Die geboorte van die Messias kan nie gekeer word nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2025-12-25
Text: 
Exodus 2:1-6 & Lukas 2:1-7
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 2:1-6 & Lukas 2:1-7

 

Gemeente, in hierdie preek wil ek graag met u op reis gaan, ‘n reis van verwondering deur die Bybel.

Ons kyk vandag na twee geboortes.

Twee geboortes wat meer as duisend jaar uitmekaar lê.

Maar tog twee geboortes wat ooreenkomste vertoon:

Gebore in haglike omstandighede.

Gebore en direk in lewensgevaar.

Maar tog, gebore vir ‘n hoër doel, en daarom wonderbaarlik gespaar.

 

Tema: Die geboorte van die Messias kan nie gekeer word nie

1 Die messias van die Ou Testament

2 Die Messias van die Nuwe Testament

 

1 Die messias van die Ou Testament

Kom ons begin by Moses.

Moses was ‘n voorloper van die Messias.

Moses was self ‘n soort messias.

Die woord messias beteken gesalfde.

In die ou tyd is mense soos konings, priesters en profete gesalf.

Dit was die seremonie waardeur hulle aangestel is.

Hulle is gesalf deurdat daar bietjie geurige olie (dalk vergelykbaar met parfuum vandag) op hulle kop gegiet is.

Die Hebreeuse woord messias beteken dus gesalfde.

‘n Gesalfde is iemand wat die Here aangestel het vir ‘n besondere taak.

Hy het Moses aangestel om sy kinders uit Egipte te bevry, uit hulle slawebestaan.

Van sy geboorte af het God al hierdie plan met Moses se lewe gehad.

Daarom het Hy dinge so gelei, dat hy as babaseuntjie nie in die Nylrivier verdrink is net soos die ander Hebreërseuntjies van sy tyd – op Farao se bevel – nie.

God het dit so gelei dat sy ma hom weggesteek het tussen die riete in ‘n drywende mandjie.

Dat heel toevallig – maar soos ons weet toeval bestaan nie – Farao se dogter, die prinses, hom ontdek het; hom so jammer gekry het, hom as haar eie kind aangeneem het.

So het Moses ‘n bekende in die paleis geword, hy is as ‘n prins behandel, die skoling van ‘n prins ontvang.

So het God dit gelei dat hy gereedgemaak is vir sy taak as messias.

God het Moses aangestel as die groot bevryder van die Ou Testament.

Van sy wieg af – of beter gesê van daardie biesiemandjie in die rivier af – het God hom al daarop begin voorberei.

 

Maar daar was nog groter planne waarmee God toe al begin het.

Moses sou, in sy raadsplan, die voorloper word van nog ‘n groter Messias!

God het dit toe al geweet, al sou dit eers eeue later gebeur.

 

En dit bring ons by nog ‘n geboorte in die Bybel.

Weer ‘n arm onbelangrike ma.

En weer ‘n baie ongebruiklike plek om ‘n baba neer te lê.

Hierdie keer in ‘n krip, ‘n voerbak van die diere.

Weer kan jy jouself afvra: Wat gaan van hierdie kindjie tog word?

Destyds, in Moses se geval, was die vooruitsigte maar skepties.

Wat’s die kans dat ‘n baba in ‘n biesiemandjie wat moet dryf in die rivier dit sal oorleef?

Wat’s die kans dat hy nie deur die Egiptenare ontdek sou word, en tog net soos al die ander seuntjies in die rivier verdrink sou word nie?

 

Dieselfde kan mens seker, vanuit menslike oogpunt, by hierdie nuwe Kindjie vra.

Sy ouers is op reis, ver van hulle huis af.

‘n Hoog swanger ma wat so ‘n reis moes onderneem ...

En toe hulle by hul bestemming aankom, blyk daar in die dorp nie eers ‘n ordentlike slaapplek vir hulle te wees nie, laat staan ‘n geskikte plek vir ‘n ma om geboorte te skenk.

En op daardie ongeleë oomblik word die Baba toe gebore.

‘n Voerbak was die enigste plek om Hom in neer te lê.

 

Wat sou sy oorlewingskanse wees?

En net soos by Moses, was daar ook by hierdie Kind mense wat agter sy lewe aan was.

Herodes het Hom as ‘n bedreiging vir sy troon gesien.

Hy ‘t sy soldate rigting Betlehem gestuur.

Alle seuntjies van twee jaar of jonger moes in daardie dorp vermoor word.

Die geskiedenis herhaal homself.

Babaseuntjies wat in die Nyl verdrink is, destyds in Egipte.

Nou Betlehem se babaseuntjies wat deur soldateswaarde sneuwel.

Weer het ‘n groot rouklag, geween en gekerm opgestyg, sê die Bybel (Matt 2:18).

 

Maar, teen alle menslike verwagtings in, oorleef die Kind dit tog.

Sy ouers kry ‘n Goddelike waarskuwing en hulle vlug net betyds na Egipte.

Daar bly hulle tot die wrede koning Herodes dood is.

God se plan kan voortgaan.

En Hy roep sy Seun uit Egipte, terug na die land van sy geboorte.

 

Twee geboortes, beide ‘n armoedige begin.

Moses se ouers was slawe-arbeiders.

Die eerste drie maande het Jogebed haar baba weggesteek.

Maar die huisie was maar klein, na drie maande was dit nie meer moontlik nie.

En dan word daar ‘n armoedige mandjie van biesies gemaak.

Die 2020-Vertaling noem dit ‘n papirusmandjie.

Die is toe tussen die riete, tussen die palmiete, in die rivier weggesteek.

Wie sou nou daar ‘n baba soek?

En as dit sou skreeu, was dit ver genoeg sodat niemand dit hoor nie.

Maar al met al, ‘n baie ongebruiklike wieg, ‘n baie ongebruiklike plek vir ‘n babatjie.

 

Twee geboortes ...

Ook by die tweede geboorte gebeur daar iets soortgelyks.

‘n Ongebruiklike wieg, ‘n ongebruiklike plek ...

Josef en Maria is nie tuis as die baba gebore word nie.

En in Betlehem is daar vir hulle nie ‘n ordentlike slaapplek nie.

In vers 7 staan: “omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”

Die Griekse woord hier moet waarskynlik nie met herberg vertaal word nie.

Ons lees nog ‘n keer oor ‘n herberg in Lukas, in Lukas 10(:34), waar die barmhartige Samaritaan die gewonde man na ‘n herberg neem.

Maar daar word ‘n heel ander Griekse woord gebruik.

Die Griekse woord wat hier in ons teks gebruik word, vind ons nog ‘n keer terug in Lukas 22(:11), waar dit verwys na die kamer waar Jesus met sy dissipels die laaste pasga geëet het.

Om terug te kom by ons teks, ‘n waarskynliker vertaling moet dus wees:

“sy het ... Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die kamer – oftewel vertrek – was nie.”

Die vertrek, die kamer, die huis waar hulle oorgeslaap het, was skynbaar te vol, dus moes Maria haar baba in die krip lê.

 

Ons moet onthou, die huise was in daardie tyd regtig baie kleiner as wat ons gewoond is.

Dikwels net een kamer.

Dikwels was die ruimte waar die diere oorgeslaap het, aan die huis vas.

Daar is ‘n ou tradisie wat sê daardie ruimte vir die diere, daardie stal, was ‘n grot.

Maar in die Bybel is daar nie aanwysings om dit te bevestig nie.

Maar wat basies die geval was, is dat daar in daardie ruimte waar die mense was, geen plek vir die geboorte was nie, en dus het hulle uitgewyk na waar die diere gewoonlik was.

Daar was darem nog ruimte beskikbaar, en die krip ‘n logiese plekkie om as bedjie te dien.

 

Die woord krip het vir ons al bietjie ‘n romantiese, nostalgiese klank gekry.

Daarom is die woord voerbak dalk beter geskik.

Die Griekse woord het regtig nie ‘n romantiese, nostalgiese ‘flavour’ gehad nie.

Daar is ‘n Griekse uitdrukking wat lui: Die hond is in die krip.

Dis sinoniem vir die ou Hollandse gesegde: Die hond is in die pot.

Wat beteken dat die kos op is.

Die pan is op die vloer gesit dat die hond die laaste bietjie kan uitlek.

Dus, ‘n voerbak was maar ‘n primitiewe ding, waarskynlik van slordige growwe planke, of soms gekap uit ‘n groot klip.

 

Twee geboortes ...

Armoedige geboortes.

Maar, en dis ook ‘n treffende ooreenkoms.

Beide hierdie twee baba’s groei uit tot magtige persone.

Moses, wie se lewe as baba deur die Farao bedreig is, sal later die oppermagtige Farao konfronteer met die 10 plae, die magtige koning kleinkry, en later oor hom triomfeer toe hy sy staf oor die Rooisee uitsteek en die golwe bo Farao en sy leërmagte toemaak.

Sy lyk het uitgespoel op die strand.

 

Gemeente, soos ek aan die begin gesê het, ons gaan op ‘n reis van verwondering deur die Bybel.

Israel se bevryding, Farao se ondergang, was nie sonder rede nie.

God is naamlik besig om sy plan uit te voer.

‘n Plan wat die Satan probeer verhoed het.

Daar is ‘n groot stryd besig om plaas te vind, nie net tussen Moses en Farao nie.

Maar Satan is besig om God se toekomsplanne in die wiele te ry.

Die slangesaad wil dit keer dat die vrou se nageslag bly leef (Gen 3:15).

Hy wil voorkom dat in Abraham se nageslag alle geslagte van die aarde geseën sal word (Gen 12:3).

Hy sluit ‘n bondgenootskap met die uiters magtige Farao.

Hy lag vir Moses, ‘n Hebreërbabatjie in ‘n biesiemandjie.

Maar, moenie God se beplanning onderskat nie.

Satan moet woedend maar magteloos toekyk, hoe Farao se dogter Moses hom vind, lief vir hom raak.

Hoe Moses leier word van die slawevolk.

Hoe Farao verneder word, plaag na plaag.

En nie net hy nie, ook al die towenaars en afgode van Egipteland.

En uiteindelik hoe die Rooisee toemaak bo Farao en sy strydwaens.

So het die messias van die Ou Testament vir ‘n deurbraak gesorg, vir bevryding.

 

Maar, gemeente, Satan gee nog nie op nie.

Hy maak nuwe planne.

Weer wen hy die magtigstes op aarde vir sy saak.

Dit sien ons by die tweede geboorte waarna ons vandag kyk.

 

(Tema: Die geboorte van die Messias kan nie gekeer word nie

1 Die messias van die Ou Testament)

 

 

2 Die Messias van die Nuwe Testament

Lukas 2 begin met ‘n verwysing na hoe magtig keiser Augustus was.

Dikwels het die Romeinse heersers goddelike titels ontvang.

Op ‘n ou inskripsie word Augustus bejubel as Heiland van die menslike geslag.

Augustus was goed bewus van sy magtige posisie.

Op sy bevel moes die hele wêreld in beweging kom om hulle te laat inskryf in sy registers.

Die hele wêreld – dan dink ons aan die Romeinse Ryk, wat onder Augustus se beheer was.

Dit was inderdaad ‘n baie groot ryk.

Dit het reg rondom die Middellandse See gestrek, met die gevolg dat die Romeine van ‘ons see’ gepraat het.

Verder het dit nog ver na die noorde in Europa gestrek, na die ooste in Arabië in, en na die suide in Afrika in.

Een bevel, en daardie hele ryk moes in beweging kom!

 

Ook Josef en Maria.

‘n Ver reis op ‘n baie ongeleë tyd.

En moenie Herodes vergeet nie.

Ook in ‘n magtige posisie.

Op sy bevel moes al die babaseunties van Betlehem uitgemoor word.

Ook Christus se lewe was in groot gevaar as gevolg van hierdie magtige despoot.

En dan was daar nog Cirenius, wat Lukas ook noem.

Hy was die hoogste bevelhebber in die ooste van die Romeinse Ryk.

Maghebbers en tiranne, wat kon maak en breek soos hulle wou.

 

Lukas teken die groot kontras.

Augustus teenoor Jesus.

Die magtige Rome teenoor die onaansienlike Betlehem in ‘n uithoek van die ryk.

 

Maar moenie ‘n fout maak nie.

Dis nie hoe dit gaan bly nie!

Dis die hele rede hoekom Lukas sy Evangelie skryf!

Want later word die rolle omgekeer.

Maria het profeties al daaroor gesing:

“Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.” (Luk 1:52)

Die engel het dit aan haar voorspel, en dit het waar geword:

“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Luk 1:32-33)

Dis nogal ‘n profesie! Ongelooflik!

En ja, Christus het uit die graf opgestaan, Hy het opgevaar na die hemel, Hy regeer daar as die ewige koning, terwyl Augustus en Herodes al lankal dood is.

En daarom vier ons Kersfees, die fees van sy geboorte, terwyl niemand Augustus se geboortedag vier nie.

Want, soos dit so kragtig in Hebreërs staan: U “het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (Hebr 1:3)

“U troon, o God, is tot in alle ewigheid” (Hebr 1:8) – en met God word hier spesifiek verwys van die Messias, ons Here Jesus.

 

Gemeente, soos ek aan die begin gesê het, ons gaan op ‘n reis van verwondering deur die Bybel.

Israel se bevryding, Farao se ondergang, was nie sonder rede nie.

En presies dieselfde geld vir Augustus, en Herodes, en Cirenius.

God is naamlik besig om sy plan uit te voer.

Weer het Satan die plan probeer verhoed.

Met alle mag probeer Satan om God se planne te blokkeer.

Die draak staan gereed om die vrou, wat op die punt was om te baar, om haar kind te verslind sodra sy gebaar het (Openb 12:4).

Satan sluit ‘n bondgenootskap met die uiters magtige Augustus.

Maar, weer gaan God se beplanning, sy raadsplan, deur.

Satan moet woedend maar magteloos toekyk, hoe daar ‘n babatjie in ‘n voerbak gelê word, hoe Hy opgroei, hoe Hy sy Middelaarswerk op aarde begin uitvoer, hoe Hy in heerlikheid uit die graf opstaan!

En nog meer, Satan kon nie keer dat Hy in heerlikheid opvaar en plaasneem op die hemelse troon nie.

 

Ja hierdie Messias, Jesus Christus, het Moses by verre oortref.

Alhoewel altwee uit Egipte geroep is, mog Moses die beloofde land nie binnegaan nie.

Hy het gestruikel, hy het gesondig, daarom het hy in die woestyn gesterf.

Hy was ‘n messias, maar nie sterk genoeg om God se kinders in die beloofde land in te bring nie.

Hy was ‘n middelaar tussen God en die mense, maar nie bevredigend nie.

Daarenteen het die Here Jesus nie gestruikel nie.

Nie tydens sy hele lewe op aarde nie, nie in Getsemané nie, nie voor die Joodse Raad, voor Pilatus, voor Herodes, en weer voor Pilatus nie.

Hy’t nie gestruikel op pad na die kruis nie.

Hy’t nie gestruikel aan die kruis nie.

Tot die bittereinde het Hy sy Messiastaak uitgevoer.

As Middelaar tussen God en mense het Hy perfekte werk gelewer.

Aan die einde van sy lewe, hangende aan die kruis, het Hy uitgeroep: Dit is volbring!

Sy lewenstaak het Hy suksesvol voltooi.

Die duiwel en sonde het Hy oorwin.

Vrede het Hy herstel tussen hemel en aarde.

Die Vader het sy Middelaarswerk aanvaar.

Die Vader het Hom beloon.

Hy’t Hom in heerlikheid uit die graf opgewek.

Hy’t Hom sy wens gegee.

Naamlik dat nie net Hy nie, maar elkeen wat op Hom vertrou, in heerlikheid uit hulle grafte opgewek sal word.

Dit is die blye boodskap van Paasfees.

As Messias oortref Jesus vir Moses in alle opsigte.

Die messias van die Ou Testament ... onvolmaak, maar tog voorloper, wegbereider, bevryder, voorafskaduwing, belofte van die groter Messias, die volmaakte Messias wat op koms was.

 

Kersfees en Paasfees ...

Die een lei na die ander.

Kersfees het gekom, want Paasfees moes kom.

Kersfees was die beslissende stap rigting Paasfees.

Die voerbak lei na die kruis en die graf.

En dit bly nie by ‘n eerste geboorte nie, die lewe word opnuut aan Hom geskenk.

Hy staan op uit die graf, Hy beërwe die ewige lewe.

God sit voet aan wal op ‘n aarde in sonde oud.

Dit herdenk ons in hierdie Kerstyd.

Ons gee ons Vader die eer.

Hy het dit laat gebeur.

Hy het sy Seun geskenk.

Hy het sy Seun beskerm, altans vir tyd en wyl.

Maar toe het Hy sy Seun ook gestraf.

Volgens sy plan het Hy sy beskerming toe teruggetrek.

Christus het dit ervaar:

My God, my God, waarom verlaat U My!

Maar die drie ure duisternis het oorgegaan.

Dit het plek gemaak vir die oogverblindende helder lig van die Paasoggend.

Weer eens: Kersfees en Paasfees.

Twee mylpale in die heilsgeskiedenis.

Ons herdenk dit.

 

Geliefde broer en suster, vier Kersfees.

Dank jou God en Heiland vir nuwe lewe.

Die nuwe lewe in die voerbak in Betlehem, wat vir jou die ewige lewe waarborg.

Glo in die Messias, die Seun van God, vertrou op Hom alleen.

Jesus sê self: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendel, die toorn van God bly op hom.” (Joh 3:36)

 

“O Christus, ons Verlange,

U het ons heil gebring.

Sal ooit ons jubelsange

u lof na waarde sing?

Vervul in welbehae

ons harte met u Gees;

skenk ons in hierdie dae

‘n ware Christusfees.” (Ges 80:1)

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 3:1,2

Gebed

Skriflesing: Exodus 2:1-10; Lukas 2:1-7

Sb 4:1-5

Mattheüs 2

Sb 4:6-8

Teks: Exodus 2:1-6 & Lukas 2:1-7

Preek

Ps 45:1-6, 16

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:2

Kollekte

Sb 1:3-6

Seën