Die onsienlike God sien ons in al sy werke

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-09-21
Text: 
Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is onsienlik)
Preek Inhoud: 

Ek sien laas dat Elon Musk rondloop met ‘n T-hemp waarop staan: Colonize Mars.

Dit is sy groot missie.

Mensevoete het al op die maan rondgeloop, eerder rondgespring omdat die swaartekrag daar soveel minder is.

Maar geen mens het al ooit sy voet op Mars gesit nie, nog nie eers op Venus, wat die helfte nader aan die aarde as Mars is nie.

Die mens is ‘n spikkeltjie in die heelal, en sy oë kan maar net sover kyk.

Deesdae is daar teleskope ontwikkel wat – soos hulle beweer – ligjare ver in die heelal in kan staar.

Soos in die Noord-Kaap waar daar geen ligbesoedeling is nie, is daar van die wêreld se grootste teleskope.

Soos die SALT, wat staan vir Southern African Large Telescope, by Sutherland, die kragtigste teleskoop in die suidelike halfrond.

Of MeerKAT, nog so ‘n indrukwekkende teleskoop, naby Carnarvon in die Noord-Kaap.

As mens so ‘n groot teleskoop sien, wonder jy dalk willekeurig:

Sal hulle vir God kan sien, omdat hulle sover die hemele in kan tuur?

 

Gemeente, ons skenk vanaand aandag aan ‘n karaktereienskap, ‘n wesenskenmerk van God, wat ons in NGB art. 1 bely, naamlik dat God onsienlik is.

Ons luister vanaand na wat die Woord ons hieroor openbaar.

Wat beteken dit dat God onsienlik is?

Inderdaad, om dit al aan die begin duidelik te maak: Ons kan nie vir God sien nie.

Ook al klim ons in ‘n ruimtetuig, ook al gaan kyk ons deur die sterkste teleskoop, ook al sit ‘n mens eendag dalk sy voet op Mars, ons sal nie vir God sien nie.

Maar dan die vraag, en daaraan wil ek ook vanaand aandag skenk: Hoe is dit dan moontlik om in ‘n onsienlike God te glo?

 

Tema: Die onsienlike God sien ons in al sy werke

 

Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin met die belydenis dat God ‘n geestelike Wese is.

Dit het te make met die eienskap wat later in artikel 1 genoem word, naamlik die feit dat Hy onsienlik is.

Nou het die term ‘geestelike Wese’ al onder die nodige kritiek deurgeloop.

Maar dit is omdat die term te veel op ‘n filosofiese manier uitgelê is, byvoorbeeld Platonies.

In die ou Griekse denke is ‘n groot onderskeid gemaak tussen geestelik en liggaamlik.

Geestelik sou goed wees, liggaamlik sleg.

Maar hierdie onderskeid is vreemd aan die Bybel.

Die Bybel sê nie dat die liggaamlike, die materie, sleg is, of dat dit van ‘n laer orde is nie.

God is self die Skepper van alle materie, Hy is die Skepper van elkeen van ons se liggame.

Hy is Skepper van elke atoom, op aarde, op mars, waar ook al in die heelal.

So dis nie reg om die konnotasie dat die aarde en alle materie sleg is, te heg aan die feit dat God hier ‘n geestelike Wese genoem word nie.

Alhoewel God nie ‘n liggaam het soos ons nie, alhoewel Hy onsienlik is, bly die liggaam ‘n pragtige skepping deur Hom.

Soseer selfs, dat God in die Bybel liggaamsdele gebruik as beeldspraak om na Homself te verwys.

 

Laat ek enkele voorbeelde noem:

In Genesis 6:6 word verwys na God se hart: Dit het “die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.”

Die Bybel verwys dikwels na God se hande, soos in Jesaja 65:2: “Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk”.

Ook lees ons oor God se vingers – Psalm 8:4 wat ek reeds in die inleiding gelees het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het”.

Ook lees ons oor God se arm – Deuteronomium 9:29: “u uitgestrekte arm”.

Jesaja 40:11 praat oor God se bors: “Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra”.

Die Bybel praat selfs van God se vlerke en sy vere – Psalm 91:4: Hy sal jou dek met sy vere, en onder sy vleuels sal jy skuil.

Al hierdie liggaamsdele van mense of diere word in die Bybel gebruik om na ‘n karaktereienskap van God te verwys.

God se hand dui byvoorbeeld op sy sorg en voorsienigheid.

Sy uitgestrekte arm op sy krag.

Sy hart op sy wilsbesluit.

Maar tog kan mens nie uit hierdie Skrifgedeeltes aflei dat God ‘n liggaam het nie.

God is ‘n geestelike Wese, soos artikel 1 van die NGB sê.

Nietemin, die feit dat God hierdie liggaamsdele as beeldspraak gebruik om na Homself te verwys, benadruk wel dat die liggaamlike op sig nie sleg of sondig is nie.

As dit so was, sou God dit nie as beeldspraak gebruik het om na Homself te verwys nie.

Die liggaam is per slot van rekening ‘n volmaakte skepping van God self!

 

Maar terselfdertyd styg die Skepper ver uit bo dit wat Hy geskep het.

Die Bybel is daarom ook vol waarskuwings dat ons nie te menslik oor God moet dink nie.

Ons moet Hom nie probeer vasvang in ons beperkte wêreldbeeld nie.

Ons moet Hom nie probeer afbeeld in terme van iets wat vir ons sigbaar of grypbaar is nie.

Toe die volk Israel ‘n goue kalf gemaak het, en God daardeur begin aanbid het, was God woedend.

Die feit dat God onsienlik is, het daarom alles met die tweede gebod te make:

Jy mag vir jou geen gesnede beed of enige gelykenis maak nie.

Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie, of dit nou op aarde is, in die see onder die aarde, of in die ruimte.

Ek is die HERE, jou God!

God oorstyg elke moontlike beeldtenis of denkbeeld van ‘n mens.

 

Daarom is dit so belangrik dat ons vashou aan die belydenis dat Hy onsienlik is.

Veral in ons tyd bly dit net so belangrik.

Ons lewe in ‘n tyd waarin die natuurwetenskappe die lakens uitdeel.

Die Westerse wêreldbeeld kom daarop neer dat slegs dit wat wetenskaplik waarneembaar is, dat slegs dit bestaan.

Slegs dit wat met die blote oog, of met ‘n wetenskaplike meetinstrument, waargeneem kan word, het die reg om te mag bestaan.

Ja, daar is dinge wat die menslike oog nie kan sien nie.

Soos infrarooi, of ultraviolet.

Maar, daar is meetinstrumente wat dit kan waarneem, dus is dit deel van die werklikheid.

Maar wie weet of daar nie nog baie nie-ontdekte dinge in die skepping is nie, waarvoor die mens nog nie wetenskaplike meetinstrumente het om dit waar te kan neem nie?

Dit vereis egter van ‘n mens ‘n nederige houding, hy moet sy wetenskaplike hoogmoed laat vaar, hy moet erken dat daar inderdaad ook dinge is wat letterlik onsienlik is, en daarmee bedoel ek dan, wat ook werklik onmeetlik en onwaarneembaar is vir enige wetenskaplike meetinstrument.

Die wetenskap sal dit nie regkry om God ooit waar te neem nie, al is dit met die mees kragtige teleskoop.

Wie na Sutherland gaan met die doel om God in die hemel te wil opspoor, of wie in ‘n ruimtetuig klim om te gaan kyk of God daar êrens in die ruimte is, anderkant Mars of dalk nog verder, vir so iemand kan jy voor sy vertrek al sê: Jy sal nie vir God sien nie.

Ons bely in artikel 1: God is onsienlik.

Maar, orals, met ‘n teleskoop, of met ‘n mikroskoop, of met die blote oog, sal jy wel die werke van sy hande sien!

Jy hoef nie ligjare ver te kyk of te reis om God te vind nie.

Kyk gewoon om jou heen!

Soos ons sing in Psalm 104:24: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”

Soos ons in die volgende artikel van die NGB gaan hoor: Die skepping is soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God duidelik laat sien.

God is self onsienlik, onsigbaar.

Wil jy God sien, wil jy weet of God bestaan: Kyk na die werke van sy hande!

Hulle is, sê die NGB, meer as genoeg om mens te oortuig van God se bestaan!

 

Maar die feit dat God onsienlik is, dit hou ons nederig.

Dit is ’n permanente herinnering daaraan dat Hy net soveel groter is.

Hy is die Pottebakker, ons is die klei.

Soos iemand ’n keer vir ’n rabbi gesê het: Ek sal nooit in God glo nie, tensy ek Hom gesien het.

Die rabbi antwoord toe: Wil jy God sien? Kyk dan in die son.

Nee, het die persoon gesê, dan word ek blind.

Inderdaad, het die rabbi geantwoord: Niemand kan God sien én siende bly nie.

Hy bewoon ‘n ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie – 1 Timotheüs 6:16.

Daar het jy dit.

Geen mens kan Hom sien nie.

Dit het die HERE ook reeds aan Moses met soveel woorde bekend gemaak: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Ex 33:20)

 

Maar, gemeente, die skitterende boodskap van die volheid van die tyd is dat die onsienlike God besluit het om Homself op aarde sigbaar te maak.

Want in Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het, het God in sigbare gestalte onder sy volk verskyn en kom woon.

Soos ons dit so mooi lees in Kolossense 1: “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (vers 15).

Op eie krag, met ons blote oog, met ons wetenskaplike toerusting en meetapparate, gaan ons nooit op eie krag God kan sien nie.

Maar van sy kant het dit God behaag om na ons te kom.

In sy Woord was Hy naby sy volk in die Ou Testament.

En in sy Seun het Hy nog nader aan ons gekom!

Die implikasie hiervan is: As jy twyfels het of die onsienlike God bestaan, kyk na sy Seun!

Kyk na Christus!

Kyk na wat Hy op aarde kom doen het!

Hy het in ons geskiedenis en in ons werklikheid ingekom.

Hy het die onsienlike Vader aan ons geopenbaar.

Jesus sê vir Filippus: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (Joh 14:9)

Hy is die Beeld van die onsienlike God!

En Hy het versoening kom bewerkstellig deur sy Middelaarswerk op aarde tussen die mens en sy Skepper.

Ons mag aan Hom, aan sy prediking vashou, aan sy Middelaarswerk vashou!

Ja, in Christus het die onsienlike God naby ons gekom.

In Christus het die onsienlike God vir ons sigbaar geword.

Deur Hom het ons ontvang genade op genade.

Niemand het ooit God gesien nie.

Die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar (Joh 1:15-18).

Sy Seun het die verbond met die Skepper, wat ons verbreek het, weer herstel.

Halleluja, prys die onsienlike God!

Wat is die mens, wat is ons, dat U aan ons gedink het!

Tog het U, U het versoening bewerkstellig.

Ons mag U daarvoor ewig dankbaar wees!

Die onsienlike God sien ons in al sy werke.

Kyk maar net om jou heen.

Die duidelikste sien ons Hom in sy Seun se Middelaarswerk wat Hy hier op aarde kom verrig het!

 

Ons het vanaand aandag geskenk aan ‘n karaktereienskap van God, die feit dat hy onsienlik is.

As mens deesdae programme op televisie, soos die kanaal National Geographic, kyk, wat aandag skenk aan die ruimtenavorsing, teleskope wat diep die ruimte in tuur, onbemande ruimtetuie wat na Mars en selfs nog verder gestuur word ... dan spreek uit daardie programme dikwels ook hulle wêreldbeeld.

So asof God nie sou bestaan nie, omdat die mens nou al so ver in die ruimte gekom het, maar nog steeds nie vir God gevind het nie ...

‘n Arrogante houding, om die minste te sê.

Dit verraai die wêreldbeeld, waarin die Weste al hoe meer vasgeval het.

Die verduistering van hulle denke, dat hulle blind geword het al sien hulle.

Want reeds in die Skrif is dit al so duidelik gestel:

God bewoon ‘n ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie (1 Timotheüs 6:16).

Dit help nie om na God op soek te gaan nie.

Met jou mense-oog en meetinstrumente gaan jy Hom nooit vind nie!

Skenk eerder aandag aan hoe Hy van sy kant na jou op soek gegaan het!

Hoe Hy die opstandige mens na Hom terugtrek, deur die koms van sy Seun.

 

En as ons vanaand weer die kerk verlaat, en ons kyk op na die maan en die sterre, en veral as jy buite die stad is soos in die Noord-Kaap waar ‘n maanlose nag regtig so donker is dat jy die skouspel van die sterre soos nêrens anders kan bewonder nie; dink daaraan dat hulle deur die vingers van God geskep is – Psalm 8!

Hoe klein en nietig voel ons dan nie!

En dit is goed om so te voel.

Moenie daardie ervaring van nietigheid en kleinheid en magteloosheid onderdruk nie.

Dis goed om klein te raak voor God, en in die aanskouing van sy eindelose skepping.

Maar terselfdertyd is ook waar hoe bevoorreg ons is, omdat ons weet dat hierdie onsielike God tog vir ons sien en vir ons sorg!

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink” (Ps 8:4-5)?

Hoe ontsagwekkend groot is u werke, o God!

Ons mag Hom uit ons hart dank, dat Hy aan ons gedink het, en ons sy geliefde Seun gestuur het!

Ons mag uitroep, met die woorde in 1 Timotheüs 1: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (vers 17)

 

Soos ek genoem het, Elon Musk loop rond met ‘n T-hemp waarop staan: Colonize Mars.

Hy is druk besig met sy voorbereidings – soos die ontwikkel van rakette wat die vermoë sal hê om die mens na Mars te neem.

Ek weet nie of dit ooit gaan slaag nie, of dit ooit in sy en ons leeftyd gaan gebeur nie, maar mog dit ooit in die toekoms gebeur dat ‘n mens sy voet op Mars sit, bid ek dat daardie mens sal besef dat ook daardie planeet geskape is deur die vingers van God, dat dit ook die werk van sy hande is.

En ek bid dat Musk ook tot daardie besef en geloofsbelydenis mag kom.

Dat hy en elkeen van ons rus mag vind in daardie God, wat in Jesus Christus sy Seun self na die aarde gekom het!

Hy is die onsienlike God, maar met geloofsoë sien ons Hom!

Hy is die bron van alle lewe, waar daardie lewe ook al mag wees.

Hy is die bron van alle lig, al bewoon Hy ‘n vir die mens ontoeganklike lig.

“Sy oë speur oneindig ver; Hy tel en roep die laaste ster; sy krag en kennis, ongemeet, oorwelf al wat ons ken en weet.” (Ps 147:2 – berymd)

Geliefdes, skuil by Hom, ken Hom, dien Hom, aanbid Hom deur sy geliefde Seun jou Heiland en Saligmaker Jesus Christus!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 2:2

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-18; Kolossense 1:13-23; 1 Timotheüs 6:11-16

Ps 119:33

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is onsienlik)

Preek

Ps 147:1-4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte

Ps 8:1-7

Seën