Jou liggaam is 'n tempel van die Heilige Gees

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

Ps 84: 1, 2
Ps 84: 3, 4
Ps 127: 1-4
Ps 32: 1, 3, 4
Lees: 1 Kor 6: 12-20
Teks: Sondag 41 H.K.

Brs en srs, sns en dgtrs!

Op die Pinksterfees is die Heilige Gees uitgestort op alle vlees. So kan ons lees in Handelinge 2. Die betekenis daarvan is dit: Die Heilige Gees word sinds die Pinksterdag nie meer aan slegs enkeles gegee nie, maar elke gelowige ontvang die Heilige Gees. Oud en jonk, mans en vroue, seuns en dogters.

Sinds die Pinksterdag leef ons almal deur die Heilige Gees. By ons almal is daar sprake van 'n geestelike lewe.

Nou wil ek by die woord 'n bietjie stilstaan.

'n Geestelike lewe. Wat is dit?

Is dit dit dat ons gereeld oor geestelike sake praat?

Jy kry van die mense wat dit baie doen. Hulle enigste praat is oor die ewige lewe, die heerlikheid van God, die aanvalle van die Satan ensovoort.

Is dit die kenmerk van die ware gelowige dat hy voortdurend oor geestelike sake praat?

Ek dink nie so nie.

Vir my is die ware gelowige die persoon wat op 'n geestelike manier oor gewone dinge kan praat. Iemand wat op 'n geestelike manier omgaan met sy medemense, wat op 'n geestelike manier sy werk benader, wat op 'n geestelike manier geldsake hanteer. Dit is die egte gelowige.

In die preek vanmiddag gaan dit nie juis oor 'n geestelike saak nie. Dit gaan namelik oor seksualiteit, oor omgang met jou liggaam.

Nou is dit hier nie my taak om vanmiddag seksuele voorligting te gee nie. Dit is nog die tyd nog die plek daarvoor. Maar dit gaan daar vanmiddag wel om dat ons leer om op 'n geestelike manier met ons liggaamlikheid, en wel spesifiek met ons seksualiteit om te gaan. Om daaroor ook op 'n geestelike manier te leer praat.

Daar is 'n uitdrukking: Hoe groter gees, hoe groter bees.

Daarmee word bedoel: as iemand voortdurend oor geestelike sake praat op so'n manier dat 'n mens amper begin skuldig voel dat jy nie so kan praat nie, dan het jy 'n goeie kans dat jy met 'n oorgeestelike persoon te doen het. Wel, pas dan op.

'n Oorgeestelike persoon is dikwels ook oorliggaamlik. So gou dit gaan oor liggaamlike sake dan praat hy en leef soms as 'n bees.

Die Bybel leer ons 'n ander pad. Die Heilige Gees het kom woon in julle almal. Maar nie net in julle gees nie, maar ook in julle liggaam. Daarvan word jy nie oorgeestelik nie, maar daar gebeur iets anders. Die Heilige Gees maak van jou liggaam 'n tempel waar Hy wil woon.

Daaroor gaan dit in vanmiddag se preek:

Jou liggaam is 'n tempel van die Heilige Gees

  1. In die tempel verbied God afgodsdiens
  2. In die tempel vra God erediens

In die sewende gebod het ons met 'n beskermende maatreël te doen wat die Here vir sy volk Israel gegee het. Hy het sy volk bevry uit die slawehuis Egipte. Nou neem Hy hulle saam op die pad na Kanaan. Daar sal hulle moet leer om die Here te dien. Heel hul lewe moet vanaf nou in die raamwerk staan van die diens van die Here.

'n Belangrik onderdeel van die lewe van die mens is sy seksualiteit. Die Here het die mens geskape as man en vrou. En tussen daardie twee het 'n aantrekkingskrag geskep wat ons die mens se seksualiteit noem.

Daardie seksualiteit is 'n groot ding. Laat niemand dink dat hy dit sommer maklik kan hanteer nie. Ek dink daar word in baie boeke oor die onderwerp wel eens 'n bietjie al te onbekommerd oor die onderwerp gepraat.

In die sin van: aanvaar, jy is 'n seksueel bepaalde wese. Hanteer dit op 'n gesonde manier en dan is daar geen probleme nie!

Ek glo niks daarvan dat dit wat genoem word 'n 'gesonde visie op seks' inderdaad alles so eenvoudig maak dat jy jou seksualiteit sonder probleme kan hanteer nie. Ek meen seksualiteit is 'n te groot mag om so onbekommerd oor te kan praat. Om dit inderdaad op'n goeie manier te kan hanteer het ons nie net 'n gesonde visie op seks nodig nie, maar het ons nodig die hulp en bystand van die Heilige Gees. Anders gaan dit sommer maklik verkeerd.

Ek dink nou aan die volk Israel.

As die Here hulle na Kanaan bring is Hy bewus daarvan dat die volk sal kom bly in 'n land waar die goddelike skeppings-geskenk van die menslike seksualiteit totaal verwronge is.

Hulle het hul godsdiens heeltemal verbind met seks.

Die god Baäl en die godin Astarte is suiwer seksgode.

In die belewing van seksualiteit het die Kanaäniete namelik kontak geoefen met hierdie gode. Die priesters en priesteresse het daarby as 'n soort middelaars tussen die mense en die gode opgetree. Die mans het die Astarte tempels besoek om deur middel van seksuele kontak met die priesteresse gemeenskap met die godin te oefen.

Die dogters van die Kanaaniete het hul liggame aangebied aan die Baalspriesters om so vir hulself die seen van Baal te verwerf.

'n Afskuwelike deurmekaarspul van seks, godsdiens, vrugbaarheidsrituele en dwelmsgebruik.

Die Here het vir die Kanaanietiese godsdienstighede maar een woord: Hy walg daarvan. Dit is 'n gruwel in Sy oë. Hy spoeg die land uit. Hulle het so onmenslik geraak in hul rituele dat vir hulle maar net een oordeel oorbly. Uitroeiing.

Wel, na daardie land is die volk Israel nou op pad.

En daarom hier die groot waarskuwing: Julle mag nie egbreek nie! Ek wil hê dat julle jul op hierdie punt goed moet onderskei van die heidene wat My nie ken nie.

Die verleiding vir Israel om saamgesleep te word deur so 'n vorm van sinlike godsdienstigheid is so groot dat die Here vir hulle gebied om die gebiede in Kanaan waar hulle gaan bly vry te maak van Kanaaniete. Deur hulle te verjaag of deur hulle uit te roei. Dat Israel dit toe nie gedoen het nie, word dan later hul ondergang. Want ongelukkig was hulle teen die aantrekkingskrag wat hierdie heidense godsdienstigheid op hulle geoefen het nie bestand nie.

Kom ons kyk nou 'n slag na die N.T.

Wat skryf Paulus aan die gemeente van Korinte oor hierdie saak?

Ons het 'n gedeelte gelees uit 1 Kor 6.

Om te verstaan wat Paulus daar bedoel moet ons besef dat die heidense Korinte 'n stad was waar op seksuele gebied geen moraal geheers het nie. Seks was maar 'n deel van die lewe soos eet en drink. Of jy dit nou tuis doen of dat jy buitenshuis jou behoeftes bevredig, dit was glad nie 'n punt nie. 'n Hoer is eweso goed as 'n vriendin of 'n eggenoot.

Die gemeente van Korinte het bestaan uit mense wat altyd ook maar so geleef het. Hul bekering tot Jesus Christus was vir hulle wel 'n geestelike verandering, maar hulle het nie ingesien dat dit ook gevolge het vir die manier waarop jy met jou liggaam omgaan nie.

As christen is jy mos vry. Daar is tog nie 'n wet wat jou verbied om uiting te gee aan jou seksualiteit nie?

Net so goed as 'n christen lewe ook nie bestaan uit die nalewing van allerlei wette op die gebied van eet en drink nie. Alles is tog geoorloof?

Wel, op daardie situasie gaan Paulus in in 1 Kor 6: 12.

Hy doen dit op 'n heel opvallende manier.

Sekere mense uit Korinte het geredeneer: 'n christen is vry, dus aan 'n christen is alles geoorloof, ook die omgang met 'n hoer.

Daarop reageer Paulus nie met: Ho, ho, wag 'n bietjie, moenie meen dat alles geoorloof is nie, daar is eg wel dinge wat vir jou verbied word.

Nee, hy sê: Inderdaad alles is my geoorloof. Om aan Jesus Christus te behoort bring vir jou nie in 'n keurslyf van smaak nie -raak nie-roer nie aan nie.

Alles is my geoorloof, maar... ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.

God het sy kinders vrygemaak, maar hulle moet van hulself geen slawe maak nie. 'n Christen is tot vryheid geroepe en daarom is elke vorm van verslawing verkeerd. Ook 'n verslawing aan seksuele begeertes.

Wat in Korinte gereken is tot die vryheid van 'n christen noem Paulus hier prontuit hoerery. Slawerny aan begeertes, wat die lewe tot die ondergang voer.

Want wat is die kenmerk van 'n ware christen?

Dit is dat die Heilige Gees in hom kom woon het.

Die Heilige Gees het jou uitgekies as sy tempel.

Jy het in jou liggaam permanent hoog besoek. Die heilige God self. Hy woon in jou as sy tempel. Daarvoor het dit tog Pinksterfees geword?

Jy het gemeenskap met God deur Jesus Christus.

Wel dit is 'n totale omvattende gemeenskap.

En daarom kan jy as gelowige nie een vlees word met 'n hoer nie. Seksuele gemeenskap in so'n verhouding is 'n direkte breuk van die ander gemeenskap wat jy het. Namelik die gemeenskap met God!

Die een gemeenskap sluit die ander uit.

Wanneer jy met 'n hoer omgaan dan maak jy die tempel van die Heilige Gees tot 'n afgodshuis. Dit is tempelverontreiniging in die ergste vorm. Jy sit in die tempel van die Heilige Gees 'n altaar neer waarop jy begin offer. Jy offer op die altaar van seks.

En daarmee het jy jouself weer tot 'n slaaf laat maak.

Daarmee is jou vryheid heen.

Dit kan sommer maklik gebeur. Ons is almal mense van vlees en bloed. En elkeen het sy eie stryd om te voer.

Maar pasop vir slawerny.

Byvoorbeeld aan seksuele selfbevrediging.

Of aan prikkelende lektuur.

Of aan films met pornografiese beelde.

'n Verslawing kan jy makliker ontwikkel as oorwin.

Maar as christen is jy geroepe om vry te wees.

Afgodediens verslaaf maar erediens maak vry.

Daaroor in punt 2:

2. In die tempel van die Gees vra God erediens

Ons wil nou nog iets sê oor die huwelik en die plek van seksualiteit daarin.

Dit is onder ons heel algemeen aanvaar dat volledige seksuele gemeenskap uitsluitlik in die huwelik van man en vrou sy wettige plek het. Maar daarmee is natuurlik nog nie alles oor die huwelik gesê nie. As ons in die huwelik slegs die plek sien waar seksuele behoeftes op 'n wettige wyse bevredig kan word, dan het ons van die huwelik nog niks verstaan nie.

Die seksuele gemeenskap is nie die eintlike, nog minder die enigste doel van die huwelik nie.

As jy dit dink dan het jy die huwelik gedegradeer tot 'n plek waar jy legitiem met mekaar na bed mag gaan.

Maar dit is nie waaroor dit in 'n huwelik gaan nie.

Kom ons kyk kort na die doel van die huwelik. As christen sal jy dan eerste moet vra: Wat is God se bedoeling met die huwelik? Die Bybel is daaroor nogal duidelik.

Al in die begin van die Bybel in Genesis 2 lees ons dat Adam vir hom 'n hulp kry wat by hom pas.

Waarvoor het hy daardie hulp nodig?

Wel, in die eerste plek om saam met sy vrou die Here te kan dien. In 'n volledige lewenseenheid, waarby selfs die liggaam betrokke is (een vlees!) gaan hulle saam die Here dien.

Twee liggame, twee tempels van die Gees word tot een liggaam, een tempel van die Gees.

Hierdie totale gemeenskap van man en vrou, waarvan die liiggaamlike gemeenskap 'n onderdeel is, verbreek nie die gemeenskap met God nie.

Gemeenskap met 'n hoer verbreek die gemeenskap met God.

Maar die gemeenskap van man en vrou belemmer nie die gemeenskap met God nie. As dit goed is bevorder dit juis die gemeenskap met die Here.

Want 'n goeie seksuele relasie in die huwelik sal man en vrou steeds weer by mekaar bring en hulle laat groei in dankbaarheid aan die Here wat hierdie geskenk vir hulle gegee het.

Onthou hier die woord gemeenskap.

Dikwels kan die woord gebruik word as 'n tegniese term. So kan 'n dokter dit in sy spreekkamer gebruik. Hy bedoel dan met gemeenskap die geslagsdaad.

Maar vergeet nooit dat dit 'n baie kosbare woord is.

Gemeenskap. Dit is oneindig baie meer as 'n aanduiding van seksuele omgang.

Kyk, om 'n keer met iemand die bed te deel, dit is nie gemeenskap nie. Dit kan 'n vlugtige kontak wees. Dit kan 'n oomblik van hartstog wees. Dit kan ook beide persone totaal eensaam laat voel.

Maar om gemeenskap met iemand te hê, dit is die ding.

En dit vra baie.

Daarvoor moet jy eers investeer in iemand.

Man en vrou moet in mekaar investeer. Praat met mekaar. Kommunikeer met mekaar.

Nie net voor die huwelik om te kyk of jy tot 'n huwelik kan kom nie, maar dit bly die groot ding in die huwelik. As julle saam die Here wil dien, moet julle ook werklik saam wees. Dan moet julle 'n hele klomp dinge saam doen.

En as onderdeel van die totale gemeenskap wat jy dan opbou, pas die liggaamlike gemeenskap ook in.

Sien, as jy na tien jaar huwelik met mekaar uitgepraat is, as daar geen kommunikasie meer is nie, dan kan jy nog steeds liggaanlike kontak oefen, maar dan is daar nie meer gemeenskap nie. Dan gee die liggaamlike gemeenskap wat jy dan moontlik nog wel het ook nie meer bevrediging nie.

Want dan het dit die warmte van die liefde verloor.

En waar kan die warmte van die liefde die langste bly brand?

Presies, in die tempel van die Heilige Gees.

Daar gee Hy die warmte. Veral as twee tempels van die Gees saamsmelt tot een. Want dan is die Here daarby.

Hy ken vir ons. Hy weet wat ons nodig het.

Want Hy weet ook van ons moeites en frustrasies.

Immers, ook 'n bevryde kind van God, bly 'n sondaar.

En twee bevryde kinders van God, is twee sondaars.

Jou seksualiteit is 'n groot geskenk. Dit kan wonders werk in 'n huwelik. Maar besef dat dit vir 'n mens op eie kragte nie te hanteer is nie.

Erediens in die tempel van die Heilige Gees, dit is waartoe ons almal geroep is.

En wat is die belangrikste wat in 'n tempel gedoen moet word?

Dit is die gebed. Sonder gebed om God se seën oor jou lewe, ook vir jou huwelik gaan dit nie werk nie. As twee sondige mense saam met blydskap in 'n huwelik kan saamlewe dan is dit 'n groot ding. 'n Geskenk van God.

'n Bewys van genade waaroor 'n mens nie uitgepraat kan raak nie.

Maar nie op 'n preekstoel nie. Praat tuis maar na. As daar agterstallige onderhoudswerk aan jou huwelik is, werk daaraan. Want die tempel van die Heilige Gees verdien goeie onderhoud.

As ons iewers binnekant die tempel afgodsaltaartjies toegelaat het, breek af.

Want jy is tot vryheid geroepe. Daar is nie meer plek vir verslawing in jou lewe nie.

Want dit was Pinkster gewees.

Amen.

14 Junie '92

Liturgie: 

(kyk in preek)