Die tiende gebod is 'n harttoets deur God

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 44 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 119: 1, 2, 3
Gebed
L. Psalm 51
Ps. 51: 5
Prediking
SB. 26: 10, 11
Geloofsbelydenis
Ps. 86: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 139: 1, 12

Broeders en susters,

Soms moet mense 'n kardiogram laat maak. U weet: dis 'n hartondersoek waarby 'n apparaat al die beweginge van die hart noukeurig registreer.

Dit kan gebeur dat die dokter daarna op 'n nog grondiger ondersoek van die hart besluit en dat daar 'n kamera via die slagare na die hart toe geskuif word.

So'n ondersoek kan gerusstellend wees: alles blyk reg te wees en daar is geen rede vir kommer nie.

Maar dikwels wys so'n ondersoek ook dat daar 'n groot fout by die hart is. Daar moet dadelik ingegryp word anders kan die hartprobleem dodelik wees!

Die Tiende Gebod van God se verbondswet sou ons ook 'n tipe van 'n kardiogram kon noem. Of selfs so'n ondersoek waarby met 'n kameraatjie tot in die binneste van ons hart deurgedring word.

Op die eerste gesig lyk die Tiende gebod niks nuuts meer toe te voeg nie. Dit lyk min of meer 'n herhaling van wat in voorgaande gebooie klaar gesê is: "Jy mag nie steel nie" en "Jy mag nie jou naaste se huis en sy dienskneg en sy diensmaagd, sy os en sy esel begeer nie"- dit is tog omtrent dieselfde?

"Jy mag nie egbreek nie" en "Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie"- wat is die verskil?

Maar uit die manier waarop in die Nuwe Testament 'n paar keer die Tiende Gebod aangehaal word, leer ons dat in die laaste gebod van God se Wet alle nadruk op ons begéértes gelê word: "Jy mag nie begeer nie"- so vat die apostel Paulus die Tiende Gebod saam.

Die Tiende Gebod kyk verder as wat ons sê en doen. Die Tiende Gebod vra na wat daar leef, na wat daar gebeur in ons HART.

En die uitslag is glad nie gerustellend nie. U en ek- ons ly almal aan 'n dodelike hartafwyking. Die Tiende Gebod bring dit haarskerp aan die lig.

Daarom verkondig ek u vanaand die betekenis van die Tiende Gebod, en daarmee tegelyk die erns van die hele wet, onder hierdie tema:

DIE TIENDE GEBOD IS 'N HARTTOETS DEUR GOD

WANT IN DIE LAASTE GEBOD

  1. SOEK GOD ONS TOTALE HART
  2. EN SO BEWERK HY BY ONS 'N VERSLAE HART
  3. EN LAAT HY ONS AL HOE STERKER VERLANG NA 'N HERSKAPE HART

1. U verstaan natuurlik, broeders en susters: wanneer ek van u en my hart praat, bedoel ek in hierdie geval nie die pomp in ons liggaam wat die bloedsomloop versorg nie. Ons praat hier nie van die holle spier wat ons in ons binneste kan voel klop nie.

Ons gebruik die woord "hart" ook as ons ons diepste innerlike wil aandui: die sentrum van ons gedagtes en gevoelens, die oorsprong van ons begeertes en verlangens. Niemand kan presies aanwys waar ons daardie belangrike knooppunt in ons lewe moet soek nie. Is dit dalk ons brein?

Maar ons noem dit nou maar eenmaal "ons hart".

Want so praat die HERE in sy Woord oor ons verborge innerlike, oor die diepste roersele van 'n mens.

"Uit die hart is die oorspronge van die lewe" sê die Spreukeboek. Met ander woorde: in ons hart, in daardie verborge knooppunt êrens diep in ons, begin alles wat ons dink en sê en doen. Elke gedagte, elke woord op ons tong, elke doelbewuste daad het ontstaan in ons hart. "Waar die hart vol van is, loop die mond van oor", sê ons daarom.

Maar ons hart is nie alleen 'n bron waardeur daar baie na buite toe kom in ons lewe nie. Daar is ook 'n omgekeerde verkeer. Daar kom terselfdertyd ook baie van buite af na ons toe wat tot binne in ons hart wil deurdring en hom daar wil nestel.

Ons kan dinge hoor of sien wat ons daarna in ons hart bewaar. Ons kan dinge ter harte neem.

Daar is in ons hart selfs verborge dieptes waar ons self nie eers mooi kan bykom nie. Die skuilhoeke van ons hart. Daar lê begeertes en neigings weggesteek waarvan ons self skrik as iets daarvan aan die lig kom.

Nou maar goed, broeders en susters, dié hart van ons word deur die HERE ondersoek as Hy met die Tiende Gebod van sy wet na ons toe kom. Nadat die HERE in die eerdere gebooie ons hele doen en late al onder die loep geneem het, dring Hy met die laaste gebod deur tot in die diepste skuilplekke van ons hart.

Hoe lyk dit daar?

En God se bedoeling met hierdie harttoets is duidelik: Hy eis ons hele hart vir Hom op. Ons hart moet tot in sy diepste skuilhoeke skoon wees. Vol suiwere begeertes en verlangens en gedagtes. Daar mag hoegenaamd niks in ons hart wees wat teen God se wil indruis nie. Die Kategismus kon dit nie mooier onder woorde bring in Vraag en Antwoord 113 nie: "Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig (!) vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê".

God soek regtig my totale hart: ek mag nog nie vir 'n oomblik met iets besig wees waardeur my aandag van Hom afgetrek word nie. Dit mag nooit gebeur dat ek 'n keer nie so veel lus het om kerk toe te gaan nie. Ek mag nie een keer onnadenkend die Naam van die HERE in my mond neem nie, tydens Psalmsing of Bybellees of so.

Ek mag nooit opstandig wees oor God se leiding met my lewe nie. Ek mag nie een keer sleg dink oor my onderwyser op skool of my baas by die werk nie. Ek mag nie een keer driftig word of iemand in my hart iets leliks toewens nie.

Ek mag nog geen dag, ja geen uur lui wees nie. Daar mag nog nie 'n kiem van verkeerde seksuele gedagtes in my opkom nie. Nooit mag ek hebsugtig wees of afgunstig nie. Ek moet verkeerde tv-programme nie eers wil sien nie, 'n slegte blad nie eers wil inkyk nie........

Dis vir die HERE nie genoeg as ons teen hierdie tipe dinge stry en verkeerde begeertes en gedagtes probeer onderdruk nie. Ja, dit moet ook. Maar die HERE is daarmee nie tevrede nie. Hy wil hê daar mag selfs nie een verkeerde begeerte of neiging of gedagte of lus vanuit ons hart opkom nie. Want solank as wat dit nog daaruit opkom, beteken dit dat daar iets fout is in ons hart. Dit is klaarblyklik nie vol van die HERE alleen nie.

En dis wat God soek.

Hy wil alles in almal wees. Sy goeie gebooie moet ons lewe regeer tot in die diepste skuilhoeke van ons hart. Ons moet net soos Christus kan sê: "Diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, dra ek u heil'ge wet. Dus bied ek U hart en hande in will'ge offerande, al wat ek is en het. "

Dit moet vir ons 'n vanselfsprekendheid wees om van soggens vroeg tot saans laat vir die HERE te leef en sy gebooie te volbring. Ons moet soos die digter van Psalm 119 kan sing: "HERE, hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. Ek het my hart geneig om u onsettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe".

Eintlik soek die HERE in die Tiende Gebod niks nuuts nie, broeders en susters. Wat is dit anders as: "Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart"?

En: daarom moet jy ook jou naaste 'n goeie hart toedra.

Dit het die HERE nog altyd van die mens gevra. Vanaf sy eerste lewensdag.

En u weet mos hoekom dit HERE ons totale hart vir Hom soek?

Hy is nie 'n werkgewer wat daarmee tevrede is as ons so veel moontlik die reëls in sy bedryf inagneem nie. Hy is nie 'n polisieman wat kontroleer of ons ons wel volgens die uiterlike bepalings van die wet gedra nie.

Die HERE is ons hemelse Váder wie se hele hart na óns uitgaan. 'n Vader wat óns liefhet met sy hele hart en siel en verstand en kragte.

Wat is dus meer vanselfsprekend as dat Hy ook ons hele hart vir Hom wil hê?

Hy kom in die Tiende gebod dus nie as 'n dokter na ons toe om 'n harttoets te doen nie. 'n Dokter doen dit dikwels maar afstandelik. Dis maar net sy werk. Dit raak hom by die meeste pasiënte nie so baie as die uitslag van die toets sorgwekkend is nie.

Maar as God met die Tiende Gebod na ons toe kom, kom Hy as ons Váder voor ons staan: "My seun, my kind, gee my jou hart".

2. Sou God 'n dokter gewees het, ons sou met 'n angstige hart van die ondersoektafel afgeklim het, broeders en susters. Immers, die uitslag van die harttoets lyk glad nie goed nie. Ons loop almal rond met 'n aangebore hartafwyking. Ons hart is 'n bron van onreg en vuiligheid.

"Selfs die geringste neiging of begeerte wat teen God se goeie gebooie ingaan, mag nooit in ons hart opkom nie..... ". Maar wie kry dit ooit reg? !

Daar kom baie slegte neigings en begeertes in ons hart op!

Wat die HERE in die dae van die Sondvloed moes sê, kan Hy vandag nog presies so sê: "Die voortbrengsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af".

Ons wis dit natuurlik lankal. Daar gebeur in ons hart so veel wat nie voor God se oë kan bestaan nie. Ons verberg in ons hart so veel wat ons ook maar liewer vir ons medemense verborge hou.

En selfs al veg ons teen daardie vuiligheid en sonde wat nog steeds uit ons hart opkom, bly daar dele van ons hart wat ons eenvoudig nie onder beheer kan kry nie. Skielik vlam die drif in ons op. Al wou ek dit nie, maak daardie vrou tog verkeerde begeertes in my los.

Ja, hoe onmoontlik is om die verste skuilhoeke van ons hart onder beheer te kry, blyk wel die duidelikste in die drome wat ons soms droom. 'n Mens kan soggens daarvan skrik dat jy in jou drome met sulke goed besig kan wees!

Ja, ons wis dit lank al dat dit met ons hart sleg gesteld is.

Maar wanneer God se harttoets in die Tiende Gebod weer 'n keer haarskerp aanwys, sak ons hart ons heeltemal in die skoene.

Wat die HERE hier van ons vra is vir elkeen van ons te veel gevra. "Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie!". Ook God se allerheiligste kinders het nie so'n volmaak gehoorsame hart nie.

Kyk maar in die Bybel: Moses was wel 'n baie spesiale kind van God. Maar hy wou aanvanklik nie gewillig na die Egiptiese Farao toe gaan nie. En later, tydens die woestynreis, het hy in drif op die rots geslaan.

Dawid was die beste koning wat God se volk voor Christus ooit gehad het. 'n Man na God se hart. Maar ook hy kon die verlokking wat van 'n mooie vroueliggaam uitgegaan het, nie weerstaan nie.

Jeremia was 'n ywerige kneg van die HERE. Maar op 'n stadium het hy in opstand gekom teen God se hoë eise aan sy profeteamp.

Paulus het 'n wonderlike bekering deurgemaak. Maar hoor wat moet hy beken in sy brief aan die Romeine: "Ek weet dat in my, dit wil sê: in my vlees, niks goeds woon nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil, doen ek".

En soos dit met daardie allerheiligstes was, so was dit met die groot manne in die kerkgeskiedenis, en so is dit vandag nog presies so met u dominee, u wykouderling, daardie broeder of suster in die gemeente wat vir u 'n voorbeeld van geloof en liefde vir die HERE is. Niemand het 'n hart wat so volmaak vervul is van liefde en ywer vir die HERE dat daar hoegenaamd nie meer verkeerde gedagtes en begeertes in sy hart opkom nie.

Ek het gesê: as die HERE 'n dokter sou gewees het, sou ons met 'n angstige hart van die ondersoektafel afgeklim het. Hierdie hartkwaal is dodelik! Dit veroorsaak die ewige dood.

Maar ek het ook gesê: God is nie 'n dokter nie. Hy is ons Vader.

En dié wete laat ons met 'n verslae hart staan na die harttoets van die Tiende Gebod. Ons kan Vader nie gee wat Hy met sy hele hart verlang nie.

Maar dit is ook presies wat God met sy telkens weerkerende harttoets in die Tiende Gebod by ons wil bewerk, broeders en susters: 'n verslae hart.

Want laat ons eerlik wees: ons raak maklik aan die sonde gewoond. Ons leer sommer om met so'n vuile hart te leef. "Ons is nou maar so", sê ons dan. En: "daar is mos g'n mens volmaak nie? !"

Maar dan deurdring God ons deur middel van die Tiende Gebod daarvan dat ons met so'n hart nie kán leef nie. Omdat ons nie met Hom, die lewende God, met so'n hart kan leef nie. En sonder Hom is daar g'n lewe nie.

Met die Tiende Gebod wat aan die hele wet 'n ekstra dimensie gee, ontneem die HERE ons alle hooghartigheid en leer Hy ons om met ons dodelike hartkwaal die lewe buite onsself te soek.

In sy Seun Christus.

Want daar is in die hemel en op die aarde maar een Dokter wat met hierdie dodelike hartafwyking ons lewe kan red. Jesus Christus.

Hy het naamlik sy eie hart geskenk om daarmee ons aan die lewe te hou.

Hy het uit die hemel aarde toe gekom; Hy het ons vlees en bloed aangeneem; Hy het met hart en siel mens geword soos u en ek. En Hy was bereid om Homself in die dood oor te gee en so hartskenker vir al God se kinders te word.

U en ek- ons kan alleen nog van sy hart lewe, broeders en susters. Ons het g'n lewe meer in onsself nie. Slegs as ons met ons slegte hart die lewe buite onsself in Christus soek, is daar nog 'n toekoms vir ons.

Maar daarom het ons die harttoets van die Tiende Gebod so dringend nodig! Want ons sou dit sommer weer vergeet. Ons sou sommer ons dodelike hartkwaal te lig opvat. Ons sou selfs, deur ons met ander mense te vergelyk, sommer kon dink ons hart is vir die HERE heelwat beter as by die meeste ander mense.

Ons sou dus sommer aan ons sondige hart kon sterf. Vir ewig!

God wil egter hê ons moet leef. Daarvoor het Hy sy Seun in die dood oorgegee. Daarom maak Hy ons met sy wet, veral deur die Tiende Gebod, telkens opnuut verslae van hart en dwing Hy ons weer om ons toevlug tot die gekruisigde Christus te neem. Elke Sondagoggend as die wet gelees word, lê God u hartkwaal bloot. Elke jaar as die Tien Gebooie een-een in die prediking verduidelik word, maak God 'n kardiogram by u. Hy laat opsetlik by u die hart in die skoene sink, sodat u u lewe in Christus se hande sal bly gee.

Hy hou u deur sy wet onrustig sodat u slegs rus sal vind in Christus. Want sonder Hom kan u g'n dag meer leef nie.

3. Wanneer ek sê dat ons alleen nog maar op Christus se hart kan leef, gebruik ek natuurlik beeldspraak, gemeente. U sal dit verstaan. Ek bedoel daarmee: Slegs as ek my skuldbewus aan Christus gewonne gee, Hom as my Borg by die Vader aanvaar wat vir my skuld volkome betaal het, is daar vir my nog lewe moontlik.

Want Christus het nie letterlik my hart uitgesny om sy hart in die plek daarvan te gee nie.

Ek sukkel nog steeds met my eie sondige hart.

Daar is nog daagliks verkeerde begeertes en gedagtes wat teen God se gebooie ingaan.

Maar wanneer God met sy wet by ons 'n harttoets doen en ons dodelike hartkwaal aan die lig bring; wanneer God ons met die Tiende Gebod dwing om voortaan nog slegs op Christus se hart te lewe, gebeur daar tog ook iets in my eie hart. Daardie harttoets bewerk die begin van 'n verandering in my hart.

Dit bring temidde van nog soveel slegte, sondige begeertes 'n nuwe, suiwer begeerte in my hart. Die begeerte om 'n nuwe, 'n herskape hart te mag ontvang waaruit alle sonde en vuiligheid verdwyn het; 'n hart wat totaal deur God beheers word.

Die harttoets van die Tiende Gebod wek die begeerte in ons hart om net so'n hart soos Christus te mag hê. 'n Gesonde hart. 'n Hart vol liefde vir God en die naaste. Sodat ons weer 'n gesonde lewe sal lei. 'n Volmaakte lewe.

Want elke nuwe harttoets van God bewerk by my 'n afkeer van myself oor my sondige hart.

Wat is daar mos, in weerwil van alle preke oor God se gebooie wat ek in my lewe alreeds gehoor het, en in weerwil van al die huisbesoeke waarin ek aangespoor is om met nog meer ywer teen die sonde te stry en vir die HERE te lewe- wat is daar by my nog baie gemaksug, selfingenomenheid, eiewysheid, oppervlakkigheid en opvlieëndheid, afguns en hebsug, onreinheid, skynheiligheid en geskinder.

Maar dit kán nie so bly nie! Ek wíl dit nie meer nie. Ek kan eenvoudig nie hierin berus nie. Dus gaan ek al hoe vuriger bid om die totale suiwering van die diepste roersele van my hart deur die Heilige Gees.

Want ek besef deur elke harttoets des te sterker dat ek dit self nooit gaan regkry om my hart so te verander nie. Daarvoor moet daar 'n wonder in my lewe gebeur. Slegs die Heilige Gees van God kan dit bewerk. En daarvoor moet die Gees 'n krag ontketen nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van dooies nie, bely ek met die Dordtse Leerreëls.

Elke nuwe harttoets maak my des te begeriger om die krag van Christus se Gees in my lewe al hoe sterker te mag ervaar. Om my hart vandag al gaandeweg te voel verander.

En ek gaan uitsien na die dag waarop ek hierdie lewe mag verlaat. Nee, nie omdat ek lewensmoeg is nie. Maar omdat ek moeg vir die sonde is. Omdat ek met my hele hart vir Gód wil lewe en omdat ek weet dat daardie verlange eers na hierdie lewe, as die volmaakte lewe terugkeer, volkome vervul sal word.

Ken u so'n verlange by uself, broeders en susters?

Ja?

Dan bemerk u dus in u eie lewe hoe heilsaam so 'n harttoets deur middel van Gods Wet is.

Dit bring nie net u dodelike kwaal aan die lig nie. Maar dit dra terselfdertyd 'n nuwe lewe in u hart in. Die begin van die ewige lewe.

Dus kan ons onsself nooit dikwels genoeg aan daardie toets onderwerp nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)