Wie God se kleintjies verag, kry te make met hul engelewag

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Matthéüs 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 18: 10

LITURGIE:
L. Matt. 18: 1-11
Ps. 131: 1, 2
Ps. 131: 3
Ps. 121: 1-4
Ps. 34: 3
Ps. 18: 13, 14

Broeders en susters,

Is daar beskérmengele?

Nee, ek vra nie of daar éngele bestaan nie.

Want God se Woord vertel ons van die eerste tot en met die laaste Bybelboek dat hierdie, meestal onsigbare, knegte van God wel deeglik bestaan. Hulle is voortdurend in die weer tussen hemel en aarde.

Maar beteken dit nou ook dat u en ek, ons almal persoonlik 'n eie beskermengel het? Het God vir elkeen van ons afsonderlik 'n engel toegewys wat spesiaal ons moet beskerm en nooit van ons syde wyk nie?

Miskien vind u dit maar 'n snaakse vraag. Die gedagte van 'n spesiale bewaarengel vir elkeen van ons staan ver van ons af. Ons is nie daarby grootgemaak nie.

Tog het al die eeue dwarsdeur die gedagte bestaan dat God se kinders elkeen 'n eie beskermengel wat vir hulle persoonlik oppas, het.

En hierdie gedagte is veral ontleen aan dit wat ons in ons teks van vanmôre lees. Het God se kleintjies nie hulle besonbdere engelewag nie? !

Die Jode alreeds het in besondere beskermengele geglo. En by die kerkvaders in die eerste eeue na Christus lees ons hele vertoë oor vrae soos: het álle mense 'n beskermengel of net die christene? Het elke mens net 'n goeie engel aan sy syde of ook 'n slegte? Wanneer word die beskermengel aan 'n mens toegewys: dadelik by die geboorte, of by die doop?

Soseer het hulle uitgegaan van die bestaan van beskermengele!

In die Roomse kerk het later die bestaan van die beskermengel 'n onderdeeltjie van die amptelike kerkleer geword. Ek het in 'n Roomse Katkisasieboekie, wat ongeveer 30 jaar gelede gedruk is, die volgende sinne gelees: "Daar is ook engele wat ons besonderlik bewaar van die begin van ons lewe tot die einde daarvan; elke mens het so'n engel: dis sy engelbewaarder. "

"Ons engelbewaarder beskerm ons na siel en liggaam. Hy help ons tydens ons lewe en in die uur van ons dood. "

"Ons moet ons engelbewaarder vereer, hom met vertroue aanroep en na sy insprake luister. "

Daarby is dan 2 Oktober aangewys as die feesdag van ons engelbewaarder!

Veral die laaste sinne, dat ons ons beskermengel moet vereer en met vertroue aanroep, het die Gereformeerde Kerke altyd baie huiwerig gemaak vir die gedagte van afsonderlike beskermengele. Word op hierdie wyse nie 'n veels te belangrike plek aan die engele toegedink en kom die persoonlike engelbewaarder nie al gou tussen ons en ons enigste Middelaar Christus in te staan nie??

Daarom is in die Gereformeerde Kerke die bestaan van spesiale beskermengele altyd nadruklik afgewys. In ons Kategismus word nouliks van die engele gepraat.

Maar het die huiwer vir verkeerde engeleverering by ons nie veroorsaak, gemeente, dat ons heel die bestaan van God se engele wat ons met hulle beskerming omring, so goed as heeltemal uit ons aandag weggedruk het nie?

Wie van u hou nog rekening met die engele? Wie vertrou nog op hulle hulp? Wie vrees hulle onsigbare krag en aantal?

Die Here Christus sê dit darem in ons teks: wie God se kleintjies verag, kry te make met hul engelewag!

Wat het Hy bedoel?

As daar dan geen persoonlike beskermengel vir elkeen van ons bestaan nie, hoe het Christus dit dan wél bedoel?

Ons sal dit gaan hoor, wanneer ek vir u die boodskap van ons teks preek onder hierdie tema:

WIE GOD SE KLEINTJIES VERAG, KRY TE MAKE MET HUL ENGELEWAG.

Ons sal agtereenvolgens aandag gee daaraan:

  1. WIE DIÈ KLEINTJIES IS
  2. HOE HUL ENGELE HELP
  3. WIE HIER GEWAARSKU WORD.

1. Die eerste vraag wat uit ons teksvers vorentoe kom, is: wie is die "kleintjies" waarvan die Here Jesus hier praat en wat ons nie mag verag nie?

Is dit die kinders in die kerk?

Die peuters en kleuters, die kinders van die laerskool dalk ook nog?

Die Here Jesus het mos so pas so'n kind opgetel en midde-in die kring van die groot apostele gesit?

Die woord wat daar staan in die Grieks, dui op 'n kind van hoogstens ses jaar. Klein dus nog. Doel die Here dus in ons teks op hierdie tipe kleintjies? Die kinders wat nog nie vir hulleself kan opkom nie? En daarnaas dalk ook ander swakkes en hulpbehoewendes in die kerk?

Ja, die Here bedoel hulle sonder twyfel.

Maar nie net hulle nie!

Hy bedoel net so goed ook groot mense, sterk en selfstandig, dié wat van hulleself dalk eers gedink het dat hulle heelwat beteken. Maar wat moes leer om soos die kinders te word.

Ons tekswoorde vorm 'n onderdeel van die uitvoerige onderwys wat Christus gegee het na aanleiding van die vraag van sy dissipels: "Wie is tog die grootste in die Koninkryk van die hemele? " Natuurlik: die allergrootste sou die Koning van hierdie ryk self wees.

Maar daarna? Hoe word dan die posisies verdeel?

Dit was nie so'n snaakse vraag nie. Het Jesus self nie partykeer 'n duidelike onderskeid gemaak nie? Uit al sy volgelinge het Hy tog twaalf spesiaal uitgekies om altyd by Hom te wees en om eendag deur Hom uitgestuur te word. Is hierdie twaalf meer as die res?

Maar uit hierdie twaalf het Jesus af en toe ook nog weer eens drie manne van die eerste uur apart geneem: Petrus, Johannes en Jakobus. So pas nog mog net hulle met Hom saam die berg uitklim waar die Here 'n oomblik in heerlikheid 'n wonderlike ontmoeting met Moses en Elia mog hê.

Was hierdie drie meer as die ander nege, omdat hulle tot die eerstes wat gevolg het, behoort het? Maar wat dan van Filippus en Natanaël? Die was tog ook uit die staanspoor daarby?

En was Petrus dalk van hierdie moderamen van drie nog weer die voorsitter? Christus het tog vir Hom gesê dat Hy op hierdie petra sy gemeente sou bou?

Die vraag van die apostels is dus nie so snaaks nie.

Maar dit is ook nie goed nie. Want uit dit wat Lukas hiervan vertel (hfst. 9), begryp ons dat afguns en mededinging 'n woordjie saamgepraat het. Hulle wou maar nie net saaklik weet hoe of die take net-nou verdeel sou word nie. Maar elkeen wou graag méér as die ander wees. Hulle het gepieker oor hul eie waarde in vergelyking met die ander. Niemand wou graag mínder as die ander wees nie.

En so het geeneen van hulle almal meer 'n oog vir hulle plek ten opsigte van die Heer oor hul almal gehad nie, soseer was hulle met elkeen se plek ten opsigte van die ander besig.

Daarom het die Heiland spesiaal gaan sit om sy dissipels te leer wàt dan hulle waarde is, hul betekenis in die Koninkryk van God. Hulle moet leer dat hulle geneen van almal hul kan beroem op hul éie waarde nie. Hulle mag slegs verwonderd wees oor die waarde wat hulle gekry het.

Hulle moet nie onderling wedywer nie, maar hulle saam kinders weet wat deur Hom, God se Seun, in die kring gehaal is. Dis hoekom die Here daardie kind na Hom toe roep, gemeente. 'n Kind dalk van Petrus in wie se huis hulle wellig was en wat daar onbekommerd bietjie op 'n afstand van daardie kring van groot manne gespeel het. Die Here Jesus roep dit, haal dit midde-in die kring (slaan sy arms om hom, vertel Markus) en sê: "As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die Koninkryk van die hemele ingaan nie!"

Daardie groot dissipels moet hulleself so gering gaan ag soos hierdie kind wat daar nou skaam en bëindruk teen Jesus aanhang. Hierdie kind wat hom laat roep en optel en by die Heiland laat neersit het vol verwondering. Só moet die dissipels word.

Die Here wil daarmee sê: dit gaan nie daarom wie júlle is nie, en of julle meer of minder as 'n ander is nie. Dit gaan daarom of Ek julle opgetel en in die kring gesit het en julle by My mag behoort. Dít bepaal julle waarde. Nie dit wat julle self inbring nie. Maar my ontferming. Julle moet ophou om julleself met die ander te vergelyk en om meeras die ander te wil wees. Julle hoef nie meer te wees as 'n kind wat hom deur My laat roep het en wat hom nou gewillig laat neersit waar Ek wil nie.

Wie nie so wil wees nie, hoef nie verder oor die verdeling van die plekke in die Koninkryk van die hemele na te dink nie. Want hy sal nie eens in hierdie ryk ingaan nie!

Maar wie hom so gering ag teenoor My en my Vader, dié groei in waarde. Waarde wat hy gekry het!

Ja, en dan moet ons veral ook nog lees, broeders en susters, hoe dat Christus sy onderwys dan vervolg. Want dan gaan praat Hy in vs. 5 oor die "ontváng" van hierdie kind: "Elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My".

Dit lyk maar 'n eienaardige vervolg. Die dissipels het gevra: hoe word dit met óns? Christus sê: hoe word dit met die mense wat 'n kind van die Koninkryk van die hemele ontváng?

Maar met hierdie vervolg wil die Here sy dissipels daaraan herinner dat hulle geroep is om "ontváng te word". Hulle het nie dissipels geword om sélf iets te wees nie, maar om ander iets te laat word. Hulle word net-nou uitgestuur om ook ander mense tot die Koninkryk van God te roep.

En nou sê die Here as hulle julle maar vanweë my Naam ontvang. Die apostels hoef nie sélf naam te maak nie. Christus moet deur hulle by die mense ontvang word.

Sal hulle nou-nou gewigtig genoeg wees om om indruk te maak?

Jesus sê: dis hoegenaamd nie belangrik nie. Al kom daar 'n kleuter, in kind uit graad 1 of 2 van die Laerskool in die Naam van Jesus- dan moet die mense dit ontvang asof dit Jesus sélf was. So waardevol is so'n kleintjie!

Ons het van onsself geen betekenis in God se Koninkryk nie. Van onsself staan ons ook nie sterk in hierdie wêeld nie. Juis nie: wat dwaas is by die wêreld, swak en verag, het God uitgekies. Net Christus se Naam maak ons groot.

Nou maar goed, as ons nou dus weereens vra, gemeente: wie is die kleintjies waarvan die Here in ons teks praat, moet die antwoord wees: ons almal, as dit goed is. Christus roep ons almal, groot en klein, senior burgers en kleuters, om klein te wees voor God. Die belangrikste ding moet vir ons nie wees hoe dat die ménse teen ons ópsien nie. Maar die belangrikste ding moet wees hoe dat Gód uit die hemel op ons néérsien. Hy het ook ons as 'n kind van Hom in die kring gehaal. Waar ons nou skaam en verwonderd staan en kyk. Ons moet kinderlik verwonderd wees daaroor dat Christus alreeds by ons doop sy arms om ons geslaan en in in sy Koninkryk ingehaal het.

En dat Hy ook ons nou wil gebruik om in sy Naam ander mense in hierdie wêreld tot die Koninkryk van die hemel te roep. Ter wille van daardie groot roeping moet ons almal klein wil wees.

2. Maar dan moet u wel bewus wees daarvan dat baie mense nou glad nie meer teen ons opsien nie, broeders en susters. Wie klein wil wees voor God, ondervind in hierdie wêreld baie minagting. Dié is nie meer in tel nie.

Hierdie wêreld reken mos slegs met mondige mense, wat van hulle self regte en waardes het. Daarom minag hulle kinders van God se Koninkryk wat self wel klein wil wees as Gód se regte en waardes maar hooggehou word.

Dit is aanhoudend die lot van die kerk en sy lidmate.

Wie deur Christus aangeneem word, word deur baie mense afgestoot. Dié ondervind haat, verset. Dié word geminag of eenvoudig geignoreer. Baie mense ontvang ons nie langer wanneer ons regtig met Christus se Naam kom nie.

Die apostels het dit al gou ervaar. En die kerk in die eeue daarna byna onophoudelik. Dit ervaar nog altyd sendelinge in 'n vyandige heidense omgewing en evangelisasiewerkers in 'n ontkerstende samelewing.

Dalk kom u dit agter by u werk, ons kinders kan dit soms voel as hulle nie, of nie meer Gereformeerde skoolonderwys kan volg nie. Ons seuns kan daaronder ly as hulle in die weermag aan God se gebooie trou wil bly.

Nee, wie homself dan groot hou om nie uit die toon te val nie, sal nie so veel moeite ondervind nie. Maar wie klein voor God bly, kry swaar.

Ampsdraers kan selfs in die kerk wel daarop stuit, by broeders en susters wat hulle kleinheid voor God nie meer ken nie en hoogmoedig enige vermaan afwys. Wat kan sulke kerklede soms veragtelik praat oor die ampsdraers wat God na hulle toe gestuur het!

Sulke veragting kan veroorsaak dat ons ons nog ekstra klein voel, broeders en susters. Onbeduidend, swak en alleen. Wat kán ons maak teenoor soveel teëstand?

Maar dan sê Christus in ons teks: God se kleintjies staan in hierdie wêreld glad nie alleen nie! Inteendeel, net soos Elia vir sy kneg gesê het, mag ook ons dit aan onsself en aan mekaar voorhou: "die wat by ons is, is baie meer as die wat by hulle is".

Ons het God se engele aan ons syde!

En nou is dit hoegenaamd nie nodig om uit ons teks die gevolgtrekking te maak dat ons almal 'n eie beskermengel het nie. Ons hoef ook nie onsself af te vra -soos dit wel dikwels deur Gereformeerde teoloë gedoen is- of dalk die kinders in die kerk en die swakkes onder die beskerming van 'n spesiale groep van engele staan nie.

As dit goed is, is ons mos almal "kleintjies" voor God. Ons moet tog almal onsself verneder soos daardie kind in Jesus se arms? Sê Christus nie in vs. 6 dat elkeen wat in Hom glo 'n "kleintjie"; in hierdie wêreld is nie?

Maar daardie "kleintjies" het juis God se groot engeleleër agter hulle staan! Die engele pas hulle op.

Nie so dat daar vir elkeen van ons maar een engel is nie. Baie meer as een. Ons God is die Here van die leërmagte. Hy kan beskik oor tienduisend maal duisend. Legioene van engele, wat -so sê Christus dit in ons teks-: "altyd die aangesig sien van die Vader wat in die hemele is". Dag in dag uit staan hulle vol heilige spanning voor God, in afwagting van dit wat Hy sal beveel; terwyl hulle ook aanhoudend vir Hom verslag doen oor hoe dit met ons hier op aarde gaan. Met duisende waak hulle oor elkeen van ons.

Ja, al het ons ook nie elkeen 'n eie beskermengel nie, nogtans hou God se engele elkeen van ons afsondelik dop. Met nadruk praat Christus in ons teks van: "wie een van hierdie kleintjies verag - al is dit ook maar net een- kry te make met God se engelewag. So hoog het die engele God se kleintjies!"

Met dié bemoedigenmde wetenskap mag ons in hierdie wêreld lewe, gemeente.

Maar kan ons dit nou ook agterkom? Word hierdie engelehulp vir ons ook merkbaar?

Die apostele het baie beslis iets daarvan agtergekom.

Die boek Handelinge vertel ook meermale vir ons hoedat engelehulp die apostels ondersteun het by die verbreiding van die evangelie.

En ons ken ook uit die geskiedenis van die sending van die laatse eeue nog wel verhale wat onmiskenbaar op die beskerming van God se engele dui.

Uit die einde van die vorige eeu, omtrent 100 jaar gelede, dateer die geskiedenis van die bekende Nederlandse predikant, wat later Professor aan die Teologiese Skool te Kampen geword het, Lucas Lindeboom. Ds Lindeboom het hom as leraar in Noord-Holland baie ingespan vir evangelisasiewerk in daardie veelsins goddelose omgewing. Maar dit het hom, een van God se "kleintjies", wel 'n hele aantal vyande besorg. Hulle haat teen hom het so toegeneem dat hulle 'n plan gemaak het om hom dood te maak: hulle wou op 'n donker aand hom oorval en verdrink en dit dan na 'n ongeluk laat lyk. Maar toe hulle op daardie aand hom in 'n hinderlaag opgewag het, het hulle tot hul teleurstelling gesien dat hy juis daardie aand nie alleen was nie. Daar was nog een (of twee) saam met hom sodat hulle hul moordplanne nie kon uitvoer nie.

Toe dit later bekend geword het, is ook vasgestel dat Ds Lindeboom op daardie aand baie beslis geen mens by hom gehad het nie.

Het sy vyande 'n engel gesien?

Ons moet van sulke geskiedenissse nie te gou se, broeders en susters, dat dit natuurlik onsin is nie. Dat dit wel versonne sal wees. Of verbeelding.

Ons moet ons vertrekpunt neem in die werklikheid dat daar engele ís, orals rondom ons in God se skepping. En dat die HERE hulle stuur om ons te beskerm en te help. Hoe hulle dit ook mag doen.

Sou God hulle dan nie, al behoort hulle vandag nog vir ons tot die meestentyds onsigbare skepsele- sou God hulle nie, as Hy dit nodig ag, ook sigbaar kan gebruik om ons by te staan nie?

Nee, ons moet ons nie aan sulke verhale so vasklamp, dat ons eers wil glo dat die engele ook ons elke dag help as ons eers iets daarvan gesién het nie. Want al kan God ook gebruik maak van sigbare engelehulp- reël is dat hulle onsigbaar bly.

Maar daarom ís hulle wel hier! Daagliks. Dit moet ons vas gelo.

Die leërskare van die HERE staan aan ons syde, hoe swak, klein en onbetekenend ons ons soms ook mag voel in hierdie wêreld. Hulle dra ons op die hande sodat ons ons voet teen geen klip stamp nie. Hulle stry voor ons teen die bose geeste by die teëstander. Hulle maak waar, wat God vir elkeen van sy "kleintjies" by die doop beloof het, nl. dat Hy hulle met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van hulle wil afweer of tot hulle beswil beskik.

Dit mag ons weet as die wêreld ons verag. Dit mag ons sendelinge weet as hulle die stryd met die heidendom moet aanbind. Dit mag u weet as daar by u werk op u neergesien word. Dit mag ons seuns en dogters bedink as hulle hul in die hoërskool of die universiteit, in hulle weermagtyd of waar ook al partymaal baie alleen voel: die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.

Dit mag u, broeders ouderlinge, en dit mag ek weet, as ons by 'n besoek in die gemeente die stryd met 'n hardnekkige sonde moet aanbind.

Ons staan nie alleen nie, hoe die mense dalk ook al op ons neersien. Ons staan in God se wye wêreld as kinders van Hom. Hy dek ons in die rug as die HERE van die leërskare.

3. Ek moet tenslotte nog op een ding in ons teks wys. Ons mag nie daaraan verby lees nie.

Ons teks bevat 'n indringende waarskuwing. Maar vir wie?

Na alles wat in hierdie preek alreeds gesê is, dink u natuurlik allereers aan die vyande van die kerk en van die evangelie, aan die heidenwêreld, ons ontkerstende omgewing en moontlik ook nog aan kerklede wat in ongeloof teruggeval het.

Maar Christus waarsku in hierdie teks allereers óns, sy dissipels!

Hy het in vs. 6 en 7 al begin met waarsku. Christus is suinig op die "kleintjies" wat in Hom glo- dit het wel duidelik geword. Hy het sy "wee" al laat hoor. En dit is uit sy mond geen "ag- en weegeroep" van 'n buitestaander nie. Dit is die dreiging van die gerig. Hy spreek as die groot Koning: moenie aan my "kleintjies" raak nie!!

Daar in vs. 6 en 7 is die klank nog algemeen gehou. Maar nou, in ons teks, rig Christus Hom padlangs tot die mense wat rondom Hom staan, sy dissipels: "Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie!".

Hulle was met hulle gestry oor die vraag wie die meeste in die Koninkryk van God sou wees, hard besig om eersugtig te word. En dus hoogmoedig. Nie meer klein soos die kinders nie. En dan voel 'n mens homself al gou bo die ander verhewe.

Dan kan dit so ver met jou kom dat jy jouself probeer verhef ten koste van die ander in die kerk. En so vir die ander 'n struikelblok lê waaroor hy ten val kom.

Wee die mens deur wie die struikelblok vir my "kleintjies" kom, waarsku Christus. Wee elkeen wat struikelblokke opwerp in die kerk.

Maar dan kyk Hy nie na die wêreld en na die disko nie, nie na studente wat hulle dronk drink of soldate wat jou in sondige seksuele speletjies wil saamsleep nie.

Nee, die Here kyk sy dissipels in die oë en waarsku óns om geen struikelblok te word of te lê voor een van God se gedoopte kinders nie.

Vaders en moeders kan hulle so deur trots en hoogmoed laat beheers - altyd die hoogste woord wil voer in die kerk- dat hulle kinders òf hulle so daaraan vererg dat hulle wegloop uit die kerk, òf self ook toenemend 'n lewe gaan lei wat uit is op eie belangrikheid.

Ouers kan so geintereseerd wees in die dinge van hierdie wêreld: 'n mooie uiterlik, die mode, werk wat bes betaal, saamdoen met jou omgewing ens., dat ook hulle kinders dít toenemend belangriker ag as die kerk, as die verryking van jou geloofskennis in die katkisasieklas en die vereniging.

'n Seun of dogter kan deur 'n verhouding of verlowing waarin die HERE nie die eerste plek innneem nie, 'n struikelblok vir die ander word.

Kerkjeug kan vir mekaar in die skool of op die vereniging 'n struikelsteen word deur verkeerde belangstelling en praatjies of deur die ander saam te sleep na die disko of die fliek.

Ampsdraers kan God se "kleintjies" in die pad staan as hulle maar net daarop uit is om die populêre predikant of die oulike ouderling of diaken te wil wees. Gemeentelede wat altyd direk met kritiek klaarstaan en bietjie veragtelik praat oor broeders en susters wat oor party sake 'n ander siening het, kan 'n struikelblok in die gemeente lê.

So kan dit op allerlei maniere gebeur dat selfs ons in die kerk uit die oog verloor wat dit beteken om 'n gedoopte kind van God teenoor jou te hê. Dat ons so'n "kleintjie" van God nie meer hoog het nie.

Christus waarsku: dan kan ook ons met die engelewag te make kry! God se engele staan nie outomaties aan ons syde nie. Hulle kan ook vir ons in teëstanders verander wat by God verdrietige verslae oor ons moet uitbring.

Christus het gesê: Jy kan nog beter met 'n meulsteen, 'n blok beton aan jou nek wegsink in die diepte van die see. Dit is altyd nog beter as om die engele teen jou te kry. Want dan kry jy die HERE van die leërskare teen jou!

Daardie waarskuwing geld allereers vir óns, gemeente.

Laat ons klein bly teenoor ons groot God.

Saam klein wees en daarom die ander in die kerk hooghou.

Dan mag ons groot wees in God se hemelhoë Koninkryk.

AMEN.

(Pretoria, 4 Februarie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)