Die heilsame boodskap van die vyfde gebod

Minister: 
Ds RH Bremmer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 39 H. K.

Teen die rewolusie die evangelie

Lees: Romeine 13: 1 - 8
Teks: Sondag 39 H. K.
Sing: Sb. 26: 1, 2, 7, 11
na wet Ps. 143: 2
na belydenis SB. 50: 7
Ps. 78: 1 - 4, 25
Ps 34: 6
Ps 128: 1 en 4

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

In die vorige eeu het Nederland 'n uitstaande politikus in Guillaume Groen van Prinsterer gehad. Veral die christelike volksdeel van Nederland is hom baie dank verskuldig. Want in 'n tyd dat die liberalisme oppermagtig in Nederland geheers het en die neutrale staat gepropageer is, het hy vir 'n christelike staat gestry. Hy het raakgesien dat alleen onderwerping aan die evangelie van Jesus Christus 'n toekoms vir die Nederlandse volk sal bring. Hy het dan ook vir skole met die Bybel gestry. Die Here het Groen van Prinsterer 'n skerp en indringend verstand gegee. Sy kennis van die Bybel en van die geskiedenis van die Nederlandse volk was buitegewoon. Daardeur was hy in staat om politieke riglyne te formuleer en toe te pas.

Sy politieke siening het hy beskryf in 'n boek met die titel: "Ongeloof en rewolusie". Vlymskerp het Groen van Prinsterer daarin aangetoon dat rewolusie, die omverwerp van die gesag wat deur God gegee is, uit ongeloof en verwerping van die Woord van God voortkom. Helder het hy aan die lig gebring dat die Franse rewolusie tot bloedvergieting en die bewind van Napoleon, gelei het. Hy het die Nederlandse volk opgeroep om nie in daardie koers voort te gaan nie. Een van die leuses wat hy die Nederlandse volk ingehamer het was: "Teen die rewolusie die evangelie!" Hy was dan ook die leier van die Antirewolusionere party! 'n Party wat prinsipieel teen die rewolusie, die omverwerping van gesag, gekies het.

Gemeente, in 'n tyd waarin van alle kante die teologie van die rewolusie aangeprys en verkondig word, word ons met die vyfde gebod van die wet van die Here gekonfronteer! Ja die teologie van die rewolusie, verkondig dat alleen daardie teologie ons samelewing vrugbaar kan kritiseer en hervorm. Hulle weet nie wat hulle doen nie. Groen van Prinsterer het laat sien watter ellende die Franse rewolusie oor Europa gebring het. Na sy dood was dit nie beter nie die nasionaal sosialistiese rewolusie in Duitsland het die bloed en trane van die tweede wereldoorlog gebring. En hoe het Oos Europa nie onder die gevolge van die kommunistiese rewolusie gely nie.

Die vyfde gebod handel oor die gesag dat ek my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, eer liefde en trou moet bewys. Gesag wat deur die Evangelie genormeer word is heilsaam en geen tirannie nie.

Ons spreek oor: DIE HEILSAME BOODSKAP VAN DIE VYFDE GEBOD.

  1. Met betrekking tot ouers en kinders;
  2. Met betrekking tot owerheid en onderdane;
  3. Insake die grens van die gesag.

I Baie verklaarders van die kategismus oordeel dat met die vyfde gebod die tweede tafel van die wet begin. Hulle volg antwoord 93 wat die wet in twee tafels verdeel waarvan die eerste leer hoe ons teenoor God ons moet gedra, die ander, wat ons aan ons naaste verskuldig is. Daar is ook 'n andere indeling moontlik, soos Moses in Lev. 19: 3 die vyfde en vierde gebod uitlig: "Elkeen van julle moet eerbied he vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. "

Dis juis die twee gebooie wat nie met: Jy mag nie, begin nie. Deur die eerste drie gebooie word God in ons lewe sentraal gestel. In die vierde en vyfde gebod het God ons die grondslag vir die menslike samelewing gegee. In die laaste vyf gebooie kom die verhouding tot ons naaste aan die orde.

Die vyfde gebod kom persoonlik na elkeen van ons toe: eer JOU vader en JOU moeder. Onder die ou-verbond was dit: jy Israeliet seun of dogter van My volk, moet jou vader en jou moeder eer! As ons bedink hoe min, in die oud-oosterse wereld, die vrou in aansien was, dan is dit opmerklik dat langs vader direk ook moeder 'n plek kry. Die vrou bly die hulp wat by die man pas! Die Here het hier vir 'eer' 'n besonder woord gebruik. God se nie jy moet jou vader en jou moeder lief he, of gehoorsaam wees nie, al is altwee in die woord eer ingesluit.

Die Here God gebruik hier 'n woord wat ons ook in die Skrif lees as oor die Here self gespreek word. Almal van ons ken die uitdrukking: Die heerlikheid van die Here. In die hebreeus: Kabood Jahweh. Die woord word ook vir die wolkkolom en vuurkolom bo die tabernakel in die woestyn, gebruik. Die woord kabood beteken eintlik: gewig, swaarte.

Ons se ook gee 'n mens wat hom toekom. So moet ons ook vir die Here die eer gee wat Hom toekom, waar die Here reg op het. Daardie woord kabood het die Here nou ook ten opsigte van ons ouers gebruik. Ons moet hulle die eer gee waar hulle reg op het. Om so te se: God het sy kabood, sy heerlikheid op ons ouers gele. Ou dominee J C Sikkel het die woord kroon gebruik. God het in die vyfde gebod vir ons ouers 'n kroon op die hoof geplaas.

Dink ons nou dis outyds. Soos kinders mag gesien word maar nie gehoor nie? Of wat die owerheid betref: bevel is bevel. Asof gesag net daar is om die gesag. Maak geen fout nie, gesag is nie leeg nie, maar het 'n doel. Weet ons hoe God die gesag van ons ouers doelgerig omskryf? "Hierdie gebooie wat Ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. " (Deut. 6: 6, 7)

God self het 'n pragtig kommentaar op die vyfde gebod in die Spreukeboek geskrywe. Besonder praktiese spreuke kan daar oor die verhouding van ouers tot kinders en omgekeerd, gevind word. By boekevat moet u daarop let hoe baie 'n spreuk met "my seun" begin word.

Die vader wat hierdie Spreuke boek geskrywe het is tegelyk leraar en die leraar in hierdie boek is ook vader. Lees Spreuke 6: 20, 21 "Bewaar my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;" Met die laaste woorde bedoel die skrywer laat die gebod van vader en die lering van moeder 'n sieraad in jou lewe wees, soos 'n halssnoer om die nek van 'n vrou gedra word.

Daar staan ook strenge spreuke in die boek wat laat sien hoe belangrik die vyfde gebod vir die Here is. Ons dink aan Spreuke 20: 20 "Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood. " en ook Spreuke 30: 17 " 'n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag - die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet. "

Realisties staan die Spreukedigter in die lewe, hy weet hoe moeilik kinders die lewe vir hul ouers kan maak. "As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verdrywe. " (Spreuke 22: 15) Dit wil nie se dat altyd die sambok gebruik moet word nie, maar dat tug nodig is.

Die Spreukedigter weet ook hoe goed dit tussen ouers en kinders kan wees. As hy oor die deugsame vrou spreek se hy in 31: 28: "Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar" Trots mag 'n moeder oor sulke seuns wees, soos die seuns oor hul ma voel. God het geweet watter vleis Hy in die kuip het, toe Israel daar by Sinai staan.

Op die gebied van die vyfde gebod het God van die sondige vlees van die mens al vanaf die paradys geweet. Die wortel van die sonde teen hierdie gebod het al in die ongehoorsaamheid, van die mens aan die proefgebod, in die paradys gele. Omdat die mens teen God opgestaan het, verwerp hy ook alle gesag wat God oor hom gestel het.

Wie teen God opstaan het ook die vyfde gebod gebreek. Op die moment dat die mens die liefdes gebod van God oortree, het hy ook klaar teen sy naaste gesondig. Gemeente wie is ons eerste naastes? Dis immers ons ouers. God het ons 'n konkrete vader en moeder gegee, wat die eerste naastes was waarmee ons in die wereld kontak gehad het. Die gesin is daarom 'n skool vir die gehoorsaamheid aan die gebod, om jou naaste lief te he soos jouself.

Niemand van ons het sy ouers self gekies nie. God het hulle vir ons gegee. Dis Hy wat eis dat ek hulle alle eer liefde en trou sal bewys. Ons het gesien God het die eer voorop gesit. As dit net om liefde gegaan het, sou dit saak maak of ek simpatieke en liefdevolle ouers het. Maar in hierdie sondige wereld is daar partymaal ook moeilike vaders en ongemaklike moeders. Ook dan is die opdrag van God om hulle alle eer, liefde en trou te bewys. Lees dan nie oor die woordjie alle heen nie. Ek het hulle nie half te eer en 'n bietjie liefde te bewys nie. Met reg word hierdie gebod absoluut geneem: alle eer liefde en trou!

In die Skrif kry ons afskrikwekkende voorbeelde van oortreding van hierdie gebod. Wat tot ons waarskuwing geskrywe is.

Dink aan Sem en Jafet wat hul vader Noag ook toe hy dronk was alle eer liefde en trou bewys het. Gam sy jongste seun het dit nie gedoen nie. Die Here het Gam in die vloek oor sy seun Kanaan getref. Dink aan Absalom: wat 'n leed het oor Dawid en rewolusie oor Israel gekom, uit die verskeurdheid van die gesin van Dawid. Aan die anderkant kry ons ook voorbeelde van kinders wat hul ouers eer. Dink daaraan hoe Josef, ook as maghebber in Egypte, sy vader geeer het. Batseba is deur koning Salomo geeer, toe sy met 'n versoek van Adonia tot hom gekom het.

In die Nuwe-Testament is dit nie anders nie. Paulus wat self geen gesin gehad het nie, het vir ons in Ef. 6 en Kol. 3 pragtige huisreels gegee. Hy het die vyfde gebod in die lig van die vervulling van hierdie gebod deur ons Heiland geplaas, as hy skrywe: "Kinders wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van god vereis. Eer jou vader en jou moeder is 'n belangrike gebod. En daar is nog 'n belofte by: sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. " (Ef. 6: 1-3) Nuut-Testamenties word die land wat die Here gee, die aarde waarop ons lank mag lewe.

Heel nadruklik word die kinders in die kerk deur Paulus aangespreek. Om so te se sien hy hulle in die kerkbank sit. Hy se vir hulle: "Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo" (Kol. 3: 20) Jesus self was ook aan sy ouers onderdanig. Selfs tot aan die kruis toe het Hy nog vir sy moeder gesorg. Agter die oproep van Paulus vir ons kinders tot gehoorsaamheid, staan die gehoorsaamheid van ons Heiland wat ook die vyfde gebod vir ons in volle liefde volbring het.

In die gemeente van God het so 'n christelik gesinslewe ontstaan, want die vyfde gebod het die opvoeding van ons kinders in die lig van die evangelie plek gegee. 'n Kind wat leer loop gryp na die hand van sy pa of ma wanneer hy dreig om te val. So leer die vyfde gebod ons in die diens van die verbond van God te loop. Ons ouers het ons geleer bid en kerk toe saamgevat. Hulle het ons die liefde vir broers en susters bygebring. Natuurlik elke generasie doen dit op hul eie manier.

Grootouers moet, in die opvoeding van die kleinkinders nie met hul kinders inmeng nie. Grootouers kan vir hulle kinders, in hul opvoedingstaak, goeie raad gee. As ouers word ons almal opgeroep om ons kinders met goeie leer en straf op te voed. Dis nie iets wat vanself gaan nie. In gebed mag ons as ouers daarvoor wysheid en krag vra.

Ja die gebod wys na twee kante, soos Paulus in Ef. 6: 4 nie alleen aan die kinders dink nie, maar ook die ouers aanspreek as hy se: "En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. " Die laaste tyd word daar met reg op gewys dat die vaderbeeld wat die kind in die lewe saamkry, ook groot betekenis het vir die beeld wat hy hom van sy hemelse vader vorm. Ouers moenie skaam wees om jul kinders vergewing te vra as julle verkeerd teenoor hulle opgetree het. Kinders kan so leer vergewing vra van hul ouers vir wat hulle verkeerd gedoen het. Laat daar dan by ons, as ouers, milde hande en sagte oe wees.

II Tot nou toe het ons oor die verhouding tussen ouers en kinders gespreek. Sondag 39 laat dit nie daarby nie.

Die reikwydte van die gebod word ook tot almal wat gesag oor ons ontvang het uitgebrei. God wil ons deur hulle hand regeer word in die slot van antwoord 104 vir ons gese.

Die gesin is die kleinste sel van die samelewing, maar in die samelewing is daar meer verbande wat gesagverhoudinge ken. Vir al daardie verbande is ook die vyfde gebod van krag. In Rom. 13 het ons saam gelees: "Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van god kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry".

Nou moet ons raaksien oor watter owerheid hier deur Paulus gepraat word. Dit gaan hier oor die Romeinse owerheid van daardie tyd in die persoon van Keiser Nero. Paulus se: ook aan daardie anti-christelike owerheid sal ons onderworpe moet wees. Soos ook Petrus in sy eerste brief hoofstuk 2: 17 skryf: Vrees God. Eer die keiser. Gemeente daar is geen ander pad nie, God wil ons ook deur hul hand regeer.

Vir die skrywers van die kategismus was daar alle rede om onderwerping, ook aan harde owerhede, kragtig te predik. Want met die reformasie was daar ook die wederdopers, wat soos Jan van Leiden die koninkryk Sion in die stad Munster wou daar stel. Met die swaard het hulle vir die nuwe samelewing sonder owerheid geveg. In baie plekke het hulle rewolusie teweeg gebring. Daarteen het die gereformeerdes hulle met alle mag verset.

Saam met die kategismus bely ons dat dit God behaag om ons deur die hand van owerhede te regeer.

Artikel 36 van die Nederlandse geloofsbelydenis bely nadruklik dat God deur die owerheid die losbandigheid van die mense wil bedwing. Die gereformeerdes het ten opsigte van die owerheid steeds aan Rom. 13 vas gehou. Paulus noem daar die owerheid dienaars, in die grieks liturge, van God.

Predik die vyfde gebod slaafse onderwerping aan die owerheid? Die Skrif laat ons nie daaraan twyfel dat ons die owerhede mag teregwys as hulle in hul amp oortree. Die gehoorsaamheid is nie daar omdat hul beter is, as wat hul onderdane is nie. Nee, dit behaag God om ons deur hulle hand te regeer. Dis genade van God dat Hy ons deur 'n ordelike owerheid wil laat regeer. Rewolusie het altyd chaos in die wereld gebring. Dit bring telkens tirannie: Uit die Franse rewolusie het Napoleon aan die mag gekom en die Russiese het 'n Stalin voortgebring.

Omdat die owerheid dienaar van god is, moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit 'n gewetensaak is. Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

Paulus het homself in 'n regsaak op die keiser beroep, terwyl hy geweet het dat keiser Nero 'n harde keiser is. Polisie en 'n weermag is in hierdie wereld noodsaaklik. Laat ons daarom trou vir ons owerhede en hul dienaars bid. Vir almal wat met owerheidsgesag beklee is. Bid vir ons Staatspresident en sy ministers, vir ons provinsiale en plaaslike owerhede. Elkeen wat die owerheid die swaard wat God haar gegee het wil afvat, lewer die samelewing aan chaos tirannie en ontbinding uit.

Die vyfde gebod sluit kritiek op die owerheid nie uit nie, want antwoord 104 se ook vir ons dat ek met hulle swakheid en gebreke geduld moet he. Ons mag nie aanvaar dat enigiemand wat oor ons gestel is volmaak is nie. Ons sal altyd hul opdragte moet toets en ons nie blindelings daaraan onderwerp nie. As daar kritiek is, dan is die vraag hoe handel ons daarmee. Met hul swakheid en gebreke geduld he se die kategismus.

In hierdie verband kan ons baie leer uit wat Paulus aan Kolossense, oor die verhouding van here en slawe geskryf het: "Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here. " (Kol. 3: 22) Tegelyk se hy vir die eienaars van slawe: "Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel. " (Kol. 4: 1) Die vyfde gebod leer geen gesag om die gesag nie, maar spreek na twee kante om die samelewing te laat werk.

Hierin het ons die doodsteek vir die teologie van die rewolusie wat vandag orals gepredik word. Hulle se: Ons Heiland was 'n rewolusioner wat dinamiet onder die joodse samelewing van die Fariseers gele het.

Vandag behoort Christene die bevrydings beweging en rewolusie in die wereld te ondersteun. Burgerlike ongehoorsaamheid is 'n christelike wapen, om van die owerheid deur staking, blokkering van paaie protesoptogte sekere regte af te dwing. Maar die evangelie van Jesus is geen evangelie van chaos en bloedvergieting nie. Die evangelie roep owerheid en onderdane op om aan die heilsame gebooie van God gehoorsaam te wees.

Gemeente, die vyfde gebod is ook in die kerk geldig. Dit behaag God om ons in die kerk deur die hand van ampsdraers te regeer. Hul ampswerk is diens! In hul ampswerk moet hulle hul Heiland volg, wat die aand voor sy kruislyding en sterwe, sy bokleed uitgetrek het, 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was. Hy het daarby gese: "Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. " (Joh. 13: 15)

Ampsdraers kan baie van ons Heiland leer. Na die voetwassing het daar onenigheid onder die disspels ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus se vir hulle: "By die nasies is dit so; konings speel oor hulle baas, en die wat gesag afdwing laat hulleself weldoener noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die wat leier is, soos die een wat dien. " (Lukas 22: 25, 26)

Heel indringend het ons Heiland toe in vers 27 gevra: "Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Elk is in julle kring soos die een wat dien. " So het ook dienaars van die Woord, ouderlinge en diakens in die midde van die gemeente as dienaars te wees! Daar is selfverloening vir nodig en dit kan alleen volbring word deur op Christus te sien wat ons daarin voor gegaan het.

III Tenslotte: Daar is 'n grens aan die gesag. Ook daaroor spreek hierdie antwoord, as dit ons oproep om ons aan hulle goeie leer en straf met gepaste gehoorsaamheid te onderwerp. Daar kan situasies voorkom waarin onderwerping verbied is! Die apostel Petrus wat Vrees God eer die keiser geskryf het, het voor die Joodse raad gese: "Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. " (Hand. 5: 29) Daar is grense aan die gesag van ouers, owerhede en kerklike ampsdraers. As daar van ons gevra word, om duidelik teen die Woord in te gaan of daarmee strydig te handel, moet ons nee se.

Partymaal is dit moeilik om te weet waar die grens le. Die reformatore het het die gehoorsaamheid aan God bo die gesag van die Paus konings en keisers gestel. In die tyd het Nederland om God ontwil hulle aan die spaanse juk ontworstel. In die laaste strofe van die Nederlandse volkslied, die Wilhelmus is dit so mooi verwoord:

Voor God wil ek nou bely en voor sy grote mag
dat ek in geen enkel tyd die koning het verag
net toe ek om God die Heer, die hoogste majesteit
in gehoorsaamheid te eer, en in geregtigheid.

Hulle het lank die koning van Spanje met sy tirannie verdra, maar daar het 'n moment gekom dat dit nie langer moontlik en geoorloof was nie.

In dieselfde gesindheid het manne en vroue in die tweede wereldoorlog die goddelose nasionaal sosialisme bestry, om die Here volgens sy Woord te kan dien. So het ons in 1969 die akte van voortsetting onderteken. Toe ons kerkraad teen die wil van God troue ampsdraers in hul amp geskors het, terwyl hul 'n ampsdraer wat in sonde geleef het gehandhaaf het. Ons het dit nie rewolusioner gedoen nie, maar aan God meer gehoorsaam gewees as aan mense.

Daar is grense aan die gehoorsaamheid aan hulle wat oor ons gestel is. Daar is situasies waar met die Woord van God in die hand, nee gese moet word. Dan is ons nie rewolusioner nie, maar soos Groen van Prinsterer: juis regtig anti-rewolusioner!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)