Christus se oorwinning op ons drie doodsvyande

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2026-02-15
Text: 
Genesis 3:15
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 3:15 ensvoorts

 

In die afgelope weke het ek in die prediking aandag geskenk aan die duiwel en sy bose geeste.

Hulle is onsigbaar, maar hulle werk op aarde is wel baie sigbaar.

Hulle veroorsaak gebroke verhoudings, siekte, sterfte, ongelukkigheid, oorlog, ensovoorts.

Ons het ook gesien dat ‘n Christen basies drie groot doodsvyande het, naamlik:

Die duiwel, die sondige wêreld, en sy eie sondige ou mens.

Dikwels tree hierdie drie vyande in bondgenootskap op om ons ten val te bring.

 

Wat ek vandag met u wil doen, is om in die Bybel te kyk hoe Christus al drie hierdie vyande oorwin het.

Ons herdenk vandag sy kruisdood, en nie net dit nie, ook sy oorwinning.

 

Tema: Christus se oorwinning op ons drie doodsvyande

 

Ons begin met die eerste vyand:

 

1 Christus het die duiwel oorwin.

Dan kan ons teruggaan na die heel eerste Bybelboek, die heel eerste belofte in die Bybel.

Genesis 3:15: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Hier word ‘n oorwinning aangekondig – die slang se kop sal vermorsel word.

Dat dit hier oor die duiwel gaan, word duidelik uit Openbaring 12:9:

“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”

 

Daar’s nog meer Bybelverse wat Christus se oorwinning oor Satan beskryf:

Hebreërs 2:14: Hy het hom tot niet gemaak “wat mag oor die dood het--dit is die duiwel”.

Dink ook aan Lukas 10:18, waar Jesus aankondig: “Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.”

En Johannes 12:31, waar Christus na die tyd van sy aardse bediening verwys: “nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.”

En 1 Johannes 3:8: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”
 

En so kan ek aangaan.

Al voer ons ’n opdraende stryd teen die Satan, weet ons dat Christus hom verslaan het.

In Christus is ons oorwinnaars.

Ons behoort aan Hom.

Hy het ons met sy bloed gekoop.

Die duiwel sal nie meer van ons kan slawe maak nie.

 

En wat so bemoedigend is, is dat die Bybel ook verduidelik dat hulle wat by Christus bly, self ook die duiwel baasraak.

Dink aan ’n Bybelvers soos Jakobus 4:7:

“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

So vier ons aan die nagmaalstafel die oorwinning van Christus op die duiwel; en danksy Hom kan ek en jy ook die duiwel weerstaan, ja hy vlug van ons af weg!

 

2 Christus het ook ons tweede doodsvyand oorwin: die sondige wêreld.

Ook daaroor is die Bybel duidelik.

Soos in Kolossense 2:15: Hy het “owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer”. 

Dit wil nie sê dat die sondige wêreld die gelowiges nie meer sal lastigval nie.

Inteendeel.

Gelowiges kry elke te make met vyandskap vanuit die wêreld, of pogings van die sondige wêreld om ons ook tot ‘n sondige lewe te verlei.

Daarvoor waarsku Jesus ons, byvoorbeeld in Johannes 16:33: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Hier bedoel Jesus die sondige wêreld, wat teen God in opstand gekom het.

Vandag moet ons nog stry, die wêreld is nie aan die gelowiges se kant nie, ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie, maar ons kan moed hou.

Christus het die wêreld oorwin!

En dit sal vir heel die mensdom sigbaar word die dag as Hy terugkeer.

Daaroor profeteer 1 Korinthiërs 15:24-25:

“Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.”

 

In die hede hoef ons nie desperaat te wees nie.

Christus se werk in die gelowiges stel hulle in staat om self ook die wêreld te oorwin.

Dit lees ons byvoorbeeld in 1 Johannes 5:4-5:

“Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”

 

So vier ons aan die nagmaal Christus se oorwinning op die sondige wêreld, en ons put krag uit sy werk om self ook die wêreld te oorwin.

 

 

3 Ons kom by ons laaste doodsvyand, en die blye nuus dat Christus hom ook oorwin het: ons ou sondige mens

Dit maak ons baie nederig, die feit dat die vyand nie net daarbuite is nie, maar ook binne-in onsself.

Dit is alle rede tot verootmoediging, dat ek en jy in sonde geval het, dat daar ‘n ou mens in ons is wat steeds verlang na die sonde.

Maar vandag aan die nagmaal fokus ons op Christus, hoe Hy ook hierdie vyand, my ou eie ek, kruisig, en in my ‘n nuwe mens laat opstaan.

Hieroor is daar pragtige Bybelgedeeltes.

 

Dink aan Romeine: 6:6-11:

“aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”

Christus onttroon die sondige ou mens in my lewe.

Hy kruisig dit.

Nou is ons in staat om te lewe vir God in Christus Jesus.

Ons is vernuwe.

Dit staan so mooi in 2 Korinthiërs 5:17:

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Ou dinge – dis ons doodsvyand die ou mens.

Hy is nie meer baas in my lewe nie, nee ek is ’n nuwe skepsel.

Die Heilige Gees laat ’n nuwe mens in my steeds meer opstaan!

Aan die Galasiërs skryf Paulus: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal 2:20)

 

En weer eens geld ook vir hierdie vyand, dat ons in Christus die krag kry om dit ook self te oorwin.

Sien byvoorbeeld Galasiërs 5:24: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.”

 

En seker die duidelikste teks as dit oor ons ou – en nuwe mens gaan, is Kolossense 3:9-10:

“Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper”.

 
Met hierdie oproep mag ons huis toe gaan.

Ons is beklee met die nuwe mens, die Gees werk in ons.

En Hy roep ons op: beklee julle nou meer en meer met die nuwe mens.

Laat die vrug van die nagmaal sigbaar word.

Christus vergewe nie net nie, maar Hy vernuwe ook ons lewens.

Deur sy Gees kry ons die krag om die sonde meer en meer agter ons te laat.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 46:1,3

Wet

107:8,21

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloosbelydens

Ps 130:4 (1e beryming)

1e Tafel: Skriflesing Gen 3:15, Openb 12:9, Hebr 2:14, Joh 12:31, 1 Joh 3:8, Jak 4:7; Sing: Sb 12:2

2e Tafel: Skriflesing Kol 2:15, Joh 16:33, 1 Kor 15:24-25, 1 Joh 5:4-5; Sing: Sb 44:5

3e Tafel: Skriflesing: Rom 6:6-11, 2 Kor 5:17, Gal 2:20, 5:24, Kol 3:9-10; Sing: Ps 130:2 (1e beryming)

Lofverheffing & dankgebed

Kollekte

Ps 46:4,6

Seën