Alhoewel kinders dit nog nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2026-05-03
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 34
Preek Inhoud: 

Normaalweg is die leerprediking in die aande.

Maar ek het besluit om dit vandag om te ruil.

Soos u weet, is ons tans met die Nederlandse Geloofsbelydenis besig.

En vandag wil ek aandag gee aan die doop, wat ons in artikel 34 van die NGB bely.

 

Dit is opvallend, as dit in artikel 33 (die vorige artikel) oor die sakramente gaan, dat God die onderwerp van elke sin is.

Hy het die sakramente vir ons ingestel.

Hy beseël sy beloftes aan ons.

Hy bekragtig daarmee die heil aan ons meegedeel.

Die sakramente, doop en nagmaal, gaan dus duidelik oor dit wat God doen.

Die sakramente self gee nie vir ons redding nie.

Hulle is slegs simbole wat ons wys waar om ons redding te vind: by Jesus Christus.

Beide sakramente gaan oor ons Here Jesus Christus.

 

Die NGB gaan dan verder om die doop te behandel.

Dit verwys na die einde van die besnydenis, omdat die besnydenis met bloed gepaard gegaan het, en Christus se bloed alle verdere bloedvloeiing oorbodig gemaak het.

Die besnydenis as teken van die ou verbond is vervang deur die doop as teken van die nuwe verbond.

Die doop is die besnydenis van Christus, lees ons in Kolossense 2:11.

Daar word ook verwys na Christus se instelling van die doop in Mattheüs 28:19.

 

Verder verwerp die NGB die gewoonte dat mense twee maal gedoop word.

As dit die regte doop was, naamlik in die Naam van God Drieënig, dan is een doop voldoende.

God se belofte verander nie, en die doop gaan oor wat God belowe, Hy is die onderwerp.

Wat ook in jou lewe verander, sy belofte bly dieselfde.

Die dwaling van die Wederdopers word daarom verwerp in artikel 34.

 

Nou in vandag se preek wil ek veral hierop fokus, op die doop van kindertjies.

Elke nou en dan word die kinderdoop in ons gemeente bedien.

Wat beteken dit?

En is dit wel Bybels om jong kinders te doop?

 

Tema: Alhoewel kinders dit nog nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie.

 

(aanhaling uit die vir ons bekende Doopsformulier, wat net soos NGB art. 34 op ‘n mooi manier die Skriftuurlike onderrig oor die doop saamvat)

 

Nou as ons na die Bybel gaan, na die Nuwe Testament, vind ons nêrens ‘n eksplisiete bevel dat kinders gedoop moet word nie.

Aan die ander kant vind ons ook nie ‘n eksplisiete bevel dat net volwassenes gedoop mag word nie.

Dit bring mens by die vraag: Is daar dan voorbeelde in die Nuwe Testament waar kinders gedoop is?

Ja, daar is.

Dink aan wat ons vanoggend gelees het, waar daar staan dat ‘n persoon met sy huisgesin gedoop is.

Lydia en haar huisgesin (Hand 16), die tronkbewaarder en sy huisgesin (Hand 16), Cornelius en sy huisgesin (Hand 10-11), Stefanas en sy huisgesin (1 Kor 1:16).

Die Griekse woord wat hier vir huisgesin gebruik word, die woord oikia, of oikos, se betekenis het eksplisiet ook kinders ingesluit.

Die eerste lesers wat die Nuwe Testament gelees het, soos Theofilus aan wie Handelinge geskryf is, of die Korinthiërs, of die eerste lesers van die Evangelies, hulle het by die hoor van hierdie woord dus ook aan kinders gedink.

 

Daar is nog ‘n Bybelgedeelte wat ons gelees het – uit Johannes 4 – oor die koninklike beampte wie se seun siek was.

Oor hom word geskryf in vers 53: “En hy het self geglo en sy hele huis”.

Was daar kinders in sy huis of nie?

Wel, vroeër in die gedeelte het ons gelees oor ‘n kind, naamlik die seun van die koninklike beampte wat siek was.

Was hierdie seun al so oud dat hy selfstandig sy geloof bely het – ‘n tiener, ‘n jong volwassene, maar nie ‘n kleuter nie ...?

Kom ons kyk ook hier na die woord wat in die Griekse grondteks spesifiek vir hierdie seun gebruik word.

In vers 46 en 53 word hy seun genoem.

Die Griekse woord vir seun is ouderdom neutraal.

‘n Pa kan na sy seun verwys wat ‘n baba is, ‘n pa kan met dieselfde woord ook na sy seun verwys as hy reeds ‘n volwasse man is.

Die Griekse woord vir seun gaan ons dus nie verder help om die ouderdom van hierdie koninklike beampte se seun te bepaal nie.

Maar, in vers 49 word ook na hierdie seun verwys, maar dan met die woord “kind”.

Die Griekse woord wat hier vir “kind” gebruik is, is paidion, en dit verwys deurgaans na ‘n klein kind, ‘n kleuter, of selfs ‘n baba.

So as daar hier staan dat die koninklike beampte en sy hele huis geglo het, dan het dit dus hierdie klein seuntjie ingesluit.

Nou in teenstelling tot hierdie Griekse woord vir “kind”, is daar in Grieks nog ‘n ander woord wat ook vir ‘n kind gebruik kan word, naamlik die woord teknon, en dit is wel ‘n woord wat ouderdom neutraal is.

So as hierdie seun van die koninklike beampte reeds volwasse of jong volwasse was, sou die evangelis Lukas nie die eerste woord paidion gebruik het nie, maar hierdie tweede woord teknon.

 

Nou mag u dalk vind, gemeente, dat die preek veels te tegnies raak, met die bespreking van Griekse woorde.

Tog is dit in hierdie geval noodsaaklik, juis in die konteks van die debat oor die kinderdoop.

Deur die jare het daar al mense – dikwels jong mense – hulle aan die gemeente onttrek, omdat hulle die Bybel anders begin lees het oor die doop.

Maar was hulle wel goed toegerus?

 

Nog ‘n Bybelgedeelte waar ons hierdie woord vir ‘n kindjie vind, is die geskiedenis van die ouers wat hulle kindertjies na Jesus gebring het.

Markus 10:13-15: “En hulle het kindertjies na hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak ...”

Die dissipels het hulle bestraf dat Jesus te besig is, te besig om aan sulke klein kindertjies aandag te skenk.

Grieks hier vir kindjie is dieselfde woord: paidiov.

Nou hoekom verwys ek na hiedie gedeelte?

Ek doen dit om die volgende rede.

Hierdie geskiedenis van die ouers wat hulle kindertjies na Jesus toe gebring het, gebruik Baptiste as begronding vir hulle gewoonte om kindertjies op te dra.

As Baptiste ouers ‘n baba kry, dan neem hulle die baba nie kerk toe om gedoop te word nie, maar wel om die baba op te dra.

Dus, volgens Baptiste is hierdie kindertjies waarvan ons lees dat hulle ouers hulle na Jesus gebring het, nog te jonk om te gedoop te word, te jonk om aktief te glo en hulle geloof te bely, maar hulle kan wel deur Jesus aangeraak en geseën word.

 

Nou hier is ‘n inkonsistensie.

As hierdie kindertjies hier te jonk was om hulle geloof te bely en gedoop te word, en net om opgedra te word, hoekom kan die kindjie van die koninklike beampte, waarvoor presies dieselfde woord in Grieks gebruik word, hoekom kan hy dan wel oud genoeg wees om sy geloof te bely?

Want presies dieselfde Griekse woord word gebruik: paidion.

Gemeente, die Bybelgedeelte oor die koninklike beampte bewys dus juis dat daar in ‘n huisgesin ook jong kinders was.

En as daar staan dat die koninklike beampte en sy hele huis geglo het, moet ons dit verbondsmatig sien, waar God met hele gesinne werk.

Die koninklike beampte se geloof tel hier ook vir sy klein kindjie.

 

Nou vra u dalk: Ja maar word kinders in kerkgesinne dus outomaties gered?

Nee, dis nie so nie.

God behandel elke kind volgens sy ouderdom, sy toerekeningsvatbaarheid op elke spesifieke ouderdom.

Wat gebeur met ‘n babatjie as dit op vroeë ouderdom te sterwe kom?

Sal dit gered word?

Die Dordtse Leerreëls wys tereg op hierdie twyfel en angs wat ouers kan hê:

“Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie” (DL hfst 1, par 17).

Maar wat vir ‘n baba geld, geld nie outomaties vir kinders wat ouer word nie.

God sal elke kind oordeel volgens sy ouderdom en vlak van toerekeningsvatbaarheid.

Van ‘n kleuter word nie dieselfde geloof verwag as van ‘n tiener nie, en van ‘n tiener ook nie die van ‘n volwassene nie.

By elke ouderdom verwag die HERE ‘n opregte geloof, passend by daardie leeftyd.

‘n 5 jarige kleuter wat gehoorsaam is aan sy ouers wat God oor hom gestel het en wat sê dat hy die Here liefhet, hy het ‘n geloof passend by sy leeftyd, al weet hy byvoorbeeld nog niks van die Drieëenheid nie.

Maar ‘n jongmens wat 18 jaar oud is, van so ‘n persoon op so ‘n ouderdom mag wel verwag word dat hy weet en aanvaar dit wat die Skrif oor die Drieëenheid openbaar.

 

Toe God sy volk Israel in die woestyn gestraf het vir hulle ongehoorsaamheid en gebrek aan vertroue, het Hy almal in die woestyn laat sterf, behalwe hulle wat onder 20 jaar oud was (Num 14:29).

Hulle was nog nie in dieselfde mate toerekeningsvatbaar as die volwassenes nie.

Gelowige ouers hoef dus nie te twyfel aan die saligheid van hulle vroeggestorwe kind, as hulle daardie kind Godvresend begin opvoed het nie.

Dit geld selfs vir babas in die genadeverbond.

Daarmee word nie geïmpliseer dat babas salig word buite Christus se soenverdienste om, dat babas nie sondig is nie.

Inteendeel, babas het die versoeningsbloed van Christus net soveel nodig.

Maar ‘n baba wat nog nie kan praat en Christus se heerlike Naam op sy lippe kan neem nie, word daarom nie veroordeel nie.

Sy toerekeningsvatbaarheid is op ‘n ander vlak as die van ‘n volwassene.

Hierdie is ‘n groot troos, ook vir ons.

Ook in ons gemeente sterf daar babatjies, dink veral aan ma’s wat ‘n miskraam het.

Dit is ‘n onderwerp wat nie veel bespreek word nie.

Maar moenie ‘n fout maak nie, as ‘n ma ‘n miskraam het, is haar kop vol gedagtes.

Wat gebeur nou met my kindjie?

Ken die HERE wel hierdie kindjie?

Wat ‘n heerlike vertroosting, dat selfs die ongeborenes van gelowige ouers deur God geken word en deur Christus se soenverdienste gered word.

 

Ons kom terug by die Bybelgedeeltes wat ons gelees het.

Geld vir Lydia en haar huisgesin (Hand 16), en die tronkbewaarder en sy huisgesin (Hand 16), Cornelius en sy huisgesin (Hand 10-11), die koninklike beampte en sy huis (Joh 4), Stefanas en sy huisgesin (1 Kor 1:16) – geld vir al hierdie huisgesinne dat daar geen kinders was nie?

Dit sou baie toevallig gewees het, juis in die lig van die feit dat die Griekse woord vir huisgesin eksplisiet ook kinders insluit.

En dat dit kinders insluit, is ook so verstaan deur die eerste lesers.

En dat dit kinders insluit, het ons ook gesien in die gedeelte oor die koninklike beampte en sy siek seuntjie.

 

Al hierdie gesinne laat mens terugdink aan Josua en sy gesin, aan dit wat Josua in Josua 24:15 bely het: “maar ek en my huis, ons sal die HERE dien”.

Josua praat hier as die gesinshoof.

Hy praat nie oor elkeen in sy gesin se uitverkiesing nie.

Maar dat sy hele gesin in die verbond opgeneem is, en dat hy as gesinshoof sy verantwoordelikheid sal neem dat sy hele huis die HERE dien.

Hy sal sorg dat daar in sy huis geen plek is vir diens aan die afgode nie.

Dieselfde het gegeld vir die koninklike beampte van Johannes 4, en vir Cornelius, en vir Stefanas, vir die tronkbewaarder en vir Lydia.

Deur die doop is hulle huisgesinne opgeneem in die verbond, apart geplaas en toegewy aan die diens van die HERE.

Hulle is geheilig, betekende hulle is afgesonder, toegewy vir die diens aan die HERE.

 

Gemeente, ek vat saam.

Alhoewel kinders nog nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie.

Dit is ons tema.

Die huisgesinne wat in die Nuwe Testament gedoop is, het ook kinders ingesluit – jong kinders.

Hulle doop was nie ‘n teken of bevestiging van hulle geloofsbelydenis nie.

Dis nie waarvoor die doop bedoel is nie.

Dit doop is nie ‘n teken van iemand se geloof nie.

Die doop is ‘n teken van God se belofte.

Reeds in die Nuwe Testament was die doop van al die mense wat ek genoem het, die waarborg dat God ook hulle in sy verbond opneem en laat deel in al die voorregte van die verbond.

En so is dit vandag nog steeds.

Die doop maak kinders nie salig nie.

Slegs Christus se soenverdienste maak ons, kinders en volwassenes salig.

En soos kinders groter word, moet hulle leer om al hoe meer op Christus te vertrou.

Vertroue op Christus, geloof in Christus, lyk nie vir elke ouderdomsgroep dieselfde nie.

Jong kinders is nog nie toerekeningsvatbaar op dieselfde vlak as volwassenes nie.

In sy verbond gee God aan elkeen die kans om te groei.

 

Met hierdie boodskap mag ons die doopouers huistoe stuur vandag.

God se belofte staan rotsvas.

Sy doop getuig sigbaar daarvan.

Julle mag hom opvoed, wetende dat die HERE die beste vir sy toekoms soek.

Soos wat hy groter word, gaan die HERE steeds meer verantwoordelikheid van hom ook vra, aktiewe toewyding aan Hom en liefde vir Hom.

Die doop gaan dan nie sy kaartjie hemel toe wees nie.

Tog hoef ons nie hom in onsekerheid groot te maak nie, maar met die belofte dat, as ouers in hulle huis die Evangelie lees en leef, dat die HERE dit sal seën ook in hulle nageslag.

Hy is ‘n betroubare vennoot, ‘n betroubare verbondspartner.

Van sy kant gee Hy genade op genade, ja meer as genoeg.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 8:1-4

Wet

Ps 34:5,6

Gebed

Doopsformulier

Doopsbediening

Dankgebed

Skriflesing: Markus 10:13-16 & Johannes 4:43-54; Handelinge 16:11-15; 27-34 & 1 Korinthiërs 1:16

Sb 15:1-3

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis art. 34

Preek

Ps 103:6,7

Gebed

Kollekte

Ps 128:3,4

Seën