Preek: Psalm 139 (God is alwetend)
Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin met ‘n artikel oor wie God is.
‘n Aantal wesenskenmerke van Hom word genoem.
Karaktereienskappe van ons God en Vader, soos wat Hy in sy Woord openbaar.
Artikel 1 is ‘n opsomming daarvan in ‘n neutedop.
Daar sal natuurlik veel meer oor God geskryf kan word.
Selfs die wêreld se boeke sal nie kan bevat wie Hy is, hoe groot Hy is, hoe veelsydig Hy is nie.
Ook in die Skrif is daar nog verskillende ander wesenskenmerke, wat in die NGB nie genoem word nie.
Dit sal te veel wees om dit alles te behandel in die serie waarmee ek tans besig is.
Maar daar is een eienskap waarna ek graag nog sal wil aandag skenk, en dit is God se alwetendheid.
Dit word op verskeie plekke in die Skrif geopenbaar.
En een van die duidelikste gedeeltes is Psalm 139, wat ons gelees het.
Tema: God se alwetenheid is ‘n troos vir die gelowiges.
- Sy alwetendheid is ‘n feit
- Sy altwetendheid is ‘n troos
- Sy alwetendheid is ‘n feit
God se alwetendheid pas soos een stukkie in die legkaart van sy hele karakter.
Dit gaan hand in hand met sy ander wesenskenmerke.
Soos byvoorbeeld die feit dat Hy ewig is.
Hoe kan iemand wat nie ewig is nie, alwetend wees?
God leef ewig, Hy oorspan alle eeue.
Daarom ken hy elke mens wat ooit geleef het, tans lewe, en in die toekoms sal lewe.
Alle tye is in sy hand.
Omdat Hy ewig is, kan Hy dus ook alles weet.
Ons lees in die Bybel dat ’n dag vir God soos duisend jaar is.
God bestuur die tyd volgens sy plan.
Ons lewe duur ‘n klompie jare.
Maar vanuit God se perspektief is dit duisende jare, van die een kant bekyk; of van die ander kant bekyk, slegs enkele dae.
Wat is die tyd eintlik?
Waarvoor dien die tyd wat ons hier op aarde lewe?
Wie bepaal die tyd?
Hoe kom dit dat ons hier op aarde lewe?
Hoe kom dit dat die een langer leef as die ander?
Wie bepaal dit?
Ons leef in ’n tyd waarin dit maklik is om te begin dink dat die mens dit self bepaal.
Mense dink, as jy maar ’n goeie mediese fonds het, dan kan ons mense nogal veel doen om ’n lewe te rek.
En ook – as mense dit verkies – om die lewe te verkort.
Dink ons ten minste.
Maar soms skud die HERE ons weer wakker.
Soos ’n spreekwoord sê:
Pyn is God se roepstem in ’n dowe wêreld.
Nie ons nie, maar God bestuur die tyd.
Hy bepaal die geboortedag en die sterfdag.
Selfs al die menslike tegnieke, alle mediese apparatuur in die moderne hospitale, dit bepaal Hy.
Selfs die hande van die spesialiste bestuur Hy.
Wie anders, Hy is tog die Skepper van daardie hande?
Die Psalm wat ons vanoggend gelees het, het alles hiermee te make.
Die digter van Psalm 139 illustreer hierdie waarheid met ‘n paar voorbeelde.
Die eerste voorbeeld – verse 1-12 – handel oor wat ons kan noem die makro-wêreld.
Makro wil sê – alles wat groot is.
Waar mens ook heenvlieg, al is dit die Noord- of die Suidpool, ook daar lê God sy hand op my.
Selfs al sou ek gaan woon by die uiteinde van die see, op ‘n onbewoonde eiland in die Stille Oseaan, ook daar sal u regterhand my vasgryp.
Nêrens kan ek heengaan waar ek onder sy oë uit sal wees nie.
Die tweede voorbeeld vind ons in verse 13-18.
Dit is ‘n voorbeeld uit sê maar die mikro-wêreld.
Die wêreld van mikroskope, wat die kleinste dinge kan waarneem.
Die wêreld van sonars, wat vir die oog verborge dinge sigbaar maak.
En dan dink ons aan die eerste maande van jou lewe.
Die prille begin toe jy in die buik van jou ma begin lewe het.
Toe niemand jou nog gesien het nie, niemand – geen mens altans nie.
Want vanaf die kleinste begin het jou Skepper jou wel gesien.
Soos daar in Spreuke 15:3 staan:
“Op elke plek is die oë van die HERE”.
Kinders wonder soms of hulle ma ook oë in haar agterkop het, omdat op een of ander manier hulle ma alles agterkom wat hulle doen.
Maar so is dit nie.
God se oë daarenteen is simbool vir sy alwetendheid.
Hy sien alles.
“Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde” (Ps 33:13-14).
“En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebr 4:13)
Hy sien elke mens, vanaf die prilste begin af, tot in die graf.
Hy sien hoe jy as baba daardie eerste liggaamlike ontwikkelinge deurgemaak het.
Die eerste maande van mees intieme geborgenheid, toe jy as baba volledig kon vertrou op die sorg van jou ma.
Ja dan kan ‘n baba niks anders doen as om maar net passief te vertrou nie.
Elkeen van ons mog dit meemaak.
Al is dit dan nie bewus nie – tog die mooiste maande van jou lewe.
En – hoe wonderlik is daardie tyd nie – ons as mense verstaan nog so weinig daarvan.
Hoe uit ‘n ongevormde klomp, uit ‘n onsigbare klein sel, ‘n volledige mens ontwikkel.
En dit gaan vanself.
Die ma hoef eintlik niks te doen nie, sy moet net goed vir haarself sorg, genoeg rus neem.
In hierdie wêreld werk dit so dat enigiets wat mensgemaak is, baie moeite kos.
Of dit ‘n nuwe gebou of brug of motor of vliegtuig is, daarin sit baie ontwerp-ure, en daarna die produksietyd.
Of dit ‘n skildery is, ‘n meubelstuk, ‘n selfoon of horlosie.
Dis dinge wat nie vanself kom nie.
Maar as ‘n baba gebore word, ontvang ons ‘n geskenk, ‘n wonder, wat nie ‘n mens, maar Iemand anders voorberei het, of soos Psalm 139 sê – kunstig geweef het.
Ja hierdie Psalm beskryf nie die eerste maande van ‘n kind se lewe as ‘n natuurlike proses wat outomaties verloop nie.
Inteendeel, ons lees hier oor die Skepper van die natuur wat aktief besig is om iets nuuts te skep.
Uit ‘n vormlose begin weef Hy ‘n mensie, fyn, onbeskryflik akkuraat.
Die produk van sy hande.
U eie hand het my gebou daar waar geen mens dit ooit aanskou nie.
My hart en niere is u werk, ja alles van my dra u merk.
En nog iets wat die Skrif openbaar, is dat God jou selfs al gesien het nog voordat jy begin lewe het, nog voordat jy in jou ma gevorm is.
In Jeremia 1:5 lees ons: “Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken”.
Ja sy alwetendheid omspan hede, verlede en toekoms.
In die verlede het Hy jou al gesien, al bepaal hoe jy eendag gaan lyk, wie jy gaan wees.
Kortom, gemeente, uit die Skrif is duidelik dat God alwetend is.
En soos ek gesê het, dis een stukkie in die legkaart van sy karakter.
Dis onafskeidelik verbonde met sy alsiendheid, sy ewigheid, al sy wesenskenmerke.
Die Skrif se boodskap is, om hierdie eerste punt saam te vat:
Teenoor mense se beperkte, fragmentariese, begrensde kennis en insig, is God se alwetendheid ‘n feit!
- Sy altwetendheid is ‘n troos
Nou weet ons dat hier op aarde nie alles volmaak is nie.
Daar is ook babas wat gebore word met ‘n afwyking.
Het God dan iets vergeet?
Het daar iets foutgegaan in die produksieproses – om dit vir ‘n oomblik oneerbiedig te vra?
Is dit iets wat God ook verras, Hom ook onkant vang, as so iets gebeur?
Iets wat Hy nie geweet het nie ...?
Kan ons God verantwoordelik hou, as soiets gebeur?
Hy is mos alwetend, of is Hy dalk nie?
Gemeente, hoe sou ons durf – ons wat self die maaksel van sy hande is?
Ons lê eerbiedig die hand op die mond.
Hy is almagtig. Ons is nietig.
Maar tog, gemeente, kan ons wel iets sê, met die grootste eerbied.
Nie omdat ons opstandig sou wees nie, maar juis uit die besef dat Hy alwetend is.
Nie omdat ons die hoekom-vraag ten alle koste wil probeer beantwoord nie.
Ons kan meer sê, omdat ons God se eie Woord kan naspreek.
In sy Woord het Hy vir ons meer gesê.
Juis daarom is die Bybel vandag oop.
Ons mag die HERE God in die Bybel leer ken as ons goeie hemelse Vader.
Hy is die God van die lewe.
Hy is oneindig goed.
Sy wese wil niks met die kwaad te make hê nie.
Hy kan die dood nie verdra nie.
Dit is verkeerd om die sondige en gebreklike aan God toe te skryf.
Die kwaad, die ellende, die gebrokenheid in die wêreld kom nie van God af nie.
Die Bybel leer ons anders.
Ons weet dat daar ‘n sondeval was.
Ons weet dat daar ‘n duiwel is, en baie bose magte.
Die kwaad, alle ellende, alle siektes kom nie van God af nie.
Hy is nie die Bewerker daarvan nie.
As mense is ons nie in staat om die logiese verband te lê tussen ‘n sonde en ‘n straf nie, byvoorbeeld:
Die ouers het dit en dit verkeerd gedoen, en dus is die kind gestremd,
of soos die dissipels vir Jesus gevra het:
Here, wie het gesondig, die ouers of hierdie man self, dat hy blind gebore is (Joh 9)?
Ons as mense kan dikwels nie die verband lê tussen sonde en siekte nie.
Dit het die Here Jesus vir ons duidelik gemaak uit sy antwoord op daardie vraag van die dissipels.
Dis nie sy ouers se skuld en ook nie die man self se skuld dat hy blind gebore is nie.
Hoewel ons nie, soos Jesus, die skuldvraag presies kan beantwoord nie, moet ons wel as mensheid erken:
Die dood het in hierdie wêreld gekom deur ons as mense se ongehoorsaamheid.
Maar dit beteken nie God is nie alwetend, nie steeds in beheer nie.
Dit is net die reinste genade dat God sy eie Seun gestuur het om die dood te oorwin.
Daar is soveel wat ons nie kan verstaan nie, soveel aspekte waarop ons geen sig het nie.
Hoekom moes Job nie net al sy besittings, maar ook sy kinders verloor?
Wel, God se Woord openbaar dat daar ‘n oorlog gewoed het in die hemel rondom die persoon Job.
Satan het met God geredekawel oor Job.
Die Here in die hemel is alwetend, Hy weet die oorsaak van alles, maar dikwels bly dit vir ons verborge.
Ons weet nie alles nie.
Ons ken nie die rede hoekom sommige dinge met ons gebeur nie.
En ons kan ons hoof breek – spreekwoordelik – as ons dit absoluut wil uitvind.
Dikwels moet ons berus in ons omstandighede.
Ons is nie, ons kan nie, alwetend wees nie.
God alleen is alwetend.
Maar sy alwetendheid maak Hom nie verantwoordelik vir die kwaad nie.
Wie was verantwoordelik vir al die rampe wat Job getref het?
Wie het dit veroorsaak?
Nie God nie, maar die duiwel!
Job het dit nie geweet toe alles hom tref nie.
Die Heilige Gees openbaar dit wel aan ons in die eerste hoofstuk van hierdie Bybelboek.
Wel openbaar die Bybel dat dit nie buite God omgegaan het nie.
En dit is ook vandag ons houvas, ons troos.
Houvas in ‘n wêreld waar daar nog steeds rampe is, tornado’s, en kinders nog steeds van hulle ouers weggeneem word, of vermoor word selfs in die moederskoot, en oorloë en siektes.
Dit is nie ons Vader se verantwoordelikheid nie.
Maar sy alwetendheid is wel vir ons ‘n troos.
Niks gebeur buite sy wete nie.
Dink aan wat ons bely in Sondag 10:
Hy regeer hemel en aarde so dat “lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”
En dit maak dat “ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.”
Hierdie pragtige belydenis is gefundeer in die Skrif, in Bybelgedeeltes soos Lukas 12: “Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” (vers 6-7)
Het jy al ooit getel hoeveel mossies daar in jou tuin is?
Weet jy waar hulle die hele dag is en wat hulle doen?
Weet jy waar hulle nessies is?
Wat God in sy Woord openbaar, mag ons naspreek, tot ons troos.
Sy alwetendheid is ons troos.
Hy is op die hoogte van die doen en late van elke mossie.
Hy weet waar hulle nessies is, hoeveel eiertjies hulle uitbroei.
En, sê Hy, jy is meer werd as baie mossies.
Hy weet van elke haar op jou kop.
Ja in lewe én sterwe is dit ons enigste troos.
Ten spyte van ons sondigheid,
ten spyte van die verlorenheid van die menselike geslag,
ten spyte van als ons gebreke en gestremdhede.
Ja die sterfling is soos gras, sy dae is soos die gras,
soos ‘n blom in die veld, wat vandag daar is,
maar môre, as die wind daaroor gewaai het,
ken sy plek hom nie meer nie.
Ten spyte van die feit hoe ons is as mense, het ons ‘n houvas.
Want bo ons is sy magtige Vaderhande.
Die goedertierenheid van die HERE is oor ons van ewigheid tot ewigheid.
Soos ‘n Vader ontferm Hy hom oor sy kinders.
Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig, dat ons stof is.
Ons geboortestond en ons sterwensuur lê in sy hand.
God se alwetenheid is vir ons ‘n troos.
Vir elkeen wat gelowig na Hom opkyk.
Ons weet ons is veilig by Hom.
Hier benede en daarbo, ook in die toekoms, in die hemel, en op die nuwe aarde.
God se alwetendheid het natuurlik ook alles met sy raadsplan te make.
Sinoniem vir sy alwetendheid is sy voorkennis, soos dit in die Pinksterpreek genoem word (Hand 2:23).
Christus is oorgelewer deur God se voorkennis.
Dis nogal ‘n opmerklike ding wat Petrus daar sê.
Want die Jode was verantwoordelik vir Christus se kruisiging.
Petrus roep hulle op tot bekering, omdat hulle daardie onreg begaan het.
Terselfdertyd maak hy duidelik dat dit God nie onkant gevang het nie.
Juis deur God se voorkennis is Hy oorgelewer en omgebring.
Dit was sy voorafbeplande raadsplan wat Hy in werking gestel het.
Want deur die Middelaarsdood van sy eie Seun, stel Hy versoening beskikbaar op aarde.
Broer, suster, die oproep tot jou is om dit gebruik!
Laat jou reinig deur Hom!
Met hierdie versoening beskikbaar, ontvang ons die moed om ons hart oop te lê voor Hom wat alwetend is.
Net soos die Psalmis: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”
Moenie iets probeer wegsteek nie, dit het geen nut nie.
Wetende dat daar reiniging beskikbaar is, hoef ons nie daarvoor terug te deins om genade te vra nie!
Al kla ons hart, ons gewete, ons aan, elke keer weer, en al is daar genoeg rede daarvoor, maak gebruik van die versoening.
“want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.” (1 Joh 3:20)
In Christus Jesus, ons Middelaar, is ons getroos.
Hy wat die sonde versoen het.
Hy wat in ons plek die straf gedra het.
Hy wat die laaste vyand, die dood, die duiwel en sy hele ryk, oorwin het.
Gemeente, kom ons sing nou oor God se alwetendheid.
Kom ons sing oor sy heerlike raadsplan:
“Hoe kost’lik is u gedagtes, HEER!
Ek tel – en hul word altyd meer.
Geweldig groot is hulle som,
Waar nooit my reekning by kan kom:
meer as die sand van see en mere.
Ontwaak ek – ek is by U, HERE!” (Ps 139:9 berymd)
Amen.
Votum
Seën
Ps 139:1-5
Gebed
Skriflesing: Psalm 139
Ps 139:6-8
Teks: Psalm 139 (God is alwetend)
Preek
Ps 139:9-12
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 38:8
Kollekte
Ps 103:7,8,9
Seën