watter uitweg is dit? Dit is die uitweg van gebed. God wil hê dat ons aanhoudend tot hom kom in gebed. In Ps 27 lees ons: "Van u sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!" En in Ps 50:15 lees ons: "Roep my aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet my eer."

As jy die uitweg deur geloof vind en volg, word jou lyding draaglik. En nie alleen dit nie. Jy kan die lyding so verdra dat God daardeur geëer word. Dan vind jy rus in Hom. Jy vind rus in sy liefde en trou, waarvan geen skepsel jou kan skei nie. Op hierdie manier kan ’n kind van God baie verdra, selfs vervolging en dood.

Gemeente, in die NT lees ons ook van hierdie uitweg, die gebed. Dink byvoorbeeld aan Fil 4:6 waar geskrywe staan: "Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God." Deur gebed kan jy jou besorgdheid – om voortdurend deur moeilikhede vasgevang te wees – oorkom. In die plek daarvan ontvang jy die vrede van God. "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus."

Dit is egter jammer dat ons ook gereeld met hierdie uitweg moeilikhede teëkom. Op gegewe oomblikke is jy buite raad. Gebed werk nie meer nie. Jy sukkel om die woorde op jou lippe te kry.

Al is jy ’n kind van God, bly jy nog steeds ’n swak en sondige mens. Nie net fisies nie, maar ook geestelik. Die kategismus verwoord dit so in Sondag 52: "Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie." Moenie die oorblywende swakheid onderskat nie. Daardie swakheid rig baie skade aan ons lewens. Dit is ’n verskriklike mag wat aanhoudend God se werk probeer verwoes. Daardeur val ons voortdurend weer in sonde.

Ja, ook in ons gebedslewe sien ons die swakhede voortdurend voor oë. Daardeur ontstaan gebedswakheid te midde van lyding. Ons ervaar moeite met die uitweg wat God gewys het, moeite met gebed. Ons raak deurmekaar, moontlik selfs wanhopig oor die gebed self. Jy weet jy moet bid, maar jy kan jouself nie daartoe bring nie. Of jy weet nie hoe om te bid nie. Jy het ’n gebrek aan kennis en wysheid. Hierdie verwarring kan daar ook wees mbt die inhoud van die gebed. Jy is raad op oor wat jy moet bid. Waarvoor vra jy in jou konkrete
lydingssituasie?

Die teks verwys na die laaste moeite – verwarring mbt die inhoud van die gebed. Ons weet nie waarvoor ons moet bid nie. Dit sal seker duidelik wees, gemeente, dat dit ’n ernstige saak is te midde van jou lyding, ’n gevaarlike saak. Dit is immers so dat as jy nie weet wat om te bid nie, daar nie ’n gebed sal wees nie. Dan sal jy nie roep tot die God van jou lewe nie. Hoe donker word dan nie jou lewenspad nie. Jy voel eensaam en alleen in die diepte. Noudat die pad van gebed verhinder is, het jy nie meer ’n uitweg uit jou lyding nie.

As jou lyding gekom het sonder die toedoen van mense, bv siekte of ’n ongeluk kan die krisis des te swaarder wees. Jy voel dat jy in jou lyding direk met God self te doen het. Dalk voel dit asof God teen jou gedraai het. Waarvoor moet jy dan bid? Is dit nie Hy wat daardie lyding oor jou pad gebring het nie?

Moet jy bid vir ’n spoedige verlossing van jou liggaam wat so ondraaglik ly? Moet jy bid vir genesing en verligting van lyding? Moet jy vra vir geduld en volharding? Moet dit ’n gebed wees vir verligting of ’n gebed vir krag en vertroue? Deur ons swakheid weet ons nie waarvoor ons moet bid nie. Die gebed, as uitweg, gaan deur ’n krisis heen. As gevolg daarvan gaan ons deur ’n dal van diepe duisternis.

Maar, gemeente, in die angswekkende dal van lyding kom die Here na jou toe om jou te troos. Hy bemoedig jou met die woorde: miskien weet jy nie waarvoor jy moet bid nie. Ek weet dit egter wel. Ek het al klaar my voorsorgmaatreëls geneem. Ek gee my Gees om jou te help in jou
gebedswakheid. My Gees, die Gees van genade en smekinge. Jou gebedskrisis verander Ek na ’n gebedsgeleentheid vir my Gees. Jou ten goede. Want in die diepte los Ek jou nooit alleen nie.

Dit lei ons na die tweede punt: die werklikheid van die Gees se hulp in ons gebedswakheid. "Net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp."

Die Gees van Christus hou ’n oog oor hulle wat aan Christus behoort. Hy ken hulle gedagtes en gevoelens. Hy kom agter dat ons maklik moed verloor en geen toekoms meer sien nie. Hy sien dat ons partykeer raad op is met die gebed. Hy sien dat die kontak met God in gevaar kom. Daarom kom hy vinnig tot ons hulp. Die Gees is immers as Trooster vir ons gegee. Christus wou ons nie as weeskinders los nie. Hy het ons ’n ander helper gestuur. Daardie Trooster is met ons, ook in die dieptes. In Hom, is God met ons. So word die kontak met God beskerm. Deur die biddende intree van die Gees.

Broeders en susters, almal wat die eerstelinge van die Gees het, kan verseker weet dat die Gees sal help. Die eerstelinge is immers ’n waarborg van al Christus se weldade. Wanneer God A sê, sê hy ook B, en werk hy aan na die Z. God laat nie vaar die werke van sy hande nie. Wat hy begin het, sal hy ook voltooi. Daarom spring die Gees in om jou te help. Hy gaan vir jou bid. So is jy nie alleen in die diepte nie. Ook nie sonder gebed nie.

Die Gees doen sy heilswerk op ’n wonderlike wyse: "Die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Dit wys hoe ondeurgrondelik en troosvol die werk van die Gees in ons is. Dit is die Gees self wat werk. Die Gees wat ware en ewige God is. God self is dus besig in ons hart. Hy tree as ons Helper vir ons in. As ons nie mooi weet wat om te bid nie, bid Hy vir ons. Die moeites het verwarring in ons gedagtes gebring. Ons was radeloos, spraakloos. Ons gedagtes was deurmekaar. Ons kon nie die regte woorde vind vir ons gebed nie. Maar God se Gees kom tot ons hulp met onuitspreeklike sugtinge. Hy praat nie ’n menslike taal nie. Die Gees bring die nood van God se kinders voor die troon van God in sy eie taal en op sy eie manier. Hy doen dit op ’n dringende manier. Ooreenkomstig die grootheid en erns van ons nood. En die taal van sy sugtinge word in die hemel verstaan.

Die sugte van die Gees kan nie in menslike woorde uitgedruk word nie. Hulle is onuitspreeklik. Hulle oortref ons uitdrukkingsvermoë. Hulle is so diep en vol, so teer en sterk dat ons hulle nie kan verwoord nie. Hier praat God in ons hart tot God in die hemel.

Gemeente, wat ’n ryk troos bied God ons in ons lyding. Dit is ongelooflik. Tog moet ons dit glo. Ons moet God se Woord glo. Want net deur geloof word God se beloftes vervul. Ook God se belofte van
gebedshulp. Deur geloof mag jy weet dat die Gees in en vir jou besig is.

In geloof mag jy die Gees se hulp ervaar. Dan bly daar uitsig, hoe donker jou lewenspad ook al mag wees. Jou geloof gee blydskap en krag. Blydskap, agv God se goeie Gees, die Gees van gebed. God self sorg daarvoor dat die gebede voortgesit word. Die uitweg uit die lyding word beveilig. Jy kan verseker wees van blywende kontak met God. Deur die Gees wat in jou werk.

Jy ervaar ook die vreugde omdat jy weet dat jou gebede aangenaam is vir die Here en sekerlik deur hom verhoor sal word. Dit is die derde gedagte: Die verhoring van die hulp van die Gees in ons gebedswakheid.

Dit mag so wees dat ons die sugtinge van die Gees nie kan uitspreek nie, maar God verstaan dit wel. Dit is waaroor dit gaan. Dit is die belangrikste. God het geen probleme met die Gees se taal nie. Wat sou jy anders verwag het? Sou God Homself nie verstaan nie, sy eie woorde? Hy ken die bedoelings van die Gees.

Die Gees deursoek ons harte ook terwyl ons ly. Die Here stel voortdurend belang in ons gedagtes en gevoelens; dit het sy volle aandag. Hy wil weet wat ons dink, ook wanneer ons verward is. Hy deursoek ons. Hy ken ons harte beter as onsself. Hy is immers die Een wat ons harte deursoek.

Terwyl God ons harte deursoek, hoor hy telkens weer die sug van die Gees. En hy weet wat die bedoeling van die Gees is. Nee, dit is nie net ’n objektiewe kennis, soos hy alles weet as die alwetende God nie. Hierdie wete van God is veel meer. Dit is ’n wete van liefde, ’n ware betrokkenheid. ’n Kennis wat nie afwys nie, maar aanneem. Dus word ons deur die Woord van God getroos met die verhoring van die voorbede van die Gees.

Daardie gebed is nie sonder gevolge nie. Jy kan seker weet dit het ’n uitwerking. God ken die bedoeling van die Gees. Hy stel belang in die Gees se voorbede. Hy aanvaar dit. Hy verhoor die gebed van sy Gees. Altyd jou ten goede.

Jy kan ook seker wees van die verhoring omdat die Gees se voorbede aanneemlik is by God. Die Gees doen immers voorbede ooreenkomstig die wil van God. Hy bid soos geen mens kan bid nie: suiwer en waarlik geestelik. Hy steek nie iets weg of vergeet nie iets nie. Hy weet presies waarvoor en waarop hy moet pleit. En alles volkome ooreenkomstig die wil van God. Sou God so ’n gebed weier?

Daar is nog iets wat wys dat hierdie gebed sekerlik verhoor sal word. En dit is: die Gees pleit vir die heiliges. Vir uitgesoekte mense. Mense wat deur Christus vrygekoop is van die slawerny van die duiwel. Mense wat Christus tot sy eiendom gemaak het, betaal met die duur prys van sy kosbare bloed. Mense wat vernuwe is deur die Woord en Gees van Christus. Mense wat van die wêreld afgesonder is om hulle lewe aan die Here toe te wy. Mense wat God na die heerlikheid van die kinders van God wil bring. Kortom, die heiliges is mense vir wie die wonderlike woorde van vers 29 en 30 geld. God gaan saam met hulle van die A tot die Z. Daarom, as die Gees vir hierdie heiliges sou pleit, sal God dit weier? Nee, God verhoor die help van die Gees.

Broeders en susters, wat ’n ryke troos. Ons verwarring in ons gebedslewe kan partymaal angswekkend wees. Tog is daar geen rede tot wanhoop nie. In geloof kan jy altyd vol moed wees. Jy het mos die Gees as eerste gawe ontvang? Hy het jou hart tog sy woonplek gemaak? Dan is jou hart ook sy werkplek. Sy werkplek, waar hy as voorbidder optree. Wat jy nie regkry nie, doen Hy vir jou. As jy deur verwarring geen woorde kan vind nie, verwoord Hy jou nood vir jou. Hy bid volgens die wil van God. Vir heiliges soos jy en ek. ’n Gebed wat vir die Here aanneemlik is. En verseker verhoor word. Jy twyfel tog nie daaraan nie? Aanvaar God se heil en troosvolle Woord. Ook as jy ’n pynlike siekte of ondraaglike lyding ervaar. Daar is geen rede tot wanhoop nie.

Die Trooster van die Kerk bewaak die enigste uitweg. Hy volg dit op vir jou. Hy neem jou gebede oor en maak hulle volmaak. Daarom is jy nooit alleen in die diepte nie. Ook nooit sonder gebed nie. Jy word gehelp, deur die Gees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)