Nie Jerusalem nie, maar Betlehem

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-12-07
Text: 
Miga 5:1
Preek Inhoud: 

Preek: Miga 5:1

 

Ons is nou in Adventstyd.

In hierdie tyd hoor mens dikwels die naam ‘Betlehem’.

Dink maar aan die volgende lied:

Kom alle getroues,

Vrolik en vol vreugde,

Kom nou, o kom nou na Betlehem!

 

Wat beteken dit eintlik?

Die wyse manne uit die Ooste het na Betlehem gegaan.

Herodes het nie met hulle saamgegaan nie.

Die priesters en skrifgeleerdes het ook nie saamgegaan nie.

Kom nou, o kom nou na Betlehem ...

Wat wil dit sê?

Kom ons luister vanoggend na die betekenis van hierdie bekende woorde.

 

Die tema vir die preek is:

 

Tema: Nie Jerusalem nie, maar Betlehem

 

“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering ...”

Dis die woorde van die profeet Miga in ons teks.

Wie was Miga eintlik?

Hy was iemand van die platteland af, uit ’n klein dorpie.

Maar die HERE gee vir hom ’n boodskap om te bring in die groot stede van toe.

Die hoofstede Samaria en Jersualem.

Dis ’n dreigende boodskap.

’n Aankondiging van oordeel oor hierdie stede.

’n Oproep tot bekering.

 

Nou is Betlehem vir ons vandag ’n baie bekende naam.

Ons vergeet soms dat dit maar ’n gehuggie was, sommer niks in die oë van die Jerusalemmers nie.

Ek het gewonder watter voorbeeld mens vandag kan gebruik ...

Dalk iets soos Kaapstad teenoor Kakamas.

Kakamas is niks vergeleke met Kaapstad nie.

Of Pretoria teenoor Pofadder ...

Maar die HERE kies nie vir Kaapstad of Pretoria, nie vir Jerusalem of Samaria nie.

Nee, Betlehem, daardie gehuggie kies Hy ...

 

En Jerusalem kry ’n waarskuwing.

Jerusalem sal gespaar bly, net soos die stad Ninevé, maar dan moet daar berou en inkeer kom!

Jerusalem moet weer klein word voor God, hy moet sy hoogmoed laat vaar.

Jerusalem die groot stad, is slegs gebou op God se genade.

Sonder God kan hulle niks nie.

Dit moet hulle weer leer besef.

 

En dit is – in kort – die boodskap van Miga.

Ons teks het alles hiermee te make.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem ...

Die dorpie Betlehem, daardie klein gehuggie, sê die HERE, dáár sal die koning gebore word.

Jerusalem slaag nie daarin nie.

Jerusalem kry dit nie reg om iemand te verskaf wat Israel sal verlos van die vyand nie.

Maar Betlehem, daardie ou gehuggie, Betlehem sorg vir ’n Redder!

 

Hiérdie koning sal daarvoor sorg dat oorlog plek maak vir vrede.

Hiérdie heerser sal die simbole van militêre mag – perde en strydwaens – uitroei.

Die wapens sal omgesmee word tot vredessimbole:

Swaarde tot ploeë.

Spiese tot snoeimesse.

Hiérdie heerser sal daarvoor sorg.

En sy oorsprong is van baie lang gelede.

In ons teks staan: uit die dae van die ewigheid!

 

Wat word presies bedoel met sy oorsprong?

Op hierdie vraag bied die dorpie Betlehem ook die antwoord.

Want, vanwaar ken ons eintlik hierdie dorpie in die Ou Testament?

Inderdaad, dit was die plek wat Dawid gebore is!

Betlehem – daar het die koningshuis van Dawid begin.

Hierdie heerser, sê die profesie, sal dus ’n direkte afstammeling wees van koning Dawid.

Net soos koning Dawid sy volk bevry het van die vyand, so sal sy verre nasaat, die heerser oor wie Miga nou praat, dit óók doen.

Hierdie heerser het dus goeie papiere, hy is van koninklike afkoms.

’n Baie ou en beroemde dinastie.

 

Nou wonder u miskien:

Ja maar wat is nou so besonder hieraan?

Want in daardie dae wás daar mos ’n afstammeling van Dawid op die troon?

Die Davidiese koningshuis hét mos nog in Jerusalem geregeer?

Inderdaad, dit was so!

Maar die boodskap van Miga is daarom des te konfronterender: Nie Jerusalem nie, maar Betlehem!

Hierdie heerser, hierdie koning, wat bevryding en vrede sal bring, hy kan – sê Miga – nie in Jerusalem gebore word nie.

Hierdie hoofstad is veels te korrup daarvoor.

Mens sal moet teruggaan na soos wat dit in die begin was:

Terug na die getroue koning Dawid, wat in Betlehem gebore is.

Dáár het Samuël hom gaan salf, toe hy nog ’n nederige herderseun was.

Die volk het weer só ’n koning soos Dawid nodig.

Jerusalem, en sy hoogmoedige koning, kan van die gehuggie iets leer.

Nie Jerusalem nie, maar God kies ’n klein plattelandse dorpie uit.

Van dááruit sal die redding kom.

Redding ook vir die groot stad.

Redding selfs vir die hele wêreld!

 

Broers en susters, as óns die naam Betlehem hoor, dan klink dit vir ons lieflik in die ore.

Ons dink dan aan Kersliedere:

te Betlehem gebore

as Kindjie in ’n stal ...

Maar in die dae van Miga was dit nie so nie.

Die naam Betlehem het toe eerder ’n onheilspellende klank gehad.

Betlehem was allang verlede tyd.

Die familie van Dawid, die koninklike huis het sy setel in Jerusalem gehad, al vir eeue.

Almal het reeds van Betlehem vergeet.

 

Wanneer Miga nou dus sê dat die heerser in Betlehem gebore sal word, impliseer dit dus éintlik ’n vernedering vir die huis van Dawid.

Aan die een kant goeie nuus, maar nie sonder vernedering nie.

Jerusalem moet eers op die knieë gedwing word.

Dit is naamlik die doel van Miga se profesie.

 

Kom ons beweeg nou aan na die Nuwe Testament, noudat ons weet wat die bedoeling was van hierdie profesie van Miga.

Kom ons kyk nou hoe ons hierdie selfde profesie in die Nuwe Testament terugvind.

Ons het ’n gedeelte uit Mattheüs 2 gelees.

Dis ’n baie bekende geskiedenis.

Die wyse manne uit die Ooste wat by koning Herodes in Jerusalem gekom het.

Koning Herodes wat geskrik het.

Ja, hulle het na Jerusalem gekom, die hoofstad van die Jode, maar Jerusalem het van niks geweet nie.

Herodes het haastig die owerpriesters en skrifgeleerdes bymekaar geroep.

Hulle het die Ou Testament geraadpleeg, en met die antwoord gekom:

Te Betlehem in Judea, want so is daar deur die profeet geskryf:

En jy Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jóú sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.

Hierdie is ’n direkte verwysing na die profeet Miga.

En toe die wyse manne dit hoor, het hulle direk na Betlehem vertrek.

Nou is dit wel baie opvallend watter houding die skrifgeleerdes ingeneem het.

Aan die een kant het hulle presies geweet wat daar in die profesie staan, dat die profeet Miga praat oor Betlehem.

Maar aan die ander kant het hulle geen tree gesit in dié rigting nie.

Die wyse manne het alleen na Betlehem vertrek.

Hulle moes nie in Jerusalem wees nie, maar in Betlehem.

Hoe kom dit eintlik, dat die Skrifgeleerdes wel die plek ken, maar tog nie daarheen gegaan het nie?

Die antwoord op hierdie vraag is nie so moeilik nie.

Hierdie Skrifgeleerdes het wel die profesie van Miga gelees, maar hulle het dit nie verstaan nie.

Hoekom nie?

Om presies dieselfde rede as destyds in die dae van Miga.

Ook húlle was hoogmoedig – belangrike mense in die groot stad Jerusalem.

En hulle het by wyse van spreke soos volg gedink:

Ook al sou die Messias in Betlehem gebore moet word, dan nog kan dit nie nou wees nie.

Want, ONS weet dan van niks nie.

Ons, die belangrike mense in Jerusalm.

Dis mos absurd dat vreemdelinge uit die Ooste ons moet kom vertel dat ons Messias gebore is.

Dis ondenkbaar!

As soiets groots gaan gebeur, hoe kan dit dat die heidene dit eerste agterkom?

Dis onmoontlik!

En dus het die Skrifgeleerdes en owerpriesters gewoon in Jerusalem agtergebly.

Hoogmoed het hulle gekeer om die profesie te verstaan.

Siende blind noem mens dit.

 

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

’n Hoogmoedige kan hierdie profesie nie begryp nie.

Eers moet jy op die knieë gaan, jouself verneder, besef dat mense nie veel vir God kan doen nie, maar dat God veel doen vir klein mense.

Dat God groot dinge doen, wonders, deur die mins belangrike mense, op die mins belangrike plekke.

 

Geliefde broers en susters, dit is ook die boodskap vir ons vandag.

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem.

In die profesie van Miga lees ons iets oor die karakater van God.

Maria, Jesus se ma, het treffend daaroor gesing:

“Soos stoppels voor die wind

dryf Hy die mensekind,

met als sy trotse planne.

Sy arm, met sterkt’ omgord,

het van hul troon gestort

maghebbers en tiranne.” (Sb 1:4)

 

Maar, sing sy:

“Wie klein is voor sy oog,

het God in eer verhoog,

wie honger is, versadig;

maar Hy ’t in onspoeds-uur

die rykes weggestuur,

verleë’ en onversadig.” (Sb 1:5)

 

Miga het geprofeteer: Die heerser sal uit Betlehem kom.

En so het dit gebeur:

Jesus is in Betlehem gebore, die dorpie van Dawid.

God beskaam die hoogmoedige mense in Jerusalem.

Hy slaan die Skrifgeleerdes oor, die owerpriesters, die Sanhedrin, kerkleiers, die professore, die presidente, die invloedrykes, al die belangrikes.

Hy kies Maria, ’n arm meisie uit ’n arm dorpie.

En dit was die heidene wat aan die Koning van die Jode as eerste hulde bewys het.

Toe hulle hul koninklike geskenke – goud, wierook en mirre – voor die krib neerlê, toe was Jerusalem afwesig.

Tussen die reëls lees mens die teleurstelling, die ysige afwesigheid van ook maar die kleinste geskenkie van die owerpriesters en Skrifgeleerdes, nie eers ’n kaartjie by wyse van spreke nie.

En dit terwyl hulle tog selfs van hierdie heidene die berig ontvang het van sy geboorte!

Terwyl dit in hulle eie profete opgeskryf was, hulle het dit nog selfs aan die heidene voorgelees!

In die dorpie Betlehem vind die belangrikste gebeurtenis ooit plaas, maar die groot stad Jerusalem is afwesig.

 

Geliefde broers en susters, ons is nou in die Adventstyd.

Ons leef na Kersfees toe.

Laat ons hierdie profesie van Miga ter harte neem.

Nie net lees nie, maar ook die betekenis daarvan laat inwerk op jouself.

Ons as kerk kry hier te hore, net soos die inwoners van Jerusalem:

Gaan na Betlehem, verneder jou deur na hierdie klein arm dorpie te gaan, gaan kniel daar neer.

Juis in die kerk, soos in Jerusalem, is dit soms moeilik vir ons mense om te kniel.

Dit klink raar, maar dit is so.

Jerusalem die groot stad, is slegs gebou op God se genade.

En dit geld ook vir die kerk.

Die kerk bestaan net uit genade.

Alles is genade.

Mense in die kerk het die Heiland net soveel nodig soos mense buite die kerk.

Laat ons na Betlehem gaan, dit wil sê, laat ons op die knieë gaan.

Dit vra selfopoffering, aflê van jou hoogmoed, dat jy jou ou mens kruisig.

En dit beteken dat ons werk maak van dit wat by ’n Christen pas.

Paulus noem die deugde wat pas by ’n Christen:

Blydskap, eensgesindheid, ootmoed.

Dat die een die ander uitnemender ag as homself.

Elkeen let nie net op sy eie belang nie.

Laat die gesindheid in jou aanwesig wees, wat ook in Jesus Christus was.

 

Nie in Jerusalem nie, maar in Betlehem moet ons wees.

Broer, suster, begryp u nou die betekenis hiervan?

Nie Jerusalem nie, maar Betlehem ...

Dit is simbolies bedoel.

Ek en jy gaan nie ons koffers pak en ’n vliegkaartjie koop om Betlehem in Israel te besoek nie.

Maar ons kan wel in die komende weke weer leer om op die knieë te gaan.

Dit is die bedoeling van Adventstyd.

Nederig, nie hoogmoedig nie.

Die Here dank vir die grootste geskenk ooit.

Vir die Messias, die Redder van die hele wêreld.

 

En dis die einste betekenis van die bekende lied:

 

“Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde,

O kom in die géés nou na Betlehem.

Loof daardie Kindjie tot ons heil gebore.

Kom búíg daar in aanbidding,

Voor Jesus, die Heer.”

 

Amen.

 

Liturgie: 

 

Votum

Seën

Ps 61:1

Wet

Ps 61:2

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 2:1-12

Sb 1:1

Teks: Miga 5:1

Preek

Sb 4:1,3

Gebed

Kollekte

Sb 4:6,7

Seën

Amen