Die Here bewaar en vermeerder Sy Kerk deur die koms van kinders

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Exodus 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 1: 7, 12, 20, 21

LITURGIE:
Ps. 105: 1, 2
Wetslesing
Ps. 105: 3
L. Exodus 1
Gebed
Kollekte
Ps. 105: 5, 13, 14, 23
Prediking
Ps. 127: 3, 4
Gebed
Ps. 128: 1, 3

Broeders en susters, burgers van God se Koninkryk,

Ek mag seker aanvaar dat u byna daagliks in u huise een of ander tyd die "Onse Vader" bid. Met daarin ook die bede: "Laat u Koninkryk kom".

Die Heidelbergse Kategismus het vir ons in Sondag 48 omskrywe wat ons met daardie derde bede eintlik sê. Ons vra onder andere of die Here sy kerk wil bewaar en laat groei.

Dis dus wat u byna elke dag bid: "bewaar en vermeerder u kerk".

U kan daarby aan die werk van die ampsdraers dink- aan die preke, die katkisasies en huisbesoeke; u kan ook aan die evangelisasie- en sendingwerk dink waardeur God mense aan die kerk toevoeg.

Maar u moet beslis ook dink aan die geboorte van babas. God bewaar en vermeerder sy kerk nie in die laaste plek nie deur die kinderseën in die kerkgesinne.

Die geboorte van kinders is die eerste en oudste middel wat die HERE ingeskakel het om die volkomenheid van sy ryk te bereik.

Ons gereelde gebed: "Vader, laat u Koninkryk kom... " hou daarom sekerlik ook die bede in: "Vader, gee dat daar kinders in die kerk gebore bly word, dat daar telkens babs na die doopvont aangedra word".

U bid hierdie gebed veelvuldig, broeders en susters.

Maar is ook elke keer weer bly as die HERE dié gebed ryklik verhoor?

Dánk u die HERE ook vir elke nuwe kind wat Hy in die kerk gebore laat word?

En veral: wil u op u eie plek ook van harte aan die bewaring en vermeerdering van God se kerk saamwerk, deur kinders te ontvang en op te voed?

Ons leef in 'n tyd waar daar om ons heen op groot skaal en soms baie agressief die beperking van geboortes gepropageer word. En met resultaat: groot gesinne word al hoe meer 'n seldsaamheid.

Daar word talle argumente aangevoer om 'n klein aantal kinders per gesin te bepleit: die ontplooiing van die ouers moet nie afgerem word deur te veel kinders nie, die land mag dalk te klein word vir so veel mense, is Suid-Afrika nie besig om 'n Derde Wêreld-land te word nie? Gaan daar nog wel genoeg werk vir almal wees? En genoeg kos?

Boonop: watter toekoms gaan ons kinders tegemoet? Gaan ons land binnekort nie dalk in 'n chaos verander onder 'n swart diktatuur nie?

Sulke argumente is vir mense wat die meeste aan hulle eie gerief en genoeëns dink, nogal aantreklik. En ook ons is vir sulke argumente nie immuun nie, gemeente. Ek het ook broeders en susters in my eie gemeente wel op so'n manier oor gesinsvorming hoor praat. En ek het met jongmense gepraat wat opreg gemeen het dat dit heeltemal verantwoord is om in die eerste tyd van hul huwelik die koms van kinders voorlopig nog 'n bietjie uit te stel. Want: hulle benodig nog 'n bietjie tyd om aan mekaar gewoond te raak, die woonstelletjie wat hulle nou bewoon is eintlik te klein om kinders in te kan hê. Die geld is ook maar skaars en die vrou wil daarom liewer eers nog 'n bietjie bly werk...

En 'n mens skrik regtig as jy hoor hoe party gemeentelede praat as hulle verneem dat daar êrens in die gemeente 'n agste of selfs tiende kindjie verwag word.

Ons het 'n Bybelhoofstuk opgeslaan vanoggend waarin ons hoor van 'n indrukwekkende geboortegolf; en geen poging om daarteen wal te gooi, hoe agressief ook al, kon dit stuit nie.

Daar staan tot driemaal toe in Exodus 1, en dit klink al hoe triomfanteliker:

"Die volk was vrugbaar en het vermenigvuldig en het baie geword. Ja, hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei".

En dit terwyl daar tog heelwat argumente aangevoer kon word om die koms van kinders drasties te voorkom.

Baie mense vandag sal geneig wees om te sê dat die Israeliete blykbaar Gods water maak oor Gods akker laat loop het.

Maar ons moét sê: die Israeliete het hulle gelowig en gehoorsaam laat inskakel by God se kerkbou, al was die omstandighede ook glad nie maklik nie. God se Gees het hulle bruikbaar gemaak vir die bewaring en vermeerdering van sy kerk, toe die teenstander die kerk wou uitroei.

Hulle het nie net gebid: "Laat u Koninkryk kom" nie. Hulle het ook daaraan wil saamgewerk.

Ons kan vandag daarvan leer. Ons almal, ook as ons nie getroud is nie of as u in u huwelik nie kinders gekry het nie; of as die vrugbare jare reeds agter u lê. Ons vorm mos 'n gemeenskap van heiliges. Ons moet mekaar help, bemoedig en teregwys. En dan is dit belangrik dat ons almal saam in ons gesprekke vanuit God se Woord bly praat en nie al hoe meer in die kielwater van die wêtreldse gedagtes oor gesinsvorming saamgesleep word nie.

Ek bedien u God se Woord uit Exodus 1, waarby ek die boodskap van ons teksverse soos volg saamvat:

DIE HERE BEWAAR EN VERMEERDER SY KERK DEUR DIE KOMS VAN KINDERS

  1. OOREENKOMSTIG SY BELOFTES AAN DIE VADERS
  2. ONDANKS DIE BEDREIGING DEUR DIE FARAO
  3. IN SY BELONING VAN DIE VROEDVROUE

1. Exodus 1 begin met die vermelding dat die gesin van Jakob in Egipte uitgroei van so 70 mense tot 'n geweldige volk wat die land vul.

As 'n klein, armoedig klompie mense het hulle eendag na Egipte toe gekom. Noodgedwonge weens 'n hongersnood in Kanaan. Maar ook volgens God se wyse plan, wat Josef klaar voor hulle uitgestuur het en in Egipte tot die onderkoning gemaak het, belas met die voedselvoorsiening.

Danksy Josef se hoë posisie kon Jakob se geslag hulle tydelik in Egipte vestig, in die porvinsie Gosen en mog hulle mee profiteer van Josef se verstandige maatreëls m. b. t. die korenopslag.

En dan brei daardie klein geslag hom daar in Egipte in 'n kort tydjie indrukwekkend sterk uit. Josef sterf, en sy elf broers en daardie hele generasie. Maar daar het inmiddels 'n nuwe generasie opgestaan. Jakob se kinders het self ook kinders gekry, en dié trou en kry kinders en so gaan dit aan. Die provinsie Gosen word al gou vól met Israeliete. Daar moet al hoe meer tente by kom. Die huise moet groter gemaak word. Want daar kom elke keer nuwe gesinne by. Groot gesinne. met gesonde, lewenslustige kinders.

In vs. 7 stapel die woorde op: Hulle "was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword".

Die woorde wat gebruik is, dui op 'n ware geboorte-eksplosie. Al gou het dit in Gosen gekrioel van Israeliete.

Ja, daardie woord: "krioel" staan daar regtig as 'n mens so getrou as moontlik vertaal. Dis dieselfde woord wat u in hoofstuk 8 vs. 3 lees as dit in Egipte wemel van die paddas.

Deesdae sou mense dit maar 'n onrusbarende en asosiale verskynsel vind, wanneer gesinne so sterk groei. Dan maak hulle ook wel 'n vergelyking met bepaalde diere, maar dan spottend: Dit gaan daar net soos by die hase!

Maar wanneer daar in ons eerste teksvers staan dat dit in Gosen gewemel het van Israeliete, is dít beslis nie spottend bedoel nie. Juis nie! In daardie talle geboortes blyk God se groot seën. God se beloftes wat Hy so dikwels aan die vaders gedoen het, gaan in vervulling.

Dit moes Abraham en Sara kon gesien het!

Dit moes Isak meegemaak het.

Die HERE het aan hulle belowe dat Hy hulle tot 'n groot volk sou laat uitgroei. Toe al was die woorde gespreek: "Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak en jou buitengewoon vermeerder".

Maar hoe was die geloof van Abraham en Sara lank op die proef gestel. Vyfentwintig jare moes hulle vir net een seun wag, terwyl Sara onvrugbaar was en Abraham op die ou end so oud geword het dat hy menslikerwys gesproke nie meer kinders kon verwek nie.

Toe was tog die beloofde Isak, daardie lagwekkende wonderkind gebore uit wie God verder kon bou aan die vervulling van sy belofte.

Maar toe Isak met Rebekka getrou het, het ook sy weer onvrugbaar geblyk. En eers na baie jare van spanning wou die HERE haar moederskoot oopmaak en 'n tweeling skenk. Twee kinders. Nie meer nie.

Maar tegelyk het die HERE wel telkens sy belofte bly herhaal dat Hy hierdie geslag sou laat groei tot 'n ontelbare menigte, groot soos die sand aan die strand en soos die sterre aan die hemel.

Na Isaak het Jakob hierdie belofte saamgekry.

Dit is in Genesis 'n telkens weerkerende refrein: "Ek sal julle vrugbaar maak, julle vermeerder en tot 'n groot nasie maak".

'n Lank tyd het daarvan maar min sigbaar geword. Maar nou, in Egipte, is dit asof God in een keer die dyk deursteek en Sélf sy water oor sy akker laat loop. Nou sien die nakomelinge van Abraham, Isaak en Jakob uiteindelik hoedat die HERE sy belofte tog waarmaak.

Daardie talle kinders was nie die gevolg van ewesovele ongelukkies, eintlik almal ongewenste kinders omdat daar nog nie goeie voorbehoeding was nie.

Nee, daardie talryke gesinne het God se trou getoon. Hulle het die bewys gevorm dat God se kerkbou nou regtig van die grond gekom het.

Want so, gemeente, beskou God se kerkvolk tog die koms van kinders.

So mag ons vandag steeds kinders ontvang en grootmaak.

As God u in u huwelik vrugbaarheid gee, mag u dit as 'n seën beskou. Dan mag u ook saamwerk aan die bewaring en vermeerdering van sy kerk.

Dan mag u nuwe burgers vir sy Koninkryk voorsien waarmee Hy die ryk van die Bose terugdryf totdat Hy weer alles in almal sal wees.

In daardie perspektief mag ons elke nuwe kerkkind verwek en verwag en gebore sien word.

As ons nie meer 'n oog het vir God se kerkbouwerk en ons medewerking daarin nie, word die vrugbaar-wees 'n probleem vir ons, 'n las of selfs 'n angs.

Ook in huwelike van kinders van die HERE word soms so ongelowig aangekyk teen die geskenk van die vrugbaarheid. Asof dit 'n grieselige risiko in ons lewe is wat ons sommer vir ongewenste gevolge kan plaas. 'n Natuurkrag waar 'n mens jou lydelik by neerlê of wat jy via die moderne voorbehoedmiddels moet probeer indam om te voorkom dat dit jou elke keer weer onkant vang.

Wie nie 'n oog het vir die plek van die vrugbaarheid in God se toekomsplanne met hierdie wêreld nie, reël presies die aantal kinders wat hulleself gerieflik vind, of laat kinders maar gelate kom omdat jy hulle nou maar eenmaal moeilik kan voorkom. Of omdat jy in die kerk geleer het dat ons die geboorte van kinders nie sommer mág voorkom nie.

Maar sulke mense het ook maar min verweer meer teen die wêreldse mentaliteit insake gesinsvorming en geboorteplanning. Hulle gaan of gebuk onder die spot en geskinder van die omstanders i. v. m. hulle groot gesin. Of hulle hou doelbewus hul kindertal klein en gaan self ook bedekte opmerkings maak oor broeders en susters waar daar al weer (!) 'n baba verwag word.

Slegs as ons die Gewer van ons vrugbaarheid ken en weet van sy bedoelings met hierdie wonderlike moontlikheid sal ons daarvan 'n verstandige en optimale gebruik maak.

Dan kan ons trots wees op 'n groot gesin, as God dit gee, en is nog 'n kind nie gou teveel nie, al spot ander ook daarmee.

Dan leer ons ook om verantwoord te onderskei in watter situasies daar beter voorlopig, of glad nie meer 'n kind kan kom nie en daarvoor verantwoorde maatreëls getref mag word.

Die vraag sou kon rys: maar mag die wat nie trou nie, of in hulle huwelik geen kinders kry nie, dan nie saambou aan die bewaring en vermeerdering van God se kerk nie? Is sulke broeders en susters minder bruikbaar vir die bou van God se Koninkryk?

Gelukkig leer die HERE se Woord dit nie so nie.

Dis mos nie die HERE se bedoeling dat ons geïsoleerd almal groot gesinne stig nie, maar dat sy een volk, sy een kerk gebou word. Daarom is die groei van die kerkgesin deur 'n nuwe baba nie 'n ding wat net een ouerpaar raak nie. Dit raak almal in die gemeente. Almal kan dankbaar wees daaroor.

Dit moet ouers besef. Hulle kinders word nie aan ons gegee om self met hulle te pronk nie. God wil daarmee kan pronk in sy kerk. Ouers moet ook nie stamhouers soek nie, maar kerkbouers. Dan is hulle by die opvoeding ook aangewese op die hulp van ander lidmate in die gemeente. Dikwels ook ongetroude lidmate: onderwyseresse in die skool, leidsters in die vereniging...

Dit moet hulle wat self geen kinders gekry het nie eweneens besef.

Ek weet, dit kan baie stryd kos om te leer om bly te wees met die groei van die gemeente as die HERE jou self alleen laat. Die Here weet hoeveel daar dan in 'n lewe geworstel en gebid word. Maar die wat dit van Hom vra om 'n oog te mag bly hou vir sy kerkbou, kry ook die kragte van Hom om op jou eie manier ook vrugbaar en diensbaar en dankbaar te kan wees. Moet maar dink aan die apostel Paulus wat sonder eie kinders tog vrymoedig die broeders en susters in Galasië "sy kinders" kon noem, vir wie hy in barensnood was. En Timotheüs was "sy geliefde kind". Wat het daardie man baie vir die bewaring én vermeerdering van die kerk beteken!

So kan vandag steeds ongetroude en kinderlose broeders en susters vaders en moeders in Israel wees wie se vrugbaarheid nog lank met dankbaarheid in herinnering sal bly.

By die mense. Maar nie minder by God nie!

2. Ek het reeds gesê: as ons die gawe en die opdrag om vrugbaar te wees in geloof en gehoorsaamheid optimaal gebruik in die diens van God se Koninkryk, kan dit wees dat ons heelwat spot en geskinder moet verduur.

Daar kan egter ook 'n nog baie moeiliker teëkanting kom.

Kyk 'n bietjie wat het met die volk Israel in Egipte gebeur.

Terwyl hulle onder God se seën so groei, vind daar 'n politieke omwenteling plaas. Daar kom, deur middel van 'n staatsgreep, 'n nuwe Farao op die troon wat van Josef en sy verdienstes niks meer wil weet nie. Hierdie heerser sien nog maar net dat die volk van daardie Josef so vinnig groei dat dit reeds groter en talryker as die Egiptenaars self geword het. Israel het 'n staat in die staat geword. En dit beskou die nuwe Farao as 'n ernstige bedreiging vir die binnelandse veiligheid. Hierteen moet met krag en beleid opgetree word.

Hierdie volk summier uitroei lewer 'n burgeroorlog op en is ook nie slim nie.

Dis beter om twee vlieë in een klap te slaan en hierdie volk eers so veel as moontlik uit te buit. Die manne kan in allerhande sware arbeid ingesit word. Dan doen hulle nog nuttige werk, maar terselfdertyd sal die swaar dwangarbeid die vinnige bevolkingsaanwas gou laat afneem. Ouer as 40 jaar sal die meeste mans nie meer word nie, en dié omstandigheid sal ook die geboortesyfer wel laat daal.

En so word die Israelietiese manne wat tot nou toe as nomade, veeboere geleef het, van die een dag op die ander ingesit by die bou van vestingstede. Van vrye boere word hulle sommer ellendige slawe wat van soggens vroeg tot saans laat afgebeul word. Egiptiese slawedrywers jaag hulle op met die sweep oor die kaal rue.

Die kontoere van die dier waarvan ons in die Openbaring aan Johannes lees, word hier sigbaar, gemeente. Hierdie Farao word gedryf deur die groot draak wat die Kind van die kerk wil verslind. God se volk moet doodgedruk word sodat God se planne doodloop en die Christus, die Redder van die lewe op aarde, nie gebore kan word nie.

Maar lees nou vs. 12, ons tweede teksvers: " Hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei.... "

Presies die teenoorgestelde van dit wat die Farao beoog, gebeur. Israel bly net groei. Steeds kom daar groot gesinne en baie kinders by. Ja, dit lyk selfs asof die verdrukking die geboorte van nuwe babas juis in die hand werk. Sterf daar 'n Israeliet? God laat twee in sy plek gebore word.

Probeer 'n bietjie om u die situasie in te dink.

Mense sê vandag soms dat ons tyd vra vir minder kinders.

Maar hoe sê u: as daar ooit 'n tyd was waarin 'n mens kon dink dat die koms van meer kinders nie verantwoord was nie, was dit mos daardie tyd?

Die omstandighede in Egipte was op die duur sodanig dat die geboorte van elke nuwe kind met angs en spanning tegemoet gesien moes word.

Hoe 'n geloofsmoed was daar toe nodig om nog 'n huwelik te sluit. Elke man het geweet wat hom te wagte gestaan het: hy sou as slaaf mishandel en misbruik word en waarskynlik al gou onder die veels te sware werk beswyk.

Elke jonge vrou het geweet dat sy vir die opvoeding van hulle kinders maar nie te veel op haar man moes reken nie. Dié sou saans gedaan en met baie pyn by die huis kom en bed toe gaan. En hoe gou sou sy 'n weduwee kon wees.

Nogtans staan daar in Exodus 1: hoe groter die onderdrukking, hoe groter die bevolkingsaanwas.

En ek sê weereens: die Israeliete in daardie tyd het hulle nie deur 'n fatalisme laat lei nie. Die geboortes was ook nie almal ongelukkies omdat hulle nog nie goeie voorbehoeding geken net nie.

Juis nie! Daar klink triomf in die woorde van ons teks. Die duiwel kry dit nie sommer reg om die kerk klein te kry nie. As God sy kerk bewaar en vermeerder sal die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie. Hy gee vir mans en vrouens die geloofsmoed om tog gesinne te stig en kinders groot te bring, in die vertroue dat die God van Abraham en Isak en Jakob ook húl God wil wees.

Moet maar kyk in Hebr. 11: 23: die ouers van Moses wat in daardie tyd hulle kinders gekry het, word gereken onder die geloofsvoorbeelde van die Ou Verbond.

Hierdie mense het geglo in God se beloftes. In sy beloofde seën. En as God vír ons is, wie sal teen ons wees?

Die Skrif leer hier dus vir ons, broeders en susters, dat dit regtig nie so is dat in moeilike tye die gesinne, ook in die kerk, outomaties kleiner moet word nie. Juis daardie argument, dat in moeilike tye groot gesinne tog nie meer verantwoord is nie, klink so aanneemlik. 'n Mens moet in jou gesinsvorming tog met die omstandighede rekening hou? En wat by ons ouers of grootouers miskien nog moontlik was, hoef vandag tog nie beslis normatief te wees nie?

Leer dan uit Exodus 1 dat hierdie argument in sy algemeenheid vir die HERE nie geldig is nie. Inteendeel, ook, ja juís in moeilike tye moet die kerkbou aangaan. Juis dan moet ons van God se beloftes leef plaas van by prognoses van waanwyse mense wat met God nie meer reken nie. Juis dan soek die HERE burgers van sy Koninkryk om die ryk van die duiwel die mond te kan snoer.

Om te tel in geloof is beter as om te reken in angs. Maar dis ook moeiliker!

Tog het dit al dikwels geblyk dat juis groot gesinne in moeilike omstandighede ryk gesinne kan wees- as die HERE daar gevrees word.

Natuurlik, ek weet dat die HERE nie aan elke ouerpaar eweveel kinders gee nie. Ek weet ook dat nie elke ouerpaar eweveel kinders kan hanteer en verantwoord grootmaak nie. Ons moet die moonlikheid om kinders te kan voortbring verstandig en verantwoord gebruik. Die HERE eis nie van ons dat almal tenminste 15 tot 20 kinders groot maak nie. Want Hy vra nie net dat ons kinders verwek en geboorte skenk nie. Ons moet hulle grootmaak, opvoed tot sy eer. En die meeste vrouens sal daarvoor al gou nie meer kans sien nie as hulle liggaam uitgeput word deur jaar na jaar 'n swangerskap. Die ene swangerskap is nie soos nie ander nie, die een keer benodig die liggaam van 'n vrou baie meer tyd om te herstel as die ander keer, siekte en oorspannenheid of die versorging van 'n gestremde kind kan by ons gesinsvorming 'n beslissende rol saamspeel.

Daarom mag ons nie roekeloos met die vrugbaarheid omgaan nie. Dit mag nie so wees dat 'n vrou onder haar vrugbaar-wees ly en dit al hoe meer as 'n bedreiging ervaar omdat haar man in sy omgang met haar nie God se beeld vertoon nie. 'n Vrou moet dankbaar kan bly dat sy opnuut diensbaar mag wees in die dra van 'n nuwe kerkkind.

En dit kan ook so wees dat ons juis daarom voorlopig of definitief die koms van nog 'n kind moet voorkom.

Maar ons moet uit ons teks van vanoggend wel dit leer dat ons nie te gou moet sê dat die koms van meer kinders onverantwoord is nie. Dit kan ongeloof wees om by die eerste die beste moeite dadelik maatreëls te tref om gesinsuitbreiding te voorkom. Wat soek ons in ons huwelike? 'n Gerieflike lewentjie vir onsself waarin 'n tevore beplande aantal kinders mooi inpas? Of begeer ons om diensbaar te mag wees aan die bewaring en vermeerdering van Gods kerk en is ons bereid om daarvoor offers te bring? Offers wat ons origens nie armer maak nie, maar juis regtig ryk.

3. Daarvan vertel ons teks naamlik tenslotte nog. As vertel word van die beloning aan die twee vroedvroue, Sifra en Pua.

Farao wou hulle inskakel om alle Israelietiese seuntjies direk tydens die geboorte dood te maak. Maar hierdie vroue weier om aan daardie moordplanne saam te werk.

Ons kan onsself die vraag afvra, gemeente, of die Israeliete as so'n groot volk nie méér vroedvroue gehad het as net hierdie twee nie. Dalk moet ons Sifra en Pua beskou as die verteenwoordigers van die ander. Sê-maar: die matrones van die Kraamkliniek.

Hulle kry van owerheidsweë die opdrag tot moord op nuwe Israelietiese lewe.

Maar hulle vrees die HERE en voer die bevel nie uit nie.

As Farao hulle daaroor ter verantwoording roep, bedink hulle as verskoning dat hulle telkens te laat in die kraamkamer arriveer. Die Israelietiese vroue is sterk en die kind lê klaar in die wiegie. Ja, en dan kan 'n mens natuurlik nie meer maak asof die baba tydens die geboorte sterf nie.

Was hierdie leuen geoorloof? Wie is ons om te veroordeel as die HERE prys?

God het die vroedvroue weldadigheid bewys, vertel die Skrif. God waardeer hulle moed om die koning se moordplanne te weerstaan.

En weereens lees ons, die derde keer, dat die volk vermenigvuldig het en baie magtig geword het. Daar kom niks tereg van Farao se planmatige geboortebeperking nie. Inteendeel.

Kyk wat maak die HERE: "En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk". So spot die HERE met Farao se moordplanne. Sifra en Pua word self ook moeders pleks van moordenaars.

Dit is nie duidelik of Sifra en Pua Hebreeuse of Egiptiese vroue was nie. Die uitleggers is hieroor verdeeld. Maar wat ons teks tog wel duidelik lyk te sê is dat hierdie vroue deur 'n eie gesin ook mag saambou aan die kerk. Ingeval hulle van geboorte Egiptiese vroue was, is hulle in elk geval deur 'n huwelik met 'n Israeliet by God se volk ingelyf.

Daardie slot van Exodus 1 vorm 'n ekstra bemoediging vir u, gemeente. Die kerk bly die dier, die draak wat die kerk wil uitroei, raakloop solank as wat die volkomenheid van God se Koninkryk nie gekom het nie.

Ook in die nuwe verbond, na Christus se geboorte en werk op aarde, moet die kerk leef in die stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte. Daar sal steeds pogings onderneem word om die lewensbronne van die kerk te verstop.

Maar wie in geloof meer aan God gehoorsaam is as aan die mense en die koms van sy Koninkryk bly soek ook in eie gesinsvorming, teen allerhande bedreiging in, word ryk beloon daarvoor.

Elke nuwe kind is weer 'n oorwinning op die Bose en bring God se Ryk digterby.

Elke nuwe kind is 'n konkrete verhoring van ons aanhoudende gebed: "Laat u Koninkryk kom". AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)