Ek sal U prys my lewe lank

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-11-23
Text: 
Psalm 63:5a & 9a
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 63:5a & 9a

 

1e Tafel: Psalm 63:5a

 

1 Ek sal U prys my lewe lank

 

Toe Dawid hierdie lied geskryf het, was hy in die woestyn.

Hy het geweet wat dors kry is.

In ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water.

Maar hierdie dors kan nie met gewone water geles word nie.

Hierdie dors na God kan slegs geles word, of soos hy in vers 6 sê, sy siel kan slegs versadig word, deur God self.

 

Vanuit die eensaamheid van die woestyn gaan Dawid se gedagtes terug na God se heiligdom.

Hy verlang om daar God se sterkte en heerlikheid te sien.

Dawid hernu weer sy gelofte:

Ek sal U prys my lewe lank.

In u Naam my hande ophef.

Dit wil sê: ‘n biddende lewe.

Hande ophef was die gebedshouding in die Ou Testament, soos ons vandag ons hande vou.

 

Soos by die heiligdom, God se huis, offers gebring is, en die mense wat offers gebring het, dankbaar in God se aanwesigheid daarvan mog eet, van die vettigheid, so dink Dawid nou daaraan.

Maar met die woorde vet en vettigheid in vers 6 bedoel hy meer as net die dierevet waarvan hy mog geniet as hy by die tempel was.

Vettigheid is hier simbolies vir God se seën oor sy hele lewe.

God se goedertierenheid in alle opsigte.

Ja God se goedertierenheid is beter as die lewe.

Ook nou hier in die woestyn.

Om by die HERE en naby sy huis te mag lewe, dit is nie ‘n honger lewe nie, dit is nie ‘n maer lewe nie, maar dit is ‘n ryk geseënde en oorvloedige lewe.

 

Dawid is vol van God.

God deurtrek sy hele bestaan: Ek dink aan U op my bed.

In die nagwake peins ek oor u.

Dawid praat hier baie direk met God.

Tot vyftien keer toe gebruik hy in hierdie kort psalm die woordjie “U”.

Hy is direk in gesprek met God.

 

Is u in u lewe ook direk in gesprek met u God en Heiland?

Is dit vir u ‘n hartsverlange om in die skaduwee van God se vleuels te skuil, soos Dawid dit uitdruk?

Hierdie is ‘n pragtige beeld wat Dawid ongetwyfeld daar in die rotswoestyn van Juda gesien het.

Hoe ‘n arend op sy onbereikbare kransnes sy vleuels oor sy kuikentjies uitsprei.

Ja al was Dawid op daardie oomblik nie naby die tempel nie, hy weet die Almagtige sprei ook daar in die eensame woestyn sy vleuels oor hom uit.

 

Verlange na die heiligdom ...

Gemeente, vandag word hierdie verlange bevredig.

Ons is vandag in die HERE se heiligdom.

Ons bring nie ‘n diere-offer nie, ons eet nie vettigheid nie.

Ons eet brood en ons drink wyn.

Dit laat ons terugdink aan die offer wat vir ons gebring is.

Die volmaakte Lam van God.

Hy bring versadiging en rus in jou lewe.

Sy offer bring vir jou die ewige lewe.

Smaak en sien dat die HERE goed is!

Sy goedheid soos Hy bewys het in Christus, beteken vir jou die lewe, die ewige lewe.

Daarom neem ons Dawid se woorde oor:

Ek sal U prys my lewe lank.

Hier op aarde, of ek lank of kort hier op aarde sal lewe.

En ook in ewigheid.

By Christus eendag in die hemel.

En nog verder.

Saam met Christus eendag op die herskape aarde.

Tydens die nagmaal dink ons nie net terug nie.

Ons dink ook aan dit wat ons te wagte staan.

Dit toekoms lyk blink, is blink, vir elkeen op Jesus Christus vertrou.

 

Ons weet hier in Suid-Afrika wat ‘n droog en uitgedorde land kan wees.

Tans is dit nie so nie.

Tans wil die reën lyk my net nie ophou nie.

Ons omgewing is omskep in ‘n groen land, ‘n paradys.

Maar, broer, suster, al is die lewe so goed, sê u nog steeds saam met Dawid:

U goedertierenheid is beter as die lewe?

Laat die tydelike geluk en welvaart nie die ewige perspektief in jou lewe wegneem nie.

 

 

 

2e Tafel: Psalm 63:9a

 

2 My siel is aan U verkleef

Die 2020-Vertaling het vertaal: “My diepste wese is aan U verknog”.

Persoonlik vind ek die Ou Vertaling van hierdie vers mooier.

Al is die woord verknog baie mooi, die woord verkleef spreek boekdele.

Ons weet nie presies wanneer Dawid hierdie psalm gedig het nie.

Was dit toe hy op die vlug was vir sy vyande?

Wie was sy vyande?

Uit Dawid se lewensgeskiedenis kan mens aan verskillende episodes dink.

Maar tog voel Dawid homself hier in die woestyn veilig by God.

 

Dawid gebruik sterk, baie intieme woorde.

My siel is aan u verkleef.

Hy bedoel: Ek hou aan U vas, orals waar U gaan, gaan ek agter U aan.

Soos ‘n babadiertjie wat aan sy ma vasklou, en orals saamgaan waar sy ma gaan.

 

Pragtig dat ons sulke gevoelvolle, sulke emosionele woorde in die Psalmboek het.

Ons mag dit ons eie maak.

Is jou siel ook aan die Here verkleef?

Is jou lewe verkleef aan die diens van die Here?

Verkleef, dis soos vasgeplak.

As jy dit probeer lostrek, dan skeur dit.

 

Hierdie is ‘n pragtige Psalm vir ‘n Nagmaalsondag, eintlik vir elke dag.

My God, wat tog my lewe is, hoe smag my hart as’k U moet mis!

Hierdie psalm, Psalm 63, het bekend gestaan as die môrelied van die vroeë kerk.

In die vroeë kerk is hierdie Psalm in die gebedsliturgie gebruik waarmee elke oggend begin is.

Ons kan hieruit leer.

Dat jy nie net aan die Here dink as jy in sy huis kom nie, nie net op Nagmaalsondag nie, maar elke dag van jou lewe.

Ook as jy ver weg van God se huis is, soos Dawid nou hier in die woestyn.

In die komende vakansietyd gaan verskeie van ons ver van die kerk wees.

Maar dit beteken nie jy gaan ver van die Here af wees nie.

In watter woestyn jy ook gaan wees, aan watter kus ook al, Hy is daar.

 

Dors jy na God?

Ook as jy volop in die lewe staan, as jy besig is met jou werk, in jou sosiale lewe, tydens jou vakansie?

Ons is vandag gaste aan Christus se tafel.

Mag dit die vrug van vandag se nagmaal wees, dat jy die kerk verlaat met hierdie belydenis:

My siel is verkleef aan my Heiland en Saligmaker.

Waar ek ook gaan.

Of beter gesê, ek gaan saam orals waar Hy gaan.

Ek klou aan Hom vas.

Orals waar Hy my neem.

Sy wil bepaal my lewensweg.

Soos ‘n babadiertjie vasklou aan sy ma, en saamgaan waar sy ma hom vat.

So gaan ek deur die lewe met my Heiland.

En ook as ek deur moeilike tye gaan, ondersteun sy regterhand my.

 

Psalm 63 vertel ook dat Dawid vyande gehad het.

Hy was nie sonder rede in die woestyn nie.

Hy moes vlug.

Maar deur dit alles sal die Here my bewaar.

Niks, bely Paulus, regtig niks, sal ons kan skei van die liefde van Christus nie (Rom 8:31-39).

Selfs nie die dood nie.

Dit vier ons aan die nagmaal.

Dis nie net ‘n gedagtenismaaltyd aan Iemande wat gesterf het nie.

Dis ‘n feesmaal saam met Iemand wat lewe!

Wat die ewige lewe uitdeel!

Daarom, is jou siel, is jou hele lewe aan Hom verkleef?

Is sy liggaam en bloed vir jou die brood vir die ewige lewe?

 

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 63:1

Gebed

Nagmaalsformulier (1e deel)

10 Gebooie (Exodus 20) word saam met die Nagmaalsformulier se eerste deel gelees

Ps 51:1

Nagmaalsformulier (2e deel)

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e Tafel: Skriflesing: Psalm 63:1-8 en 1e punt van preek; Sing: Ps 63:2,3

2e Tafel: Skriflesing: Psalm 63:9-12 en 2e punt van preek; Sing: Ps 63:4

3e Tafel: Danksegging; Sing: Ps 63:5,6

Dankgebed

Kollekte

Sb 8:2,4

Seën