Ons het verlede week begin om te soek na wat die Skrif sê oor die Godheid van Jesus en van die Heilige Gees.
Ons soektog was nie tevergeefs nie.
Die Skrif gee Goddelike name aan beide Jesus en die Gees, en die Skrif beskryf ook hulle Goddelike eienskappe.
Ek het aan die einde van laasweek se preek genoem dat daar nog meer Skrifgetuienis is.
Ons is nog nie klaar met ons soektog nie.
Daar is nog meer dinge wat die Skrif sê oor Beide se Godheid.
In vanaand se preek kyk ons na 1) die Goddelike werke van die Seun en die Gees, en 2) na die Goddelike eer wat beide Seun en Gees in die Skrif ontvang.
Tema: Die Seun en die Gees is God, gesien hulle werke en die eer wat Hulle ontvang
- Goddelike werke
- Goddelike eer
- Goddelike werke
Hoe weet jy of iemand ‘n koning of koningin is?
In die eerste plek kan jy kyk na hoe so iemand homself voorstel – hoe onderteken hy sy briewe?
Want jy kan dit aflei uit die titel wat voor sy naam staan.
Jy kan dit ook aflei uit hoe ander mense hom aanspreek.
As mense hom byvoorbeeld aanspreek met Majesteit, dan is dit ‘n teken dat hy ‘n koning moet wees.
So het ons laasweek gesien dat na sowel Jesus as die Heilige Gees as God verwys word, want so word Hulle aangespreek.
Maar nog ‘n manier hoe jy kan aflei of iemand ‘n koning is, is hoe mense hom behandel.
As hulle byvoorbeeld aan hom eer bewys deur dadelik op te staan as hy die kamer binnekom, of – soos in sommige lande nog die geval is – voor hom buig.
En nog ‘n manier is om te kyk na dit wat hy doen.
As hy byvoorbeeld ‘n land se parlement toespreek terwyl hy op die troon sit, dan is dit ‘n duidelike teken.
Ek noem hierdie voorbeeld, omdat ons in die Bybel op soek gaan na iets soortgelyks.
Is daar werke wat die Seun en die Gees doen wat mens as Goddelik kan bestempel?
En ontvang Hulle in die Bybel eerbewyse wat net aan God toekom?
Want as dit so is, blyk ook daaruit dat Hulle God is.
Eerstens dus Goddelike werke, dit is tipies werke wat net deur iemand verrig kan word wat Goddelik is.
Jesus se bediening op aarde was nie net woorde nie, maar ook dade.
Dit het begin met die eerste wonder, water wat Hy in wyn verander het op ‘n bruilof.
Daarna het die wonders nie opgehou nie.
Christus se wonderwerke was soos ‘n bulderende rivier na ‘n stortbui wat net nie wou ophou nie.
Johannes skryf oor Christus se wonderwerke: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie.” (Joh 20:30)
En in Johannes 21: “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (vers 25)
Jesus se Godheid het dus oorweldigend uit sy werke geblyk.
En hoe die Fariseërs ook gekeer het, hulle kon nie.
Die mense het alles gesien, keer op keer, dag na dag, dit wou net nie ophou nie.
Siekes is genees, liggaamlike siektes, geestelike siektes.
Skares van duisende mense is gevoed met slegs vyf brode en twee vissies.
Storms is stilgemaak, ja Hy het selfs op die water geloop.
Ervare vissermanne wat ‘n nag lank niks kon vang nie, kry ineens ‘n reusevangs sodat die nette omtrent wou skeur, net op sy bevel om die net aan die ander kant van die boot uit te gooi.
En die mees indrukwekkende van alles: Hy het dooie mense weer lewendig gemaak.
Jaïrus se dogtertjie, die weduwee van Naïn se seun, om enkeles te noem.
En dan sy vriend Lasarus.
Hierdie opwekking van Lasarus was so spektakulêr, dat die mense toegestroom het en tou gestaan het in die klein dorpie Betanië, net om hierdie wêreldwonder te siene te kry (Joh 12:9).
Dit was ‘n uitermate groot verleentheid vir die owerpriesters.
Die afgelope drie jaar het hulle bontgestaan om Jesus se invloed in te perk.
Maar met Lasarus se opwekking was dit asof die damwal gebreek het.
Die massas mense het toegestroom, nie net om Jesus te sien nie, maar veral ook om Lasarus te sien!
Inderdaad, daardie Goddelike werk wat Hy verrrig het, dat Hy in staat was om ‘n dooie terug te bring na die lewe.
Dit was onder andere die rede hoekom daar soveel mense by sy intog in Jerusalem opgedaag het, wat Hom almal toegesing het: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel! (Joh 12:13)
Die volk het met Hom weggeloop, weens die getuienis van al sy Goddelike werke.
En die Fariseërs kon nie meer keer nie.
Wanhopig het hulle uitgeroep en vir mekaar gesê: Sien julle dat ons niks vorder nie?
Kyk die hele wêreld loop agter Hom aan (Joh 12:19)!
Christus se allergrootste Goddelike werk het natuurlik gebeur aan die einde van sy tyd op aarde.
Die feit dat Hy self, nadat Hy drie dae en nagte dood in die graf was, opgestaan het.
Aan die een kant spreek die Skrif in die passiewe vorm, naamlik dat Jesus opgewek is.
Hy is opgewek deur sy Vader in die hemel.
Daar is baie teksverse wat dit so beskryf.
Maar andersyds vind ons ook tekste in die Bybel in die aktiewe vorm, wat sê dat Hy opgestaan het!
Enkele voorbeelde daarvan is onder andere:
Markus 14:28: Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
En 1 Thessalonisense 4:14: Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.
Dis voorbeelde in die aktiewe vorm.
Hierdie tweeërlei Skrifgetuienis – opgewek en opgestaan – spreek mekaar nie teen nie, dit dui eerder op die samewerking wat daar is tussen Vader en Seun.
Dit dui op die eenheid wat daar in God Drie-enig is.
En dit dui dus net weer op die Godheid van Christus.
Net soos die Vader verrig Hy Goddelike werke.
En die feit dat Hy uit dood en graf opgestaan het, was net soveel sy werk as wat dit die Vader in die hemel se werk was.
Dit geld trouens net so vir die heilsfeit wat kort daarna gevolg het, die feit dat Hy opgevaar het na die hemel.
Liggaamlik, voor die oë van sy dissipels.
Weer eens iets wat ‘n gewone mens nie kan doen nie.
En ook wat sy hemelvaart betref, vind ons in die Skrif sowel die aktiewe as die passiewe vorm.
Enersyds dat Hy opgeneem is in die hemel – passief – byvoorbeeld:
Markus 16:9: Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.
Maar ons vind ook die aktiewe vorm, soos in Johannes 20:17: gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.
Dus ook wat betref sy hemelvaart sien ons die pragtige samewerking tussen Vader en Seun, ja tussen de Drie-eenheid.
Ook sy hemelvaart was uit en uit ’n Goddelike werk wat aan Hom toegeskryf word.
En so kan ons aangaan met ‘n lang lys van Goddelike werke wat aan ons Saligmaker toegeskryf word.
En ook vandag gaan Christus voort met sy Goddelike werke.
Hy is ’n Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie.
Kom ons gaan nou na die Heilige Gees.
Verrig Hy volgens die Skrif ook Goddelike werke?
Ja, Hy was betrokke by die skepping van die aarde (Gen 1:2).
Hy is betrokke by die voortgaande skepping en onderhouding van die aarde.
Dink aan Psalm 104:30: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”
Hy is ook besig met die herskepping van die aarde en ook van ons lewens.
Ons word vernuwe deur die werk van die Heilige Gees in ons (Titus 3:5).
Die Gees kan dit wat dood is, lewend maak.
Johannes 6:63: “Dit is die Gees wat lewend maak”.
Gemeente, so beskryf die Skrif ook die Gees se Goddelike werke – dinge wat mense, skepsels, nie kan doen nie.
Nie dat die Skrif alles beskryf nie.
God is oneindig, sy werke kan ‘n mens nie deurgrond nie.
Daarom moet ons besef dat al God se werke nie in die Bybel beskryf word nie.
Die Bybel fokus op daardie Goddelike werke wat Vader, Seun en Gees doen spesifiek met betrekking tot die mensheid – hulle skepping, en sy werke om hulle te red nadat hulle in sonde geval het.
En ook sê die Skrif iets oor hoe God besig is om die aarde te herskep.
Dis egter net ‘n glimps, maar dis genoeg om te konkludeer:
Vader, Seun en Gees verrig Goddelike werke, en ons as sy kinders baat direk daarby!
Ons gaan nou na die tweede punt.
Ons sit ons soektog voort in die Skrif en vra nou of Jesus en die Heilige Gees in die Skrif enige Goddelike eer ontvang, of is dit iets wat net die Vader toekom?
(Tema: Die Seun en die Gees is God, gesien hulle werke en die eer wat Hulle ontvang
- Goddelike werke)
- Goddelike eer
Elke doop vind plaas in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.
Om in iemand se Naam gedoop te word, is ‘n eer wat net iemand toekom wat God is.
So word elke keer as die Naam van Jesus Christus by die doopvont klink, Goddelike eer aan Hom bewys.
Goddelike eer aan Jesus blyk ook daaruit dat mense in Hom glo.
Mense glo in Hom, juis omdat Hy self daartoe opgeroep het:
“... glo in God, glo ook in My”, sê die Here Jesus vir sy dissipels in Johannes 14:1.
Goddelike eer aan Jesus blyk ook daaruit dat mense voor Hom kniel.
Ook daartoe word ons opgeroep in die Skrif.
Dink aan Filippense 2:9-10: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.”
Hoewel die apostels self ook wonderwerke kon doen, onder andere Paulus, was dit nie die bedoeling dat mense voor die apostels sou kniel nie.
Toe die inwoners van die stad Listra, nadat Paulus en Barnabas daar ‘n wonder verrig het, voor hulle begin neerkniel, het hulle heftig gereageer: “Ons is net sulke mense soos julle” (Hand. 14).
Hulle het die mense gekeer om enigsins verder voor hulle te kniel.
Daarenteen, as mense voor Jesus kom kniel en Hom aanbid het, het Hy hulle nie gekeer nie.
Dink aan Thomas, wat die opgestane Heer aanbid het.
Dink aan Maria Magdalena en die ander Maria wat knielend sy voete gegryp en Hom aanbid het.
Jesus het dit toegelaat.
Jesus het die mense nie gekeer nie, want Hy verdien Goddelike eer.
Die absolute hoogtepunt in die Bybel is die lied wat vir die Lam gesing word, Openbaring 5, waar die apostel Johannes getuig:
“Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (vers 12-13)
Hierdie, gemeente, gee vir ons ‘n voorsmakie van die hemel en die nuwe aarde.
Hoe die absolute, sublieme oneindige lof en eer aan die Lam, dit is aan Jesus Christus, gebring word.
Hoe verlang ons na daardie dag, as dit gaan gebeur!
Die rillings sal oor jou rug loop, as daardie massakoor begin sing.
Nou, gemeente, as ons dink aan hoe ons God behoort te eer hier op aarde, dan gaan ons gedagtes dikwels uitsluitlik na wat ons op Sondae doen, na dinge soos Psalmsing en bid.
Maar ons moet aan Christus Goddelike eer bewys in die volle breedte van die lewe.
Met ons woorde en dade, met ons geld en besit, met die tyd wat Hy aan ons skenk.
Kom ons gaan nou weer na die Heilige Gees.
Word daar aan Hom in die Skrif ook Goddelike eer bewys?
Want dit sal ‘n aanduiding wees dat Hy inderdaad God is.
Weer eens kan ons aan die doop dink.
As mense gedoop word, gebeur dit ook in die naam van die Heilige Gees.
Om in iemand se naam gedoop te word, dit is ‘n eer wat net God toekom.
Goddelike eer blyk ook uit die feit dat ons in die Heilige Gees se Naam geseën word.
“Die genade van die Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees, sy met julle almal.” (2 Kor 13:13)
Dit help nie om geseën te word in die naam van ’n mens nie.
‘n Mens is sterflik, ‘n mens is nie almagtig nie, ‘n mens is nie alomteenwoordig nie.
Maar die Heilige Gees wel.
Samevattend, gedoop in die Naam van die Gees, geseën word deur die Heilige Gees, dis geweldige voorreg.
As die rykste persoon op aarde sou sê: Ek seën jou ... miskien sal jy nog iets daarvan verwag ...
Maar ook daardie rykste persoon kan môre sterf; of hy kan môre van plan verander; of al is hy die rykste, sal hy dalk weens omstandighede nie in staat wees om sy belofte na te kom nie.
Daarom – om te seën – is ‘n eer wat nie ‘n mens toekom nie, gewoon omdat ‘n mens ‘n mens is, beperk is.
Daarenteen het die seën van die Heilige Gees wel iets om die lyf – ja baie om die lyf.
Want Hy is God, Hy ken die toekoms, Hy was by die skepping van die aarde, en Hy is aktief steeds aktief met die onderhouding asook herskepping van die aarde.
Sy seën is begerenswaardig, want Hy kan doen wat Hy sê.
Nou soos ek laasweek ook genoem het, daar is – ook as dit oor sy Goddelike werke en Goddelike eer handel – is daar in die Skrif meer aandag vir die Seun as vir die Gees.
Maar dis nie ‘n rede om daarom te beweer die Gees is nie God nie.
Ek het laasweek die vergelyking gemaak met ‘n gebou en ‘n skynwerper.
Die skynwerper se taak is om die gebou te verlig.
Mense kyk na die gebou, danksy die skynwerper.
So is die Gees se taak om vir Jesus op die voorgrond te skuif, in die middelpunt te plaas.
In Johannes 16:14 staan selfs dat die Gees die Seun sal verheerlik.
Dus, gemeente, al weet ons dalk verhoudingsgewys minder oor die Heilige Gees, laat dit nie vir ons ‘n rede wees om Hom te degradeer nie.
Dit wat die Skrif oor Hom openbaar, moet ons ook ernstig neem.
Aan die einde van hierdie preek wil ek nog aan een Bybelvers aandag skenk.
Dis ‘n vers wat al in artikel 9 van die NGB aan die orde gekom het, toe dit oor die Skrifgetuienis vir die Drie-Eenheid gegaan het.
1 Johannes 5:7: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een”.
Wie die 2020-Vertaling by hom het, sal sien dat hierdie vers nie daarin voorkom nie.
Jy sal dit ook nie vind in Engelse vertalings soos die ESV nie.
Dit het te make met die ou Griekse manuskripte wat vir die vertaling van die Bybel gebruik is.
Die oorgrote meerderheid daarvan – van die baie ou manuskripte tot die jongeres – bevat nie hierdie vers nie, maar slegs enkeles wat gebruik is vir die ou vertaling.
Hierdie vers – kan ons met alle waarskynlikheid konkludeer – kom nie in die Bybel voor nie, maar is later ingevoeg.
Daarom is dit tereg dat dit in die 2020-Vertaling uitgehaal is, en net in ‘n voetnota staan.
Dit sal daarom ook tereg wees om dit uit artikel 9 van die NGB te haal.
Nie dat daar iets verkeerd in hierdie vers staan nie.
En as daar mense sou wees wat – gesien die feit dat hierdie vers nie oorspronklik is nie – as daar mense sou wees wat daarom die leer van die Drie-Eenheid verwerp, dan maak hulle ‘n fout.
Want ook sonder hierdie vers is die Skrifgetuienis vir die Drie-Eenheid oorweldigend.
Wys maar vir so iemand hierdie preek, en ook laasweek se preek, met al die Bybelverse daarin.
Daarom gaan ons as gelowiges voort om in alle nederigheid Goddelike eer te bewys aan Vader, Seun en Gees.
Ons ken nog nie eers 1% van wie Hulle is nie, want Hulle is onmeetlik groot en onbegryplik.
Maar daardie bietjie wat die Skrif openbaar is genoeg vir ons om Hulle te kan vertrou, liefhê, ons lewe aan Hulle toe te wy, en seker te wees oor die toekoms, omdat Hulle altyd daar sal wees.
Amen.
Votum
Seën
Ps 104:17,18,20,21
Gebed
Skriflesing: Johannes 2:1-12, 12:9-19, 20:15-18
Ps 33:2
Skriflesing: Mattheüs 28:16-20; Filippense 2:9-11; 2 Korinthiërs 13:11-13
Ps 47:1,3
Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 10 & 11
Preek
Ps 92:2,3
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 8:4,5
Seën