Die Skrif openbaar aan ons die volmaakte Middelaar

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2026-05-10
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 18-19
Preek Inhoud: 

Ons kyk vanaand na een van die grootste wonders in die geskiedenis.

Soos die Bybel dit noem, dit is ‘n geheimenis.

Dit is nie vir ons verstand te bevat nie.

Maar as ons dit lees in die konteks van hoekom dit gebeur het, dan maak dit ons sin.

Dan verwonder dit ons, hierdie geniale plan wat God gemaak het.

God Drie-enig stuur een van sy drie Persone, die Seun, naamlik na die aarde.

Hy word ‘n mens, sodat Hy ‘n Middelaar kan wees vir hulle wat teen God in opstand gekom het.

Geen mens sou ooit op hierdie idee gekom het nie.

Verwondering, dis wat die reaksie daarop is.

Verwonder, wat oorgaan in ongelooflike dankbaarheid.

 

Tema: Die Skrif openbaar aan ons die volmaakte Middelaar

1 Christus se menswording

2 Christus se twee nature

 

1 Christus se menswording

Ons kyk vanaand eerstens na die wonder van die menswording van Jesus Christus.

God het die belofte aan die vaders by monde van die profete vervul.

Hy het sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld gestuur op die tyd deur Hom bepaal.

En wat die mees opvallendste was, is dat hierdie ewige Seun van God die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het.

Hy is as mens gebore, skryf die NGB, uit die geseënde maagd Maria.

Hierdie aanduiding geseënd wys nie op ‘n soort verering van Maria, soos dit by die Roomse gebruiklik was en is nie.

Hierdie woord “geseënd” wys terug op hoe die engel haar aangespreek het:
“Geseënd is jy onder die vroue” (Luk. 1:28), verwysende na hoe bevoorreg Maria was en hoe ryklik die HERE haar geseën het, om moeder van die Messias te word.

 

Die NGB beklemtoon dat Jesus sowel ‘n menselike liggaam as ‘n menslike siel gehad het, en met ‘n rede, want as Middelaar moes Hy versoening vir beide die menslike liggaam en siel doen.

Beide is deur die sonde aangetas, beide is deur die sondeval verlore.

Die NGB noem ‘n aantal Bybeltekste om dit te staaf dat Hy as gewone en as volledige mens na die aarde gekom het.

Hy het ‘n gewone menslike liggaam gehad.

Hy het ‘n gewone menselike gees of siel gehad.

Hy was familiaal en geneties verbonde aan die geslag wat van Dawid en van Juda afgestam het, en verder ook van Abraham en Adam af.

Maar in teenstelling tot hulle almal was Hy nie sondig nie.

In Hom, sluit art. 18 af, het die belofte uit die Ou Testament waar geword, dat Hy waarlik ons Immanuël is.

Immanuël is die Hebreeuse woord vir: God met ons.

Dit wil sê, God het self onder sy volk, onder die mense, kom woon, werk, eet, slaap, ja kom lewe in alle opsigte.

Dit noem ons, met ‘n deftige woord in die teologie, Christus se inkarnasie.

Hierdie woord kom vanaf die Latynse woord wat vlees beteken.

Dink aan die Engelse woord ‘carnal’ wat ook daarvan afgelei is, wat vleeslik beteken.

As jy in daardie tyd sou geleef het, sou jy Jesus dus met die hand kon groet, jy sou – soos mense toe – voor Hom kon kniel en sy voete aanraak.

Is dit nie ongelooflik nie?

 

Die Skrif gebruik die woord ‘vlees’ op meer as een manier.

Met ‘vlees’ word soms ons sondige aard bedoel.

Vleeslik is dan sinoniem aan sondig.

Dink aan Paulus wat skryf oor die “vleeslike gesindheid” (Kol. 2:18).

Of aan Petrus wat ons vermaan om ons te onthou van “vleeslike begeertes” (1 Petr. 2:11).

Maar die Skrif gebruik soms ook die woord vlees om net te dui op die algemeen menslike gebrokenheid.

Dink aan Jesaja 40: 6-7: “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk ...”

Hier word die menslike bestaan in al sy broosheid en verganklikheid aangedui.

God se Seun het vlees geword, nie in die sin dat Hy sondig geword het nie, maar wel in die sin dat Hy ’n menslike liggaam en siel aangeneem het, wat ook aangetas was deur die gevolge van die sonde.

Hy het nie die vlees van Adam van voor die sondeval aangeneem nie, maar die vlees van Adam van na die sondeval.

’n Menslike bestaan wat deur die sondeval verswak en ontluister is.

As Middelaar het Hy juis gekies om in daardie toestand te kom.

Hy kon ook seer kry, Hy kon ook moeg word, Hy kon ook siek word.

 

Nie dat sy menswording die begin van ons Here Jesus Christus se bestaan was nie.

In sy Godheid bestaan Hy van ewigheid as.

En as Christus was Hy ook al in die Ou Testament aanwesig, egter nog nie in hierdie brose menslike hoedanigheid nie.

In die Ou Testament was Hy in ‘n ander gestalte, naamlik as die Engel van die verbond, wat die volk gelei, beskerm, versorg het.

Wat ook soms sy volk geskasty het.

Wat voortdurend met sy volk gepraat het, woorde van troos, belofte, seën, maar ook waarskuwing en dreiging.

So het Hy die mense op sy koms as Middelaar voorberei.

 

Ons lees ook in die Bybel dat die Satan talle pogings onderneem het om sy koms in die vlees te dwarsboom.

Dit het begin met Kaïn wat sy broer Abel vermoor het.

Mens kan ook dink aan hoe Farao die uitverkore volk in Egipte probeer ombring het.

Mens kan dink aan hoe Saul vir Dawid vervolg het.

Mens kan dink aan hoe Atalia die hele koninklike geslag probeer uitroei het.

Mens kan dink aan Haman se komplot om die Jode uit te roei.

Mens kan dink aan hoe wêreldmagte deur die Satan in beweging gebring is om Israel of uit te roei, of te verlei tot bondsbreuk, tot afgodediens.

Tog het God al Satan se pogings laat misluk, en dit was ‘n ongekende oorwinning vir God se heilsplan toe Jesus as mens uit ‘n gewone vrou gebore is.

Sowel in die NGB, asook in die ou geloofsbelydenisse uit die vroeë kerk, klink die verwondering oor hoe ‘n groot wonder dit was, dat God se Seun vlees geword het, en hoe Hy as een Persoon sowel ‘n menslike as Goddelike natuur in Homself verenig het.

Dit is waaraan Artikel 19 veral aandag skenk, ons gaan nounou in die tweede punt daarby stilstaan.

 

Daar is nog een aspek wat ek wil aanroer, met betrekking tot Christus se menswording.

In Filippense 2:7-8 staan dat Christus Jesus Homself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Waarin lê hierdie vernedering eintlik wat Jesus gewillig ondergaan het?

Oor hierdie vraag is daar al deur die eeue heelwat gedebatteer.

Was die blote feit dat Hy ‘n mens geword het, ‘n vernedering?

Dit is ‘n sienswyse wat mens veral kry by hulle wat deur die gnostiek beïnvloed is.

In Guido de Brès se dae was dit onder andere die Roomses en die Wederdopers.

Die gnostiek was ‘n denkwyse in die oudheid wat alles wat liggaamlik is, as sleg beskou het.

Die menslike liggaam is van ‘n laer orde, dit is materieel, inherent sleg, tydelik.

Daarenteen is die geestelike goed, verhewe, ewig.

Volgens hierdie sienswyse was die blote feit dat  Jesus ‘n liggaam gekry het, dus vir Hom ‘n vernedering.

Hierdie sienswyse lê diep ingebed in die wêreldbeskouing van die Roomse kerk.

Alles wat met die liggaam te make het, dinge soos voedsel, klere, seksualiteit, dit is van ‘n laer orde, verwerplik, inherent sleg.

Daarom dat priesters hulle van sulke dinge moet onthou, of so min moontlik moet gebruik, en veral op die geestelike moet fokus.

Tot vandag toe kan hierdie sienswyse ons ook beïnvloed, as ons ‘n teks soos Filippense 2 lees.

Onbewus is ons dan nog steeds beïnvloed deur die gnostiek.

 

Maar dit is nie wat hierdie teks bedoel nie.

Christus se vernedering het nie daarin gelê dat Hy ‘n menslike liggaam gehad het nie.

Om mens te word op sig, dit was nie vir Christus die vernedering nie.

Maar sy vernedering het daarin gelê dat Hy, as Middelaar, bewus gekies het om so ‘n liggaam aan te neem wat ook sterflik geword het, sieklik, verganklik.

Hy het nie ‘n liggaam aangeneem soos Adam voor die sondeval gehad het nie.

Hy het ‘n liggaam aangeneem wat reeds die vloek op die sonde in Hom rondgedra het.

Christus, wat self geen sonde gehad of gedoen het nie, wat uit die hemelse heerlikheid gekom het, waar daar geen sonde is nie, Hy het Homself verneder deur deel te word van hierdie vuil sondige wêreld, nie net deur daarin rond te beweeg nie, maar deur selfs ‘n liggaam aan te neem wat reeds die dood in Hom rondgedra het.

Dit is wat hierdie teks uit Filippense bedoel met sy vernedering.

Hierdie teks gebruik nog ‘n woord: Christus het Homself ook ontledig.

Dink aan ‘n koning wat vir ‘n rukkie sy kroon afhaal, sy koninklike mantel uittrek, en in gewone klere Homself begeef onder die armes in hulle nederige huisies.

Dis wat Christus gedoen het.

By sy koms in die vlees het Hy sy hemelse heerlikheid vir ‘n rukkie agter Hom gelaat.

Hy het tydelik afstand gedoen van sy Goddelike hoogheid, sy hoë en heerlike en magtige posisie.

Hy het selfs die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem.

Hy het op aarde geleef en gewerk in die posisie van ‘n dienskneg.

Hy gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien.

So het Hy, deur Homself te verneder en te ontledig, Homself as Middelaar op aarde begeef om ons sondeskuld te kan dra.

 

Die praktiese troos vir ons is, dat ons mag weet dat Hy ons na liggaam en siel verlos het van die sonde.

Ja Hy het beide verlos, siel én liggaam.

Die feit dat ek ‘n liggaam het, is nie sondig nie.

Die feit dat ek van klere hou, is nie sondig nie.

Die feit dat ek van voedsel hou, is nie sondig nie.

Die feit dat ek heg aan aardse dinge, is op sig nie sondig nie.

Die feit dat ek ‘n seksuele wese is, is op sig nie sondig nie.

Christus verlos elke aspek van my bestaan van die vloek van die sonde.

Ek mag opstaan in ‘n nuwe lewe, waarin ek na liggaam en siel in harmonie mag lewe volgens sy oorspronklike bedoeling.

Christus se menswording, sy volledige menswording met ‘n liggaam en ‘n siel, maak dit vir my moontlik.

Hy het Middelaar van beide geword.

Dis is die wonder, die geheimenis, God se raadsplan wat Hy ontvou het in die volheid van die tyd.

 

(Die Skrif openbaar aan ons die volmaakte Middelaar

Christus se menswording)

 

 

2 Christus se twee nature

Artikel 19 vervolg dan deur uit te wys dat Jesus, alhoewel Hy volledig mens was, dat Hy nie net mens was nie.

Dit beskryf iets wat logies, wiskundig, medies, antropologies of op watter manier ook nie bewys kan word nie.

Artikel 19 spreek bloot die Skrif na.

Twee nature, een Goddelik, een menslik, in een Persoon verenig.

As mens deur die Bybel lees, val dit op dat die een keer uit en uit menslike dinge oor Jesus geskryf word, en ‘n ander keer weer uit en uit Goddelike dinge.

Menslike en Goddelike eienskappe, hulle staan langs mekaar, hulle word in een Persoon verenig.

Die een natuur is ongeskape, sonder begin van dae of lewenseinde (Hebr. 7:3), dit is alomteenwoordig, of soos die NGB verwoord, dit vervul hemel en aarde.

Die ander natuur is menslik, en het ook nie sy eienskappe verloor nie, naamlik om gebonde te wees aan een plek op ‘n slag, wat soos elke menslike liggaam moeg kan word, wat siek kan word, ja selfs kan sterf.

En dit het inderdaad toe ook gebeur.

En selfs in sy dood was die twee nature van Christus nie van mekaar geskei nie.

Jesus het by sy sterwe sy siel, sy menslike gees, in die hande van sy hemelse Vader oorgegee.

Eers na Jesus se sterwe, wat Hy gekies het om as Middelaar te ondergaan, is daar aan sy menslike liggaam onsterflikheid verleen.

 

Artikel 19 bestee heelwat woorde aan die verhouding tussen die Goddelike en menselike natuur, en hoe hulle verbonde gebly het, byvoorbeeld toe Jesus ‘n kindjie was, en ook later toe Hy in die graf gelê het.

Dit is wel so dat soms sy Goddelike natuur, en soms sy menslike natuur meer op die voorgrond getree het.

Byvoorbeeld, skryf die NGB, toe Hy ‘n klein kindjie was, en toe Hy in die graf gelê het, het sy Goddelike natuur nie duidelik na vore gekom nie, maar – beklemtoon die NGB – dit was wel nog steeds daar!

 

Hoekom word dit alles so noukeurig beskryf?

Aan die einde van die dag het dit alles met die vraag te make of Jesus ‘n volmaakte Middelaar was.

Deur die eeue was daar al baie teorieë oor hoe die Here Jesus se geaardheid presies was.

Een geleerde uit die vroeë kerk, Apollinaris, het van die Griekse filosofie van die Stoïsyne gebruik gemaak, wat beweer het dat ‘n mens uit drie dele bestaan: ‘n liggaam, ’n siel en ‘n gees.

‘n Mens se liggaam en siel behoort tot die laer aardse orde, ‘n mens se gees tot die hoër hemelse orde.

In Jesus se geval, het Apollinaris beweer, het Hy wel ‘n menslike liggaam en siel aangeneem, maar nie ‘n menslike gees nie.

Sy Goddelike gees is naamlik verbind met ‘n menslike liggaam en siel.

Dit was die manier hoe Apollinaris dit probeer verklaar het.

Gelukkig het die ortodokse kerk sy leer afgewys.

In die eerste plek lees ons nêrens in die Skrif dat ‘n mens uit drie dele bestaan nie.

Die Here Jesus self praat oor ‘n mens as ‘n liggaam en ‘n siel – sien Mattheüs 10:28.

Daardie driedeling is dus nie in lyn met die Skrif nie.

Tweedens sou Apollinaris se konstruksie beteken dat Christus nie ‘n volledige mens in alle opsigte was nie.

En as dit die geval was, dan kon Hy ook nie ‘n volledige Middelaar wees nie.

Want volgens God se eis moes die Middelaar in elke opsig soos die mense word.

Want heel die menselike bestaan is deur die sonde aangetas.

Dis nie so dat ‘n mens daarbo ook nog ‘n gees het, wat nie deur die sonde aangetas en dus nie ‘n Middelaar nodig het nie.

Dis onsin.

Christus het dus volledig een honderd persent mens geword, met liggaam en siel.

Artikel 19 sluit dan af deur te beklemtoon en dat Hy as ware mens in al sy kwesbaarheid inderdaad gesterf het, maar dat Hy ook deur die krag van sy ware Godheid die dood daarna kon oorwin.

 

Wat is nou die praktiese nut van alles?

Laat ek dit soos volg probeer verduidelik:

Die feit dat Christus mens geword het, dat Hy Immanuël genoem word, dit laat jou meer ontspanne leef.

Daar is niks, geen teëspoed wat my kan tref, wat onbekend aan Hom is nie.

As ek deur siekte getref word, Jesus weet wat siekte is.

As ek deur die dood van ‘n geliefde getref word, Hy het dit ook ervaar.

As ek self die dood in die gesig staar, Hy is ook daardeur.

As mense my sleg en oneerlik behandel, dit het met Hom ook gebeur.

As armoede op my deur klop, as ek selfs nie eers weet waar om my hoof neer te lê nie, Hy weet daarvan.

Hy het op aarde geleef, ook te midde van alle verleidings, te midde van die suigkrag van die sonde.

Hy was ook tussen die dronkaards, die verslaafdes, die prostitute.

Hy weet wat dit is om op die smal pad te bly, die regte balans steeds in die lewe te probeer handhaaf, elke dag weer die regte rigting in te slaan wat die kompas van God se Woord wys.

Wat Hy op aarde ervaar het, was nog erger as wat ons ooit sal hoef mee te maak.

Nie net omdat Hy in die krag van sy lewe, as jong volwassene, moes sterf nie.

Ook nie net as gevolg van die manier waarop Hy moes sterf nie, die mees pynlike dood wat daar ongeveer bestaan.

Ook nie net omdat Hy die doodstraf ontvang het terwyl Hy dit glad nie verdien het nie.

Maar veral omdat Hy by sy sterwe deur sy God verlaat is.

Tydens die Godverlatenheid aan die kruis het Hy neergedaal in die hel.

En dit, sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (HK Sondag 16).

 

Verstaan u wat ek bedoel as ek sê dat ons meer ontspanne kan lewe?

My lewe is duur gekoop.

Sonder sy wil sal geen haar van my hoof val nie.

Ek hoef dus nie krampagtig te lewe nie.

Om ons heen is die wêreld in ‘n kramphouding.

So baie mense is bekommerd oor die toekoms.

Ons is onderdeel van hierdie wêreld.

Maar ons tas nie in die duister wat die toekoms betref nie.

Want God is met ons – Immanuël.

Ons Here Jesus Christus het na die aarde gekom.

Hy het mens geword.

Hy weet wat die lewe hier op aarde is, met al sy bedreigings.

Maar Hy het versoening gebring.

Hy het opgevaar.

Hy regeer nou.

Al die ellendes op aarde is barensweë, barensweë van ‘n nuwe aarde, ‘n herskepping wat op pad is om gebore te word.

Dit is die groter prentjie.

Broer, suster, moenie toelaat dat iemand hierdie Middelaar van jou afvat nie.

Die Skrif openbaar aan ons die volmaakte Middelaar.

Die Skrif openbaar sy menswording

Die Skrif openbaar Christus se twee nature

Dit wat die Skrif oor Hom openbaar, hou dit vas!

Dit is onderdeel van God se volmaakte heilsplan, waardeur Hy ook vir jou en my lewens ‘n nuwe toekoms wil bring.

Dit is hoekom jy by Hom kan skuil, want Hy hou die toekoms.

Dit is hoekom jy deel van sy kerk is, want hier word jy voorberei op die toekoms.

Lewe elke dag met die besef hoe afhanklik jy van Christus is.

Die Christus van die Skrifte, die volmaakte Middelaar, God wat mens geword het, wat gely het, gekruisig, gesterf, begrawe, maar in heerlikheid opgestaan en opgevaar en heers, en wat sal weerkom.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 132:5,6

Gebed

Skriflesing: Filippense 2:1-18, 1 Timotheüs 2:1-7

Ps 24:4

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 18-19

Preek

Ps 134:1-3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:1-3

Kollekte

Sb 33:2,3

Seën