Preek: Mattheüs 28:20
Ons is aan die einde van die eerste kwart van die 21ste eeu, en van die 3de millenium na Christus.
As ek na die afgelope 25 jaar terugkyk, dan is daar twee dinge wat my persoonlik opval.
Eerstens, die nuwe Suid-Afrika was moeiliker as wat ek toe verwag het.
Die optimisme van toe het vir ‘n groot deel verdwyn.
Die spanninge het nie minder geword nie.
Trouens, dis ook waar vir die res van die wêreld.
In die jaar 2000 was daar baie optimisme.
Die Koue Oorlog was verby, 9/11 het nog nie plaasgevind nie, internet was in opkoms, aandele het ongekende hoogtes bereik.
Maar vandag, 25 jaar later, het die spanninge en oorloë nie minder geword nie.
Nie in Afrika nie, nie in Suid-Amerika nie, nie in Europa nie, nie in die Midde-Ooste nie, nie in Oos-Asië nie.
Ons leef vandag nie net in ‘n baie onsekerder land nie, maar ook in ‘n baie onsekerder wêreld, vergeleke met 25 jaar gelede.
Maar daar is ‘n tweede ding wat my ook opval.
Ten spyte van bogenoemde lei verreweg die meeste van ons goeie lewens.
Die meeste van ons se welvaart het nie afgeneem nie, maar toegeneem.
Dikwels moes daar aanpassings gemaak word, nuwe inisiatiewe geneem word, enterpreneurskap aan die dag gelê word.
Maar daar was geleenthede, en dit was dikwels suksesvol.
Ook kerklik het daar – te midde van alle onsekerhede en emigrasies – tog groei plaasgevind.
En ons twee gemeentes is nie hulpbehoewend nie, daar is tans selfs geleentheid vir uitbreiding.
Die gemeentes het voldoende middele om na die hulpbehoewendes om te sien, en daar kan ook na buite uitgereik word.
Ons materiële lewensstandaard is tans baie hoër as 50 jaar gelede toe ons oupas en oumas hierdie kerk gebou het, hierdie gebou waarin ons nou sit.
Soveel so, dat mens jouself kan afvra of die offervaardigheid nog daar is, soveel as wat daar 50 jaar gelede was.
Maar dit alles laat my maar net weer dink aan Christus se belofte by sy hemelvaart: “kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt 28:20)
Ja ook in die hede, te midde van onseker tye, is daar soveel voorbeelde wat bewys dat Christus inderdaad by ons is.
As mens die balans opmaak, ja daar is onsekerhede, maar ook soveel om voor dankbaar te wees.
Is die afgelope jaar, en ook die afgelope kwart eeu, maar nie net nog ‘n bewys dat Christus se beloftes waar is nie?
Eerstens, Hy het ons nie ‘n rustige vaart deur die lewe belowe nie.
Hy het nie vir die gelowiges rykdom gewaarborg en die afwesigheid van siekte en lyde belowe nie.
Maar terselfdertyd het Hy wel belowe dat Hy elke kilometer van ons onstuimige lewensvaart by ons sal wees.
“Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
Dit was die laaste woorde voor sy hemelvaart, ons teks.
Tema: Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld!
1 Ek is met julle
2 Al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
1 Ek is met julle
Kom ons begin met die eerste woorde van die teks: Ek is met julle.
Christus verseker dit in die lig van die feit dat sommige dissipels getwyfel het (vers 17).
Ja, hulle het Hom aanbid, maar tog was daar nog ‘n mate van twyfel aanwesig.
Dit is in hierdie konteks wat Jesus dan met die uitspraak kom: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde!
Hierdie woorde was bedoel as ‘n gerusstelling en ‘n bemoediging vir hulle.
Jesus nader gekom het.
Skynbaar het die dissipels op ‘n eerbiedige afstand van Hom gestaan.
Hulle het geweet dis hulle Heiland, maar tog het hulle nie gedurf om te naby te kom nie.
Dit was hulle Heiland, maar nou in ‘n nuwe vorm, met ‘n verheerlikte liggaam.
Skynbaar het dit respek afgedwing.
Maar hoe skitterend en magtig Jesus nou ook was, dit het Hom nie verhinder om self weer nader aan sy dissipels te kom nie.
Hy het hulle bewus opgesoek.
Die Here Jesus lig hulle in wat betref die posisie wat Hy binnekort, met sy hemelvaart, gaan beklee.
Dat Hy gaan sit aan die regterhand van God, op die hemelse troon.
Ja alle mag in die hemel en op aarde is aan Hom gegee.
Slegs iemand wat inderdaad op die hemelse troon sal gaan plaasneem, is in staat, is geregtig, om soiets te sê.
Gemeente, destyds, aan die begin van die Mattheüsevangelie, het die engel aangekondig dat die kind wat gebore gaan word, Immanuël sal wees, dit beteken: God met ons.
Nou eindig die Mattheüsevangelie met die verwerkliking van hierdie belofte, en dit vir die hele toekomstige bedeling.
Christus is Immanuël.
Hy sê dit hier self, in Mattheüs se laaste vers:
“Ek is met julle [dis wat Immanuël beteken!] al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
Wat ‘n ongelooflike bemoediging, wat ‘n riem onder die hart!
Nie net vir die apostels, wat hier hulle taakomskrywing ontvang vir die res van hulle lewe nie.
Maar ook vir ons.
Jesus praat hier in superlatiewe.
In die laaste woorde voor sy hemelvaart gebruik Hy vier keer die woord al.
Alle mag ...!
Al die nasies ...!
Leer hulle om alles te onderhou ...!
En ek is met julle al die dae!
Superlatiewe.
Christus maak seker niks of nêrens of niemand word uitgesluit nie.
Dus, waar die apostels ook heen mag gaan, na watter uithoek van die aarde ook, orals mag hulle gaan met die besef:
Daar is geen vierkante sentimeter op hierdie aarde wat nie aan Jesus Christus behoort nie!
Christus het reg op elke land, op elke erf, op elke mens.
En dit is die Evangelie, want Christus se mag, sy bevoegdheid, is ‘n goeie boodskap vir hierdie wêreld in sonde oud.
Sy heerskappy bring nuwe tye, tye van hoop!
Ja, Ek is met julle ...
Gemeente, hierdie uitspraak van Christus herinner ons nie net aan die feit dat Hy Immanuël is nie.
Dit herinner ons ook aan Christus se sogenaamde Ek is-uitsprake tydens sy bediening.
Dit wat Hy sy dissipels op die hart gedruk het:
Ek is die brood van die lewe ...
Ek is die lig van die wêreld ...
Ek is die deur van die skape ...
Ek is die goeie herder ...
Ek is die opstanding en die lewe ...
Ek is die weg, die waarheid en die lewe ...
Ek is die ware wynstok ... (Joh 6-15)
Dit is alles uitsprake wat jy ook op jou lewe mag toepas.
Dit was waar die afgelope jaar, en dit sal waar wees in die nuwe jaar.
Hy gee vir jou brood, fisiese en geestelike brood.
Hy is die lig in jou lewe.
Hy is die goeie Herder, wat jou ‘n veilige plek in sy kraal gee.
Hy wys jou die weg deur die lewe.
Hy leer jou wat die waarheid is.
Hy gee jou energie, sodat jy kan groei as ‘n loot aan die wynstok.
En Christus sê nie toevallig Ek is nie.
Hy sluit aan by dit wat ons in die Ou Testament oor God lees.
Dink aan hoe God aan Moses verskyn het:
“Ek is wat Ek is.” (Ex 3:14)
“Ek is het my na julle gestuur”.
Dit is God se Verbondsnaam.
Dit beteken: Hy is daar.
Hy belowe vir Moses: Ek sal met jou wees (Ex 3:12).
Hy is betroubaar.
Hy is dieselfde, in verlede, hede en toekoms.
En net so het God aan Josua beloof:
“soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed” (Jos 1:5-6)
Net so het God dit ook aan Jesaja beloof:
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook onder steun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jes 41:10)
So beloof Jesus dieselfde nou hier aan sy dissipels, en aan jou en my!
Ek is met julle!
Christus verwys hier dus na die Verbondsnaam van God.
Dit is ook sy Naam!
Hy is die HERE, Hy is betroubaar.
Al die dae!
Ek is – hoor ons Hom weer sê aan Johannes in Openbaring:
“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” (Openb 1:8)
Om saam te vat, gemeente: Hierdie eerste paar woorde van ons teks – die woorde Ek is met julle – herinner ons aan twee name van Christus:
Immanuël en Jahweh.
Hierdie name eien Hy Homself toe, en met reg.
(Tema: Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld!
1 Ek is met julle)
2 Al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
Kom ons kyk nou na die tweede deel van ons teks:
Al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
Dalk ken u die naam Albert Schweitzer.
Hy was iemand wat as ‘n dokter pragtige liefdadigheidswerk in Afrika gedoen het.
Hy het ‘n hospitaal gebou, Lamberene, in Gaboen, en ‘n groot nalatenskap daar agtergelaat.
Hy het selfs die Nobelprys vir vrede ontvang.
Maar behalwe vir dokter, was Albert Schweitzer ook teoloog.
Hy het ‘n omstrede boek oor Jesus geskryf.
Volgens hom het Jesus ‘n apokaliptiese toekomsverwagting gehad wat nie uitgekom het nie.
Jesus sou gedink het dat die einde van die tye in sy tyd sou plaasvind.
En so sou sy dissipels ook gedink het.
Maar toe dit nie gebeur nie, was hulle ontnugterd.
Jesus was dood, en dit duur net al hoe langer voordat Hy terugkom, wat moet hulle nou doen?
Hulle was gedesillusioneerd.
Hulle moes leer besef dat Jesus nie werklik opgestaan het nie, maar dat Hy wel ‘n groot nalatenskap op aarde daargelaat het, ‘n nalatenskap van liefdadigheid.
In kort, Albert Schweitzer se teologie het nie daarvan uitgegaan dat Jesus leef en op die hemelse troon regeer nie.
Duidelik het hy ons teks anders gelees.
Al die dae ... tot aan die voleinding van die wêreld ...
Hierdie uitspraak van Jesus moet mens dus eintlik met ‘n knippie sout neem.
En so het Schweitzer Christus se bydrae aan die wêreldgeskiedenis uitgelê as ‘n oproep tot medemenslikheid, tot respek vir die lewe.
En dit het hy self in praktyk gebring as dokter in donker Afrika.
So het Christus, as godsdienstige Leier, se idees voortgeleef ook in sy lewenswerk.
Maar ja, ‘n verheerlikte Christus wat opgestaan het en lewe en op die troon regeer ook in die 20e en 21e eeu, en wat sal terugkom in heerlikheid, dit het in sy teologie nie voorgekom nie.
En eerlik gesê, gemeente, kan mens sy gevoel nie tog bietjie verstaan nie?
As die dissipels skynbaar gedesillusioneerd was, hoeveel te meer nie hy nie, Albert Schweitzer, wat negentien eeue later geleef het.
En wat van ons, wat selfs in die derde millenium leef?
Is daar nie rede om ontnugterd te wees nie?
Gaan Jesus ooit wel terugkom?
Wat kom van sy belofte?
Moet ons dit dalk tog anders interpreteer?
Maar, gelukkig, het die Bybel ook ‘n antwoord op hierdie twyfels wat kan opkom by elke mens.
Die apostel Petrus het sy lesers alreeds gewaarsku dat die feit dat Hy die wederkoms uitstel, dat dit nie vir ons ‘n aanleiding moet wees om aan sy wederkoms te begin twyfel nie.
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petr 3:9)
Inderdaad, ook in die afgelope 25 jaar was daar baie mense wêreldwyd wat tot bekering gekom het.
Wanneer presies die dag van die voleinding gaan aanbreek, weet ons nie.
Dit word deur die Vader as ‘n geheim bewaar.
Wel weet ons dat dit nou nog genadetyd is, genadejare waartydens die Evangelie mag en moet uitgaan oor die hele aarde, voordat die einde kom.
Soos Jesus self gesê het: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (Matt 24:14)
Die voleinding van die wêreld ...
Die 2020-Vertaling sê: Die voleinding van die tyd ...
Beide vertalings is korrek, as mens na die Griekse woord kyk.
Die lang en komplekse wêreldgeskiedenis, ook die dikwels so onstuimige verloop van gebeurtenisse in ons land, is nie maar net ‘n noodlottige en toevallige saak nie.
Dit is alles onderdeel van hierdie bedeling wat Christus aangekondig het in Mattheüs 28.
Dit is alles onderhewig aan Christus wat op die troon sit.
Sy heerskappy ontgaan niks nie.
Alles wat roer en rumoer op aarde, in watter land ook, is ‘n voorbereiding, die Skrif sê, dit is die barensweë van die voleidning van die wêreld wat op hande is.
Elke jaar, elke eeu, elke millenium wat aan die wêreldgeskiedenis toegevoeg word, is opnuut ‘n periode vol genadetyd.
Die Here vertraag nie die belofte nie ... maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petr 3:9).
“kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matth 20:20)
Hierdie woorde kom van Hom wat in ons teks gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
Jesus het goed geweet wat Hy sê.
Hierdie woorde van Hom was nie net gerig tot sy dissipels wat daar bewende voor Hom gestaan het nie.
Toe Hy die woorde van ons teks uitspreek, sy laaste woorde op aarde, het Hy beslis ook my en jou in gedagte gehad.
Want Hy is daar al die dae, tot die voleinding van die wêreldgeskiedenis.
Jy en ek is maar ‘n klein baksteentjie in die groot gebou van die wêreldgeskiedenis.
Maar dis Christus wat jou lewe inmessel in die geskiedenis van sy heilsplan.
Die gemiddelde persoon leef bietjie meer as 25 000 dae.
Elkeen van daardie dae is deel van die “al die dae” waarvan ons teks praat.
Ons verhoogde Heiland ken elke dag, Hy vorm elke dag, Hy bepaal wat elke dag gaan gebeur.
Amen
En dan eindig die Bybelboek Mattheüs met die woord Amen.
Hierdie woord is ‘n oproep aan jou en my.
Dit rig ‘n appèl op jou en my, om alles wat in hierdie Evangelie staan, persoonlik te beaam.
Om dit te aanvaar as die outentieke woorde van Jesus Christus.
Om daarin te glo.
Om jou lewe daarop te bou.
Broer en suster, sal julle dit ook doen in die nuwe jaar?
Want Hy sal daar wees, ook die 365 dae van 2026 wat nou – DV – vir ons lê en wag.
Ek wil u vra, gemeente, memoriseer hierdie teks!
Sê dit vir jouself, ten minste een keer per week, in hierdie nuwe jaar 2026.
Dalk kan ons gemeente-opboukommissie of evangelisasiekommissie hierdie teks op ‘n magneet druk, dat ons dit op ons yskaste kan plak.
Ek is met julle, al die dae, tot aan die voleidning van die wêreld!
Ja ook jou yskas behoort aan Christus, en jou hele kombuis, en jou hele huis, en jou hele lewe staan onder sy gesag.
Want aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.
Elke keer as jy jou yskas oopmaak, onthou, Hy is met jou.
Dis Hy wat jou yskas volmaak, en jou koskaste, en jou petroltenk, ook in 2026.
Dis Hy wat sy Heilige Gees aan jou gee, ook in die nuwe jaar, wat jou sal herinner aan alles wat Hy gesê het.
Ook aan sy laaste woorde op aarde - hierdie heerlike bemoediging, gerusstelling van ons teks.
Hierdie belofte wat sigbaar geword het, toe Hy op Pinksterdag sy Gees uitgestort het, soos Hy beloof het om by ons te bly tot in ewigheid (Joh 14:16).
Gemeente, gaan leef 2026 voluit.
Nog 365 dae van al die dae in ons teks, DV, tensy die voleinding eerder aanbreek.
Gaan leef dit, vol moed, blymoedig en dankbaar!
Amen.
Votum
Seën
Ps 46:1,3
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 28:16-20 & Markus 16:19-20
Ps 65:4,5
Skriflesing: Handelinge 1:1-11
Ps 136:1 (almal), 2 (mans), 3 (vroue), 4 (mans), 5 (vroue), 6 (mans), 7 (vroue), 8 (mans), 19 (vroue), 20 (almal)
Teks: Mattheüs 28:20
Preek
Sb 29:1,4,6,7
Gebed
Sb 27:1-5 (Apostoliese Geloofsbelydenis)
Kollekte
Ps 150:1-3
Seën