Preek: Lukas 2:34-35
Kersfees is ‘n tyd van geselligheid, mooi beriggies, liefdevolle woorde, feesmale.
Daardie atmosfeer spreek ook uit al die kersversierings in winkelsentrums en in mense se huise, al die delikatesses in die winkelrakke, die volgelaaide tafels waar families en vriende kuier.
Dit is ‘n fees van vrede.
Daar is egter ook ‘n ander ‘fees’, as mens dit so kan noem, wat al hoe gewilder raak in die Westerse wêreld, en dit is Halloween.
Dis nie ‘n fees van vrede nie, maar van geraamtes, doodskoppe, spinnerakke ensovoorts.
Nie ‘n vredige atmosfeer nie, maar eerder beangstigend, onheilspellend.
Halloween stam af van ‘n ou heidense Keltiese fees, wat die oorgang van die somer- na die winterseisoen aangedui het.
Daar is geglo dat in hierdie periode die grens tussen die lewendes en dooies vaag word, en dat oorlede geeste weer kan terugkom aarde toe na die wêreld van die lewendes.
Nou is dit vir ons as Christene nie moeilik om te kies tussen hierdie twee feeste nie.
Tog moet ons erken dat Kersfees, soos dit in ons samelewing gevier word, nie in alle opsigte in lyn is met die Bybel nie.
Want, en dit sien ons in die teks vir vandag, Kersfees gaan nie net oor vrede, geselligheid en liefdevolle woorde nie.
Dit wat Simeon aan Jesus se ouers gesê het, kan eerder as onheilspellend bestempel word:
“Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word – ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan” ...
’n Swaard deur jou eie siel ...
Dit klink amper meer soos ’n Halloween-geraamte met ’n dolk deur sy hart ...
Dit klink nie werklik soos die lieflike Kersatmosfeer wat teenswoordig geskep word nie.
Wat bedoel Simeon eintlik met hierdie onheilspellende woorde?
Kom ons probeer vandag daaragter te kom.
Tema: Die ongemaklike waarheid van Kersfees
Gemeente, soos u weet is konteks so belangrik, as mens ‘n Bybelteks reg wil verstaan.
Daarom moet ons ook aandag skenk aan Simeon se lofsang, net voor ons teks.
Simeon word beskryf as ‘n regverdige en vroom man, wat die verlossing van Israel verwag het.
Hy het as ‘t ware die hele tyd na die donker horison getuur, om te kyk wanneer die eerste strepie daglig sou verskyn.
En toe Josef en Maria by die tempel aankom met die Kindjie Jesus, het die Heilige Gees aan hom duidelik gemaak dat Hy die beloofde Messias is.
En dit het ‘n loflied in sy hart laat opwel.
Simeon het duidelik die Skrifte, die Ou Testament geken.
Nie net die triomfantelike profesieë oor Israel se glorieryke toekoms wanneer die Messias kom nie, maar ook die profesieë oor die lydende Kneg van die HERE.
Die Heilige Gees was op Simeon.
God het nie die hoëpriester gekies of een van die aansienlike oudstes of wetgeleerdes in Jerusalem nie.
Net soos die engele nie aan die Skrifgeleerdes en priesters verskyn het nie, maar aan die onbelangrike herders van Betlehem.
En so was Simeon een van die eerstes om die sonsopkoms van die Messias waar te neem.
Opvallend was die inhoud van die aankondiging wat hy ontvang het.
Simeon sou die Messias te sien kry voordat hy sterf.
Gemeente, vir ‘n Jood destyds moes dit baie teenstrydig geklink het.
Wie sterf dan nog as die Messias gekom het?
Die mense het, met sy koms, ‘n tyd van oorwinning en ewige lewe verwag!
Die vrede en welvaart van Salomo sou terugkeer vir die Joodse volk!
Wie sou dan nog sterf?
Ook uit hierdie vooraf aankondiging is duidelik dat baie in Israel nie die sonsopkoms van die Messias waargeneem het nie.
Juis omdat hulle God se Woord in elke opsig nie geken het nie!
Want in sy Woord is daar nie net sprake van ‘n triomfantelike Messias nie, maar ook van die lydende kneg van die HERE.
Dus, in die vooraf aankondiging klink die boodskap deur dat God se Gesalfde nie direk die dood sou wegneem nie.
Dat na sy koms daar nog steeds mense sou doodgaan, en so ook Simeon.
Ja, selfs die Messias moes eers nog verneder word, selfs tot in die dood!
So, hierdie opvallende vooraf aankondiging vra Simeon se aandag vir die profesieë in die Ou Testament, júís oor die lydende kneg van die HERE.
En dit was dan ook die inspirasiebron vir sy woorde aan Maria.
Sy boodskap aan haar was naamlik nie uitgesproke triomfantelik nie.
Hy het haar eerder gewaarsku!
“’n [S]waard sal deur jou eie siel gaan” as gevolg van hierdie kind (vers 35)!
Watter ma kry soiets te hore, wanneer haar kind gebore word?
Dis nie iets wat jy as ma graag hoor as jou pasgebore baba in jou arms lê nie!
Terwyl Simeon vir Jesus in sy arms vashou, spreek hy eers tot God, en daarna tot Maria.
Eerstens is sy loflied is tot God.
Hierdie pragtige lied wys terug op die Godspraak wat Simeon ontvang het.
Hy prys die HERE vir die lig wat nou verskyn het.
Dit is nog maar die eerste lig en amper niemand sien dit al raak nie, tensy hulle bewus daarop gewys word: Kyk, daar in die ooste, daar kom die eerste strepie lig, daar is dit nie meer swart nie!
Simeon het besef dit is die begin van groot dinge!
Prys die HERE!
My eie oë mag dit aanskou!
Die lig wat U berei het voor die oë van al die volke.
Simeon hou ‘n klein babatjie was.
Hoe sou so ‘n magtelose klein kindjie redding kon bring vir alle volke op aarde?
Maar, besef hy, dit is wel die eerste lig van ‘n nuwe dag.
Van nou af sal dit net helderder word!
En so hoor sy ouers ‘n verstrekkende profesie.
Want Simeon praat nie net oor die Joodse volk nie, maar selfs oor alle volke!
‘n Lig tot verligting van die nasies!
In sy lied dink Simeon terug aan God se ou beloftes, soos in Jesaja 49.
Daar het die HERE al voorspel:
“Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.” (Jes 49:6)
Simeon besef dat dit nou gaan gebeur!
Die nasies is tans elkeen nog op hulle eie dwaalweë.
Hulle tas nog in die duister.
Selfs God se eie volk tas nog in die duister en sien die begin van die sonsopkoms nie raak nie.
Tog het dit nou gekom!
Mense van hierdie tyd, julle gaan groot dinge beleef!
’n Lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van die volk Israel.
Die verligting van die nasies – dink aan die groot beweging vanuit Jerusalem wat vanaf Pinksterdag begin het – soos ons lees in Handelinge.
En dit tot heerlikheid van die volk Israel.
Daarmee word bedoel: Die redding van die nasies is juis die heerlikheid van Israel.
Die Joodse volk naamlik het die voorreg ontvang om draer van hierdie lig te wees.
Broers en susters, besef u dat dit ook u heerlikheid is?
Dit is mos heerlik om die draer van goeie nuus te wees!
Hoe graag wil mense nie die eerste wees om goeie nuus te versprei nie.
As daar ’n baba in die familie gebore is, as iemand vir sy eksamens geslaag het, as iemand verloof is, dan is ons gou om dit op ons whatsapp te sit!
Ook u, as lidmate in die verbond, is gekies om ligdraers te wees.
Dit is u heerlikheid.
Dit is die voorreg, ja die bestaansreg, van die kerk.
Ligdraers in ’n donker wêreld.
Paulus skryf in Handelinge 13 oor die kerk:
“Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Hand 13:47-48)
Maar gemeente, na hierdie loflied, rig Simeon hom tweedens tot Maria.
Hy seën vir Maria en Josef en die Kindjie.
Maar, dan vir ons gevoel dalk teenstrydig, kom hy nou met onheilspellende woorde:
‘n Val en opstanding van baie ...
‘n Swaard deur jou eie siel ...
Wat bedoel hy daarmee?
Simeon voorsien dat die Messias se koms nie net ‘n oorwinningstog gaan wees nie.
Daar gaan ongelukkig baie wees wat oor Hom gaan struikel.
Oftewel, wat hulle gaan vervies, vererg, vir sy prediking.
Selfs wat Hom gaan haat, en wat Hom gaan verwerp.
Wat gaan ontken dat Hy die Messias is wat deur God gestuur is.
En Simeon was in die kol.
Deur hierdie opmerking van hom het die Heilige Gees Maria voorberei op ‘n onstuimige lewe.
Christus het self gesê – Lukas 20:18: “Elkeen wat op die steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, die sal hy vermorsel.”
Dit het Jesus gesê nadat Hy die gelykenis van die landbouers vertel het, wat die baas se seun doodgemaak het.
‘n Gelykenis wat oor Homself gehandel het.
Ook later in die Nuwe Testament kyk die apostels terug op hierdie onstuimige tyd en alles wat daar gebeur het.
Paulus skryf byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 1:23
“maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke”
En Petrus skryf:
“Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling – vir die wat hulle daarteen stamp ...” (1 Pet 2:7)
Dit was harde realiteite, ‘n intens droewige realiteit, wat die verbondsvolk met hulle Messias gedoen het.
In die lig hiervan was Simeon se woorde glad nie oordrewe nie: ‘n swaard deur jou siel!
Inderdaad!
En hy berei Maria daarop voor.
Maria wat nie lank terug nog gesing het, in antwoord op die engel se boodskap aan haar:
“My siel maak die Here groot, en my gees is verheug” (Luk 1:46-47).
Maar Maria se siel sou dus nie net verheug bly nie.
Het jy al daaraan gedink watse pyn jy gaan voel as iemand ‘n swaard deur jou bors steek?
Wel, dis wat Maria gevoel het.
En dan nie net ‘n paar sekondes, soos iemand wat met ‘n swaard deurboor word, en dan dood neerval nie.
Maar keer op keer in haar lewe is daar ‘n swaard deur haar siel gesteek.
Dink net hoe sy daar by die kruis gestaan het, waar haar Seun aan gehang het.
Ek wil as ouer liewerste nie daaraan dink nie, maar dis die waarheid.
Die ongemaklike waarheid van Kersfees.
Die Messias se koms sal verdeeldheid veroorsaak.
Dit sal dinge wat in mense se harte is, buitentoe bring.
Die gedagtes uit baie harte sal openbaar word, sê Simeon.
Die bedoelings van baie mense sal aan die lig kom.
En dit gaan die val van baie beteken!
Maar, God sy dank!, ook die opstanding van baie!
Wat ‘n blye genade!
Soos Christus later vir sy Vader gesê het:
“Ek het hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.” (Joh 17:12)
Gemeente, ook in ons tyd is daar ’n skare mense wat God die Vader aan sy Seun gegee het.
Hy het hulle aan sy Seun gegee om hulle te red.
Dit is die Evangelie, die blye boodskap van Kersfees, ook vir die jaar 2025.
Ook in hierdie jaar het die Evangelie baie harte en lewens verlig.
Maar net soos daar destyds in Simeon se tyd mense was wat die sonsopkoms nie raakgesien het nie – selfs nie wóú raaksien nie – so is dit vandag nog steeds.
Destyds het baie in God se volk hulle gesteur aan hoe die Messias gelyk het.
Die feit dat Hy ‘n Man van smarte was, nie ‘n Oorwinnaar nie.
Tans is daar ook baie mense wat hulle steur aan die feit dat hulle die Messias nie met hulle eie oë kan sien nie.
En dus, redeneer hulle, bestaan Hy nie.
En wil hulle nie glo dat Hy die aarde regeer vanaf sy hemelse troon nie.
Maar genadig is hulle wat wel sy werk op aarde raaksien.
Want sy lig skyn! Ook vandag in ons tyd.
Maar al skyn sy lig oor die hele wêreld, tog is daar nog so baie duister skuilhoeke op aarde, in baie menseharte, in opstandige huise, in regeringsgeboue, in regsale, in skole, noem maar op.
Laat ons daarom ligdraers wees, en mense wakker skud, buitentoe trek sodat hulle die lig kan sien!
Die ou Simeon was in ekstase van blydskap, toe hy die klein baba in sy arms mog vashou.
Terselfdertyd was hy ook nugter.
Dit blyk uit sy boodskap aan Maria.
Moeder, jy gaan swaar tye tegemoet!
Hou daarmee rekening!
Die lig moet nog die duisternis verdryf!
Daar is oorlog op koms.
Hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel.
Die duisternis verdra nie die lig nie!
Gemeente, hoe het Simeon dit alles geweet?
Wel, die Gees het in hom gewerk.
Die Gees het sy verstand verlig om die Bybelse profesieë te verstaan.
Soos die lot van die ware profete in die Ou Testament was, so ‘n lot het hierdie Kindjie ook te wagte gestaan.
Baie sou teen Maria se Seun in opstand kom.
Dink aan die teenstand van die Fariseërs en Sadduseërs.
Jesus moes later oor hulle sê:
Julle getuig van julleself dat julle die seuns is van die moordenaars van die profete!
Mattheüs 23: “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.” (Matt 23:34-35)
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is” (Matt 23:37).
Ongemaklike woorde!
Inderdaad, oorlog tussen lig en duisternis!
Laat moeder Maria veral nugter bly.
Die toekoms gaan nie maklik wees nie, ’n swaard deur jou siel!
En dit geld ook vir ons.
Die duisternis loods steeds ‘n teenaanval.
Maar, dink aan die bemoedigende woorde in Johannes 1, die lig skyn in die duisternis, maar die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:5)!
Simeon het die sonsopkoms gesien.
Ons sien hoe die lig al hoe helderder word.
En ons sien uit na die jongste dag, as die strale van die son van geregtigheid elke uithoek op aarde sal verlig.
Broers, susters, julle is ligdraers in ’n donker wêreld!
Wys die mense op die sonsopkoms.
Wees hoopvol, maar tegelykertyd nugter.
Dit mag dalk langer duur as wat ons hoop.
Miskien moet jy en ek ook sing soos Simeon:
Laat my nou maar gaan in vrede.
Maar ons weet verseker, as ons tyd gekom het om te ontslaap, werk Christus steeds voort.
En die dag gaan kom dat die hele aarde verlig sal wees, dat die kennis en heerlikheid van die HERE die aarde sal oordek soos die waters die bodem van die see (Hab 2:14).
Die opkoms van die Messias, die son van geregtigheid, is onomkeerbaar!
Ons wandel al in sy lig.
Die dag sal kom dat die son nie meer nodig is nie.
Die son of die maan sal nie meer nodig wees om te skyn nie, want die heerlikheid van God sal die nuwe aarde verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel (Openb 21:23-24).
Gemeente, in Kerstyd staan ons hierby stil.
Kersfees is ’n fees van vrede, van liefde, van blydskap.
Terselfdertyd is daar ’n ongemaklike waarheid aan Kersfees.
Ongemaklik, juis vir die wêreld, wat nie soos Simeon en elke opregte gelowige naby die Skrifte leef nie.
Die tekens van die Messias, die tekens van die tye, word nog steeds weerspreek.
Mense knyp hulle oë ook vandag toe vir die koms van die Messias.
Hulle leef asof daar nie ’n oordeelsdag gaan wees nie.
Petrus waarsku ons vir sulke mense, 2 Petrus 3:3-4: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”
Kersfees, en spesifiek Simeon se woorde, skud mense wat op dwaalweë is wakker.
Christus is nog steeds ’n val en opstanding vir baie.
Sy duidelike tekens word nog steeds weerspreek.
Ons vier Kersfees in die lig van die heilsfeite wat daarna gevolg het.
Daar was nie net die geboorte in die krip nie, want die heilsgeskiedenis het aanbeweeg.
Daar was die Messias se lyde en dood; maar ook sy opstanding; sy hemelvaart en Pinkster.
En vandag sit Hy op die hemelse troon, en Hy sal beslis terugkeer om te oordeel die lewendes en die dooies.
Met sy wederkoms sal al die grafte oopgaan, maar nie in die sin van Halloween nie, maar elke mens wat ooit op aarde geleef het, sal inderdaad opstaan, sommiges “sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Matt 25:46)
Of soos Daniël reeds geprofeteer het:
“En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Dan 12:2).
Dit is óók die ongemaklike, maar noodsaaklike waarheid van Kersfees.
Dit spreek uit Simeon se woorde: “hierdie Kind is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie”.
Geliefdes, mag die impak van Kersfeestyd, ook in 2025 en wat nog daarvan oor is, en in 2026, wees dat dit sal lei tot die verligting van die nasies, en tot heerlikheid van Christus se kerk!
Amen.
Votum
Seën
Sb 5:1,2
Wet
Ps 80:1,8,10
Gebed
Skriflesing: Lukas 2:21-40
Sb 3:1,2
Teks: Lukas 2:34-35
Preek
Ps 97:1,6,7
Gebed
Kollekte
Ps 72:2,3
Seën