Loflied na lyde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2026-04-19
Text: 
Psalm 66
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 66

 

1e Tafel:

 

Tema: Loflied na lyde

 

Ons weet nie wie Psalm 66 gedig het nie, ons weet ook nie wanneer dit gedig is nie.

Aan die begin word daar ‘n instruksie vir die musiekleier gegee, naamlik dat dit ‘n Psalm is.

‘n Psalm was vroeër die woord wat gebruik is om ‘n lied aan te dui wat met snaarinstrumente begelei is.

Maar verder weet ons nie veel oor die oorsprong van die lied nie.

Ons lees daarin ‘n verwysing na die uittog uit Egipte – vers 6.

Ons lees daarin ‘n verwysing na die huis van die HERE, waar die digter beloof dat hy brandoffers sal bring.

Huis van die HERE kan verwys òf na die tabernakel, òf na die tempel.

 

Die feit dat ons nie die digter en omstandighede in detail ken nie, neem egter nie weg dat ons hierdie Psalm wel kan verstaan en ook gebruik nie.

Vandag gebruik ons hierdie Psalm tydens ons nagmaalsviering.

Ons gebruik dit om almal saam die HERE te loof – soos die eerste deel van die Psalm; en ons gebruik dit ook om heel persoonlik die HERE te dank – soos die tweede deel van die Psalm.

Ons kyk hoe Christus hierdie Psalm vervul het, volmaak vervul het.

En ons mag ook deur Christus heen die Psalm toepas, as gemeente saam, en elkeen persoonlik.

Kom ons kyk na hierdie Psalm.

 

Die digter roep die ganse aarde op om vir God te loof, tot sy eer te juig, ‘n lofsang vir Hom te sing, Hom te aanbid.

Die rede wat hy gee: Hoe vreeslik – hoe ontsagwekkend – is u werke, gedug onder die mense!

 

Dan noem die digter voorbeelde.

Hy verander die see in droë land.

Sy kinders kon te voet deur die rivier trek.

Hy hou wag oor die nasies.

Hy is die een wat die lewe gee.

Dis Hy wat sorg dat jou voete nie swik nie.

 

In die volgende deel van die Psalm vertel die digter oor die beproewings wat hulle ervaar het.

Beproewings wat ook van dieselfde God afgekom het.

Die digter gebruik verskillende beelde om dit te beskryf:

“Want U het ons getoets, o God ... gelouter soos ‘n mens silwer louter”;

“ons in die net gebring” – soos ‘n voël in ‘n vangnet doodsangste uitstaan, maar dan wonderbaarlik ontsnap;

en “U het mense oor ons hoof laat ry” – simbolies vir diepe vernedering wat die volk moes meemaak.

En, “ons het in die vuur en in die water gekom”.

Duidelik was hierdie beproewing waarin God sy kinders gebring het, nie niks nie.

Dit was diep ingrypend vir hulle bestaan.

 

Maar, daarmee eindig die tweede deel van die Psalm:

“U het ons uitgelei in die oorvloed.” (vers 12)

Die erge dinge was nie om hulle om te bring nie, maar te toets, te beproef.

 

En dan begin die derde deel – die reaksie op God se uitredding, vanaf vers 13.

Die digter belowe hy sal met brandoffers die Here se huis binnegaan.

Hy sal sy geloftes betaal, wat hy gemaak het in daardie oomblikke van benoudheid.

Die digter deel sy eie ervaring vervolgens met almal wat God vrees.

Hy wil aan hulle vertel wat die Here aan sy siel gedoen het.

Siel dui hier op die uitredding van die digter se lewe, sy hele bestaan.

Hy wys ook op die noodsaak om opreg voor die Here te wees.

Vers 18: “As ek ongeregtigheid bedoel het”, die 2020-Vertaling lui: “Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar”, dan sou die Here nie geluister het nie.

Die Here luister na hulle wat opreg is, hulle gebede hoor Hy.

En dan eindig die Psalm met ‘n groot dankie:

“Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys het nie.”

Ja, Hy het sy goedertierenheid nie aan my onttrek nie.

 

Dit is, gemeente, in kort, die strekking, die verloop van hierdie Psalm.

Nogmaals, ons kan dit nie een-op-een toepas op die digter se persoonlike omstandighede nie, want ons ken nie die digter nie.

Maar hierdie Psalm raak wel ‘n snaar.

Dit staan nie ver af van elke gelowige se lewe nie.

Dit is baie herkenbaar.

En vir ons Here Jesus Christus was dit veral kosbaar.

Dit was heeltemal op sy lewe van toepassing, dit is heeltemal in Hom vervul.

Daarna gaan ons nounou kyk, aan die tweede tafel.

En daaroor sing ons vandag met die nagmaalsviering.

 

 

2e Tafel:

 

Tema: Loflied na lyde

 

Met hierdie Psalm roep ons die ganse aarde op om God te aanbid, vir die groot dade wat Hy verrig het.

Spesifiek aan die nagmaal dink ons aan die groot dade wat Hy in sy Seun se lewe verrig het; en vervolgens wat sy Seun in ons lewe verrig!

Soos Hy die volk destyds deur die Skelfsee gelei het, so lei Christus ons deur dood en graf heen.

Hy is alreeds anderkant.

En as Hoof sal Hy vir ons – sy liggaam – ook daardeur lei.

Ja loof God, want Hy het die lewe – nie net die lewe hier en nou nie – maar die ewige lewe aan sy Seun gegee!

En Christus se voet het nie gewankel op sy lydensweg nie.

Al was dit verskriklik erg!

 

Christus is inderdaad – soos vers 11 sê – in die net gebring.

Hy het nie net doodsangste uitgestaar nie, Hy moes self heeltemal deur die dood heengaan!

As die Psalm sê: U het mense oor ons hoof laat ry, ons het in die vuur en water gekom, dan is hierdie metafore heeltemal op Christus van toepassing.

Dink net aan alles wat die mense Hom aangedoen het.

Dink net aan al die spot en smaad en lyde wat op sy hoof neergekom het, die diepe vernedering wat Hy meegemaak het.

Hy het die helse vuur meegemaak aan die kruis.

Die water, soos Psalm 69 kla, het tot by die siel gekom, Hy het in waterdieptes gekom, die stroom het oor Hom geloop.

Alles metafore vir iemand wat baie amper verdrink het.

Maar Christus het wel verdrink, oftewel Hy het regtig gesterf.

So was niks waaroor die digter kla, vir Christus vreemd nie.

Nog veel erger moes Hy dit meemaak.

Sy lewe het Hy as brandoffer geskenk.

Maar ons gedenk ook aan die nagmaal dat Christus nie dood gebly het nie.

Die geur van sy kruisoffer was aangenaam vir God.

Hy het sy betaling aanvaar.

God het – met die woorde van vers 12 – Hom uitgelei in die oorvloed.

Dink aan die graf wat op Sondagoggend oopgemaak is, en hoe Christus in heerlikheid uitgekom het.

Dink aan die oorvloed van heerlikheid en mag wat Hy nou geniet, dink aan die oorvloed van onderdane wat Hy nou het.

 

En dan gemeente, vanaf vers 13, kan ons die Psalm op onsself toepas.

Want Christus se uitredding beteken ook ons uitredding, ja van elkeen wat by Hom hulp soek.

En vir daardie bevryding – nie net van mense op aarde en van vuur op aarde nie – maar bevryding van die helse vuur en bevryding uit die slawerny van die duiwel, vir daardie bevryding klink nou ons loflied.

En soos die digter brandoffers van vet diere – dit wil sê die beste diere – beloof om te bring, so bied ons die dankoffer van ons hele lewe aan.

En ons bly nie stil nie – vers 16 – ons getuig vir almal wat wil hoor wat Hy aan my siel gedoen het!

Ons is diep dankbaar, en ons loof God dat Hy – vers 20 – ons gebed nie afgewys het nie, sy goedertierenheid – sy verbondstrou – nie weerhou het nie.

 

So is Psalm 66 ‘n lied – al ken ons nie die digter nie – wat spreek deur die eeue.

Dit wat in sy hart was – verdriet, sorge maar ook dankbaarheid – het hy in hierdie lied verwoord.

En daardie selfde emosies – ja realiteite! – het Christus ervaar, nog veel meer intens.

En ook ons ervaar dieselfde.

En ons dankbaarheid en lof kan selfs nog groter wees, omdat ons weet dat God in sy verbondstrou sy beloftes gehou het, die Messias gestuur het.

Sy Middelaarswerk wat aan ons bevryding en ewige lewe skenk, dit herdenk ons dankbaar aan die nagmaal.

En ons roep die hele aarde op:

“Juig, aarde, juig met blye galme”!

“Sing tot Gods eer jul dankb’re psalme”!

“Sy grootheid ken geen maat of perke”! (vers 1 berymd)

Loof saam met ons ons God!

 

En in gedagte van wat ons nou vier, sing ons:

“Ek sal, verlos uit doodsgevare,

nou dat ek weer kan asemhaal,

my offers bring op u altare

en my geloftes U betaal.” (vers 6 berymd)

 

Outestamentiese woorde, maar sonder veel moeite kan ons dit toepas.

Die gelofte dat ek heel my lewe meer en meer aan Hom sal toewy!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 66:1-3

Wet

Ps 66:5,6

Gebed

Nagmaalsformulier 1e deel

Ps 69:1,6

Nagmaalsformulier 2e deel

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 66:7

1e tafel: Skriflesing: Psalm 66; 1e deel van preek; Ps 66:8,9

2e tafel: Skriflesing: Lukas 23:46-24:6a; 2e deel van preek; Ps 31:4

3e tafel: Lofverheffing; Ps 31:17

Dankgebed

Kollekte

Ps 124:1,2,4

Seën