Die Lofsange van die moeders van die HERE se gesalfdes

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2025-12-14
Text: 
1 Samuël 2:1 & Lukas 1:46-47
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Samuël 2:1 & Lukas 1:46-47

 

In hierdie tyd dink die wêreld veral aan die geboorte van ‘n Kind.

Vandag staan ons ook daarby stil.

Omdat dit Advent is, maar ook omdat daar ‘n baba gedoop is.

As ‘n baba gebore word, wonder die ouers natuurlik wat hulle kind se toekoms gaan wees.

Vir Hanna en Maria het dit ook gegeld.

Al was een ding alreeds vir hulle duidelik.

Hulle kind gaan ‘n dienskneg van die Allerhoogste word.

Dit was Hanna se gelofte, ‘n gelofte wat sy ingelos het.

En by Maria het die engel Gabriël dit aangekondig.

En by Regardt is dit ook al duidelik.

Sy ouers het hom na die kerk gebring om hom aan die HERE te wy.

Die HERE het sy verbond bevestig deur die doop.

Hy is nou bestem om in sy diens op te groei en vir Hom te lewe.

By Samuel was sy lewensdoel reeds bekend.

By Jesus ook.

By Regardt sal die HERE dit in die toekoms uitwys, in watter hoedanigheid en op watter wyse hy sy lewe aan Hom sal wy.

 

 Tema: Die Lofsange van die moeders van die HERE se gesalfdes

  1. Die oorsprong van hulle lofsange
  2. Die inhoud van hulle lofsange

 

  1. Die oorsprong van hulle lofsange

Ons het vanoggend twee liedere uit die Bybel gelees.

Dalk het dit u opgeval hoeveel ooreenkoms daar is tussen hierdie twee lofliedere.

Dis nie toevallig nie.

Die lofsang van Hanna was vir elke gelowige Jood ‘n bekende lied.

Mens sou kon sê, by wyse van spreke, Maria het as kind Hanna se loflied op laerskool of katkisasie uit haar kop geleer.

En die versies wat jy op laerskool geleer het, staan in jou geheue gegrif vir die res van jou lewe.

By mense wat dementeer is dit bekend dat hulle eerste vergeet wat hulle die onlangste geleer het, en dat hulle die langste onthou dit wat hulle in hulle kinderjare geleer het.

‘n Groot skat gee ons vir ons kinders, as hulle liedere en Bybelgedeeltes in hulle jeug uit hulle koppe moet leer.

 

En wat opval, is nou dat Maria haar eie lied sing, haar eie lied in reaksie op wat die engel aan haar meegedeel het, en in afwagting op dit wat haar te wagte staan, dat Maria vir haar lied die struktuur en terme gebruik van hierdie bekende loflied van Hanna, wat in haar geheue gegrif gestaan het.

Soos die taalgebruik van kerkmense deurspek kan wees met Bybelse uitdrukkings, wat hulle in hulle jeug uit hulle kop geleer het, so sien mens dit ook by Maria.

Maria was waarskynlik nie ‘n geleerde vrou nie, sy’t nie matriek of ‘n universiteitsgraad gehad nie.

Tog sing sy ‘n indrukwekkende lied.

Hoe is dit moontlik?

Dis moontlik omdat sy as meisie van gelowige ouers tydens haar kinderjare die Skrif leer ken het.

Sy het nie haar eie Bybeltjie gehad nie.

Boekrolle was peperduur, en die meeste mense was ongeletterd.

Maar groot dele van die Skrif het sy uit haar kop geleer.

So ook die lofsang van Hanna.

En haar gelowige opvoeding gebruik die Heilige Gees nou as Maria haar eie lofsang sing.

Maria uit haar gevoelens deur die taal van die Bybel te gebruik.

Soos elders staan, Maria het al hierdie woorde in haar hart bewaar en oordink (Lukas 2:19).

Nie vir niks staan daar: Sy het al hierdie dinge in haar hart bewaar nie.

As daar so iets groots in jou lewe gebeur, is die kans groot dat jy ook elke detail onthou.

En daar kom by, soos ek genoem het, dat mense hulle geheue vroeër veel meer gebruik het, en hulle geheue veel meer geoefend was, omdat daar veel minder papier was of wat ons deesdae noem ‘sekondêre geheue’.

 

So was Hanna se loflied vir Maria bekende woorde.

Let maar op.

Hanna het gesing: “My hart jubel in die HERE”.

Maria sing: “My siel maak die Here groot.”

Hanna het gesing: “Niemand is heilig soos die HERE nie.”

Maria sing: “heilig is sy Naam”.

Hanna het gesing: “Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie”.

Maria sing: “Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.”

Hanna het gesing: “Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus ... Die HERE maak arm en maak ryk”.

Maria sing: “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”

Hanna het gesing: “Hy verneder, ook verhoog Hy”.

Maria sing: “Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.”

 

Deur die eeue heen is daar al heelwat gespekuleer oor hierdie lofliedere van Hanna en Maria.

Daar was al teoloë wat dit as onmoontlik beskou het dat hierdie vroue hulle liedere self kon gedig het.

Maria was miskien nog nie eers 20 jaar oud nie, Hanna was dalk bietjie ouer.

Daarom, beweer hierdie teoloë, was dit waarskynlik dat Lukas en die skrywer van Samuël, wat geleerde manne was, hierdie liedere agteraf aan die vroue toegedig het, by wyse van spreke in die mond gelê het.

Maar, vir so ‘n stelling is daar geen bewyse nie.

Net soos die skrywer van Samuel die geskiedenis van koning Dawid noukeurig beskryf het later in sy boek, en net soos Lukas die hele geskiedenis van Jesus se lewe op aarde noukeurig ondersoek en vir sy vriend Theofilus opgeskryf het, net so het hulle dit gedoen wat betref hierdie lofliedere.

Hulle het nie self stories of mooi dinge bygevoeg nie.

 

Ons vra in die eerste punt die vraag:

Wat is die oorsprong van hierdie lofsange?

Die antwoord is eenvoudig: Dit het gekom uit die hart van gelowige vroue, wat van jongs af opgevoed was in die Woord van die HERE.

So het die Heilige Gees hulle geïnspireer.

En toe hierdie groot gebeurtenis in hulle lewe kom – om geboorte te skenk aan die gesalfdes van die HERE – het dit hulle lewens so geraak, dat ‘n lofsang uit hulle harte opgeborrel het.

En is dit nie ook so met gelowiges vandag nie?

Spesifiek ook ma’s wat geboorte mag skenk aan ‘n verbondskindjie nie?

Wel daar nie ook ‘n lofsang in jou hart op nie?

 

Die tema vir die preek is: Die Lofsange van die moeders van die HERE se gesalfdes

  1. Die oorsprong van hulle lofsange)

 

  1. Die inhoud van hulle lofsange

Daar spreek ‘n diep geloof uit hierdie liedere.

Die deurlopende tema van beide kan mens as volg saamvat:

God is ongekend almagtig.

Hy gaan nou reg en geregtigheid op aarde herstel.

Hy gaan nou sy beloftes gestand doen.

 

Ons moet onthou dat hierdie liedere ‘n reaksie is op die HERE se werk.

Hy het ‘n wonder gewerk in die tot dan toe onvrugbare Hanna se lewe.

En Hy het wonderbaarlik deur ‘n engel aan Maria verskyn.

Beide vroue is onder die indruk van God se almag.

Dat God geregtigheid op aarde gaan herstel.

Hy kan magtiges van hulle trone afruk en eenvoudiges verhoog.

Dit is ‘n element wat mense vandag dikwels oor die hoof sien, as ons Kersfees vier.

Die atmosfeer wat rondom Kersfees geskep word is meestal lieflik, sag en sonder om melding te maak van oorlog en geweld.

Dis op sig nie verkeerd nie, maar dis eensydig, want daar is meer.

Hierdie liedere sing van meer as net dit.

Hanna sing: “Niemand is heilig soos die HERE nie ... Spreek nie voortdurend alte hoog nie .. Die boog van die helde is verbreek ... Die HERE maak dood en maak lewend ... Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis ... Die wat met die HERE twis, word verpletter; die HERE oordeel die eindes van die aarde”.

Indringende woorde!

Hierdie antitese, hierdie diep teenstellings op aarde klink ook in Maria se lied:

“Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam ... Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.”

 

Hierdie is nie wiegeliedjes, waarmee ‘n ma haar baba aan die slaap sing nie.

Rondom die vredige tafereel van ‘n kindjie in ‘n krip, hang orals die bedreiging van oorlog.

Dink maar wat na die geboorte sou gebeur.

Die gesin moes halsoorkop na Egipte vlug, waarna alle babas onder twee jaar in Bethlehem uitgemoor is.

Maria se lofsang is dus heel toepaslik.

Dis ‘n lied waaruit die besef van stryd en oorlog en spanning spreek.

Dis ook wat hierdie twee seuntjies in hulle lewe te wagte gestaan het.

Dink aan alles wat met Samuel in sy lewe gebeur het.

En Jesus se veelbewoë lewe op aarde – ons ken dit.

 

Dis dan ook nie toevallig dat die boodskap van beide liedere dieselfde is nie.

Hanna se lied het ontstaan uit die feit dat sy ‘n seun van God ontvang het, terwyl almal gedink het sy is onvrugbaar.

Terwyl Elkana se ander vrou, Penina, baie kinders gehad het.

Terwyl Penina onophoudelik vir Hanna gepes het.

In hierdie konteks sê Hanna dan dat die Here die geringe uit die stof ophef.

Die geringe, of ook wel genoem die arme.

Hanna sing dat die HERE die hele wêreld regeer.

Penina het dit nie aan haarself te danke dat sy vrugbaar is, dat sy soveel kinders het nie.

Dit is ‘n gawe van God.

 

Die HERE maak arm en maak ryk – ook wat betref die kry van kinders.

En so sal die HERE kom, op sy tyd, om die hoogmoediges te straf, die rykes, ook die wat ryk is aan kinders en die onvrugbare verag.

Hulle wat hulleself hoogmoedig verhef, wat in hulleself roem.

 

Presies dieselfde snaar tril in die loflied van Maria.

“Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.” (Luk 1:51)

Soos daar in Psalm 14 staan: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” (vers 1)

Dus kan ek maar my gang gaan.

Hierdie tipe mense bedoel Maria as sy sing: Rykes het Hy met leë hande weggestuur.

Mense wat in hulleself ryk is.

En as mens nou baie konkreet word en jou afvra watter mense dan bedoel word, dan is dit die beste om te kyk na die lewe van die Here Jesus self.

Sy stryd was nie in die eerste plek teen die Romeine nie.

Sy stryd was ook nie in die eerste plek teen die materieel rykes nie.

Die materieel rykes, dit was in daardie dae veral die priesters en die Sadduseërs, en moenie die tollenaars vergeet, wat belasting vir die Romeine moes insamel en daardeur skatryk geword het nie.

Mense soos Mattheüs en Sageüs.

Wie die Evangelies lees, kom agter dat hulle nie Jesus se grootste vyande was nie, al was daar wel baie hoogmoediges ook onder hulle.

Maar Jesus se grootste vyande was die Fariseërs.

Hulle was dit wat die volk aangehits het om Christus te kruisig.

Dis oor hierdie stryd wat sy moeder Maria sing, nou nog voor sy geboorte.

Die stryd tussen goed en kwaad.

Die stryd tussen hongeriges en rykes.

Hongeriges na die Evangelie, die Woord, wat Christus kom bring het.

En rykes, hulle wat die Geneesheer nie nodig gehad het nie.

 

Hanna en Maria se liedere is oorwinningsliedere.

Verbasing oor God se goedheid en almag.

Dis ook liedere waaruit diepe dankbaarheid spreek.

“My hart jubel in die HERE” (1 Sam 2:1).

“My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker” (Luk 1: 46-47).

Dat die grote God hulle geskik geag het om ‘n dienskneg, ‘n Verlosser, na sy volk te bring.

Dis liedere vol bewondering oor die Verbondsgod se betroubaarheid.

Dat God sy belofte, wat Hy lank gelede aan Abraham gegee het, nie vergeet het nie.

Hanna het besef dat ‘n belangrike toekoms vir haar seun wag.

En Maria het besef dat die engel se boodskap iets onuitspreeklik groots om die lyf gehad het.

Twee kinders, twee gesalfdes met ‘n groot lewenstaak wat vir hulle gewag het.

Ook vandag is ma’s in die kerk bevoorreg om die moeder te wees van gesalfdes.

Ja die HERE het ook planne met julle kinders.

Jy as pa en ma is self ‘n gesalfde!

Dit wil sê, geroep deur die HERE en aangestel vir ‘n belangrike taak.

Juis ‘n ma se geloofsopvoeding van haar kind is ‘n baie hoë roeping.

 

Gemeente, so het hierdie liedere vandag nog steeds vir ons ‘n boodskap.

Veral die atmosfeer wat daaruit spreek.

Dit leer ons om groot te dink oor ons Verlosser.

Samuël was in sy tyd ‘n verlosser, wat die volk se harte na die HERE teruggebring het.

Hy was ‘n voorloper van die groot Verlosser.

En hulle ma’s se liedere gee ons sig op die wêreldwye aksieradius van God se plan, toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het.

Dat sy koms ‘n wêreldwye impak sal hê.

Vers 52: “Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.”

Beide Hanna en Maria se lofliedere leer ons die diepe betekenis van Kersfees.

God die Almagtige bemoei Hom met hierdie sondige aarde.

Hy ontferm Hom veral oor sy kinders.

Hy stuur sy diensknegte na hulle.

In Christus stuur Hy selfs sy eie Seun na die aarde.

God het aan sy barmhartigheid gedink.

Daaroor sing Maria en Hanna!

 

God bly getrou, sy planne faal nie.

Dit is nou al weer 2000 jaar later, nog steeds is sy barmhartigheid groot oor sy kinders.

God is en bly dieselfde.

Ook vandag is Hanna en Maria se lofliedere nog aktueel.

Laat ons ook vandag die diepe rykdom daarvan besef.

Laat die liggies van Advent nie net vir ons ‘n gesellige atmosfeer skep nie, maar laat dit ons herinner aan die Lig vir die wêreld, wat gekom het.

Sy koms beteken ook oorlog, oorlog teen die magte van die duisternis.

Hy maak ons oë oop daarvoor.

Hy rus ons toe vir ons stryd teen die Satan, die bose geeste in die lug, die sondige wêreld, ons eie sondige ou mens.

Dis ‘n stryd wat Regardt ook in sy lewe gaan moet voer.

Christus sal hom daarvoor toerus.

Verwonder jou saam met Hanna en Maria oor God se betroubaarheid.

Laat jou hart jubel in die HERE, jou siel Hom grootmaak.

Jaco & Tineke, leer vir Regardt om dit ook te doen.

Laat sy oë ook oopgaan vir hoe Christus ook in ons tyd maghebbers van hulle trone ruk, hoogmoediges verstrooi maar nederiges verhoog.

Maak sy oë oop, ook vir hoe Hy in ons tyd barmhartigheid bewys.

En daarmee sal Hy voortgaan, solank die aarde bestaan.

Tot die getal van hulle vol is, wat die Vader aan Christus geskenk het om hulle te red.

 

Tineke, jy kan identifiseer met Hanna en Maria.

Elke ouer wat verbondskinders het, kan.

Hanna en Maria het hulle kinders na die heiligdom gebring, hulle aan die HERE toegewy.

So het julle ook vandag gedoen met Regardt.

Hy is nou bestem om in sy diens op te groei en vir hom te lewe.

By Samuel was sy lewensdoel reeds bekend.

By Jesus ook.

By Regardt sal die HERE dit in die toekoms uitwys, waarvoor sy lewe bestem sal wees, in watter hoedanigheid en op watter wyse hy sy lewe aan Hom sal wy.

Maar hoe dit ook mag loop, ons hou die HERE aan sy belofte, dat Hy hom die krag sal gee – ook deur middel van ‘n gelowige opvoeding – dat hy sy hele lewe moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin.

 

Broers en susters: Sing self, en leer jou kinders ook sing:

My hart jubel in die HERE!

My siel maak Hom groot, my God en Saligmaker!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 97:7

Wet

Ps 99:4,5

Gebed

Doopsbediening

Doopsformulier

Gebed

Vrae aan ouers

Doopsbediening

Oproep aan die gemeente

Ps 105:5

Dankgebed

Skriflesing: 1 Samuël 2:1-11 & Lukas 1:46-56

Sb 1:1-2

Teks: 1 Samuël 2:1 & Lukas 1:46-47

Preek

Ps 75:1,3,4,6

Gebed

Kollekte

Sb 1:3-6

Seën