Preek: Lukas 4:1-13
Ons lewe in ‘n tyd waarin die duiwel, of bose geeste, op die agtergrond geraak het.
Miskien moet ek eerder sê, verdwyn het.
Al was hulle altyd al onsigbaar, vir mense vandag gaan dit verder as dat hulle net onsigbaar is.
Baie mense beweer hulle bestaan nie eintlik nie.
En ook as mense nie so ver gaan om hulle bestaan te ontken nie, lewe hulle wel so asof dit so is.
Daar word geen rekening mee gehou nie.
Mense wat siek word, hetsy liggaamlik of psigies – dit het absoluut niks met geeste, laat staan bose geeste te make.
Wie dit wel beweer, word skeef aangekyk.
Kortom, bose geeste – so word daar vandag gedink – is iets wat vroeër in mense se koppe was.
In die sin dat hulle gedink het iets bestaan wat eintlik glad nie bestaan nie.
Mense van vroeër het hulleself bang gepraat.
So dink baie mense vandag, en teoloë verklaar dit ook so.
Dat die duiwel eintlik ‘n metafoor, ‘n sinnebeeld is vir wat kwaad is.
Maar dat die duiwel en bose geeste in werklike sin nie bestaan nie.
Die Christene van die vroeë kerk het beweer dat die afgode – byvoorbeeld die Griekse en Romeinse afogde – demone was wat van die mense besit geneem het.
Ons sou vandag nie meer so iets sê nie – aldus die hedendaagse mens.
Ons moenie meer mense met die duiwel bangmaak nie.
Ons moenie mense wat naby aan die dood gekom het, herinner aan die feit dat daar ‘n hel is nie.
Soiets soos die hel is eintlik ook net ‘n bangmaakstorie, om mense op aarde aan te moedig om goed te leef.
Tema: Ons Here Jesus Christus bly staande tydens Satan se versoekings
1 Satan teiken die liggaamlike behoeftes
2 Satan teiken die behoefte na roem en eer
3 Satan teiken die behoefte na beheer oor God
1 Satan teiken die liggaamlike behoeftes
In die Evangelies is die duiwel en bose geeste ‘n baie aanwesige werklikheid.
Die woord duiwel kom in die Lukasevangelie 29 keer voor.
Die woord Satan kom 6 keer voor.
12 keer lees ons oor bose geeste.
Hulle word soms ook onreine geeste genoem, of – soos in die 2020-Vertaling – demone.
Christene vandag lees maklik daaroor heen, sonder om na te dink wat die betekenis, die impak, daarvan op hulle vandag is.
Daarom wil ek in die prediking meer gefokus daaraan aandag skenk.
Nie dat ek oor die duiwel en bose geeste gaan preek nie.
Die prediking gaan oor ons Here Jesus Christus, en uiteindelik sy triomf oor Satan en sy bose geeste.
Maar, as ons die vyand beter leer ken – hoe magtig hy is – dan sal ons leer om die gevaar nie te onderskat nie, en te besef dat daar nog steeds slagoffers val.
En, dan sal ons die krag, ja die triomf, van Christus nog meer waardeer.
Dat die feit dat Hy aan die kruis oorwin het, dat ons dit nie oppervlakkig sal verstaan nie, maar nog dieper sal besef wat daar werklik gebeur het.
Tydens die laaste ure van sy lewe, maar ook gedurende sy hele lewe op aarde.
Ons kyk vandag na die begin van Jesus se bediening.
Want Hy het nog maar skaars begin, toe is die duiwel al op Hom.
Nou voordat ons na die drie versoekings afsonderlik gaan kyk, net eers iets oor die Bybelteks as sulks, die oorlewering daarvan deur die eeue.
As mens Mattheüs se beskrywing met Lukas s’n vergelyk, is daar enkele verskille.
Soos die volgorde van die versoekings.
By Mattheüs is die versoeking op die dak van die tempel tweede, en die versoeking op die hoë berg derde.
By Lukas is hierdie twee omgeruil.
Wat die regte volgorde was, kan ons vandag nie meer bepaal nie.
Verder, as ons na die teks kyk, is daar enkele verskille tussen die ou manuskripte.
Veral in die eerste eeue het daar enkele verskille ontstaan by die oorskryf van die Bybel.
Daardie verskille sien mens raak as jy die ou vertaling en die nuwe vertaling met mekaar vergelyk.
Dis omdat hierdie twee vertalings gedeeltelik verskillende ou manuskripte van die Griekse teks gebruik het.
So lees die ou vertaling in vers 4: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.”
Die 2020-Vertaling het nie die laaste frase “maar van elke woord van God” nie.
‘n Werklike betekenisverskil is daar nie, want beide weergawes verwys terug na die Bybelteks Deuteronomium 8:3, waar in die ou vertaling se manuskripte daardie teks bietjie langer aangehaal word, en in die nuwe vertaling se manuskripte bietjie korter.
In Mattheüs 4:4 se verslag van hierdie geskiedenis staan die langer weergawe trouens wel in die 2020-Vertaling.
Dit gaan dus oor die aanhaling uit Deuteronomium 8:3: “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”
Jesus vermaan dus vir Satan met ’n Bybelteks.
Die duiwel ken die Bybel baie goed, met enkele woorde het die boodskap reeds oorgekom.
Dan is daar op nog ’n plek ’n verskil tussen die manuskripte, in vers 8.
Die ou vertaling het die woorde “Gaan weg agter my, Satan”, terwyl die nuwe vertaling teruggaan op manuskripte wat dit nie het nie, en direk begin met Jesus se opmerking: “Daar staan geskryf ...”
Nou hoe beoordeel mens watter een reg is?
Ons is geneig om te beoordeel watter opsie vir ons beter klink.
Sommiges wys beskuldigend met die vinger na die nuwe vertaling, met verwysing na Openbaring 22: 19, dat iemand vervloek is wat iets van die woorde van die Bybel wegneem.
Maar hierdie argument werk nie, want in die vorige vers in Openbaring staan daar dat enigiemand ook vervloek is wat woorde aan die Bybel toevoeg.
Die korrekte manier om hierdie verskil te beoordeel, is om die verskillende ou handskrifte histories te ondersoek, wat hulle stambome is, en hoe groot die kans is dat daar ’n oorskryffout ingesluip het.
Dit is die historiese wetenskap van die teksoorlewering.
Ek gaan nie nou verder daaraan in hierdie preek aandag skenk nie.
Gelukkig is dit so – en dis ’n wonder op sig – dat daar so weinig verskille met die oorskryf van die Bybel ingesluip het, dat dit die geloofwaardigheid van die Bybel geensins aangetas het nie.
Glo maar, dat die duiwel en sy demone ook alles daaraan gedoen het om deur die eeue die Bybel in diskrediet te bring, ook op hierdie manier.
Maar die Heilige Gees was sterker, tot vandag toe, en ons geloof word nog steeds gebou op dieselfde betroubare getuienis van apostels en profete.
Terug na die inhoud van ons teks.
Jesus se bediening begin nie met ‘n konfrontasie met siekte of gestremdheid of armoede nie.
Maar met die vir ons onsigbare wêreld – die stryd met dit wat agter alle kwaad op aarde skuil – die wêreld van die duiwel en sy bose geeste.
Hierdie is direk ‘n swaardgeveg van formaat.
Die duiwel stuur nie een van sy demone, nie eers ‘n legioen – duisende – demone nie.
Maar Satan loods self die aanval.
Dit word ‘n tweestryd tussen Jeus – vol van die Heilige Gees soos daar in vers 1 staan – en die duiwel.
In die vorige hoofstuk het Jesus naamlik die Heilige Gees ontvang, wat soos ‘n duif op Hom neergedaal het (Luk 3:22).
Maar hoe gouer Satan hierdie hemelse aanval op sy koninkryk kan neutraliseer, hoe beter.
En daarom doen hy – die owerste oor alle bose geeste – dit persoonlik.
Sy taktiek is ook veelseggend.
Dis nie ‘n letterlike swaardgeveg nie.
Sy taktiek is skelm, geslepe, vleiend.
Hy sê nie vir Jesus sleg nie, hy gee Hom komplimente.
Hy is die Seun van God.
Hy kan selfs brood uit ‘n klip toor.
Ja met hierdie eerste versoeking rig hy sy pyle op Jesus se liggaam.
Hy het mos gekies om mens te word, en nou sit Hy met ‘n liggaam met spesifieke behoeftes.
Daaraan herinner hy Jesus terwyl hy honger is.
Die Satan kom na ‘n mens in ‘n oomblik van swakte.
Hy sluit aan by die prediking van Jesus se voorloper, Johannes die Doper.
Het die nie gesê dat God mag het om uit klippe kinders van Abraham te verwek nie (Luk 3:8)?
As God dit kan doen, hoeveel te meer nie ‘n klip in ‘n brood verander nie.
Baie aanloklik, want onthou Jesus het al 40 dae in die woestyn gevas en het laterhand regtig honger geword.
Ons kan dit goed begryp.
Ons liggaam het voedsel nodig, en Jesus het ook ‘n liggaam gehad.
Uitleggers het daarop gewys dat met elke versoeking die Satan ‘n spesifieke aspek van Jesus se menslike bestaan aangeval het.
Met hierdie eerste versoeking rig hy sy pyle op Jesus se liggaam, en die feit dat sy menslike liggaam behoeftes gehad het.
Noudat Hy mens geword het, ervaar Jesus ook wat honger is.
En hoewel dit nie ‘n sondige behoefte is nie, is dit tog wel deur die sonde aangetas.
Want soos u sal weet, dis ‘n daaglikse stryd om voedsel reg te gebruik.
Nie te veel nie, nie te min nie.
Mens kan ook – daaroor is die Bybel duidelik – van jou maag ‘n afgod maak.
Jesus het veertig dae gevas.
Kan ‘n menslike liggaam wel so lank sonder voedsel oorleef?
Daar is ‘n voorbeeld uit ons tyd van iemand in Amerika wat vir 44 dae gevas het, en slegs water gedrink het.
Op internet kan u meer oor hom te wete kom.
Hy het 24 kg verloor.
Al roep die Bybel ons nie op om so lank soos Jesus te vas nie, feit is wel dat daar ‘n belangrike boodskap daarin skuil om te vas.
Want inderaad, as jy elke liewe dag ‘n groot porsie vleis eet en hoender as groente, kan jy jouself afvra of jou maag nie dalk jou afgod geword het nie.
Oorgewig is nie ‘n goeie teken nie.
Soms is vas goed, juis om minder te eet.
Dink ook aan vas in ander opsigte.
Jou liggaam se seksuele behoeftes kan ook die oorhand neem, ‘n afgod word.
Is jy die baas daaroor?
Of ander verslawings waarteen jy stry? – vul maar self in.
In ons tyd is dit baie gesond om soms te vas van skermtyd.
Ons dreig om nooit meer na die pragtige skepping om ons heen te kyk en dit in te neem nie, omdat ons oë die heeltyd genael is aan die skerm van ons fone met sy facebook- of tiktokfilmpies.
Verstaan dit mooi, die Bybel roep nie op tot selibaat, of tot die verwydering van vleis uit jou dieet nie.
Maar iemand wat oorgewig is, is nie ‘n goeie soldaat nie, of – die ander uiterste – iemand wat aan anoreksia ly – kan ook nie ‘n energieke arbeider in die koninkryk wees nie.
Satan val vir Jesus aan op sy menslike behoeftes.
Maar Jesus weerstaan dit.
Hy het die krag om wonders te verrig, maar Hy het nie na die aarde gekom om dit vir Homself te gebruik nie.
As mens put Hy sy krag uit God se Woord.
Die mens sal nie van brood alleen lewe nie.
In die woestyn het God aan sy volk manna gegee.
Maar Hy het hulle ook soms laat honger ly – staan daar in Deuteronomium 8:3.
Ja soms beproef die HERE sy kinders, om te sien of hulle hart werklik by Hom is.
Of hulle werklik lewe by elke woord wat uit sy mond uitgaan.
Broer, suster, kyk na Jesus Christus.
Hy is beproef, Hy is versoek.
Hy het dit weerstaan.
Hy het standgehou, in die besef wat sy roeping op aarde was, naamlik om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh 3:8).
Hy het nie ‘n afgod van sy liggaamlike behoeftes gemaak nie.
Vind jou krag in Hom, want is dit nie ook vir jou ‘n daaglikse stryd nie?
Val die Satan nie ook vir jou aan, met gebruikmaking van jou liggaamlike behoeftes nie?
Stel julle liggame in diens van Hom, wat julle met sy kosbare bloed gekoop het!
Christus het vol van die Heilige Gees die versoeking weerstaan.
Hy het nie net van gewone brood geleef nie, maar vanuit die Woord.
Julle het dieselfde Woord ontvang, die Gees werk daardeur in julle, sodat julle julle liggame as tempels aan God toewy.
Kom ons gaan na die tweede versoeking.
(Tema: Ons Here Jesus Christus bly staande tydens Satan se versoekings
1 Satan teiken die liggaamlike behoeftes)
2 Satan teiken die behoefte na roem en eer
Die duiwel streel Jesus se ego.
Watter mens wil nie belangrik wees nie?
Die duiwel bied Hom al die koninkryke van die wêreld aan, alle mag en heerlikheid.
Solank Jesus net vir hom ook krediet gee.
En laat ons eerlik wees, het die duiwel nie ontsettend baie mag nie?
Dit groot Romeinse Ryk destyds wat grootliks onder sy invloed.
Hulle het massaal die afgode gedien, en – moenie vergeet nie – die keiser as god vereer.
En het die duiwel vandag nie ook ontsettend baie mag nie?
Na wie luister die presidente van die lande van die wêreld meer – na God of die Satan?
Is dit nie maar ook na hulle eie ego wat deur die Satan gestreel word nie?
Die president van die grootste land op aarde soek nog meer grondgebied.
Die president van die sterkste land op aarde wil ook ander lande vir homself toeëien.
Hulle het elkeen hulle redes daarvoor, waardeur hulle hulle optrede probeer regverdig, maar aan die einde van die dag kom dit daarop neer dat die Satan hulle ego’s streel.
Ontevredenheid, magswellus.
Agab wat – al het hy hoeveel wingerde – ook Nabot s’n begeer het.
En so word die wêreldleiers Satan se prooi.
Die strewe na mag en invloed, na roem en eer – so ‘n basiese menslike behoefte.
‘n Oerdrang, soos dit in die sielkunde (psigologie) beskryf word.
Elke mens word daarmee gebore.
Maar, God sy dank, al is Jesus as ‘n mens gebore, Hy was sonder erfsonde.
En hier weerstaan Hy die versoeking – daardie menslike behoefte na roem en eer.
Hy sit Satan op sy plek.
Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien!
Broer, suster, volg ook hierin vir jou Heiland en Saligmaker.
Moenie op aardse leiers vertrou, hoe magtig hulle ook lyk nie.
Bly ook die sondigheid wat daar in hulle is raaksien.
Al is dit ‘n feit dat Satan soveel invloed het in die koninkryke van die wêreld, laat ons ook lewe volgens die gebod om die HERE alleen te dien.
En stry teen jou eie sondige oerdrang om die belangrikste te wil wees, om die ‘centre of attention’ te wil wees, soos hulle in Engels sê.
Die Satan is geslepe, hy ken ons swakhede.
Maar wie na Christus kyk, bly staande.
Kom ons gaan na die derde versoeking.
(Tema: Ons Here Jesus Christus bly staande tydens Satan se versoekings
1 Satan teiken die liggaamlike behoeftes
2 Satan teiken die behoefte na roem en eer)
3 Satan teiken die behoefte na beheer oor God
Toe Jesus hierdie versoeking weerstaan het, daag die duiwel Jesus uit om te wys die engele staan agter Hom, ja sal Hom op die hande dra.
Satan haal selfs ‘n Bybelgedeelte aan.
Want twee keer het Jesus hom weerlê vanuit die Skrif.
Satan besef, ek sal ook die Skrif moet gebruik, anders gaan ek nooit vir Jesus kan uitoorlê nie.
Nou, soos ek eerder genoem het, met elke versoeking val die Satan ‘n spesifieke aspek van Jesus se menslike bestaan aan.
Met hierdie volgende versoeking gaan dit oor ‘n mens se verhouding tot sy God.
Hoe is God se heerskappy in jou lewe sigbaar?
Onderwerp jy jouself aan God se heerskappy?
Satan neem Jesus na die plek waar die mense van daardie tyd hulle God kon ontmoet – die tempel.
As jy êrens op God se beskerming kan reken, is dit nie in sy huis nie?
Jesus moet van die tempel se dak afspring, om te wys dat God aan sy kant is.
Want dit sal dan sigbaar word deurdat God engele stuur om Hom op die hande te dra.
Dit staan mos so in die Skrif!
Psalm 91: “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.” (Ps 91:11-12)
Soms hoor mens dat gelowiges aangeval word terwyl hulle in die kerk sit tydens ’n erediens.
Hier in Suid-Afrika byvoorbeeld met ’n gewapende roof.
Of in lande soos Nigerië deur Moslems.
Juis sulke tragedies laat by mens die vraag opkom: Waar was God?
Kon God sy kinders nie beskerm nie?
Selfs nie in sy huis nie?
Satan speel hierop in.
Hy daag vir Jesus uit.
Wys vir die wêreld dat jou God werklik in hierdie huis is!
Gemeente, verstaan u hoe Satan vir Jesus in ’n hoek probeer dryf?
Dit gaan oor die vraag: Kan ’n mens aan sy God voorskryf wat moet gebeur?
Kan ’n mens aan God voorskryf: Nou moet U my beskerm, of U nou wil of nie, of dit deel van u raadsplan is of nie.
Die omstandighede is nou so dat U nie ’n keuse het nie.
Wat is jou verhouding tot God?
Mag jy aan Hom voorskryf: Here, hierdie keer moet U na my luister?
U het hierdie keer nie ’n keuse nie.
U gaan my nou gesond maak.
U gaan my bewaar, ook al doen ek ’n onverantwoordelike ding.
U gaan my seën, ook al kies ek ’n pad wat nie volgens die Woord is nie.
Hoe was Jesus se verhouding tot sy God?
Gemeente, Hy het onderdanig gebly.
Die menslike behoefte na beheer oor God, dit het Hy weerstaan.
En Christus het Satan se misbruik van die Skrif deursien.
Hy het Skrif met Skrif vergelyk.
Want daar staan ook in die Skrif: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” – Deuteronomium 6:16.
Gemeente, moenie die Here se eie woorde misbruik tot jou persoonlike voordeel nie.
Buig voor sy Woord, hanteer dit met ontsag.
Moenie dit laat buikspreek nie.
Aanvaar: God se plan met jou lewe is die regte een.
Toe Jesus hierdie derde aanval deurstaan het, het die duiwel – so eindig ons teks – vir ‘n tyd lank van Jesus gewyk.
Ons Here Jesus Christus het staande gebly tydens al die versoekings.
Maar die duiwel gee nie op nie.
Heel Jesus se bediening op aarde sou gestempel word deur hierdie stryd teen – soos Efesiërs 6:12 dit verwoord – die bose geeste in die lug.
Soos ek genoem het, hoeveel keer ons vir die duiwel en sy demone in die Evangelies ontmoet.
Jesus het hulle invloed pynlik ervaar.
Miskien wel die pynlikste in hoe Satan ook ‘n vastrapplek binne die verbondsvolk gekry het.
En, dink aan hoe die Satan in een van sy 12 dissipels gevaar het – Judas Iskariot – Lukas 22:3.
Christus het gely, baie erg.
En so word ons gewaarsku dat ons Christenlewe nie net pret en plesier sal wees nie.
Ook ons ly onder die aanslae van die Satan, wat soms baie naby kom, in ons en om ons.
Maar wie die oog gerig hou op Jesus Christus, sal krag ontvang om staande te bly te midde van versoekings.
In Hebreërs 2:18 staan dit so mooi: “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word.”
Jy sal ervaar dat die Satan keer op keer ook van jou sal wyk, omdat hy net nie iets kan regkry in jou lewe nie.
So gaan ons vol goeie moed deur die lewe.
Ook jy en ek het die Heilige Gees, wat ons die krag gee om tot die einde vol te hou.
Amen.
Votum
Seën
Ps 91:5,6
Wet
Sb 28:3,4
Gebed
Skriflesing: Lukas 4:1-13
Ps 95:4,5
Teks: Lukas 4:1-13
Preek
Ps 72:6,11
Gebed
Kollekte
Ps 103:10,11
Seën