Gesag is 'n Goddelike opdrag

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

SONDAG 39 HK / DS F J BIJZET / 29 SEPTEMBER 1991

PREEK OOR SONDAG 39 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 47: 1, 4
Gebed
L. Romeine 13: 1-7 & 1 Petrus 2: 11-19
Ps. 37: 5, 21
Prediking
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 2: 1, 5, 6

Wie of wat gee die een mens die reg om oor die ander baas te speel, broeders en susters?

Waarom moet ek na die pype dans van mense wat nou toevallig ouer of sterker is as ek of wat meer mag en invloed het?

Moet ek dit sommer aksepteer dat 'n medemens my die wet voorskrywe?

Sulke vrae leef in die hart van elke mens. En dikwels groei sulke vrae ook uit tot 'n openlike protes en verset.

Sulke vrae kom ook wel eens in ons eie hart op. Ook in ons hart sluimer daar meer as een keer protes.

Dit blyk al vroeg, by nog klein kinders: as pa of ma iets opdra, is al gou die eerste reaksie: "Hoekom moet dit? ". En daardie vraag van klein kinders keer terug by die opgroeiende jeug, dikwels meer brutaal: "Hoekom moet ek so maak? "

In die skool smeul meer as een keer die verset in hul oë as 'n onderwyser iets van hulle eis of 'n straf oplê.

Ook Gereformeerde vroue raak wel eens opstandig en is lus om vir hul mans te wys dat hulle wel vir hulleself kan besluit.

So'n opstandige houding kan sigbaar word in die reaksie van gemeentelede op kerkraadsbesluite: "Dink daardie paar broeders hulle kan oor ons besluit? !"

En hoe dikwels vererg u u oor die wat bo u geplaas is by u werk? In watter toonaarde word daar soms ook deur Gereformeerde broeders en susters gepraat oor die regering met wie se beleid hulle glad nie kan saamstem nie.

Ook ons mensehart kom dikwels in verset teen gesag van 'n medemens bo ons, van dat ons hart deur die sonde verdorwe is. Die rewolusie broei sedert die sondeval in enige mensehart. Die mens wat net soos God wou wees en dus geen God meer bo Hom wou erken nie, wil heeltemal nie meer 'n mens bo hom erken nie.

Maar ons hart kry nie meer die laaste sê nie, gemeente. Want ons het lankal geleer hoeveel slegs daar uit ons hart kan voortkom en hoeveel ellende dit veroorsaak as ons hart die laaste woord kry.

Daar het in ons lewe 'n ander stem gekom wat sterker is as die opstandige stem van ons hart. Die Woord van God, die stem van die Gees van Christus verhef hom in ons lewe teen die protes van ons hart en lê dit die swye op. Ja, die Heilige Gees lê die wet van God weer in ons binneste en skryf dit op ons hart. Die wet wat ons pleks van opstandigheid 'n nuwe gehoorsaamheid leer. Gehoorsaamheid aan God, maar ook gehoorsaamheid aan almal wat Hy bo ons geplaas het.

Ook vanaand, in hierdie preek, klink die stem van die Gees teen die opstandige stem van ons vlees. Kom ons hoor wat die Gees aan die gemeente sê m. b. t. die gesagsverhoudinge wat God self onder die mense gegee het.

Ek het die Woord van die Here wat ek aan u mag deurgee so saamgevat:

GESAG IS 'N GODDELIKE OPDRAG

DAAR IS DRIE ELEMENTE WAARVAN EK IETS MOET SÊ, NAAMLIK:

  1. DIE GESKENK VAN DIE GESAG
  2. DIE SKENDING VAN DIE GESAG
  3. ONS SKIKKING ONDER DIE GESAG

1. Ons bely in art. 36 van die Nederlandse Geloofs Belydenis ".. dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het...... sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop".

Dit klink taamlik negatief: daar is dus owerhede nodig om die mense hardhandig onder die duim te hou. Owerhede, gesagsdraers is 'n noodsaaklike kwaad.

Maar ons moenie vergeet dat ons belydenis hier praat van die situasie soos dit vandág is, in 'n wêreld vol sondige mense nie. Van oorsprong was gesag glad nie 'n noodsaaklike kwaad nie. Dit was 'n goeie geskenk van God wat Hy wou inskakel om sy skepping tot die volle ontplooiing te bring.

Gesag van die een mens oor die ander is nie eers na die sondeval ingestel nie. Dit het uit die staanspoor tot God se skeppingsplan behoort.

Die skepping was deur die HERE aan die gang gesit soos 'n skitterende ratwerk wat perfek gefunksioneer het. Alles in sy skepping, in die hemel, op die aarde en in die see, was volmaak op mekaar ingestel en op mekaar afgestem. Engele en mense, diere en bome, land en lug, alles was in 'n indrukwekkende sisteem ingepas. Tot meerdere glorie van die Skepper, God die HERE, die Almagtige.

En in dié plan was ook die gesagsverhoudinge heel natuurlik ingebou.

Die wêreld het mos nog maar aan die begin van sy geskiedenis gestaan. Nou moes die skepping oopgelê, ontwikkel, uitgebou word. En in daardie ontwikkeling mog die mens 'n hoofrol speel. Maar dié gigantiese onderneming het 'n veelvoudige taakverdeling geeïs, waarin God die HERE in sy wysheid volmaak voorsien het. Daarvoor het Hy die gesagsverhoudings ingestel. 'n Heel sisteem van range en stande, gesag en ontsag, sou daarvoor sorgdra dat die ontwikkelingswerk in God se skepping uitgevoer sou word. Die mense is almal op hulle eie plek gesit in 'n orde van Bo.

Daar was dadelik die gesag van die man oor die vrou. God het die man as hoof, die vrou as hulp geskape. Daar sou al gou die gesag van vader en moeder oor hul kinders kom. Ouers sou kinders kry om op te voed.

En ook al die ander gesagsverhoudings sou vervolgens soos vanself ontstaan.

Onderwysers en leerlinge, leiers en arbeiders, owerhede en onderdane, dit was alles ingepas in God se plan.

Ja, ook in die engelewêreld is daar range en stande, die leiding van die een aan die ander.

Niemand mog homself die mag oor ander aanmatig nie. Maar onder God se leiding en aanwysing sou die verhoudinges gereël word.

Gesag is dus van oorsprong geen noodsaaklik kwaad nie, maar 'n skoon geskenk in die goeie skepping.

Daarom is dit selfs in ons wêreld vandag, na die sondeval, meer as 'n noodsaaklike kwaad, gemeente! Dit is 'n blyk van God se genade oor ons lewe dat daar vandag nog steeds gesag geoefen word in hierdie sondige wêreld. Dit is 'n wonderlike bewys daarvan dat God na die sondeval sy skepping nie aan die chaos en die verderf prysgegee het nie!

In die engelewêreld, en vervolgens ook in die mensewêreld het mos die rewolusie uitgebreek. 'n Deel van die engele het teen hul God in opstand gekom en vervolgens ook die mens in hul rewolusie saamgesleep.

As gevolg van die aanhitsing van die duiwel het die mens nie langer in 'n geordende samelewing aan die verheerliking van sy Skepper wil saamwerk nie, maar het elkeen aan sy eie geskiedenis en toekoms begin bou. Dit was vir die mens nie meer genoeg om as onderkoning aan die Koninkryk van God te mag saambou, maar hulle wou elkeen hul eie haan laat koning kraai.

Sindsdien is die wêreld vol individualiste, vol ontbinding en chaos. Huwelike breek stukkend, ouers en kinders vervreem van mekaar, diktatuur en opstand dompel lande en volkere in ellende.....

In sy brief aan die Romeine waarin die apostel Paulus in hoofstuk 13 ons oproep om ons aan elke gesagsdraer weer te onderwerp omdat hy deur God bo ons gestel is, het hy in die eerste hoofstukke geskrywe hoe verwoestend die sonde in ons lewe deurwerk: nadat die mens sy rug op God gedraai het, is hy "vervul met allerhande ongeregtigheid, vol nydigheid, moord, twis, geweldenaars, ongehoorsaam aan hul ouers.... ".

Nogtans het God hierdie wêreld nie losgelaat nie.

In hierdie stukkende skepping het God mos sy Seun gegee om ons sondes, ons opstandigheid en magsmisbruik te versoen en om die voltooiing van sy skeppingsplan tog te bereik. Danksy Christus kan die ratwerk wat vasgedraai het, tog deurdraai. Deur Christus voer God die wederopbouing deur volgens die oorspronkelike skema.

Daar word deur Christus nie alleen 'n kerk gered nie, nie net 'n aantal vrome siele nie, nee, heel die skepping word gered. Ons is op pad na 'n nuwe Paradys waarin God weer alles in almal sal wees en die skepping sy volle luister sal gekry het.

Maar daarom is daar dus ook nog steeds gesagsverhoudinge in hierdie wêreld.

Want God se Seun wat Self alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het en die Koning van die koning en die Here van die here geword het, skakel steeds die gesag van die een mens oor die ander en die gehoorsaamheid van die een aan die ander in om die herskepping van God se wêreld te bereik.

In sy kerk gee Hy ampsdraers om aan sy gemeente leiding te gee.

Maar ewegoed skakel Hy huwelike in waarin die man die hoof is en die vrou die hulp. Hy skakel gesinne in waarin ouers kinders ontvang en grootmaak. Hy skakel onderwysers in om klas te gee, direkteure om daarvoor te sorg dat die proses van ontwikkeling van God se skepping verder aangaan; Hy skakel amptenare, administrateurs, ministers, presidente en konings in om 'n geordende samelewing daar te stel, regverdige wette uit te vaardig, misdadigers te straf.

So bou God in Christus aan die voltooiing van sy skeppingsplan. En die blote feit dat daar dus vandag, in 'n sondige wêreld, steeds gesagsstrukture gevind word, moet ons, christene, nie met ergernis en frustrasie nie, maar met dankbaarheid en verwondering vervul. Dit is die bewys van God se goedheid oor ons. Dat bewys dat hierdie wêreld nie in 'n doodloopstraat gekom het nie, maar steeds 'n toekoms het.

2. In 'n sondige wêreld is die uitoefening van die gesag egter glad nie volmak nie. Inteendeel, sondige mense maak veelvuldig misbruik van die gesag wat God om Christus ontwil aan hulle toevertrou het.

Ampsdraers werp hulleself op as kerklike despote. Mans brutaliseer hul vrouens. Ouers verwaarloos en mishandel hul kinders. Onderwysers het 'n behae in lyfstraf. Direkteure gedra hulle soos slawedrywers. Amptenare en ministers handhaaf hulleself deur vuile korrupsie, konings en presidente word tiranne en diktators.

Ons geskiedenis is vol van sulke skending van die goddelike opdrag om namens Christus leiding te gee en verantwoordelikhede te dra.

Aan sulke mense hoef jy jou tog nie te onderwerp nie? Ons kan tog nie sê dat ook dáárdie mense deur God oor ons gestel is nie?

Ja, gemeente, ons sal moet aanvaar dat ook sulke misbruikers van die gesag wat hulle van God ontvang het, nogtans seggenskap oor ons het.

Ons mag nie sommer elke gesagsdraer wat sy posisie misbruik, verwerp nie.

God kan ons beproef deur ons te laat sug onder mense wat hul goddelike opdrag glad nie raaksien en op die regte manier uitoefen nie.

Hy kan sy kerk laat swaarkry onder swak ampsdraers, soos Israel onder koning Saul of koning Agab. Hy kan 'n vrou laat sug onder 'n heerssugtige man, soos Abigaïl onder Nabal. Kinders moet soms grootword onder liefdelose ouers. Jy sal jou in die skool moet onderwerp aan 'n onderwyser met sadistiese neigings. Hy kan werknemers gebuk laat gaan onder die onbegrip en hardheid van hul baas. En hele volke is deur die HERE in die hande van wrede tiranne gegee. Al het sulke mense hulleself op 'n onregmatige wyse die gesag toegeëien, byv. deur 'n staatsgreep- indien na verloop van tyd onder God se voorsienigheid hul gesag 'n feit geword het omdat die vorige regering eenvoudig nie meer daar is nie, moet ons die nuwe gesagdraers erken as die maghebbers wat God tans oor ons gestel het.

Ons glo mos, broeders en susters, dat daar in hierdie wêreld niks per toeval gebeur nie, maar dat die HERE in sy voorsienigheid alles lei en regeer. God se sterk regterhand regeer die wêreld en lei die kleinste besonderhede. Maar ook noudat ons Here Jesus Christus aan God se regterhand in die hemel sit en die Vader deur Hom alles regeer, gebeur daar nog sulke dinge.

Die HERE laat sulke dinge gebeur om ons gebuk te laat gaan onder die ellende wat ons self in sy wêreld veroorsaak het. Hy gebruik dit vir sy kinders terselfdertyd om hul skuldbesef en hul dankbaarheid oor Christus se verlossingswerk te versterk. Hy gebruik dit om die verlange na die voltooiing van die verlossing in ons lewendig te hou.

Daarom mag ons mense wat die gesag wat hulle van God ontvang het, misbruik nie sommer eenkant skuif nie. Ons mag wél die gesagsmisbruik verwerp, maar moet terselfdertyd die gesagsdraer bly eerbiedig.

As gesagsdraers ons wil dwing om teen die gebooie van God in te gaan, het ons nie 'n keuse nie. Ek moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.

Maar solank ons nie gedwing word tot so'n ongehoorsaamheid aan die HERE nie, verwag die HERE van ons dat ons dié wat Hy oor ons gestel het, met respek sal bly bejeën.

Ons het dit gelees in Petrus se eerste brief. En ons het Psalm 37 daarna gesing: "Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer", sê die Heilige Gees daar deur Dawid. "Swyg voor die HERE en verwag Hom. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid. Wees nie toornig nie, dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word... ".

As daar 'n einde moet kom aan die gesagskennis mag dit nooit gebeur deurdat ons die reg in eie hand neem nie. Dan moet ook dit langs 'n wettige, geordende weg gebeur.

As 'n predikant nie meer die suiwere evangelie preek nie, mag u nie sommer wegloop nie maar moet u besware by die kerkraad ingedien word. As u moeite met 'n bepaalde ouderling kry, kan u nie sommer sê: daardie man is by my nie meer welkom nie, maar ook dan behoort u u moeite in die kerkraad bekend te maak.

As 'n hele kerkraad die skape op 'n dwaalweg wil saamneem of op 'n onskriftuurlike wyse oor die kudde van Christus begin heers, mag u u nie sommer aan hulle onttrek nie, maar is daar eers die plig om die kerkverband in te skakel.

'n Vrou wat deur haar man gebrutaliseer word, mag nie sommer by hom wegloop nie, maar moet met die hulp van haar ampsdraers en ander helpers bekering by haar man probeer bewerk. En selfs as die samelewing regtig onmoontlik geword het, moet nog die skeiding langs 'n wettige weg gereël word.

Kinders mag nie sommer uit die huis van hul ouers padgee nie. Eers as die staat die ouers hul bevoegdheid ontneem, kom daar 'n einde aan die goddelike opdrag wat hulle ontvang het.

By 'n slegte onderwyser is daar die skoolleiding en die skoolbestuur wat moet ingryp, by 'n onregverdige direkteur is jy ontsag verskuldig solank as wat jy nie ontslag geneem het nie. En in die staat moet die wettige middele gebruik word om 'n ongewenste regering te laat vervang, soos 'n verkiesing of 'n volksreferendum, die ingrype deur die parlement..

Eers dan mag ons glo dat die Here self ons van daardie verkeerde gesagsdraer verlos het.

Ons mag iemand wat sy goddelike opdrag skend, nie dadelik eenkant skuif nie, want die Hére skuif so iemand nie dadelik eenkant nie! Hy kan hulle soms nog lange tyd met verantwoordelikheid bly belas en ook die weg na bekering vir hulle ontsluit. Daarom mag ons die weg nie dadelik afsluit nie.

Die Here vra van sulke slegte gesagsdraers egter wel rekenskap van dit wat hulle met hul hoë posisie gedoen het.

Hy eis van die hand van kwaadwillige herders die bloed van die skape wat deur hulle skuld verongeluk het.

Hy vra van mans wat vir hul vrouens die lewe ondraaglik maak: wat het jy gedoen met die vrou van jou jeug, die vrou met wie jy 'n verbond gesluit het? Ek, die HERE, is getuie tussen julle.

Hy vra van ouers wat hul kinders verwaarloos het: wat het julle gemaak met my kinders wat Ek aan julle toevertrou het?

Hy vra van onderwysers: hoe het jy omgegaan met die jeug waaruit Ek my toekoms wil bou?

Hy vra aan direkteure: hoe het jy jou personeel behandel? Was jy bewus daarvan dat joú Heer in die hemel is en dat daar by Hom geen aanneming van die persoon is nie?

Hy waarsku regerings wat nie aan die koms van sy Koninkryk wil diensbaar wees nie maar Hom juis na die kroon steek en teen sy Christus opstaan: Wees tog verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie. Want gou kan sy toorn ontvlam en hy het die mag om julle te verpletter met 'n ysterstaf, julle flenters te slaan soos 'n erdepot.

Maar solank Hy in sy ondeurgrondelike wysheid nie aan hulle hul gesagsposisie ontneem nie, behoort ons ons daaronder met die verskuldigde respek te skik.

3. Daarvan wil ek tenslotte nog iets sê.

Die HERE vra dat ons ons skik onder die gesag van vader en moeder en vervolgens almal wat Hy oor ons gestel het, aangesien Hy ons deur die hand van daardie medemense wil regeer.

Maar 'n mens kan hom ook noodgedwonge en met 'n hart vol verset onder gesagsdraers skik, en dit is nie wat God bedoel nie.

"Eer jou vader en jou moeder.... ", het Hy in sy Verbondwet geskrywe.

"Eer"- dit beteken dat ek steeds bewus is daarvan dat hierdie mens bo my 'n goddelike opdrag ontvang het waaroor die Here self Hom eendag rekenskap sal vra.

"Eer"- dit beteken dat ek steeds bewus daarvan bly dat dit die Here self is wat my deur hierdie medemens wil regeer, al aanvaar daardie persoon dit self ook glad nie en gedra hy Hom ook nie so nie.

Daarom sal ek aan gesagsdraers liefde en trou moet betoon. Nie net aan die goeies nie, maar ook aan die slegtes.

"Bid vir almal wat hooggeplaas is"- beveel God se Woord ons.

Dis makliker om iemand te bekritiseer as om vir hom te bid. Die mense van hierdie wêreld staan teenoor direkteure, ministers, presidente en ander mense met groot verantwoordelikhede dadelik klaar met gebalde vuiste, groot monde, stakings, geweld en rewolusie.

Die HERE verwag egter van ons geen gebalde vuiste nie, maar gevoude hande. Geen opstandig geskree tydens 'n protesmars op straat nie, maar 'n geknielde gefluister in die binnekamer.

God roep ons op om te bid in plaas van om te skree en te skinder, om te veg vir bekering in plaas van omverwerping.

En dan bid ons nie dat óns met rus gelaat sal word nie. Maar ons bid dat God húlle nie met rus sal laat nie. Sodat hulle weer gaan saamwerk aan Christus se werk van herskepping.

Bid u reëlmatig vir u ampsdraers, broeders en susters? Ook dat behoort tot die gehoorsaamheid van die Vyfde gebod.

En watter vrou bid vir haar man of die Here hom 'n goeie hoof oor haar wil laat wees?

Watter kind bid vir sy pa en ma of die Here hulle wil help om goeie opvoeders te wees en of Hy hul swakhede en gebreke wil vergewe en wegneem?

Watter leerling bid vir sy onderwyser wat so sleg die orde kan handhaaf?

Watter werknemer dra ook sy werkgewer in sy gebede aan die Here op?

Hoeveel liefde lê daar in u gebede vir ons Staatspresident en sy ministers?

Om jou so onder die wat oor jy gesteld is, te skik en vir hulle te bid, kan alleen as u 'n oog gekry het vir die Koning van die konings en die Heer van die here wat in hierdie wêreld vol sondaars darem besig is God se nuwe wêreld voor te berei, broeders en susters.

En deur hierdie preek wou die Here u daarvoor 'n oog laat hou.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)