Vandag lê daar drie vrae voor ons. Wie is Jesus? Wat het Hy gedoen? En wat gaan ons daaromtrent doen?
En ek bid dat jy Hom vandag sal sien, sal hoor en op Hom sal reageer deur die krag van sy Gees. Wat jy van Jesus glo verander die manier waarop jy leef.
In sy beroemde aanhaling sê CS Lewis: “ ’n Man wat slegs ‘n mens was en die soort dinge gesê het wat Jesus gesê het, sou nie ’n groot morele leermeester gewees het nie. Hy sou óf ’n kranksinnige óf die Duiwel uit die hel gewees het. Watter een kies jy? Óf hierdie man was, en is, die Seun van God, óf Hy was ’n kranksinnige of iets ergers. Jy kan Hom afmaak as ’n dwaas, jy kan op Hom spoeg en Hom as ’n demoon doodmaak; óf jy kan voor sy voete neerval en Hom Here en God noem.”
Jesus:
- Wie is Hy?
- Wat het Hy kom doen?
- Wat is jou reaksie op Hom?
Wie is Hy?
18EN toe Hy besig was om alleen te bid, was die dissipels by Hom. Wat volgende gebeur, vind plaas binne die konteks van gebed. Hy is besig om te bid, en die dissipels is daar. Ons kan aflei dat Hy vir sy dissipels gebid het. Dit is slegs die Vader wat die Seun sou openbaar en aan die dissipels die regte antwoord sou gee, en die Seun sou weer die Vader openbaar. Ons sien dus dat Jesus bid net voordat Hy sy vraag vra. Dit is nie 'n slegte idee om te bid voordat jy moeilike vrae oor Jesus aan jou vriende vra nie. Vra dat God aan hulle sal openbaar wie Jesus is!
Nadat Hy gebid het – of dalk selfs terwyl Hy nog besig was om te bid – het Hy sy dissipels een van die belangrikste vrae gevra wat enigiemand ooit kan vra. En Hy vra hulle en sê: Wie sê die skare is Ek? Hy vra eintlik: Julle het gehoor wat die mense sê; sê vir My, wie sê die mense is Ek? Wat is die verhale wat julle in die dorpe oor My gehoor het? Wie sê die skare is Ek? Wat het julle gehoor? In Bellville? By die skool? By die werk? Ons ken die antwoord. Lukas het dit keer op keer vertel. Ons het die antwoord. Nes sy dissipels, het ons saam met Jesus gereis, en so ook die regte antwoord gekry. Maar die skare ken nie die hele verhaal nie. Hulle kom en gaan. Die vraag is dus: Wat sê die mense? Die menings was destyds net so uiteenlopend soos vandag.
As gevolg van Kersfees en ander bekende Christelike feesdae het die meeste volwassenes in hierdie land waarskynlik al van Jesus gehoor en het dalk ook ‘n sekre opinie oor Hom. Terwyl ek hierdie preek geskryf het, het ek gewonder: wat sou dit wees? Beskou hulle Hom as ‘n mitiese figuur, 'n godsdienstige ghoeroe, of 'n vriendelike hippie met liberale idees, lang hare en sandale? Of dalk as 'n streng konserwatiewe man met 'n lang baard en netjiese klere? Wie is Hy? Vra hierdie vraag aan sommige mense wat jy teëkom. Ek sal graag wil hoor wat hulle sê. Wie is Jesus? Vra hierdie vraag op Facebook, Twitter (X), of watter sosiale-mediaplatform jy ook al gebruik. Wie is Jesus? Elke mens wat leef op hierdie aarde moet met hierdie vraag gekonfronteer word, want elke mens sal Hom eendag moet ontmoet.
Die reaksie van die mense van daardie tyd was nie moeilik om raak te sien nie – die dissipels gee basies dieselfde antwoord as wat Herodes in hoofstuk 9:8 gegee het: Sommige sê Johannes die Doper (wat interessant is, omdat Johannes en Jesus al saam gesien is), ander Elia, en nog ander dat een van die profete van ouds opgestaan het. Met ander woorde, hulle het geglo dat Jesus iemand groots was – moontlik een van die grootste profete van die Ou Testament. Die skares was duidelik beïndruk. Hy was 'n baie belangrike figuur. En Jesus was 'n profeet. Hulle was amper reg. Maar amper reg is heeltemal verkeerd wanneer dit by Jesus kom.
Die probleem met die skares – toe en nou – is dat hulle wispelturig is; wat vandag geliefd is, word môre gehaat. Dit sal jou nie lank vat om die skare-mentaliteit op sosiale media raak te sien nie. Hulle kan vandag een kant kies en volgende week na die ander kant toe draai. Die skare stem saam, en die waarheid maak nie meer saak nie.
20En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? Wie sê julle is Ek? Nou raak dit persoonlik. Dit kom neer op jou belydenis. Julle wat saam met Jesus deur hierdie reeks preke gewandel het – Jesus vra nou, ná die reis: Wie sê julle is Jesus? Wie sê julle is Hy?
En Petrus antwoord en sê: “Die Christus van God!” Die vraag wat ek wil hê jy in hierdie eerste punt moet beantwoord, is: Wie is Jesus? Glo jy dat Hy Jesus is – die Seun van God wat vir ewig op die troon van sy vader Dawid regeer, soos Gabriël vir Maria gesê het? Dat sy barmhartigheid rus op diegene wat Hom vrees, van geslag tot geslag, soos Maria gesing het? Glo jy dat Hy die Verlosser is – Christus die Here – soos die engele in Lukas 2 gesing het? Glo jy dat Hy ons redding is, 'n lig vir die heidene en die heerlikheid van Israel, soos Simeon bely het? Glo jy dat Hy die Een is wat met die Heilige Gees en met vuur sal doop, soos Johannes die Doper verkondig het? Die Een wat die Geliefde van die Vader is, soos wat by sy doop aangekondig is? Die Seun van Adam, soos dit in sy geslagsregister opgeteken is? Glo jy dat Hy die Gesalfde is wat die goeie nuus aan die armes verkondig en vrylating aan die gevangenes, soos Hy self aan die begin van sy bediening voorgelees het? Glo jy dat Jesus van Nasaret die Heilige van God is, soos die demone bely het? Dat Hy Here is, soos Petrus bely het? Dat Hy die Here van die sabbat is? Dat Hy God is wat sondes vergewe? Dat Hy die Skepper is wat die wind stilmaak? Die God van die lewe wat die dooies opwek?
Dit is wat dit beteken om Hom as die Christus van God te bely! Dra jy sy Naam?
Wat het Hy kom doen?
21Toe gee Hy hulle 'n streng bevel en gebied hulle om dit aan niemand te vertel nie. Niemand mog dit weet nie, want sy tyd het nog nie aangebreek nie. Dit is belangrik om te let op die krag van die taal hier: “Streng bevel gegee en gebied.” Hier is 'n koning by sy onderdane; Hy openbaar Homself aan hulle, maar nog nie aan die wêreld nie. Nog nie aan die skares nie. Hy sal Homself aan hulle openbaar op sy bestemde tyd. Niks vroeër nie.
22En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.
Vier dinge is hier duidelik:
1) Hy gaan ly en sterf. Dit is wat Hy gekom het om te doen.
2) Hy sê dit moet gebeur. Hierdie dood is doelbewus. Dit is sy plan. Hy wil hê dit moet gebeur. Hy vlug nie daarvan weg nie, maar stap dit tegemeot.
3) Dit sal nie selfmoord wees nie; dit sal moord wees. En die moordenaars word genoem. Dit was nie sommer ‘n skare mense wat Hom verwerp het nie, maar die politieke en godsdienstige leiers van daardie tyd, en Hy sou vermoor word.
4) Hy sal uit die dood opstaan. Nie op 'n onsekere tyd in die toekoms soos ons nie, maar presies oor drie dae. Sy dood is vasgestel en sy opstanding is vasgestel. Dit sal volgens plan gebeur. Dit moet gebeur. Dit is absoluut seker.
Maar die groot vraag wat nie hier beantwoord word nie, is dit: HOEKOM?
Hoekom moes Hy ly? Hoekom moes Hy sterf? Want dit was letterlik die enigste manier waarop ons gered kon word. Waarop sy volk bevry kon word. Hy moes sy lewe gee as losprys vir baie!
Dit was die enigste manier om te voorsien in dit wat ons nie kon voorsien nie. 'n Volmaakte offer. 'n Gehoorsame lewe. Teen 'n oneindige prys. Hy sou Homself gee as die brood uit die hemel. Onthou hoe hierdie hoofstuk begin het – met Jesus se voorsiening vir hierdie dissipels en vir die skares. Dat Hy in alles sou voorsien. Hy het dit gedoen. Hy het dit vir ons gedoen, en vir ons redding. Hy het Homself vir ons gegee, geliefdes.
Onthou jy waaroor Jesus se bediening en lewe gaan? Hy het dit baie duidelik gemaak aan die begin van sy bediening: …om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig, om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig. En dit is die manier waarop Hy dit sou doen: Hy sou sy lewe aflê as ‘n losprys vir baie, sodat blindes kon sien, onderdruktes herstel en slawe vrygelaat kon word.
Hebreërs sê dit pragtig in hoofstuk 2:14: “Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak.”
Hy het gekom om ons vry te maak. Vir jou en vir my. Die dood is dood. vir sondes is daar betaal. Dis een ding om te glo dat Jesus die Seun van God is. Maar dis heeltemal iets anders om te glo dat Hy gekom het om my vry te maak. Laat ek dus die tweede vraag vra. Wat het Jesus vir jou gedoen? Wat het Hy vir jou kom doen? Net omdat jy die eerste punt glo, beteken dit nie dat jy gered is nie. Satan glo dat Jesus die Seun van God is; hy weet dit beslis en haat dit.
Die vraag is nie: Wat het Hy gedoen? nie. Maar: Wat het Hy vir jou gedoen? Wie is Hy? Dink diep daaroor na. Dink dan na oor wat Hy VIR JOU gedoen het?! Eers wanneer jy hierdie eerste vrae beantwoord, sal die laaste vraag sin maak.
Wat beteken dit om Jesus te volg?
23EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. 1. Ons volg 'n persoon. Dit is 'n uitnodiging tot ‘n verhouding. Volg My. 2) Dit is 'n vrywillige verloëning van die self. Hy moet homself verloën. Dit is nie 'n gedwonge verloëning nie – maar 'n verloëning vir iets beters. En 3) dit sal jou iets kos.
Met ander woorde, koester My meer as jou eie gemak en veiligheid. Die teenoorgestelde van selfverloëning is die afgod van selfbevrediging; en die teenoorgestelde van jou kruis dra is die afgod van selfbehoud. Wees eerder soos Paulus in Filippense 3:8: “Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry.”
Dit is in stryd met die boodskap van die wêreld en jou vlees. Die wêreld sê jy moet jouself liefhê, jouself bevredig. Trouens, jy kan niemand liefhê tensy jy eers jouself liefhet nie, sê hulle. Beplan vooruit. Bou jou koninkryk.
Wanneer Jesus sê, verloën jouself en volg My, sê Hy wat Jakobus in Jakobus 4:14 verwoord: “Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar 'n miswolkie, wat net vir 'n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. Julle moet eerder sê: ‘As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.’ ” Om so te leef beteken dat dit nie oor my agenda, my plan, my wil, my drome gaan nie, maar oor God se agenda, plan, wil en doel vir ons lewe. En die hele lewe moet so geleef word. Soos Jakobus verder sê: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde.”
24Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.” Jy kan regtig nie in die Bybel ‘n stelling vind wat meer in stryd is met die wêreld se denkwyse as hierdie een nie. As jy jou lewe wil red – jou identiteit, jou gevoelens, jou gesondheid, jou geluk – sal jy dit verloor. As jou lewe jou god is en jy alles in jou vermoë doen om dit te beskerm; as jy altyd dink aan jou sukses, jou toekoms, jou gesondheid, jou toekoms, jou aftrede, dan sal jy dit verloor. Ons almal is besig om te sterf. Die lewe glip deur ons vingers. Gaan ons aan ons lewe vashou, of aan die Een wat lewe gee? Maar as jy nee sê vir jouself en ja vir Jesus, sal jy dit alles en nog baie meer ontvang. Jesus stel bloot 'n radikale feit: Jy kan jouself nie red nie. Niemand van ons kan nie. Hou dus daarmee op.
25Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” Dit is die taal van handel dryf. Debiet en krediet. Laste en bates. Wat baat dit jou as jy ’n motor kry, maar ’n huis verloor? Wat baat dit jou as jy roem verwerf, maar jou vreugde verloor? Wat baat dit as jy die hele wêreld wen? As jy die rykste, beroemdste, magtigste man op aarde is, maar jou siel verloor. NIKS. Dit is ‘n netto verlies. Ek wil jou vra: dink na oor jou lewe. Is Christus jou hoogste skat, en bewys jou lewe dit? Kan ‘n mens aan die manier waarop jy jou tyd en geld spandeer, sien dat Jesus die belangrikste is? Waarom sou Hy dit van jou vra? Want Hy het alles gegee. Sy lewe is van oneindige waarde – dit gee ewige vreugde.
Daar is 'n paar liedjies wat gaan oor die verkoop van jou siel aan die duiwel of ‘n ooreenkoms met hom sluit. Maar dis mos niks besonders nie, want die meeste mense doen dit. Hulle verruil hul siel vir die dinge van hierdie wêreld. Jesus sê dis 'n slegte ooreenkoms. 'n Baie slegte ooreenkoms. Dit is dwaas. Paulus sê hy beskou alles as drek in vergelyking met die kennis van Christus! Deur aan hierdie wêreld en jou eie lewe vas te hou, verruil jy 'n asem vir die ewigheid. Die dood vir die lewe. Verhouding en liefde vir ewige eensaamheid en wanhoop.
Vers 26: 26Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.” Kom ons verstaan die betekenis eers goed voordat ons die verband lê. Wat is die teenoorgestelde daarvan om vir iemand skaam te wees? Om trots te wees op hulle. Om hulle te bewonder. Om nie skaam te wees om saam met hulle gesien te word nie. Om bly te wees om met hulle geassosieer te word. En waaroor moet ons ons nie skaam nie? Jesus en sy Woord! Waarom sou ons skaam wees? Want dit is presies die teenoorgestelde van wat in ons wêreld verkondig word. Maar dit is ons enigste hoop op redding vir die wêreld.
“As julle dus net ‘n geloof in die geheim koester,” sê Jesus, “waarin julle dink dat Ek en my woorde vreemd of dwaas is, of as julle banger is vir mense as vir My, dan sal Ek skaam wees vir julle. As julle skaam is vir My en die prys wat Ek vir julle betaal het (en Hy verwys hier nie oomblikke van swakheid wanneer jy nie jou geloof deel nie, maar na ’n vaste gesindheid van jou hart teenoor Hom) – as julle nie trots is op My nie en julle My en wat Ek vir julle gedoen het, nie koester nie – as julle julleself met die wêreld wil vereenselwig en meer waarde heg aan hul oordeel as aan My, dan is dit hoe Ek julle sal beskou wanneer Ek kom. Ek sal skaam wees vir julle, en julle sal vergaan saam met die mense wat My as ’n verleentheid beskou.”
Die kruis is dwaasheid vir die wat verlore gaan, geliefdes, maar vir ons is dit die krag en die wysheid van God. Daarom sê ons saam met Paulus: Ek skaam my nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding.
Wel, nou wil ek nog een vraag aan jou stel. As jy glo dat Jesus die Seun van God is, as jy glo dat Hy alles gegee het sodat jy alles het wat jy nodig het, wat gaan jy daaromtrent doen? Gaan jy vandag jou kruis opneem, jouself verloën en Hom volg?
Drie vrae. Al drie moet vandag beantwoord word. Wie is Jesus? Wat het Hy vir jou gedoen? Wat gaan jy daarmee doen? Praat daaroor wanneer jy by die huis kom, bid daaroor, en mag die prag en wonder van wie Jesus is en wat Hy gedoen het, jou so oorweldig dat daar niks is wat jy nie sou gee om Hom te hê nie.
Amen.