Die eerste gesin wat uit genade mog leef

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-10-05
Text: 
Genesis 4
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 4

 

Ons gemeentetema vir hierdie jaar lui soos volg: Die gesin as bousteen van die gemeente.

Heeltemal aan die begin van die jaar het ek die tema ingelei met ‘n preek oor 1 Petrus 2:

“Laat julle soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis”, en dit op die “uitverkore en kosbare hoeksteen” – Jesus Christus.

Ons het toe gesien dat die kerk ‘n bouprojek is, waarvan Christus die Boumeester is, en sy Woord die bouplan.

Ons het gesien dat die bouprojek nog nie voltooi is nie.

En net soos op elke bouterrein, lyk dit van tyd tot tyd slordig.

So is die werk in die kerk.

Dit is ‘n projek in aanbou.

Dit sal eers voltooi wees op die dag as Christus terugkom.

Ons sien die mooi dinge in die kerk gebeur, terselfdertyd moet ons geduld hê, omdat dinge dikwels nog niet is soos dit behoort te wees nie.

Sy aan sy mag ons aan Jerusalem se mure bou.

 

Hieraan het ons dus aan die begin van die jaar aandag geskenk.

Vandag, en ook in die paar komende weke, wil ek meer spesifiek fokus op die gesin.

Die tema lui mos: die gesin as bousteen van die gemeente.

Ons gaan na ‘n paar gesinne in die Bybel kyk.

 

Nou as mens gaan kyk na gesinne in die Bybel, dan dink u dalk: Hier kom ‘n serie preke oor modelgesinne.

Maar gemeente, ek moet direk ‘n verkeerde illusie wegneem.

Modelgesinne vind ons amper nie in die Bybel nie.

Net omdat daar dinge oor ‘n gesin in die Bybel staan, maak van hulle nog nie ‘n modelgesin nie.

Inteendeel, ek dink die meeste gesinne waaroor ons in die Bybel lees, was gebroke gesinne.

Waaroor dit eerder gaan in die Bybel is die goeie werk wat God doen in gebroke gesinne.

 

Ons begin vandag met die allereerste gesin in die geskiedenis, die van Adam en Eva.

 

Tema: Die eerste gesin wat uit genade mog leef

1 Verskil in gesindheid

2 Verskil in lewenswyse

 

1 Verskil in gesindheid

Reg by die intrapslag van die Bybel, aan die begin van die mensheid se geskiedenis, ontmoet ons ‘n gebroke gesin.

Genesis 4 draai nie doekies om nie.

Elkeen van ons gesinne het maar êrens ‘n skande, of dit ‘n onopgeloste konflik is, bakleiery, skuld, verslawing.

Maar ‘n broer wat sy eie broer vermoor het, dis vanuit menslike oogpunt seker die skande van alle skandes.

So ontmoet ons die eerste gesin in die Bybel.

Dis basies die eerste wat oor hulle vertel word.

Nou wat was daar aan die hand?

 

Wat in Adam en Eva se gesin gebeur het, openbaar die eerste gevolge van die sondeval.

Na die sondeval is Adam en Eva uit die paradys verdryf.

Dit was die straf.

God het gesê dat wie sondig, die dood sou sterf.

Die paradys was sinoniem aan ewige lewe.

Maar nou het hulle sterflik geword.

’n Fase van verganklikheid het aangebreek vir die wêreldgeskiedenis.

Tog was God hulle ook genadig.

God het Adam en Eva toegelaat om nog steeds kinders te kry.

En hulle het die trotse ouers van Kaïn en Abel geword.

Danksy God se genade mog hulle ‘n gesinslewe opbou.

 

Kaïn en Abel was boeties.

Abel was skaapherder, Kaïn ’n landbouer.

Die een was skynbaar lief vir diere, die ander een vir plante.

Dis nie dat Abel se beroep beter was nie.

 

En dan lees ons oor die offer wat Kaïn gebring het, en die offer van Abel.

Om God te dank, want Hy is mos die Skepper van die diere, wild en mak.

En Hy is ook die Skepper van die plante op aarde.

God is die een wat wasdom skenk, vog en voeding vir plante en diere.

Daarom behoort die mense op aarde God te dank vir sy gawes.

En so het dit gebeur dat Kaïn van die vrugte van die land, die opbrengs van sy oes, as ’n offer aan die HERE gebring het.

En Abel het ’n offer aan die HERE gebring van die eersgeborenes van sy kleinvee.

 

Tot dusver is daar geen verskil nie.

Altwee broers het ’n offer gebring.

So te sien wou altwee hulle dankbaarheid aan die HERE wys.

Maar tog gebeur daar dan iets onverwags – vir ons gevoel altans.

Die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer het Hy nie aangesien nie.

Hoekom hierdie verskil?

Dis mos nie so dat God meer van veeboere hou as van graan- of vrugteboere nie?

 

Ons teks gee ’n leidraad, ’n klein opmerking waaruit boekdele spreek.

Ons lees in vers 4: “En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet.”

Ek herhaal die laaste woorde: NAAMLIK VAN HULLE VET.

Vet is die beste deel van ’n dier.

In ons hedendaagse kultuur van oorvloed dink ons miskien nie meer so nie, maar in die Bybelse tyd was vet die allerbeste deel van ’n dier.

Die sappigste, die lekkerste.

Nie verniet lees ons later in die wette wat God aan Moses gegee het, dat die volk veral die vet van die diere aan Hom moes offer.

Die beste deel vir Hom.

Dit was om te toets of die gesindheid van die volk reg was.

Kortom, die woord vet, dit was in die Bybelse tyd veral ’n positiewe woord.

As jy vandag vir iemand sê, Jy’s vet! dan is dit ’n belediging.

As ons lees in Rigters 3:17 dat Eglon die koning van Moab ’n baie vet man was, dan staan dit daar nie as ’n belediging nie, maar juis as ’n kompliment.

Hy was groot en stewig, kortom lekker vet.

En oor Abel lees ons nou: Hy het die vet van die diere geoffer.

Hierdie opmerking spreek boekdele.

Dit wil sê: Abel was REGTIG dankbaar.

Abel wou REGTIG vir die HERE dankie sê.

Abel was nie soos byvoorbeeld die seuns van Eli, wat voordat die mense die vet aan die Here kon offer, dit by hulle afgevat het nie (1 Sam 2:15-16).

 

Aan die ander kant was Kain se offer klein.

Ja, hy HET ook geoffer, maar tog was sy offer anders as die van Abel.

In die hart van Kain was daar nie liefde vir God nie.

Die lewe van Kain was selfgesentreerd.

 

Ook vandag gee ons ons gawes aan God, om ons dankbaarheid te toon.

Alles behoort in elk geval aan Hom, alle diere op aarde, alle plante en gewasse, alles is syne.

Ons het dit in bruikleen, ons mag dit bewerk en verwerk.

Maar God wil dat ons ’n deel aan Hom teruggee, om ons gesindheid te toets.

Die tiendes – jou kollekte, jou vvb ...

Die manier hoe jy gee, en wat jy gee, ander mense kan nie altyd die gesindheid sien nie, maar God wel.

Daaruit blyk jou prioriteite.

Is jou eerste prioriteit om God te dank?

Wat is jou gesindheid?

 

Die houding in Kain se lewe was verkeerd.

God het in die hart van Kain gekyk.

God het vir liefde en geloof en toewyding gesoek, maar Hy kon dit nie vind nie.

 

Daar was dus ’n verskil tussen Kain en Abel.

God was nie willekeurig deurdat Hy vir Abel voorgetrek het nie.

Soms hoor mens dat ’n ouer een kind voortrek bo ’n ander.

Dis baie verkeerd.

Dit was dus in ons teks nie die geval nie.

In die boek Hebreërs in die Nuwe Testament lees ons:

“Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het” (Hebreërs 11:4).

Abel het in God geglo.

Maar Kain het nie geglo nie.

Die woordjie glo moet ons hier nie verkeerd verstaan nie.

As ek sê, Kain het nie geglo nie, bedoel ek nie dat Kain nie in die bestaan van God geglo het nie.

Natuurlik het Kain geweet dat God bestaan.

God het self met Kain gepraat.

Glo beteken hier: God dien, God liefhê, nie vir jou self lewe nie, nie selfgesentreerd, egoïsties lewe nie, maar op God gerig wees in alles wat jy doen.

Daardie verskil was daar tussen Kain en Abel.

En dis hoekom God Abel se offer aangeneem het, en nie Kain s’n nie.

 

Wat het Kain toe gedoen?

Ons lees in vers 5: “Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.”

Kain het gesien dat God Abel se offer aanneem, en daar het haat in sy hart begin groei.

Die HERE het Kain gewaarsku: Hoekom is jy kwaad, en hoekom laat jy jou hoof hang?

As jy doen wat reg is, sal Ek ook bly wees met jou offer.

Maar as jy doen wat nie reg is nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou, maar jy moet daaroor heers.

 

Die HERE het natuurlik geweet wat in Kain se kop aangaan.

Hy het geweet dat Kain planne begin beraam om Abel dood te maak.

Hy het hom gewaarsku, maar Kain het nie geluister nie.

Ons lees: En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was ...

Die vertaling van vers 8 is dalk nie so duidelik nie.

Mens kan dit eerder so vertaal:

Kain het met sy broer Abel gepraat: (dubbelpunt): Kom ons gaan veld toe.

As mens dit so vertaal, besef jy net nog duideliker dat Kain ’n plan beraam het.

Met voorbedagte rade het hy te werk gegaan.

Soos gesê, die HERE het geweet wat in sy kop aangaan.

Hy het gesien Kain beraam ’n plan om sy broer te vermoor, om hom eers in die veld te lok, en hom dan daar dood te slaan.

In die veld waar almal ver weg is, in die veld sal sy ouers mos nie sien nie.

Is dit nie vandag nog steeds so nie?

Wie ’n sonde wil pleeg, beraam sy plan so dat dit êrens gebeur waar ander dit nie sien nie.

Wat dit betref het daar niks verander nie.

Soos gesê, God het sy gedagtes gelees, sy donker planne, God het hom gewaarsku.

Maar hy wou nie luister nie.

Hy het voortgegaan.

Hy het sy broer weggelok veld toe.

En toe hulle in die veld was, het hy sy broer aangeval en doodgeslaan.

Die eerste moord op aarde.

 

In die paradys het die Here God vir die mens sy wette bekendgemaak.

Ook die gebod: Jy mag nie doodslaan nie.

Adam en Eva, die ouers, hulle het begin met sondig, hulle wou nie luister nie.

En die kinders het die voorbeeld van hulle ouers oorgeneem.

Kaïn wou ook nie luister nie.

Die HERE het hom persoonlik gewaarsku.

Die woord van God in vers 7 staan in die konteks van die feit dat Kain GEWEET het dat doodslaan sonde is.

Maar Kain was horende doof, hy’t voortgegaan met sy plan.

 

En toe dit gebeur, en God vir hom vra: Waar is jou broer Abel? gee hy die onverskillige antwoord:

Is ek my broer se wagter?

Hierdie antwoord verraai die sonde in sy hart.

Kain het nie van sy broer Abel gehou nie.

Ons sien hier hoe die gevolg van die sonde – al begin dit maar klein en onsigbaar in jou hart – dat die gevolg daarvan die dood is.

Abel het die eerste mens geword om te sterwe.

God het die mense in die paradys gewaarsku: “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” Genesis 2:17.

En nou sien ons hoe dit waar word.

Eet van daardie boom, dit hou in: dat jy self besluit wat jy wil doen, God moet jou nie voor skryf nie.

En so het dit by Kain gegaan.

God HET met hom gepraat, maar hy wou nie luister nie.

Hy het sy eie ding gedoen, en die gevolg van die sonde was die dood.

 

Abel het die ketting van die dood begin, die eerste wat gesterf het.

Na hom het elke mens op aarde dieselfde paadjie gestap.

Sommiges het die voorreg beleef om tydelik weer terug te keer na die aardse lewe, dink aan Lasarus, of die dogtertjie van Jaïrus.

Maar daarna het hulle tog weer gesterf.

Elke mens, behalwe een.

Dit is ons Here Jesus Christus.

Hy het na die aarde gekom om die Satan, die sonde, die dood te oorwin.

Hy het uit die graf opgestaan.

Hy het die straf gedra vir die sondes.

Hy is gedood, vermoor, aan die kruis.

Toe Abel vermoor is, het sy bloed na God geroep van die aarde af.

’n Noodkreet – HELP!

’n Magtelose kreet.

Toe Christus gekruisig is, het sy bloed ook geroep van die aarde af.

En God HET geluister.

Abel se bloed is gewreek.

God het Christus se offer aanvaar.

Jesus het nie net die vet van diere geoffer nie, Hy het sy eie lewe geoffer!

Sy offer, sy gesindheid, styg ver bo Abel se offer uit.

En toe Jesus op Paassondag opstaan, was dit duidelik: God het sy offer aanvaar!

Sy offer op Golgota het die dood oorwin, die straf op die sonde.

Vir Adam en Eva, vir al hulle kinders en nageslag.

 

(Tema: Die eerste gesin wat uit genade mog leef

1 Verskil in gesindheid)

 

2 Verskil in lewenswyse

Hoe het dit toe verder met Kain gegaan?

Wie iemand doodslaan, kry self die doodstraf.

Dis wat die HERE later in die wette van Moses vir sy volk vasgelê het.

Maar hoewel daar voortaan ’n vloek op Kain sou rus, is dit opvallend dat hy nie die doodstraf gekry nie.

Die HERE verleen aan hom amnestie.

Kain verdwyn, hy gaan woon op ’n ander plek, in die land Nod, vanaf Eden nog verder oos as waar sy ouers gewoon het.

Ons lees dat hy daar kinders en kleinkinders gekry het.

Dis een van die dinge waaroor baie mense wonder.

Wie kon eintlik Kain se vrou gewees het?

Was daar in die land Nod, waarheen Kain getrek het, alreeds mense?

Gemeente, dis belangrik dat ons noukeurig lees wat hier staan.

Hier staan nie dat Kain in die land Nod ’n vrou ontmoet het nie.

Ons lees wel dat hy in die land Nod kinders en kleinkinders gekry het.

Hier staan ook nie dat die land Nod al bestaan het toe Kain daar aangekom het nie.

Ons moet onthou dat die boek Genesis geskryf is deur Moses, baie eeue later.

As Moses skryf oor die land Nod, dan verwys hy na hoe die gebied waarheen Kain gevlug het, later bekend geword het.

Net soos wanneer iemand vir my sou vra: Waar is jy gebore? en ek sou antwoord: in Gauteng.

Dan verwys ek na die gebied waar ek gebore is – dis reg ja.

Maar aan die ander kant, toe ek in die jare ’70 gebore is, het die provinsie Gauteng nog nie bestaan nie.

Die land Nod was in Kain se dae dus ’n onbewoonde gebied, waarheen Kain met sy vrou gevlug het.

Die woord Nod hou verband met die Hebreeuse stamwoord vir verbanning of omswerwing.

Moontlik dat hierdie gebied dus later so genoem is, juis omdat Kaïn daar neergestryk het.

 

Maar wie was dan Kain se vrou?

Dis iets wat die Bybel ons nie openbaar nie.

Ons ken nie haar naam nie.

En wat my verbaas het, ek lees dit laas êrens, is dat vir miljoene mense hierdie vraag een van die hoofredes is hoekom hulle nie die Bybel glo nie.

Want wie was Kain se vrou?

As ons die skeppingsverhaal moet glo, dan kon Kain mos nie ’n vrou gehad het nie?

Dalk is dit goed, noudat ons hierdie hoofstuk gelees het, om iets meer hieroor te sê.

In die eerste plek moet ons versigtig wees om uitsprake te doen oor dinge wat die Bybel nie aan ons openbaar nie.

Die Bybel is nie ’n boek wat ons alle feite oor die verlede meedeel nie.

Op baie van ons nuuskierige vrae kry ons in Genesis nie antwoord nie.

Ons vind daar ook nie die naam van Kaïn se vrou nie.

Tog beteken dit nie dat mens niks verder kan sê nie.

Want waaroor die Bybel wel duidelik is, is die feit dat die HELE MENSELIKE GESLAG op aarde voortgekom het uit slegs een ouerpaar, Adam en Eva.

Dus as daar ’n vrou vir Kain was, dan was daar net die moontlikheid dat dit ’n sussie van hom was, of moontlik die dogter van een van sy broers of susters.

Volgens die Joodse tradisie het Adam en Eva 33 seuns en 23 dogters gehad.

Tien teen een het Kain dus met sy suster getrou.

Dit mag snaaks klink, want staan daar nie in die wet van Moses dat jy nie met ’n bloedverwant mag trou nie?

 

Deesdae, met al die vordering op die gebied van die genetika, word hierdie vraagstuk ook uit ’n genetiese oogpunt benader.

Waar daar vandag ’n groot kans is dat ’n kind ’n afwyking sal hê as sy ouers broer en suster is, en dit het ook vir die dae van Moses gegeld toe die Here daardie wet uitgevaardig het,

was dit – geneties gesproke – in die dae van Adam en Eva nog nie die geval nie.

Die kans op genetiese afwyking was toe, aan die begin, weglaatbaar klein.

Die verbod op ’n huwelik met ’n bloedverwant – soos in die Mosaïese wetgewing – was toe dus nog nie relevant nie.

 

Wat in elk geval duidelik blyk, is dat die antitese tussen hulle wat die Here wil dien en hulle wat hulle eie pad gaan, dat dit alreeds in die gesin van Adam en Eva begin het.

Kain en sy vrou, en ook hulle kinders en kleinkinders, kies hulle eie pad.

Hulle lewe vir hulleself.

Hulle is nie bereid om die vet vir die HERE te offer nie.

En die haat wat in Kain se hart was, het ongelukkig ook oorgespoel op sy nageslag.

Dink aan die uitspraak van Lameg: Ek slaan ’n man dood wat my wond.

Die seun wat my durf kwets, vermoor ek.

Lameg was ook die eerste een wat met ’n alternatiewe gesin begin het (vers 19).

Hy het vir hom twee vroue geneem.

God se skeppingsinstelling van ’n huwelik tussen een man en een vrou het hy geminag.

En deur die eeue het Lameg sy volgelinge gehad, tot vandag toe.

Of dit poligamie is, of ’n man wat met ’n man ‘trou’, ’n vrou wat met ’n vrou ‘trou’, of mense wat glad nie eers trou nie en net saamwoon, elke keer word God se skeppingsinstelling geminag.

 

In skril kontras hiermee is wat ons lees aan die einde van die hoofstuk, oor Set, wat gebore is nadat Abel gesterf het.

Set en sy kinders het aan die HERE trou gebly.

Hulle het in die voetspore van Abel gevolg.

Hulle het – sê ons hoofstuk – die naam van die HERE begin aanroep.

Die begin van die diens aan die HERE.

Dis wat ons ook in hierdie hoofstuk vind.

Offer en gebed – diens aan die HERE.

Offer en gebed vanuit die hart, vanuit die regte gesindheid, dit is hoe die HERE aangeroep wil word.

So word ‘n verskil in lewenswyse al hoe duideliker sigbaar op aarde.

 

Tussen hakies, gemeente, het u al daaraan gedink hoe Adam en Eva oor dit alles moes gevoel het?

Het u al nagedink oor hoeveel dinge Adam en Eva in hulle lewe moes meegemaak het?

Adam het 930 jaar lank gelewe.

As u op die tydbalk gaan kyk, daar hang een hier onder in die saaltjie, sal u kan sien dat Adam nog vele generasies van sy nageslag gesien en geken het.

Gedurende hierdie nege eeue was hy getuie hoe sy kinders en kindskinders òf die HERE bly dien het, òf van Hom af weggedwaal het.

’n Groot deel van die wêreldgeskiedenis voor die sondvloed het Adam meegemaak.

Een van Adam se kindskinders – Metusalag – wat vir sover ons weet die rekord hou van die oudste mens op aarde – 969 jaar – is gebore toe sy oupagrootjie Adam nog geleef het.

En ten minste ’n eeu en nog langer het Metusalag en Adam saam op aarde rondgewandel.

Sterk gene was daar toe, sou ons deesdae sê.

Metusalag het afgestam van Set, maar nie al Set se nageslag het met God bly wandel nie, en genadiglik het daar van Kain se nageslag sommiges teruggekeer na die Here.

Ja die groot skeidslyn het sigbaar geword, in Adam en Eva se nageslag, in die mensheid.

En tot vandag toe, tot in die 21e eeu, duur dit nog voort.

Ook in ons moderne samelewing loop hierdie skeidslyn.

Dien jy vandag die HERE, of dien jy jouself?

Is jou gesin ‘n lewende bousteen?

Abel se dood het vir jou ’n boodskap.

Soos die Hebreërbrief dit verwoord:

“Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain ... en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.” (Hebreërs 11:4)

Ja ook vandag nog spreek Abel tot jou.

Abel se geloof roep jou op om ook opreg te lewe.

 

Waarvoor lewe jy?

Waarop bou jy jou lewe?

Waarop bou jy jou gesinslewe?

Abel se gesindheid was ‘n voorafskaduwing van Christus se gesindheid.

Laat in ons gesinne sy gesindheid heers.

Laat die dankbare diens aan ons Here Jesus Christus sigbaar wees – ja laat ons gesinne lewende boustene van die gemeente wees.

Dit kom ook uit in hoe jy as gesin aan die kerklike lewe deelneem.

Aktief, of minimaal?

Begin reg, van die oomblik dat jy ‘n gesin stig, van jou huweliksdag af.

Leef naby die HERE.

Adam en Eva se gesin is die eerste gesin wat uit genade mog leef.

Dit geld ook vir jou gesin, vir jou huis.

Moenie moed opgee nie.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 111:1,3

Wet

Ps 18:12,14

Gebed

Skriflesing: Genesis 4

Ps 4:1,2

Teks: Genesis 4

Preek

Ps 4:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 101:1-4

Seën