Vertrou jou lewensweg aan die HERE toe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-09-14
Text: 
Psalm 37:5
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 37:5

 

Dis nog nie die einde van die jaar nie, maar tog begin mense al dink aan wat hulle volgende jaar moet doen.

Jongmense soos die matrieks wat tans in die rekordeksamen is, moet inskryf by universiteite, of hulle wag of hulle keuring gekry het vir ‘n spesiale studierigting.

Selfs die graad 11’s moet nou al hard werk om goeie punte te kry, omdat hulle aansoeke volgende jaar beoordeel gaan word op basis van hulle graad 11 punte.

En geld dit nie vir jou hele skoolloopbaan nie.

Jaar vir jaar bou jy aan jou toekomstige lewe.

En soos wat jy verskillende vakke volg, begin jy nadink oor waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie.

En jy begin nadink oor wat jy eendag na skool sal wil doen.

In watter rigting jy bevoorbeeld sal wil werk, of sal wil gaan studeer.

Alles dinge waarby ons ons verstand moet gebruik, nugter oor alles moet nadink.

 

Ja gemeente, die HERE se Woord skakel nie ons eie verstand af nie.

In die lig van sy Woord moet ons juis ons eie verstand ook op volle sterkte gebruik.

Tog, en dit vind ons in vandag se teks, gee die HERE vir ons volle gemoedsrus.

Laat jou weg aan die HERE oor.

Vertrou Hom.

En Hy sal dit uitvoer.

 

Tema: Vertrou jou lewensweg aan die HERE toe

1. Maak die regte keuses

2. Vind ware lewensvervulling deur sy Woord

 

1. Maak die regte keuses

Hierdie psalm is ’n akrostiese lied.

Hierdie term beteken: dis ’n lied wat opgestel is aan die hand van die alfabet.

In ons Bybel staan die letters van die Hebreeuse alfabet kursief afgedruk, van a tot z; of beter gesê van alef tot tau.

Vroeër is liedere dikwels op hierdie manier geskryf.

In die Bybelse tyd, maar ook daarna.

’n Bekende voorbeeld is die Nederlandse volkslied, die Wilhelmus, waar elke nuwe vers met ’n volgende letter van die naam Willem van Oranje begin.

Psalm 37 se eerste woord begin dus met ’n a, oftewel alef.

Vervolgens begin vers 3 met ’n b, oftewel bet.

Dis nou nie in Afrikaans nie.

In die Afrikaanse vertaling begin vers 3 met ’n v – vertrou.

Maar in Hebreeus begin die eerste woord van vers 3 met ’n b, betach, wat vertrou beteken.

En so gaan dit aan: vers 5 begin met die letter gimel.

Vers 7 met die letter dalet, ensovoorts.

’n Rede vir hierdie tipe digvorm was om dit makliker te kan memoriseer.

Dis makliker om ’n nuwe vers, of ’n nuwe paragraaf te onthou, as jy weet met watter letter dit behoort te begin.

Vroeër, in die tyd toe Dawid hierdie psalm geskryf het, was die meerderheid mense ongeletterd.

Hulle kon nie lees of skryf nie.

Die meeste gelowiges kon nie self die Bybel lees nie.

Hulle moes luister as ander voorgelees het.

Maar daarom het mense baie meer as vandag Bybelgedeeltes gememoriseer.

As ons deesdae iets soek wat in die Bybel staan, kan ons net ons Bybel vat en begin blaai, of nog makliker, ons rekenaar, selfoon of tablet vat en ’n soekfunksie doen.

Vroeër was mense baie meer op hulle eie geheue aangewese.

Liedere het ‘n struktuur gehad, wat dit makliker maak om te memoriseer.

 

As ons na die struktuur kyk, sien mens dat dit ook ’n invloed gehad het op die inhoud van die lied.

Daar is naamlik ’n tema wat elke keer terugkeer.

Die tema word vanuit verskillende oogpunte belig.

Die tema van Psalm 37 kan mens kortliks soos volg verwoord:

Dis ’n vergelyking tussen die weg van die gelowiges en die weg van die goddeloses.

Dalk onthou u, dit is ook die tema van Psalm 1.

Psalm 1 handel oor die twee paaie, die twee weë wat nie gekombineer kan word nie.

“Welsalig hy wat op die spoor nie gaan waar sondaars lok; wat op hul pad nie staan ...” ensovoorts.

Psalm 1 vorm ’n inleiding op die hele Psalmboek.

Die basiese tema van Psalm 1 kom telkens weer terug in die Psalmboek.

Ook hier dus in Psalm 37.

Dit is waaroor ons teks gaan.

Laat jou weg aan die HERE oor.

Vertrou jou lewensweg aan Hom toe.

 

Ons as mense het ’n soort outomatiese meganisme in onsself dat ons gou verontreg voel.

Mens sien dit al by kinders.

As die een kind ’n groter stuk koek kry as sy boetie of sussie, dan hoor jy tien teen een ’n gekla.

So is ons grootmense ook.

Selfs ons as gelowiges.

Jy voel jouself verontreg as jy sien dat sondige mense wat hulle nie aan die wet hou nie, tog voorspoed geniet.

Veral as dit gebeur op ’n stadium wat jy nie voorspoed ervaar nie, al hou jy jou wel aan die wet.

Nou wil Psalm 37 jou weerbaar maak.

Dit wil jou beskerm dat jy nie as gevolg hiervan ondeurdagte dinge begin doen nie.

Want, en dit is die steeds terugkerende tema van die psalm:

Die sukses van die wettelose is oppervlakkig.

Jy moet maar liewerste hulle sukses nie beny nie.

Want dit het nie diep wortels nie.

Die Psalm laat jou die positiewe kant sien:

Vertrou op die HERE!

Doen die goeie.

Streef na ’n houding van konstante trou.

Trou teenoor God, teenoor jou naaste, en teenoor jouself.

Die goddelose, die ongelowige, kies sy eie weg, via ’n kortstondige voorspoed na sy ondergang toe.

Maar die gelowige laat sy weg aan die HERE oor, en dus wankel hy nie.

Moenie daarom ‘n maklike afdraaipad kies nie.

Het Christus ons nie juis daarin voorgegaan nie?

Al was sy lewensweg bitter moeilik, al is makliker alternatiewe Hom aangebied, tog het ons Heiland koers gehou!

 

Laat jou weg aan die HERE oor.

Daar is tye wat jou lewensweg, alles wat jy aan sorge, vrae, moeites en uitdagings meemaak, soos ’n swaar las kan druk.

Die digter Dawid, wek jou dan op:

Moenie hierdie las self bly dra nie, sit dit op die HERE se skouers.

Laat Hy jou lewensroete bepaal.

Hy sal voorkom dat die regverdige wankel.

Hoe is dit moontlik?

Is dit omdat die regverdige sondeloos is?

Ons weet beter.

Die rede is: ’n Regverdige is iemand wat al sy sorge op die HERE se skouers laai.

En dus kan ’n regverdige sy pad deur die lewe voortsit sonder ’n swaar las op sy skouers.

Wie ’n swaar las, ’n swaar rugsak dra, struikel maklik.

Wie niks hoef te dra nie, struikel nie so gou nie.

Dus, so eenvoudig is dit, moenie jou eie laste dra nie.

 

Om ’n voorbeeld te noem:

As jy jonk is, moet jy soms baie moeilike keuses in jou lewe maak.

Wat moet ek gaan studeer?

Watter werk moet ek kies?

Waar gaan ek eendag woon?

Met wie moet ek trou?

Dit is almal keuses wat die res van jou lewe sal beïnvloed.

Daardie besluite kan soos ‘n swaar las wees wat op jou druk.

Maar juis dan, watter beslissing jy ook moet maak, vertrou dit aan die HERE toe!

As jy jou net deur jou eie hart laat lei, kan jy maklik vasloop.

En as dan later blyk dat jy ’n verkeerde keuse gemaak het, kan dit lei tot ondraaglike selfverwyt.

Dit kan ook gebeur dat jy glad nie ’n keuse kan maak nie.

Dat jy op die T-splitsing vashaak.

Dat jy net nie die moed het om links of regs te draai nie.

Juis dan is dit ook ’n verademing as jy jou lewensweg aan God toevertrou.

Dan is ons teks ’n verademing: Laat jou weg aan die HERE oor, vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer.

 

Miskien vra jy jouself nou af.

Hoe werk dit konkreet?

Hoe kan ek heel prakties die HERE se hulp inroep as ek ’n moeilike keuse moet maak - ’n keuse wat my lewensweg ingrypend kan beïnvloed?

Gemeente, as ek hierdie onderwerp met die belydeniskatkisante behandel, probeer ek dit met die volgende stappe te verduidelik:

Stap 1: Oorweeg in die eerste plek die moontlikhede wat jy het.

Deesdae het ons dikwels so baie keusemoontlikhede, dit maak die lewe nie altyd makliker nie.

Vroeër het iemand byvoorbeeld outomaties voortgegaan met die beroep wat sy pa beoefen het.

En vroeër, byvoorbeeld in die Bybelse tyd, het iemand se ouers ’n groot invloed gehad op die keuse van jou huweliksmaat.

Die hedendaagse lewe met al sy keusemoontlikhede is baie aantreklik, maar dit kan tegelykertyd die lewe ook baie moeilik en ingewikkeld maak.

Maar goed, stap 1 is om die moontlikhede wat daar is, nugter en rustig op ’n rytjie te sit.

Stap 2 is dan: Ondersoek of elke moontlike keuse nie in stryd is met die geopenbaarde wil van God in die Bybel nie.

Want as dit die geval is, dan is dit nie meer vir jou as gelowige ’n opsie nie.

Moenie jou lewe as gelowige moeiliker maak deur dinge te oorweeg wat in elk geval nie in lyn met die HERE se wil is nie, of wat jou lewe in diens van die HERE baie gaan komplisser.

Stap 3 is vervolgens: Praat met jou familie, ouers, vriende, mede-Christene, dominee.

Kry almal se advies.

Mense wat vir jou omgee is ’n groot geskenk van die HERE.

En dan, stap 4: Lê alles in gebed aan die HERE voor.

Vra of Hy vir jou helderheid wil gee, of Hy jou en jou keuse wil lei in die regte rigting.

En dan, ten slotte, stap 5: Haak die knoop deur.

Maak ’n keuse.

Moenie ewig op die T-splitsing bly staan nie.

Teen hierdie tyd het sommige alternatiewe waarskynlik al afgeval, deur die gesprekke met ander, of omdat hulle in elk geval op gespanne voet staan met die wil van die HERE.

Waardeur die keuse net makliker geword het.

Maar nog steeds, op die ou einde kan dit nog steeds baie moeilik wees.

Maar dit help nie om besluiteloos te bly nie.

Neem ‘n besluit, en dan gaan jy daarvoor.

Dan mag jy ook die HERE se seën op jou keuse verwag.

Want dan het jy God gevra om jou toekoms te seën.

En as jy na hierdie 5 stappe God se seën gevra het, kan jy met ’n rustige hart hierdie rigting inslaan.

Tipies van ons tyd is ook dat mense ‘FOMO’ het – fear of missing out.

As gelowiges hoef ons dit nie te hê nie.

Ons besef ons kan nie alles op aarde doen nie, ons sal keuses moet maak.

Maar ons kies vanuit die besef dat ons lewe diensbaar is aan die HERE.

Het ons Here Jesus Christus nie ook dit gedoen nie?

Daarin het Hy ons voorgegaan.

‘n Vervulde lewe is nie ‘n lewe waarin jy alle ‘boksies afgetiek’ het nie.

‘n Vervulde lewe is ‘n diensbare lewe.

Hierdie lewe is kort, maar daar wag ‘n ewige lewe.

 

(Tema: Vertrou jou lewensweg aan die HERE toe

1. Maak die regte keuses)

 

2. Vind ware lewensvervulling deur sy Woord

Wie sy weg aan die HERE oorlaat, hoef nie eindeloos besluiteloos te bly nie.

Hoef ook nie die gevoel te hê dat hy gejaagd moet lewe om alles gedoen te kry wat hy nog wil doen, omdat die lewe so kort is nie.

Want ons weet dat God sin aan ons lewe verleen, ook al kan ons lank nie alles gedoen kry of beleef wat ons graag sou wou nie.

Jou lewe is kosbaar in God se oë, ook al is dit wat jy doen en bereik, dalk maar skraal in die oë van die wêreld.

God kyk anders na jou lewe.

 

Daar was ‘n keer, ‘n eeu of twee gelede, ‘n sendeling wat met ‘n boot na sy geboorteland teruggekeer het.

Op die boot waarmee hy teruggekeer het, het toevallig ook die president van Amerika gevaar.

Toe hulle in die tuishawe aankom, word die president met groot gejuig, met vlae en ’n rooi tapyt verwelkom.

Die sendeling het egter ongemerk van die boot aan land gegaan.

Hy was eintlik bietjie kwaad vir God.

Het ek nie veel meer vir u koninkryk gedoen as hierdie president nie?

Maar God het hom toe geantwoord: Ja my kind, maar jy het nog nie jou tuishawe bereik nie.

Dit laat my dink aan vers 9:

Die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.

Ons moet egter nie in hierdie lewe al ons beloning verwag nie.

 

Gemeente, ek wil nog vir ‘n oomblik apart fokus op een aspek wat ek hierbo genoem het.

Die tweede stap, dat jy by elke keuse die moontlikhede toets aan die geopenbaarde wil van die HERE.

Ons het hieroor gelees in Psalm 119.

Welgeluksalig is daardie mens, wat wandel in die wet van die HERE.

Hierdie uitdrukking bedoel:

Mense wat ’n lewenswyse daarvan maak om die wil van die HERE te gehoorsaam.

Dit is nie iets wat vryblywend is nie.

God, die Skepper van elke mens, lê dit op aan elke mens.

Jy woon op God se aarde, jy het niks om te kies nie.

In vers 4 staan: U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.

Dis ’n opdrag.

Leef so!

Broer, suster, leef jy met die besef dat God bestaan?

Of raak daardie besef soms op die agtergrond?

Die lê nie aan God nie.

Die werke van sy hande is orals te sien.

Om ’n lewendige besef te hê dat God bestaan, daardie besef kry jy deur gehoorsaam sy wil te doen.

Wie God se wil ernstig neem, kry nie ’n gevoel van Godsverduistering nie.

Godsverduistering is in feite verduistering van ’n mens se eie verstand, ’n mens wat die verkeerde keuses in sy lewe maak.

 

Maar dit kan ook andersom gebeur.

Dat iemand byvoorbeeld sê: Ek het ’n baie persoonlike band met God, God begryp wel wat ek doen, al staan dit wat daardie persoon dan doen juis op gespanne voet met die Bybel.

Dit is miskien nog gevaarliker.

So was daar baie mense in die verlede wat met ’n beroep op God die ergste dinge gedoen het.

 

Wat is die geopenbaarde wil van God eintlik?

Dit is nie ’n rytjie harde reëls en voorskrifte nie.

As jy die Bybel lees, leer jy God in die eerste plek ken as Vader.

Dis soos Christus Hom aan ons openbaar!

In Psalm 37 praat Dawid nie met ’n ongenaakbare en onbekende God nie.

Maar met die HERE – dis sy verbondsnaam.

Hy wat trou is.

’n Vader wat duidelike reëls vasstel, maar wat ook geduldig is.

Sy reëls is nie om die lewe bitter te maak nie, maar om die lewe gelukkig te maak.

 

Daarom, laat jou lewensweg aan die HERE oor.

Toets alles wat jou lewenspad kruis aan die Woord van jou goeie Vader in die hemel.

As jy dit doen, kan jy met vertroue die toekoms inbeweeg.

Want Hy sal dit uitvoer.

Die Nuwe Testament leer ons dat Jesus Christus God se Woord is wat vlees geword het.

Fokus op Christus in jou lewe, volg Hom, dan hou jy die regte koers.

Hy sal vir ‘n goeie lewe sorg.

Wie die HERE vrees en met Hom deur die lewe gaan, word ’n tevrede en gelukkige mens.

Beteken dit dan dat mense wat God nie vrees nie, dus nie voorspoedig kan wees nie?

Psalm 37 laat duidelik sien dat dit nie die geval is nie.

Die digter waarsku ons naamlik:

Wees nie vol afguns op hulle wat voorspoedig is, op die man wat listige planne uitvoer nie.

Moenie jaloers wees op hulle wat God se wette oortree nie.

Maar wees stil.

Wees tevrede in die HERE.

Soms kan kerklede kla:

Ek kan nie so vinnig ryk word as ander mense nie, want ek moet eerlik wees.

Ek kan nie op Sondae werk nie.

Ek kan nie deelneem aan die lotery nie.

Ek en my vrou kan nie albei voltyds werk nie, wat sal van die kinders word?

 

Hierdie Psalm roep jou op: Wees stil voor God!

God se wil is vir jou eie beswil.

Hy sal vir jou sorg.

Hy leer jou dat sukses in die lewe iets anders is as geld en goed.

Hy leer jou dat die mooiste dinge in die lewe gratis is.

Vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer.

 

Om hierdie rede het ’n gelowige ’n ander visie op arbeid.

Ek bedoel nie dat ’n gelowige lui is nie, inteeneel.

Maar vir ons geld nie dat werk sinoniem is aan geld verdien nie.

Daar is mense wat glad nie hulle werk geniet nie, maar hulle gee nie om nie, want hulle verdien geld.

Hulle leef vir die naweek en vakansies.

So ’n visie op arbeid is nie wat die Bybel ons leer nie.

Werk is om in die eerste plek diensbaar te wees in God se koninkryk.

En dan nie net jou beroepswerk nie, maar ook jou werk in die gesin, in die kerk, in die samelewing.

 

Om jou lewenstaak goed te kan doen het jy uiteraard genoeg geld nodig.

Te min is nie goed nie.

Maar te veel is dikwels ook nie goed nie.

Daar is baie mense wat daaronder ly omdat hulle te veel verdien.

Wie te veel verdien, swig gou vir al die versoekings in die wêreld.

Hierdie Psalm sê: Moenie afgunstig wees op die mense wat meer as jy het nie.

Moenie jaloers wees op die mense wat vir hulleself lewe, en wat nie met God se wil rekening hou nie.

Liewerste ’n regverdige met ’n bietjie, as al die rykdom van die goddeloses.

 

Wat ons ook doen, doen ons goed, om die HERE daarmee te dien.

In alles laat ons ons deur Hom lei.

Op kort termyn mag dit lyk of wettelose mense baie voorspoedig kan wees.

Maar op lang termyn bring gehoorsaamheid aan die HERE jou die verste.

Langs hierdie weg sal jy ook nie jou lewensdoel mis nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak – Spreuke 3:6.

Ja: “Laat jou weg aan die HERE oor, vertrou op Hom, en HY sal dit uitvoer.”

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:1,4

Wet

Ps 119:4,7

Gebed

Skriflesing: Psalm 119:1-16

Ps 37:1-3

Skriflesing: Psalm 37

Ps 37:4-6,9-12

Teks: Psalm 37:5

Preek

Ps 37:13-18

Gebed

Kollekte

Ps 37:23-25

Seën