Uit sy voorsienigheid blyk dat God onbegryplik groot en goed is

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2026-02-08
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 13
Preek Inhoud: 

Ons het nounet uit Psalm 104 gesing oor hoe God voorsien in heel die skepping se behoeftes.

Sy troue sorg vir alles wat Hy geskape het vat ons saam met die term voorsienigheid.

Ons gaan in hierdie preek sien dat God se voorsienigheid nie beperk is tot voedsel en klere en gesondheid nie.

In die lig van die mens se sondeval, kry sy voorsienigheid ‘n ekstra dimensie.

As gevolg van die sondeval het dinge soos siekte, droogte, onvrugbaarheid, armoede, oorlog en dood deel van die aarde se geskiedenis geword.

In die preek gaan ons sien dat hierdie skadukante van ons bestaan egter nie buite God se voorsienigheid val nie.

 

Tema: Uit sy voorsienigheid blyk dat God onbegryplik groot en goed is

 

In ons belydenisskrifte kry die leer van God se voorsienigheid uitgebreid aandag.

Dink, behalwe vir artikel 13, ook aan die bekende Sondag 10:

“Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Gesondheid én siekte kom van die HERE.

Daar is baie Skrifgedeeltes wat dit kan staaf.

Dan nog ingrypender as gesondheid en siekte, wat die Skrif ons ook leer is dat God in beheer is van lewe en dood.

Daar is mense wat dood was, wat op God se Woord hulle lewe teruggekry het.

Dink aan die Jaïrus se dogtertjie.

Dink aan die weduwee van Naïn se seun.

Dink aan Lasarus.

Dink aan die jongman wat uit die vensterbank geval het, tydens Paulus se nagtelike prediking.

Maar daar was ook mense wat deur God se ingrype daar en dan hulle lewe verloor het.

Dink aan Lot se vrou.

Dink aan Farao en sy soldate in die Rooisee.

Dink aan Ananias en Safira.

 

Die stelling dat gesondheid én siekte, lewe én dood uit God se Vaderhand na ons toekom, is dus deur en deur Skriftuurlik.

Hierdie gee ons as gelowiges ‘n unieke kyk op die werklikheid.

Sonder dat ons passief en lydelik word, sonder dat ons ons verantwoordelikheid nie neem nie, bly ons altyd besef dat alle verloop van gebeurtenisse tog in God se hand is.

Gesondheid én siekte kom uit God se Vaderhand.

Ja siektes wat daagliks duisende mense se lewens eis wêreldwyd.

Verstaan u dat sommige mense hierdie nie verstaan nie?

Is dit nie ook moeilik vir ons nie om te aanvaar, as ons hoor dat siekte uit God se Vaderhand kom?

So het die leer van die voorsienigheid onder swaar kritiek deurgeloop.

God is mos liefde!

Hoe kon God toelaat dat miljoene der miljoene mense in die Tweede Wêreldoorlog omgekom het?

In die moderne denke sien mens dan ook weer die ou dwaalleer van iemand soos Marcion wat die kop opsteek, in die sin dat God nie in beheer van die kwaad is nie.

Marcion het geleer dat daar ‘n goeie en ‘n slegte God is, wat met mekaar stryd voer.

Marcion was beïnvloed deur die tydsgees van sy tyd, onder andere die gnostiek.

Daarteenoor het kerkvaders soos Augustinus die Skriftuurlike leer verdedig.

Wat die kwaad betref, dit word deur God volkome beheer, al bly die mens self verantwoordelik vir die kwaad en nie God nie, aldus Augustinus.

 

In die moderne denke lê die leer van die voorsienigheid onder vuur, omdat die moderne mens hom nie meer aan die Woord wil onderwerp nie.

Die wetenskap word aangesleep as ‘n argument teen die voorsienigheid.

Volgens die atheïstiese wetenskap bestaan daar niks behalwe die waarneembare wêreld nie.

‘n Onsigbare God wat ‘n invloed het op die gang van sake, is wensdenkery.

Verder word godsdiens en die geloof in God se voorsienigheid afgemaak as projeksie.

Die onseker mens projekteer vir homself ‘n god in die hemel om homself te beskerm.

Maar aan die einde van die dag is daardie voorsienige god slegs die mens se eie breinkind.

Verder word daar telkens gewys op die katastrofes uit die verlede.

Hoe kon God toelaat dat Auswitsch gebeur het, of Hiroshima, of Aids, of Corona ...

So sien ons dat sommiges hierdie argumente gebruik om die geloof in God agter hulle te laat.

Ander pas hulle godsbeeld drasties aan.

So beweer sommiges dat God nie opgewasse is teen die kwaad, dat Hy net soos die mensheid ook stry teen die kwaad, dat Hy tans nie beheer oor alles het nie.

Ons troos sou dan wees, dat God wel met ons medelye het, simpatie.

Dat Hy ons aanmoedig om vol te hou.

God weet hoe ons voel, Hy ly saam met ons.

Gemeente, hierdie soort denke oor God, u verstaan wel, reken af met die klassieke leer van God se voorsienigheid, waarvolgens die kwaad wel in God se hand is, waarvolgens God wel volledig in beheer van die kwaad is, maar tog nie die oorsaak daarvan is nie.

 

Hoe dit ook sy, hierdie bly een van die groot vrae in die menslike bestaan.

Die vraag na die sin van lyde.

Die aanwesigheid van pyn en lyding het sommige daartoe gebring om met die vinger beskuldigend na God te wys, en ‘n vertroue op sy voorsienigheid oorboord te gooi.

Terselfdertyd het dit ander juis na God laat vlug, en vashou aan die belydenis dat niks buite sy wil om gebeur nie, dat God met vaste hand alles lei na sy doel toe.

Dat selfs lyde deur God omgebuig word om ‘n goeie doel te dien.

Dat mens soms nodig het om swaar te kry.

 

Dink aan wat die digter van Psalm 119 sing:

“Dat U my verdruk het, HERE,

dit was enkel goed vir my,

want daardeur het U my dieper

in u kennis ingelei.

Daarom is dit my veel beter

as die allerrykste skat,

meer as al die goud en silwer

wat die wêreld kan bevat.”

Ps 119:25

 

Broer, suster, kan u hierdie saamsing?

Laat ons eerlik wees, meestal kan ons hierdie eers agteraf sing.

As ons terugkyk op lyde, swaarkry, verdrukking.

As dit agter die rug is.

As ons oog gekry het vir watter vrug die HERE daardeur in ons lewe laat ryp word het.

Dikwels, as ons dit in die gesig staar, dan stoei en worstel ons, selfs met die HERE.

Wat ‘n troos, om dan tog die wete vas te hou, dat niks oor ons kom wat nie binne God se handbereik is nie, ja alle skepsele is so in sy hand, dat hulle hul teen sy wil nie kan roer of beweeg nie!

 

Kom ons kyk nou bietjie nader na wat God se voorsienigheid inhou.

As ons na die Skrif kyk, kom God se voorsienigheid daarin op gevarieerde wyse na vore.

God is die een wat sal voorsien, oftewel, Hy sal verskaf.

Dink aan Abraham se belydenis, Genesis 22:8: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien”.

God is ook die een wat skep en vernuwe.

Dink aan Psalm 104:30: “U maak die gelaat van die aarde nuut”.

Verder, God is ook die een wat sorg.

Dink aan Deuteronomium 11:12: “’n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.”

En 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

En verder, God is ook die een wat regeer.

Dink aan Psalm 47:9: “God regeer oor die nasies”.

En verder, God is die een wat dra.

Dink aan Hebreërs 1:3: “Hy ... wat alle dinge dra deur die Woord van sy krag”.

 

Al hierdie woorde omskryf iets van God se voorsienigheid:

God skep, Hy vernuwe, Hy sorg, Hy regeer, Hy dra.

Dit is alles eienskappe wat saamgevat word met die term: voorsienigheid.

Behalwe vir hierdie eienskappe wat eksplisiet in die Skrif na vore kom, kan ons ook dink aan die lewensgeskiedenisse van mense oor wie ons in die Bybel lees.

Ook daarin – al is dit implisiet – openbaar die Skrif God se voorsienigheid.

Dink aan die manier hoe iemand soos Josef se lewe gelei is.

Dis ‘n Skriftuurlike les in God se voorsienigheid.

Josef wat deur sy eie broers as slaaf na Egipte verkoop is, wat daar onskuldig in die tronk beland het, maar wat deur Goddelike sameloop van omstandighede op die troon gekom het, na Farao die magtigste man van Egipte.

Later mog Josef God se voorsienige hand in sy lewe besef, toe hy vir sy broers gesê het:

“Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur ... God het my voor julle uitgestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Julle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God.” (Gen. 45:5-8)

Wat ‘n belydenis!

 

Dieselfde geld ook vir die Bybelboek Ester.

Ook Ester se lewensgeskiedenis is ‘n Bybelse les oor God se voorsienigheid.

Dinge lyk so toevallig, maar daaragter sit die besturende hand van God.

As koning Ahasveros nie aan die slaap kan raak nie, is dit God wat besig is om ‘n plan uit te voer om sy volk te red.

En Mordegai haar oom het Ester daarop gewys, hoekom sy koningin geword het:

Ester 4:13-14: “Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?”

Dit is ou Afrikaans, en die katkisante het soms gesukkel om hierdie sleutelvers uit Ester uit hulle koppe te leer.

Maar dit vat die boodskap van die boek Ester pragtig saam.

Ester het nie koningin geword omdat sy die mooiste was nie.

Sy het koningin geword omdat in God se voorsienigheid Hy daardeur Haman se moorddadige plan teen die Jode wou stuit.

 

Gemeente, die kragtigste voorbeeld uit die Skrif van God se voorsienigheid is wat met God se eie Seun gebeur het.

In sy Pinksterpreek getuig Petrus daarvan:

Hom wat julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring het, Hom het God opgewek (Hand. 2:23-24).

Ja dit was selfs deur God se raad en voorkennis so voorbeskik.

Petrus bedoel om te sê: Die feit dat die Jode Hom aan die Romeine uitgelewer het, die feit dat Pilatus Hom gevonnis het, die feit dat die soldate Hom geskop, spoeg en slaan het, en Hom toe aan die kruis gehang het, dit was nie buite God se wil om nie, dit was selfs in sy hand!

Nie dat die hemelse Vader dit self gedoen het nie, Hy was nie skuldig daarvoor nie.

Maar Hy het dit toegelaat.

Hy het hierdie kwaad toegelaat, om iets anders te bereik, iets wat goed is.

Hy het toegelaat dat sy Seun sterf, om daarmee sy almag te toon, sodat Hy Hom uit die dood kon opwek.

 

Dit wat ons bely in Sondag 10, sien ons so mooi terug in Jesus se lewe op aarde:

Hy was in alle teëspoed geduldig, Hy het ’n vaste vertroue gehad op sy Vader dat geen skepsel Hom van sy liefde sou kon skei nie, Hy het aan die wete vasgehou dat alle skepsels so in sy hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

 

Die wete van sy Vader se voorsienigheid het Hom onuitspreeklike troos gebied, en so bied dit ons ook, omdat niks per toeval oor ons kan kom nie.

Dink aan wat Jesus ons voorgehou het – Mattheüs 10:29-30:

“Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.”

NGB art. 13 verwys eksplisiet na hierdie onderwys van Jesus.

Ook kom dit terug in Heidelbergse Kategismus Sondag 1: dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my kop kan val nie.

 

Dit wat Christus ons geleer het, daaraan het Hyself ook vasgehou, toe Hy deur die dal van helse doodskaduwee gegaan het.

Hy is vir ons hierin ‘n voorbeeld.

Daar is sommiges wat beweer dat Christus se dood aan die kruis nie beplan was nie.

Dat sulke wreedheid ook God die Vader oorval het.

Dat God nie verwag het dat sy verbondskinders so iets sou doen nie.

Mense met so ’n opvatting het die Skrif egter nie aan hulle kant nie.

Hoewel die Skrif die skuld 100% by die Jode, by die mensdom lê, maak die Skrif terselfdertyd ook duidelik dat dit volgens God se raad en voorkennis was.

 

So leer die Skrif ons dat in sy almag God die kwaad ten goede kan verander.

Josef se broers het kwaad teen hom beraam, maar God het dit ten goede gekeer.

Ja hoeveel keer, op daaglikse basis, sorg God dat die kwaad op aarde gestuit word, en gee Hy ‘n goeie wending daaraan?

Laat ons eerlik wees, ontelbare kere.

Meestal is ons salig onbewus daarvan, en leef ons maar net voort asof dit normaal is.

Was dit nie vir God se voorsienigheid nie, dan sou daar geen aarde meer oorgewees het nie.

 

 

Wat Jesus ons verder openbaar, gemeente, is dat in hierdie bedeling, God se voorsienigheid daar is vir sowel die gelowiges as die ongelowiges.

In hierdie bedeling, wat nog genadetyd is, groei die onkruid saam met die koring op.

Dit beteken, God se voorsienigheid bevoordeel nie net die gelowiges nie.

Ook hulle wat God ignoreer, ervaar desnieteenstaande die voordele van God se voorsienigheid.

Jesus het gesê: “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Matt. 5:45)

 

Wat dit betref is God se voorsienigheid en sy uitverkiesing nie identies nie, hoewel hulle oorlap.

God se uitverkiesing het as voorwerp daardie mense wat Hy bestem het vir die ewige lewe.

God se voorsienigheid het as voorwerp alles wat Hy geskape het.

Heel die geskape wêreld, sigbaar en onsigbaar, dra Hy in sy voorsienigheid en trou.

 

Nou word God se voorsienigheid nie net in ons tyd aangeval en belaglik gemaak nie.

In die verlede was dit ook al so.

Ook in die tyd toe Guido des Brès die Nederlandse Geloofsbelydenis geskryf het, was daar hulle wat die voorsienigheid geloën het.

Wat die ou dwaling van die Epikureërs weer laat herleef het.

Die Epikureërs het geleef nog voor Christus se koms na die aarde.

Hulle lewensinstelling was dat God Hom met niks op aarde bemoei nie, en alles aan die toeval oorlaat.

In die eeu van die Reformasie was daar ook sulke vrydenkers, wat dit wat die Skrif leer oor die voorsienigheid oorboord gegooi het.

Daarom wou Guido des Brès duidelikheid verskaf met die skryf van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die owerheid moes nie dink dat die Gereformeerdes ook sulke vrydenkers was nie.

En so het hy in artikel 13 duidelik rekenskap gegee van dit wat hulle volgens die Skrif oor God se voorsienigheid geglo het.

Ek weet nie of Guido des Brès besef het dat hy ses jaar later hiervoor sou boet met die marteldood nie.

Maar toe die dag kom dat hy opgehang is, het hierdie einste woorde ook hom getroos: Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop val nie.

Nie net ‘n haar het van sy kop geval nie, daar is ‘n strop om sy nek gespan en hy is opgehang.

Sekerlik sou dit dan ook nie buite die hemelse Vader se wil gebeur het nie!

Guido de Brès het geskryf: ons verlaat ons hierop, dit wil sê, ons vertrou hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en al ons vyande in toom hou.

Toe die 31ste Mei 1567 aanbreek, die dag wat hy na die galg gebring is, het dit gelyk of die duiwel en sy vyande vryspel gehad het.

Tog was dit nie so nie.

As die duiwel nie vryspel op Golgota gehad het, soos ons eerder in die preek gesien het, dan het hy dit ook nie in jou lewe of sterwe nie.

Ook Guido des Brès mog sterf met die wete: Al my lewensdae is getel.

As ek sterf, is dit op die dag wat God bepaal het.

Jesus se woorde het hom getroos: “moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt. 10:28)

God se doel met Guido des Brès se lewe was volbring.

Net so mag ons ook lewe, vertrouende op sy voorsienige sorg.

Ons erken eerlik: Ons menslike verstand het nie die vermoë om alles te verstaan nie, om alles uit te redeneer nie.

As ons sy voorsienigheid wil deurgrond, net soos wanneer ons sy verkiesing wil deurgrond, dan draai ons verstand vas.

Die Here vra ook nie van ons dat ons dit moet verstaan nie.

Ons moet ook nie probeer om dit te doen nie.

Jy hoef nie altyd alles te verstaan, voordat jy dit kan gebruik nie.

Baie mense klim in vliegtuie sonder dat hulle verstaan hoe so ‘n ding in die lug kan bly.

Ja, daar is tegniese mense wat dit wel verstaan.

By God se voorsienigheid is daar egter geen enkele mens wat dit sal verstaan nie.

Dis ‘next level’, te hoog vir ons verstand.

Tog mag ons daarop vertrou, ja gebruik maak van sy voorsienige sorg elke dag van ons lewe.

En laat ons God se grootheid aanbid!

God is so groot, dat Hy alles bestuur en tog terselfdertyd die volledige verantwoordelikheid van die mens handhaaf.

 

Geliefde broer, en suster, konsentreer hierdie week daarop om weer rus te vind in jou lewe, juis as jy aan God se voorsienigheid dink.

Ons hoop volgende week Sondag nagmaal te vier.

Vier dat God nie net vir ons liggaam dag na dag voorsien nie, maar dat Hy ook ‘n Lam voorsien het, wat vir ons sondes geslag is.

Vind rus by jou voorsienige God, by jou getroue Heiland.

Vind rus by die wete dat sy Heilige Gees altyd by jou is.

Vind rus, al verstaan jy nie alles nie.

 

Sommige nuuskierigheid is sondig, bely ons met artikel 13.

Ons bly daarom eerder binne die grens van die Woord.

Ons hou daaraan vas dat ons ‘n goeie God het, soos artikel 13 begin.

Wat ‘n pragtige belydenis!

Ook daardie belydenis kom uit die Skrif:

“God is goed in al sy handel,

en sy pad is enkel reg;

daarom laat Hy sondaars wandel

in die waarheid van sy weg.

Hy sal met sy hand hul lei

wat verdwaal was en verlore;

wie sagmoedig is, laat Hy

wandel op sy regte spore.”

Psalm 25:4 (berymd)

 

Kom ons sing dit nou as ons amenlied.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 119:25

Gebed

Skriflesing: Genesis 45:1-8; Ester 4:10-14; Handelinge 2:22-28

Ps 104:1,8,9,10,11,12,15,19,21

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis art. 13

Preek

Ps 25:4,5,6,7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 36:2,3

Seën