Die groot Belofteboek in Christus vervul

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2025-12-21
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 17-18
Preek Inhoud: 

Met Advent dink ons aan die Verlosser wat deur God beloof is.

En met Kersfees vier ons die menswording van Jesus Christus.

Daarom het ons vanaand artikel 17 en 18 van die NGB gelees, wat ons ‘n mooi samevatting van hierdie heilsfeite gee.

 

Artikel 17 begin met die woorde “Ons goeie God …”

Dis ‘n uitdrukking wat ons meer as een keer in die NGB vind.

Dit is veral baie toepaslik by die onderwerp van hierdie artikel.

Artikel 17 beskryf God se reaksie op die sondeval.

Hy het die mens weer opgesoek, toe Hy gesien het hoe die homself in die liggaamlike en geestelike dood gestort het.

Uit die feit dat God die mens desondanks opgesoek het, blyk hoe God is – ‘n goeie God.

Hy het toe die mens toe getroos met ‘n belofte.

En dan verwys die NGB na twee Bybeltekste, een uit die Nuwe en een uit die Ou Testament.

Galasiërs 4:4, waar ons lees dat God sy Seun uitgestuur het om ‘n mens te word, gebore uit ‘n vrou, en dit in die volheid van die tyd.

En ‘n teks uit die Ou Testament: Genesis 3:15, die bekende moederbelofte.

 

En ja, daar is nog baie meer beloftes in die Bybel.

Stappie vir stappie het God in die Ou Testament die koms van sy Seun na die aarde voorberei.

In feite staan die hele Ou Testament in daardie lig.

Juis deur beloftes te gee, het Hy sy volk voorberei op wat Galasiërs 4:4 noem, die volheid van die tyd.

 

Ek mag u vanaand hierdie blye Evangelie van Christus se menswording verkondig, en die tema lui:

 

Tema: Die groot Belofteboek in Christus vervul

1 Profetiese, priesterlike en koninklike beloftes

2 Die menswording van die Messias

 

1 Profetiese, priesterlike en koninklike beloftes

Dit sal te veel wees om die beloftes van al die profete oor die Messias vanaand te noem.

Sommiges is vir ons baie bekend, ander minder.

Dink aan Miga se profesie, dat daar ‘n Heerser uit Betlehem in Efrata sal opkom (Miga 5:1) – baie bekend!

Ook die profeet Sagaria het die koms van Sion se Koning aangekondig, ‘n Koning wat totaal anders sou wees as alle ander aardse konings:

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel ...” (Sag. 9:9)

‘n Unieke eienskap van die messiaanse Koning word hier aangekondig.

Hoewel Hy oppermagtig sal wees, sal Hy nog steeds nederig en maklik toeganklik bly – dink aan die verwysing na die esel.

 

Die profeet wat miskien wel die meeste profesieë oor die koms van die Messias oorgedra het, was seker Jesaja.

Profesieë wat stuk vir stuk ‘n juweel is, en almal in Christus vervul.

Dink aan die bekende profesie in Jesaja 7:14: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuël noem.”

Dink ook aan Jesaja 9:5: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.

Hierdie titels is slegs toepaslik vir iemand wat ook God is.

Dink ook aan Jesaja 40:3-4: “’n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE, maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God ... En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word …”

Dit is ‘n profesie wat eerstens dui op hoe die HERE sy volk uit ballingskap, op ‘n grootpad deur die woestyn, weer teruggebring het na die beloofde land.

Maar hierdie selfde profesie is nog veel indrukwekkender vervul in Christus, toe Hy op aarde verskyn het.

Dink verder aan Jesaja 42:1-4: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek ...” en so gaan Jesaja verder.

Ook noem hy: “totdat Hy die reg op aarde gegrond het het ... en die eilande wag op sy leer.”

‘n Pragtige profesie oor die Messias se koms, en wat Hy op aarde gaan kom doen.

Ja, die impak van sy leer sal reik tot by die eilande – ‘n verwysing na die uiteindes van die aarde.

 

Gemeente, ek hoop nie u is al moeg vir Jesaja nie, want hy het nog baie meer profesieë oor die Messias.

Ek noem net nog een, al is daar nog veel meer:

Jesaja 61:1-2: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van ons God; om al die treurendes te troos”

Jesaja beskryf hier wat daar volgens die wet van Moses moes gebeur in die jubeljaar, ‘n jaar van welbehae, ‘n jaar van genade, ‘n jaar van nuwe kanse.

Al was die jubeljaar deel van die Mosaïese wetgewing, het dit in die Ou Testament nooit werklik gerealiseer nie.

Maar Jesaja kondig nou aan dat die Messias wat op koms is hierdie jubeljaar wel sal laat aanbreek!

 

Tot sover het ons na verskillende profete gekyk en hoe hulle Messiaanse beloftes namens die HERE mog oordra.

Daar is nog veel meer.

Dit is pragtige gedeeltes, wat in hierdie Adventstyd dikwels gehoor word – en tereg!

Juis die Ou Testament klink ook in Adventstyd!

 

En gemeente, daar was selfs geleenthede waar vyande, hulle wat God vyandig gesind was, geprofeteer het oor die Messias.

Dink aan die waarsêer Bileam.

Deur sy mond het die HERE die volgende profesie laat uitspreek:

“Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op ...” (Num. 24:17)

Dink ook aan die wyse manne, wat glad nie profete in God se volk was nie, maar heidene uit ‘n ver land.

God het selfs hulle gebruik!

 

Tog is die koms van die Messias nie net deur profete aangekondig nie.

Ons kyk in die eerste punt nie net na profetiese beloftes nie, maar ook priesterlike en koninklike beloftes.

Behalwe vir profete, het God ook priesters ingespan.

Hy het die offerwetgewing ingestel, die tempeldiens.

Al die bloed van diere wat daagliks by die tempel gevloei het, moes die mense na die koms van die Messias laat verlang.

Die diens van die versoening by die tempel was een groot visuele profesie.

En die dag toe die Here Jesus met sy ampswerk op aarde begin, het hierdie profesie in vervulling gegaan.

Johannes die Doper het dit besef, toe hy uitgeroep het:

“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29)

Jesus word hier vergelyk met ‘n Oudtestamentiese lam, wat geslag moet word.

En die manier hoe al vier evangeliste oor Jesus se lewe, sterwe en opstanding geskryf het, maak duidelik dat hulle diep deurdronge was van die besef dat Hy gekom het om die Oudtestamentiese offerdiens te vervul.

Ek kan nog baie meer vertel oor die offerdiens, die tempeldiens, die priesterdiens, maar die tyd laat my nou nie toe nie.

 

En dan derdens, behalwe vir profete en priesters, is die koms van die Messias ook deur konings aangekondig.

En dan dink ons aan Oudtestamentiese konings soos Dawid, Salomo, Hiskia, Josia.

Konings wat geregeer het volgens God se wyse wette.

Tydens hulle bewind kon die mense ‘n voorproefie kry hoe dit gaan wees om onder die heerskappy van die Messias te lewe.

Vrede, harmonie, voorspoed, en dit nie net vir ‘n klein bevoorregte groepie nie, maar ook vir die weduwee en die wees, ook vir die buitelander, selfs vir die diere!

So het die heerskappy van hierdie konings profeties gewys op die Messiaanse eeu van vrede en voorspoed.

En toe Jesus op aarde gekom het, het Hy sy volk ook ‘n voorproefie gegee van die Messianse eeu, dink aan al die genesings wat Hy verrig het, dooies wat Hy opgewek het!

Tog was sy eerste koms na die aarde nie om as koning te kom heers nie.

Eers het Hy as priester, as Hoëpriester, die sonde kom versoen.

Eers daarna het Hy, na sy plaasvervangende sterwe, opgestaan en opgevaar.

Maar nou regeer Hy wel op die hemelse troon.

Tog wag ons nog op die volle verwerkliking van die Messiaanse vrederyk, dat sy heerskappy oor die lengte en breedte van die aarde erken sal word.

 

Ek het nounet die name genoem van konings soos Dawid, Salomo, Hiskia en Josia.

Daar was natuurlik nog baie meer konings in die ou bedeling, die meeste van hulle het afvallig geraak.

Hulle het in hulle amp die koms van die Messias nie aangekondig nie, maar verduister.

Selfs Dawid, Salomo, Hiskia en Josia was uiteindelik teleurstellend as konings.

En dit het nie net vir die konings gegeld nie.

In die ou bedeling was daar ook baie valse profete.

En daar was ook priesters wat afvallig geraak het.

Dit was uiteindelik nie mense, ook nie God se eie volk, wat die koms van die Messias gerealiseer het nie.

In sy almag het God hierdie sondige mense, krom stokke, tog wel gebruik om die koms van die Messias aan te kondig en die volheid van die tyd voor te berei.

Maar aan die einde van die dag was dit alles sy werk.

En die Ou Testament getuig daarvan, van begin tot end.

Aan Hom alleen kom al die eer toe!

En daarom is tot vandag toe die Ou Testament nie vir ons ‘n geslote boek nie, juis ook nie tydens Advent en Kersfees nie.

Ons lees dit as die groot Belofteboek, wat in Christus vervul is!

 

(Tema: Die groot Belofteboek in Christus vervul

1 Profetiese, priesterlike en koninklike beloftes)

 

 

2 Die menswording van die Messias

 

Met Kersfees staan ons stil by die menswording van Jesus Christus.

God het die belofte wat Hy aangekondig het deur profete, priesters en konings vervul.

Hy het sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld gestuur op die tyd deur Hom bepaal.

En wat die mees opvallendste was, is dat hierdie ewige Seun van God die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het.

Hy is as mens gebore, skryf die NGB, uit die geseënde maagd Maria.

Hierdie aanduiding geseënd wys nie op ‘n soort verering van Maria, soos in die Roomse Kerk gebruiklik is nie.

Die woord “geseënd” wys terug op hoe die engel haar aangespreek het:
“Geseënd is jy onder die vroue” (Luk. 1:28), verwysende na hoe bevoorreg Maria was en hoe ryklik die HERE haar geseën het, om moeder van die Messias te mag word.

 

Die NGB beklemtoon dat Jesus sowel ‘n menslike liggaam as ‘n menslike siel gehad het, en met ‘n rede, want as Middelaar moes Hy versoening vir beide die menslike liggaam en siel doen.

Beide is deur die sonde aangetas, beide is deur die sondeval verdorwe.

Die NGB noem ‘n aantal Bybeltekste om dit te staaf dat Hy as gewone en as volledige mens na die aarde gekom het.

Hy het ‘n gewone menslike liggaam gehad.

Hy het ‘n gewone menselike gees of siel gehad.

Hy was geneties verbonde aan die geslag wat van Dawid, wat van Juda afgestam het, en verder ook van Abraham en Adam af.

Maar in teenstelling tot hulle almal was Hy nie sondig nie.

In Hom, sluit art. 18 af, het die belofte uit die Ou Testament waar geword, dat Hy waarlik ons Immanuël is.

Immanuël is die Hebreeuse woord vir: God is met ons.

Dit wil sê, God het self onder sy volk, onder die mense, kom woon, werk, eet, slaap, ja kom lewe in alle opsigte.

Dit noem ons, met ‘n deftige woord in die teologie, Christus se inkarnasie.

Sy menswording, sy vleeswording.

 

Die Skrif gebruik die woord ‘vlees’ op meer as een manier.

Met ‘vlees’ word soms ons sondige aard bedoel.

Vleeslik is dan sinoniem aan sondig.

Dink aan Paulus wat skryf oor die “vleeslike gesindheid” (Kol 2:18).

Of aan Petrus wat ons vermaan om ons te onthou van “vleeslike begeertes” (1 Petr 2:11).

Maar die Skrif gebruik soms ook die woord vlees om net te dui op die algemeen menselike gebrokenheid.

Dink aan Jesaja 40: 6-7: “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk ...”

Hier word die menslike bestaan in al sy broosheid en verganklikheid aangedui.

God se Seun het vlees geword, nie in die sin dat Hy sondig geword het nie, maar wel in die sin dat Hy ’n menslike liggaam en siel aangeneem het, wat ook aangetas was deur die gevolge van die sonde.

Hy het nie die vlees van Adam van vóór die sondeval aangeneem nie, maar die vlees van Adam van ná die sondeval.

’n Menslike bestaan wat deur die sondeval verswak en ontluister is.

As Middelaar het Hy juis gekies om in daardie toestand te kom.

 

Nie dat dit die begin van ons Here Jesus Christus se bestaan was nie.

In sy Godheid bestaan Hy van ewigheid af.

En as Christus was Hy ook al in die Ou Testament aanwesig, egter nog nie in hierdie brose menslike hoedanigheid nie.

In die Ou Testament was Hy die Engel van die verbond, wat die volk gelei, beskerm, versorg het.

Wat ook soms sy volk geskasty het.

Wat voortdurend met sy volk gepraat het, woorde van troos, belofte, seën, maar ook waarskuwing en dreiging.

 

Ons lees in die Bybel dat die Satan talle pogings onderneem het om sy koms in die vlees te dwarsboom.

Dit het begin met Kaïn wat sy broer Abel vermoor het.

Mens kan ook dink aan hoe Farao die uitverkore volk in Egipte probeer ombring het.

Mens kan dink aan hoe Saul vir Dawid vervolg het.

Mens kan dink aan hoe Atalia die hele koninklike geslag probeer uitroei het.

Mens kan dink aan Haman se komplot om die Jode uit te roei.

Mens kan dink aan hoe wêreldmagte deur die Satan in beweging gebring is om Israel of uit te roei, of te verlei tot afgodediens.

Tog het God al Satan se pogings laat misluk, en dit was ‘n ongekende oorwinning vir God se heilsplan, toe Jesus as mens uit ‘n gewone vrou, Maria, gebore is.

Sowel in die NGB, asook in die ou geloofsbelydenisse uit die vroeë kerk, klink die verwondering oor hoe ‘n groot wonder dit was, dat God se Seun vlees geword het, en hoe Hy as een Persoon sowel ‘n menslike as Goddelike natuur in Homself verenig het.

 

Daar is nog een aspek wat ek wil aanroer, met betrekking tot Christus se menswording.

In Filippense 2:7-8 staan dat Christus Jesus Homself ontledig het “deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
Waarin lê hierdie vernedering eintlik, wat Jesus gewillig ondergaan het?

Oor hierdie vraag is daar al deur die eeue heelwat gedebateer.

Was die blote feit dat Hy ‘n mens geword het, ‘n vernedering?

Dit is ‘n sienswyse wat mens veral kry by hulle wat deur die gnostiek beïnvloed is.

Die gnostiek was ‘n denkwyse in die oudheid wat alles wat materieel, liggaamlik is, as sleg beskou het.

Die menslike liggaam is van ‘n laer orde, dit is materieel, inherent sleg, tydelik.

Daarenteen is die geestelike goed, verhewe, ewig.

Volgens hierdie sienswyse was die blote feit dat  Jesus ‘n liggaam gekry het, dus vir Hom ‘n vernedering.

In Guido de Brès se dae was dit onder andere die geval by die Roomses en die Wederdopers.

Hierdie sienswyse lê diep ingebed in die wêreldbeskouing van die Roomse Kerk.

Alles wat met die liggaam te make het, dinge soos voedsel, klere, seksualiteit, is van ‘n laer orde, verwerplik, inherent sleg.

Daarom dat priesters hulle van sulke dinge moet onthou, of so min moontlik moet gebruik, en veral op die geestelike moet fokus.

Tot vandag toe kan hierdie sienswyse ons ook beïnvloed, as ons ‘n teks soos Filippense 2 lees.

Onbewus is ons dan nog steeds beïnvloed deur die gnostiek.

 

Maar dit is nie wat hierdie teks bedoel nie.

Christus se vernedering het nie daarin gelê dat Hy ‘n menslike liggaam ontvang het nie.

Al is dit baie ongebruiklik dat die Skepper besluit om deel van sy eie skepping te word.

Maar om mens te word op sig, dit was nie vir Christus die vernedering nie.

Sy vernedering het daarin gelê dat Hy, as Middelaar, bewus gekies het om ‘n menslike liggaam aan te neem, wat gebuk gegaan het onder die gevolge van die sonde, wat sterflik geword het.

Hy het nie ‘n onsterflike liggaam aangeneem, soos Adam vóór die sondeval gehad het nie.

Hy het ‘n liggaam aangeneem wat reeds aangetas was deur die vloek op die sonde.

Christus, wat self geen sonde gehad of gedoen het nie, wat uit die hemelse heerlikheid gekom het waar daar geen sonde is nie, Hy het Homself verneder deur deel te word van hierdie vuil sondige wêreld, nie net deur daarin rond te beweeg nie, maar deur selfs ‘n liggaam aan te neem wat reeds die dood rondgedra het.

Dit is wat hierdie teks uit Filippense bedoel met sy vernedering.

Hierdie teks gebruik nog ‘n woord: Christus het Homself ook ontledig.

Dink aan ‘n koning wat vir ‘n rukkie sy kroon afhaal, sy koninklike mantel uittrek, en in gewone klere homself begeef onder die armstes van die armes.

Dis wat Christus gedoen het.

By sy koms in die vlees het Hy sy hemelse heerlikheid vir ‘n rukkie agter Hom gelaat.

Hy het tydelik afstand gedoen van sy Goddelike hoogheid, sy hoë en heerlike en magtige posisie.

Hy het selfs die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem.

Hy het op aarde geleef en gewerk in die posisie van ‘n dienskneg.

Hy gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien.

So het Hy, deur Homself te verneder en te ontledig, Homself as Middelaar op aarde begeef om ons sondeskuld te kan dra.

 

Die praktiese troos vir ons is, dat ons mag weet dat Hy ons na beide liggaam en siel verlos het van die sonde.

Ja Hy het beide verlos, siel én liggaam.

Die feit dat ek ‘n liggaam het, is nie sondig nie.

Die feit dat ek van klere hou, is nie sondig nie.

Die feit dat ek van voedsel hou, is nie sondig nie.

Die feit dat ek heg aan aardse dinge, is op sig nie sondig nie.

Die feit dat ek ‘n seksuele wese is, is op sig nie sondig nie.

En Christus verlos elke aspek van hierdie bestaan van my van die vloek van die sonde.

Ek mag opstaan in ‘n nuwe lewe, waarin ek na liggaam en siel in harmonie mag lewe volgens sy oorspronklike bedoeling.

Christus se menswording, sy volledige menswording met ‘n liggaam en ‘n siel, maak dit vir my moontlik.

Hy het Middelaar van beide geword.

 

Laat ons dit herdenk, hieroor nadink, dit vier in die Kerstyd.

Christus se menswording het ‘n geweldige ryk en diep betekenis.

Dit was die D-day vir die mensheid, in die groot stryd teen die Satan en sy magte.

Christus het voet aan wal gesit in die vyandige, oorlogsgeteisterde gebied.

Sy oorwinningstog, wat begin het in die krip te Betlehem, kon nie meer gestuit word nie, al het daar nog 33 jaar van intense oorlogsvoering voorgelê.

Hy het oorwin, opgevaar na die hemel, waar Hy gekroon is as Koning en tot vandag toe regeer.

En ons kan met goeie moed die stryd voortsit, wetende dat die oorwinning reeds behaal is.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 2:1

Gebed

Skriflesing: Jesaja 7:13-14; 9:5-6; Lukas 1:26-33; Filippense 2:1-11

Sb 22:1-5

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 17-18

Preek

Sb 2:2,3

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 5:1,2

Kollekte

Ps 146:4-8

Seën