Christus paasonderwys aan Maria Magdalena

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Johannes 20
Preek Inhoud: 

Paasfees 1993

Voor diens: Gesang 143, 144, 148
Ps 118: 12, 13
Ps 118: 14
Ps 98: 1, 2 Amenlied
Geloofsbelydenis (na belydenis)
Ps 138: 1-4
Lees: Johannes 20: 1-18
Teks: Johannes 20: 16, 17

Brs en srs, sns en dgtrs!

Ons vier fees vandag. Die Paasfees. Die blye herdenking van die opstanding van die Here Jesus uit die dood.

Die feesvreugde daarvan word nog ekstra onderstreep deur die feit dat ons vanoggend 'n aantal jong mense in ons midde het wat in die openbaar hul geloof wil bely.

Hulle wil daarvoor uitkom dat hulle glo dat die Here Jesus vir hulle uit die dood opgestaan het.

As kind het hulle van die Here beloftes ontvang dat hulle aan Hom behoort. Nou dat hulle self besef waaroor dit gaan moet hulle van hul kant die belofte dat die Here hulle God is, openlik aanvaar.

In ons tyd word daarop veel nadruk gelê dat so 'n belydenis 'n persoonlike belydenis behoort te wees.

Dit gaan mos nie net daaroor dat jy nou volwaardig lid van die kerk word nie, maar die belangrike is veral dat jy self as volwasse gelowige Jesus Christus aanvaar as jou Heer en Heiland.

Ek meen dat hierdie nadruk tereg is. Die bedoeling kan mos nooit wees om in die kerk te glo nie. Jy moet glo in Jesus Christus.

Dit is geloof!

Dus dit is iets anders as om ingeskryf te staan as lidmaat by 'n kerk.

Soos gesê, ek meen dat die benadrukking van die persoonlike geloof in Jesus Christus tereg is. En ek sal nie ophou om daarvoor veel aandag te vra nie.

Maar daar is ook 'n ander kant aan hierdie verhaal.

Vandag se (teregte) benadrukking van die belang van persoonlike geloof in Jesus Christus, kan sommer verskuif na 'n puur individualistiese benadering van die geloof.

En dan kom ons eintlik van die reën in die drup.

Want hoe persoonlik jou geloof in Jesus Christus ook behoort te wees, as jy dit individualisties gaan interpreteer dan keer jy die evangelie om.

Dan word die geloof iets waarin alles om jouself gaan. Dan gaan dit om jou ervarings, om jou gevoelens en nie meer in die eerste plek om Jesus Christus en sy werk nie.

Dit is ook die rede dat gelowiges nie op hulle self moet bly nie, maar saam met medegelowiges hul geloof moet ervaar. Sodat ons saam in staat mag wees om die lengte die hoogte en die diepte van die liefde van Christus te vat.

Wat ek wil sê is dat jou geloof in Christus jou in onmiddellike verband met die gemeenskap bring. Geloof in Jesus Christus is nie iets wat jy alleen kan ervaar nie of net vir jouself kan geniet nie. Christus verwys altyd nadruklik na die gemeenskap.

Ofwel dit gaan hieroor: jy moet persoonlik in Christus glo en vervolgens moet jy jou met daardie geloof meld by die broeders en susters in die Here. Sê maar by die kerk.

Dit is die weg wat die Here Jesus vir Maria Magdalena op die paasoggend wys.

Ons tema vir die preek is:

Christus Paasonderwys aan Maria Magdalena

Die Paasfees moet gevier word

  1. as voortgang van Christus werk
  2. in gemeenskap met Christus kerk

Die Paasboodskap is vir ons baie bekend. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood. Al gedurende twintig eeue is dit een van die mees kenmerkende boodskappe van die kerk.

Maar as ons ons 'n voorstelling probeer maak hoe die eerste mense wat berig oor die opstanding van Jesus Christus ontvang het, dit moes ervaar het, dan besef ons sommer dadelik: dit is 'n baie moeilike boodskap om te glo.

Natuurlik, vir die vriende van Jesus was dit op sig 'n pragtige boodskap: Jesus het opgestaan! Maar dan wel 'n boodskap wat baie ongeloofwaardig moes geklink het. Immers hoe is dit moontlik? ! Dooies staan dan nie op nie!

Mense kom nooit terug uit die dood nie.

Die moontlike vreugde van die Paasboodskap word onmiddellik weggeneem deur twyfelgevoelens. Dit kan nie waar wees nie!

Ons kan darem goed verstaan dat daar op die eerste Paasdag so baie verwarring is.

Mense loop deur mekaar. Mense word heen en weer geslinger tussen vrees en hoop, tussen geloof en ongeloof, tussen blydskap en twyfel.

Ons sien dan ook in die paasverhale dat die Here Jesus baie besig is om die twyfelende, onsekere mense te oortuig van die waarheid van die opstanding.

Almal word op 'n ander manier benader.

Daar is mense wat 'n leë graf sien, mense wat die doeke sien wat afgelê is, mense wat engele sien, mense wat Jesus self ontmoet.

En saam moet hulle die stukkies van die puzzle in mekaar skuif om tot die sekerheid te kom: Die Heer het waarlik opgestaan!

Temidde van al die mense wat tekens van die opstanding gesien het, neem Maria Magdalena 'n besondere plek in.

Sy is die enigste een wat alles gesien het.

Petrus en Johannes sien slegs 'n leë graf en doeke daarin..

Die ander vroue sien slegs engele en dan gaan hulle.

Die Emmausgangers sien Jesus self, maar so gou as wat hulle hom herken is Hy weg.

Maar Maria, sy sien alles. Sy was die eerste by die oop graf, sy sien die doeke, sy sien die engele. Sy sien selfs vir Jesus self. Hy verdwyn nie as sy Hom herken nie. Hy praat selfs met haar.

Maria is maar bevoorreg onder die mense. So dink ons dan maar gou.

Maar ek dink nie ons moet haar beny nie.

Ons kan dit ook van 'n ander kant bekyk.

Van al die mense wat doe Here Jesus moet oortuig van die wwarheid van sy opstanding, het Hy die meeste moeite met Maria. Sy bly vassteek in ongeloof en misverstaan.

In vers 8 van ons hoofstuk getuig Johannes van een van die dissipels wat by die graf was: hy het gesien en geglo!

Hy wel!

Maar nie Maria nie. Sy het dieselfde gesien, maar sy het nie geglo nie.

Sy bly staan en huil.

Dan mag sy engele sien wat met haar praat selfs. Maar sy kan nog steeds nie glo nie.

Die Here Jesus moet haar met die neus op die paasfeite druk en dan nog kan sy nie glo nie.

Waarom nie? Wat is haar probleem?

Haar probleem is dit: sy is so vol van haar Jesus wat sy verloor het, dat sy die lewende Heer nie kan raaksien nie.

Dit kan blykbaar. Mense kan so vol wees van Jesus, van hul Jesus, dat hulle Christus die Heer nie meer sien nie.

Dit gebeur met Maria.

En dan spreek die Here Jesus haar aan op 'n manier wat alle verdriet deurbreek.

Maria! Slegs haar naam. Nie meer nie.

Maria! Met 'n skok skrik sy uit haar trane. Die stem ken sy!

Daar is maar Een wat haar so by die naam kan roep.

Rabboeni! roep sy uit.

Sy weet onmiddellik, dit is Hy! Die Here.

Rabboeni, dit is 'n erenaam. Meester beteken dit.

Sy erken Hom as haar hoogste leraar.

Nou weet sy, Hy het opgestaan.

Sy hardloop na Hom toe om Hom in haar arms te sluit.

Sy behoort by Hom en Hy by haar.

Maar dan klink skielik: Raak my nie aan nie!

Raak my nie aan nie! Dit is nou snaaks. Eers doen die Here Jesus alle moeite dat sy Hom moet sien en herken, nou reageer Hy so afwysend op haar blydskap. Wat is verkeerd daarmee om hom aan te raak?

Ons lees tog ook wel in die bybel dat die dissipels genooi is om Hom aan te raak, net om seker te maak dat hulle nie 'n gees sien nie.

Nee, maar hier is die situasie anders.

Maria wil hom vasgryp, met die bedoeling om Hom nooit weer los te laat nie. My meester, my Jesus!

Ons moeite om te verstaan wat presies die probleem is, word mee veroorsaak deur die Ou vertaling.

Raak my nie aan nie.

Die nuwe vertaling is beter: Hou my nie vas nie!

Ons sou amper kon sê: Laat my los, Maria!

Kyk, by Maria leef 'n misverstand waarvan sy bevry moet word.

Sy voel, sy het haar Jesus, haar geliefde vriend verloor.

Sy wil alles doen om hom terug te vind. Al was dit maar sy lyk.

Let maar op haar herhaalde vrae: Waar is Hy? Waar het hulle hom neergelê? Sê vir my asseblief!

Maar nou het sy Hom gevind. Sy wil Hom nou nooit meer uit die oog verloor nie. Daarom wil sy Hom vashou!

Sy glo nou die paasfeit, maar sy verstaan dit nog verkeerd.

Sy meen, nou word alles weer soos dit vroeër was. Die dood van Jesus was slegs 'n nagmerrie. Dit is gelukkig verby. Nou word dit weer soos vanouds. Sy het haar Jesus terug.

En daarom wys die Here Jesus haar terug. Nee Maria. Moenie my vashou nie.

Ek het nog nie na my Vader opgevaar nie. Maar ek sal!

Ek het my programma. Ek moet.

My programma is: geboorte uit die maagd Maria; lyde onder Pontius Pilatus; gekruisig word; sterf; neerdaal na die hel; opstaan uit die dood en opvaar na die hemel om aan die regterhand van God te gaan sit.

En daarom is Goeie Vrydag nie 'n ramp vir die vriende van Jesus in Jerusalem nie, maar 'n noodsaaklike gebeurtenis om God se kinders te red van die ewige dood.

Dus kan ook die opstanding nie slegs 'n blye gebeurtenis wees vir mense soos Maria nie. Nee dit is 'n fees vir almal wat Hom as Middelaar aanvaar.

En daarom moet hemelvaartdag op Pase volg.

En daarna moet dit Pinksterfees word.

Want dit gaan nie in die eerste plek om die gevoelens van mense soos Maria nie, maar dit gaan om die voortgang van die werk van Christus.

Moenie my vashou nie, Maria.

Ek moet verder. Ek het my taak. Jy moet ook verder.

Laat my nou los en gaan vertel vir my broeders en gee ook vir hulle my programma deur: Ek vaar op na My Vader en julle Vader, na my God en julle God.

Watter heerlike woorde van die Here Jesus, brs en srs!

Woorde vol van genade en waarheid.

Gaan na my broeders. Daarmee bedoel Hy die dissipels.

Sy vriende wat hom almal in die steek gelaat het toe dit spannend geraak het.

Maar Jesus het dit vir hulle klaar vergewe. My broeders. Hy soek hulle al weer.

Let op die boodskap wat Hy vir hulle saamgee. Ons het al genoem daarin gee Hy sy programma aan.

Maar daar is nog iets opvallends.

Jesus het altyd al van God gepraat as my Vader. Tereg.

Hy was mos die seun van God.

maar hoor nou: My vader en hulle vader.

Hulle vader, dit is ook vrug van die opstanding.

Die pad na die Vader is ook oop vir hulle.

Christus mag dit na sy opstanding met blydskap bekendmaak; my vader en julle vader; my God en julle God!

Hier is ook ons paasboodskap vir vandag, gemeente.

Ons het deur die opstanding van Christus kinders van God geword.

Maar as ons die eintlike vreugde van Pase wil sien, moet ons nie vaskyk in ons eie gevoelens oor die dood en die oorwinning daarvan deur Jesus Christus nie.

Nee, ons moet let op die program van ons Heer.

Hy is alweer soveel verder as in Maria's tyd.

Pase; Hemelvaart; Pinkster.

Die volgende programma punt is sy wederkoms.

Pase beteken vir ons die begin van 'n lewe vol verwagting.

En dan gaan dit nie om ons gevoel oor ons Jesus nie, maar dan draai alles om die heerlikheid van ons Lewende Heer.

Jesus Christus, die Seun van God aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is.

2. die paasfees moet gevier word in gemeenskap met Christus' kerk

Daar is nog een onderdeel uit die Paasonderwys van die Here Jesus aan Maria Magdalena waaraan ons nog geen aandag gegee het nie.

Dit is die volgende. Maria het op die Paasdag maar min oog vir haar broeders en susters. Sy gaan heeltemal alleen op pad.

Sy is net op soek na haar Jesus. Sy soek hom dan ook net vir haarself.

Die ander dissipels gaan saam op pad. Hulle bly ook by mekaar. Saam gaan hulle kyk. Saam maak hulle hul gevolgtrekkings.

Maar nie Maria nie.

Waarskynlik het sy saam met 'n paar ander vroue op die vroegoggend na die graf gegaan. Maar sy het alleen agtergebly.

Sy ween alleen. Sy roep nog wel die dissipels as sy die graf leeg vind, maar ons kry die indruk dat sy hulle slegs roep om haar te kom help soek.

Veral as ons die situasie van Maria vergelyk met die verhaal oor die Emmaus gangers. Hulle is saam op pad. Hulle praat met mekaar oor die profeet van wie hulle so veel verwag het vir heel die volk.

Ons het gehoop sê hulle dat Hy dit was wat Israel sou verlos.

Hoor u hoe hulle steeds saam praat oor wat Jesus kon beteken vir die volk?

Onthou u ook hoe hulle nadat hulle Hom gesien het onmiddellik terugkeer na Jerusalem waar die dissipels saam by mekaar was.

Hulle praat dus steeds van ons en die volk en die kring van broeders wat by mekaar bly.

Maar Maria nie.

Luister maar: Hulle het My Here weggeneem. Sê vir my waar hulle Hom neergelê het en ek sal hom wegneem.

Selfs in die pragtige naam wat sy vir die Here Jesus gee 'Rabboeni' kom dit uit. My Meester, beteken dit.

So dink sy. So voel sy. Dit gaan haar om Jesus en ik. Ik en Jesus.

As ek hom weer by my het, dan is alles weer reg.

Dan kan ek weer heeltemal gelukkig wees.

In die verband verstaan ons nog beter die waarskuwing van die Here Jesus.

Maria, moenie my vashou nie.

My opstanding is nie net vir jou nie.

Maar gaan na my broeders. Gaan na my broeders wat ook jou broeders is.

Gaan na die kerk kan ons ook sê.

Sluit jou aan by almal wat in my glo.

By almal wat op my wag.

Soek die gemeenskap van die broeders.

Dan eers kan die heerlikheid van my opstanding tot sy reg kom.

Nadruklik praat die Here Jesus dan ook van: my vader en julle vader, my God en julle God.

Julle is 'n meervoud.

Die meervoud van die gemeenskap van die heilges wat op die paasfees herstel is.

Onthou u hoe op Goeie Vrydag al die volgelinge van die Here Jesus gevlug het?

Ons kan dit ook so sê: Die skape van die kudde het alkante toe weggevlug.

Maar die stem van die goeie herder roep hulle op die paasfees weer by mekaar.

Dus nie die persoonlike ervaring van Maria is die belangrikste nie, maar Jesus verwys haar nadruklik na die gemeenskap van gelowiges.

Maria moes leer om 'n suster te wees temidde van die broeders en susters. 'n Deel van die kudde wat die goeie herder by mekaar roep.

Paasfees is 'n wonderlike fees, gemeente.

Maar jy kan dit alleen goed vier in die gemeenskap van die heiliges. As 'n lid van die huisgesin van God.

Dit mag nie jou doel wees om alleen, heeltemal op jou eie jou ontmoetings met Jesus te geniet nie.

Dit gaan daarom dat jy jou deel geniet in die gemeenskap van die heiliges waarin Jesus Christus jou gestel het. Daar moet jy jou deel doen om die ander mense te versterk in jul gemeenskaplik geloof.

En daarom kan niemand alleen die paasfees vier nie.

Net so min as iemand alleen sy geloof in Christus kan bely nie.

Dus dit is pragtig dat ons vandag 'n openbare geloofsbelydenis kan meemaak.

'n Belydenis in die midde van die gemeente.

Geloof is ongetwyfeld 'n saak van jou hart. Wie sal dit wil ontken?

Maar omdat dit 'n saak van jou hart is, mag dit ook uit julle monde gehoor word.

Geloof is beslis 'n heel persoonlike saak.

Maar Christus wil dat ons met ons geloof in die midde van die gemeente gaan staan.

Want ons het as gelowiges mekaar so nodig.

Daarom, Corien en Betty, Andre en Frans, ons is bly, julle staan hier vandag.

Met julle geloofsbelydenis in die hart en in die mond.

Ons wil dit graag hoor.

Want ons het dit so nodig om bemoedig te word met mekaar se geloof.

Sodat ons een gemeenskap kan vorm.

As kinders van een God en Vader.

Een in geloof

Een in die hoop

Een in die liefde.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)