Die Here begeer by Sy kinders 'n suiwere woordestroom

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 43 H K

LITURGIE:
L. Jakobus 1: 19-26 & Jakobus 3: 1-12
Ps. 15: 1, 2, 3
Ps. 24: 2
Ps. 71: 2, 4 na die Doop
Ps. 12: 2, 3, 4, 6
Ps. 19: 7
Ps. 19: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

U weet: mens kan aan jou tong sien of jy siek of gesond is. 'n Dokter sien dit dadelik aan die kleur. Maar jy kan dit ook self vasstel. Moet net 'n slag in die spieël kyk.

Ons moet vanoggend ook bietjie in die spieël kyk. In die spieël van God se Wet. Daarmee het Jakobus die Wet mos vergelyk in hfst. 1 van sy brief. Met 'n spieël waarin ons onsself noukeurig moet bestudeer, sodat ons kan agterkom wat daar in ons lewe fout is en moet verander.

En wanneer ons vanoggend in die spieël van God se Wet kyk, konsentreer ons ook op ons tong. Want ons tong wys nie net of ons liggaamlik siek of gesond is nie. Ons tong wys ook hoe dit met ons geestelike lewe gesteld is. Ons tong vertel hoedat dit met ons hart gesteld is. Nee, nie die kleur van ons tong nie, maar die gebruik van ons tong wys waar ons hart van vol is.

Soos ons gesegde mos lui: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Dit is trouens nie net 'n gesegde van ons nie; dit is 'n woord van ons Here Jesus Christus. Hy het alreeds gesê dat ons spraak ons verraai. Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. En indien die hart sleg is, hoe kan iemand iets goeds sê?

Ons woordestroom ontspring in ons hart. Daar is die bron.

En ons wil dus vanoggend die gebruik van ons tong ondersoek om agter te kom hoedat dit met ons hárt gesteld is.

Die spieëlbeeld is nie altyd so mooi om na te kyk nie. Dis ook nie lekker om uit die spieël te moet agterkom dat jy nie gesond is nie.

Maar dit is wél heilsaam. Want jy kan nou betyds dokter toe gaan.

Ek waarsku u maar by voorbaat, broeders en susters: dis ook nie aangenaam om in die spieël van God se volmaakte Wet te moet kyk nie. Veral nie as ons op ons tong konsentreer nie. Ons het in Jakobus 3 gelees dat die tong die moeilikste liggaamsdeel is om onder beheer te hou. Dis 'n onbedwingbare kwaad.

En dit wys dus dat ons hart nie gesond is nie.

Dit gaan nie help om ons oë daarvoor toe te maak nie. Moet u ook nie vererg oor die beeld wat u in die spieël gewys word nie. Die spieël van God se Wet wil ons dwing om voortdurend ons toevlug tot die enigste Heiland (en beteken "Heiland" nie: "dokter" nie? ) te neem. Sodat sy Heilige Gees die bron van ons woordestroom kan suiwer.

Want, en so vat ek die Negende Gebod van die Wet van die HERE vir u saam:

DIE HERE BEGEER BY SY KINDERS 'N SUIWERE WOORDESTROOM

EN DAN WIL EK AGTEREENVOLGENS MET U NAGAAN HOEDAT DIE BRON WAARUIT ONS WOORDESTROOM ONTSPRING

  1. DEUR DIE GOD VAN DIE LEWE GESKAPE IS
  2. DEUR DIE VADER VAN DIE LEUEN VERGIFTIG IS
  3. DEUR DIE GEES VAN DIE LIEFDE GESUIWER WORD.

1. Die eerste woord wat in hierdie wêreld gespreek is, het uit God se mond gekom, gemeente. Ja, hierdie wêreld het uit daardie woord van God ontstaan. God die HERE het net met woorde alles in sy skepping tevoorskyn en tot lewe geroep.

Toe Hy sy gedagtes onder woorde gebring het, het dié gedagtes op die selfde oomblik werklikheid geword.

En die gevolg was 'n wêreld vol lewe.

Ook 'n wêreld vol geluid, klank.

Fluitende voëls, bulkende beeste, brullende bere, zoemende insekte, maar ook die wind wat waai, die reën wat ruis, die dreunende donder en bruisende branding, en wat van mooie musiek, die lawaai van werktuie......?

Alles het van die Skepper sy eie geluid ontvang.

En al die klanke saam klink soos musiek in sy ore. Hy, die lewende God, soek nie die doodse stilte nie. In al daardie geluide weerklink die lewe wat daar in Homself is en wat uit Hom voortgekom het. Sy lewenskragtige skeppingswoord word nou orals in die wêreld duisendvoudig weerkaats.

Ons gehoor het reeds soseer daaraan gewoond geraak, of selfs daarvoor afgestomp, dat ons die goddelike musiek in die skepping dikwels nie eens meer hoor nie. Tydens 'n vakansie kry ons daar eers weer 'n oor voor.

Maar vra bietjie vir mense wat heeltemal doof is, hoe dit is om dag in dag uit in 'n absolute stilte te moet lewe!

God het ook aan die mens 'n stem en geluid gee. Ook ons kan sing, en fluit.

Maar ons het as enigste skepsel méér ontvang as net geluid. Ons het het ook die vermoë ontvang om wóórde voort te bring, om 'n taal te praat, om net soos God ons gedagtes en gevoelens onder woorde te bring. Ons woorde het inhoud, betekenis. Ons kan boonop ons woorde op papier vaslê. En al is dit ook slegs 'n swak afspieëling van die skeppingskrag van God se woord- ook ons kan met 'n enkele woord 'n wêreld oproep. Ek dink dan byvoorbeeld aan 'n gedig. Of 'n boek.

Maar daarmee het die mens in die taal die moontlikheid ontvang om te kan kommunikeer. Met God en met ons naaste. Ons kan nou die lewe wat ons van ons God en Vader ontvang het, met Hom en met mekaar deel. Onder woorde bring.

Ons kan die HERE aanspreek en aanbid. Ons kan op sy woord aan ons reageer. Ons kan God se grootheid en goedheid besing. Daarvoor het die HERE ons ore en 'n mond gegee, woorde en 'n taal: sodat ons na sy stem sou luister en sy woord sou beantwoord. Sodat ons Hom sou loof en prys.

Maar ons kan ook met mekaar kommunikeer. Ons gedagtes en gevoelens ook op mekaar oordra. Ons kan mekaar opwek om sáám die grootheid en goedheid van ons God en Skepper te besing. Ons kan ons ons blydskap en verwondering met mekaar deel. Mekaar kan mekaar waarsku vir eiewysheid en hoogmoed.

En ek sê weereens: ons is nie altyd meer ten volle bewus van die geweldige geskenk van die tong en die taal nie. Ons besef dit eers weer as ons in aanraking kom met mense wat so doof geword het dat jy alles vir hulle moet opskryf, of met mense wat as gevolg van 'n keelaandoening of 'n breinbloeding nie meer kán praat nie! Dan besef ons skielik weer die wonder dat ons kán en mág praat.

Ja, ons tong en taal is 'n wonder, broeders en susters. Een van die wonderlike skeppingsgawes. 'n Pragtige middel om ons hart te kan uitstort.

Ja, dít is God se bedoeling met ons tong en mond: sodat ons ons hart kan uitstort.

En het God die mens nie geskep met 'n hart vol liefde vir Hom nie? Dus moes ons mond dáárvan oorloop!

Het God die mens ook nie met 'n hart vol liefde vir die naaste geskep nie? Dus moes ons mond ook oorloop van liefde vir mekaar.

Ons kon maar die hart op die tong hê.

2. Maar wie van u durf dit vandag nog, gemeente: sy hart op sy tong hê? Ons praat nie meer so maklik reguit uit ons hart uit nie. En as iemand wel so maak, is dit meestal nie so aangenaam wat ons te hore kry nie.

Want as vandag die mond oorloop van dit waarvan die hart vol is, kom daar nie so veel welluidende en lieflike klanke meer nie.

Ons hart is nie meer soos God dit geskep het nie. En dus is ons woorde ook nie meer soos God dit bedoel het nie.

Die duiwel, die vader van die leuen, het die bron van ons woordestroom vergiftig.

Hy is die eerste wat in God se goeie skepping begin teëpraat het. Hy wou self die laaste woord hê, Hy wou net soos God wees, en het sy tong teen sy God en Skepper gekeer.

En nadat hy sy rug op God gedraai het, het hy die mens gaan soek om ook die bron van ons lewe te vergiftig.

Veral die wóórd het toe sy groot en gevaarlike wapen geword. Die feite verdraai, suggereer asof die HERE darem nie so goed vir die mens is as hulle gedink het, 'n halwe waarheid, 'n geraffineerde leuen- so het die duiwel in die hart van die mens geïnfiltreer en die liefde vir God en die naaste daaruit weggesuig. Kortsigtige en bedrieglike selfsug het hy daarvoor in die plek gegee. Hy het van die hart van die mens 'n moordkuil gemaak. Die mens koester daar haat en moordplanne teen almal ons in die pad staan.

En as nou die mond oorloop van dit waarvan die hart vol is- ja, dan kom daar dikwels, om 'n uitdrukking van Jakobus te gebruik: "'n dodelike gif" na buite.

En nou kom ons agter hoeveel betekenis so'n klein liggaamsdeel soos ons tong het. Die allerkleinste woord kan groot gevolge kry.

Jakobus het in sy brief die vergelyking gemaak met die stang wat ons in die bek van 'n perd plaas. En met die roer van 'n skip. En met 'n klein vlammetjie.

'n Klein rukkie aan een van die leisels- en die perd draai onmiddellik na regs of na links toe. Maar dus ook een verkeerde rukkie en die wa met sy vrag en mense kan oor die afgrond tuimel.

'n Amper onmerkbare verandering aan die stuurwiel en die groot skip raak heeltemal van sy koers af.

'n Brandende vuurhoutjie wat in agtelosigheid sommer weggegooi word en daar ontstaan 'n wegholveldbrand met 'n miljoene Rand se skade.

Maar so is dit ook met ons tong: een verkeerde woord kan onafsienbare gevolge kry. Rampe veroorsaak.

Een bevel- en daar word 'n oorlog ontketen met ontelbare slagoffers.

Een leuen in die hofsaal- en iemand word ter dood veroordeel, of lewenslank in die tronk gesluit.

Een hatelike opmerking- en iemand voel sy lewe lank seergemaak.

Een dwaling- en talle kinders van die HERE raak die regte spoor byster.

Een onregverdige besluit in die kerk- en 'n kerkstryd met 'n kerkskeuring kan die gevolg wees.

En die ergste is, sê Jakobus: 'n stang in 'n perd se bek kan jy maklik bedwing, en 'n roer ook. Selfs as jy 'n fout gemaak het kan jy dit maklik weer korrigeer en sodoende 'n ramp voorkom.

Maar 'n vuurtjie wat dadelik tot 'n groot brand uitgroei kan jy al nie meer so maklik bedwing nie. Laat staan dat jy die tong sou kan bedwing. Ons het hoegenaamd geen beheer meer daaroor nie.

Die magtige mens wat reeds so veel in die skepping getem en bedwing het: die gevaarlikste roofdiere vertoon kunste in 'n sirkus, op die hoogste bergtoppe het die mens sy voet gesit- maar sy eie tong kry hy nie onder beheer nie.

Die hel is in beheer daaroor, sê Jakobus reguit. Die duiwel maak van ons tong telkens weer 'n gevaarlike vuurvlam om die wêreld aan die brand te steek en die lewe te verwoes.

Ons kan dit almal daagliks waarneem, broeders en susters. Al kan ons die duiwel ook nie sien nie, sy verwoestende werk in God se goeie skepping is orals hoorbaar.

Die mond wat gegee is as 'n middel om die liefde vir God onder woorde te bring nie, word nou ook gebruik om God te laster. Daar is nie meer net mense wat hul God en Skepper vol verwondering en dankbaarheid aanbid nie, maar daar is ook baie wat sy Naam slegs as 'n vloekwoord in die mond neem.

Musiek, boeke, radio en televisie-programme word nie alleen gebruik om die eer van die HERE hoog te hou, maar word nie minder gebruik om sy eer neer te haal.

Valse profete doen die waarheid van God se Woord geweld aan en verlei met vroomklinkende maar bedrieglike klanke: 'n onopvallende betekenisverandering in die Bybelvertaling, 'n bietjie ander interpretasie van die Belydenis, eenvoudige siele.

Politieke maghebbers eis in brallende redevoerings alle eer vir hulself op en aanvaar geen God of koning bo hulle nie.

So keer die tong hom teen sy God en Skepper.

Maar nie minder teen die naaste nie.

Die tong word nie meer gebruik om die lewe wat ons van God ontvang het, met die nááste te deel nie, maar om die lewe vir die naaste onleefbaar te maak.

Die skinderpers word verdien miljoene daaraan om mense se naam in die modder te smeer.

Mense probeer met groot woorde, halwe waarhede, woordverdraaiings ens. hul teëstanders in die politiek of in die sakewêreld uit te skakel.

Mense staan mekaar vol huigelagtige vriendelikheid te woord, maar beswadder mekaar agter die rug.

In dié wêreld leef ons, gemeente.

Maar van dié wêreld maak ons self ook deel uit!

Ook ons hart is deur die duiwel vergiftig. En al het ook die Gees van ons Here Jesus Christus sy suiweringswerk in ons begin, die bron is nog baie troebel. Kyk wat gebeur, het Jakobus geskrywe: ons fontein laat uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel!

Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Ons loof met ons tong ons God en Vader, maar daarmee vervloek en beswadder ons die mense wat na die beeld van God gemaak is.

Ons sing in die kerk uitbundige lofpsalms ter ere van die God van ons lewe, maar op die kerkplein na die diens praat ons al weer sleg van broeder X of suster Y.

Ons kinders sing saam hul psalms in die skool en die katkisasieklas en die verenigings, maar in die pouse of na afloop kry hulle rusie, en hoor watter taal hulle teenoor mekaar gebruik. Hul woorde sny soos messe en slaan diep wonde!

Hoe kan hulle dit ook geniet, maar ons grootmense, nie minder nie, om 'n ander een so lank te terg dat hy kwaad word of begin huil.

Ook ons praat nog veels te veel ons mond verby.

As ons agtergekom het dat 'n broeder of suster oor die tou getrap het, blyk dit maar baie baie moeilik te wees om ons tong in toom te hou.

Of ons doen interessant en geheimsinnig met iets wat ons m. b. t. 'n ander gehoor het. Ons sê nie alles wat ons weet nie, maar wel so veel dat ons die ander nuuskierig gemaak het. Ja, en dan gooi ons daarna natuurlik direk wal as ons sê: "Miskien moes ek dit liewers nie vertel het nie; dit mag wees dat dit ook nie so erg is soos wat ek gehoor het nie.... Ons hoop maar so". Maar onderwyl is die vuurtjie klaar aangesteek.

Ook ons kan teenoor mekaar huigel terwyl ons in ons hart 'n afkeer van die ander het. Of mekaar mislei met onduidelike woorde of vae beloftes. Kinders wat ontwykende antwoorde aan hul ouers gee, 'n man of vrou wat onopreg is teenoor sy eggenoot. En hoe dikwels het ampsdraers al moet hoor, byvoorbeeld na die indringende opwekking om saam te doen aan die ondersoek van God se Woord in die vereniging: "Nee maar goed, miskien moet ek maar gaan. Ons sal maar kyk", terwyl daar hoegenaamd nie die opregte voorneme was om te gaan nie.

Die taal van ook ons tong is nie altyd eerlik en opreg nie. Die bron van ons hart gee geen suiwere water nie.

So verwoestend het die duiwel te werk gegaan.

3. Maar ek mag u die vreugdevolle boodskap verkondig dat God sy wêreld so lief gehad het, dat Hy 'n magtige suiweringsoperasie begin het.

Teenoor al die leuens en skynheilighede van die duiwel het Hy sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur. Sy Seun wat in die Skrif self dié Woord en die Waarheid genoem word.

Die Woord: in Hom het God sy hele hart vir ons blootgelê en al sy liefde vir ons onder woorde gebring.

Die Waarheid: Hy is in eie Persoon die bewys dat God betroubaar is sodat geen mens met Hom bedroë uitkom nie.

Hierdie Seun moes alle ellende van leuen en bedrog, laster en skynheiligheid in ons plek ondergaan om so die duiwel sy wapen afhandig te maak. En om al ons skuldige misbruik van ons mond by God te versoen.

Hy, ons hemelse Hoëpriester, stuur nou sy engel om met 'n vurige kool van die hemelse altaar ons mond en lippe aan te raak en ons skuld te versoen. Met daardie versoenende vuur keer Hy die verwoestende vuur wat in die hel aan die brand gesteek word.

Maar Hy doen meer: Hy gee vir almal wat na sy Woord luister, sy Heilige Gees, wat in die Skrif eweneens die Gees van die Waarheid genoem word. En die Gees van die Waarheid dring in ons lewe deur tot by die bevuilde bron, ons hart, om dáár, by die oorsprong van alle ellende, die suiweringswerk te verrig.

Die Gees bind ons teenoor die leuens van die bose God se liefde weer op die hart. Sodat dié liefde weer al hoe meer ons hart sal beheers.

En kyk hoé doen die Gees dit: sy wapen is eweneens die woord! Die suiwere en suiwerende Woord van God. Die Woord van die Waarheid.

Die God wat deur sy Woord die wêreld geskep het, herskep dit ook deur sy Woord.

Teenoor die leuens van die duiwel klink hierdie Woord, en dit dring in baie menselewens deur tot op die bodem van die hart.

Ja, dit vervúl hul harte. En waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die liefde vir God en die naaste leer ons toenemend om ons mond en lippe weer te gebruik vir dié doel waarvoor God dit aan ons gegee het: tot sy eer en tot opbouing van ons naaste.

Waar die Gees van die liefde die harte begin suiwer, word tong en taal weer 'n wonderlike kommunikasiemiddel tussen God en die mens en tussen die mense onder mekaar.

Daar klink weer lofpsalms in plaas van gevloek en getier. Daar vertroos en bemoedig mense mekaar, in plaas dat hulle mekaar belieg en beswadder. Of hulle wys mekaar eerlik maar tog ook geduldig tereg onder vier oë, om mekaar by die God van die lewe vas te hou. En hulle "ja" is ja, en hul "nee" is nee, terwyl vae beloftes wat begin met "miskien" nie gedoen word nie.

Want hul hart lê op hul tong, en hul hart is geen moordkuil meer nie.

Ek weet, gemeente: daar is by ons nog maar 'n geringe begin van hierdie herstelde lewe. Ons woordestroom is nog dikwels troebel of selfs giftig.

Juis daarom moes ons vanoggend weer in die spieël van God se Wet kyk. Ons tong bekyk.

Ek hoop dat u baie mooi gekyk het. Na uself gekyk het, en nie die spieël skuins gehou het om na ander in die kerk te kyk nie.

Want as u u eie onvolkomenhede probeer agterkom het, het terseldertyd die Gees van God sy suiweringswerk weer aan u gedoen.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)