God is oneindig in oneindig baie opsigte

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-09-07
Text: 
Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is oneindig)
Preek Inhoud: 

As daar twee dinge is wat mens ‘n gevoel van oneindigheid gee, is dit seker die nagtelike hemel, asook die uitgestrektheid van die oseaan.

So oneindig sy skepping is, des te meer oneindig is die God wat dit geskape het.

In die Psalms word hierdie gevoel van oneindigheid dikwels verwoord.

 

“Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning,

sien Hy, Skepper-HEER,

uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë

op sy skepsel neer.” (Ps 33:7 berymd)

 

“Hy slaan, hoewel oneindig hoog,

op hul die oog wat needrig lewe.”

(Ps 138:3 berymd)

 

“Hy is 'n toevlug in die nood,

Hy is 'n hulp oneindig groot.”

(Ps 37:25 berymd)

 

“Vra na die HEER der leërmagte,

die HEER oneindig groot in kragte;”

(Ps 105:3 berymd)

 

En die bekende Psalm 8:

“Ja, daar's geen land so ver of woes geleë,

geen strand, o HEER, of wilde waterweë,

geen hemelsfeer in die oneindigheid -

of orals blink u Naam en majesteit.”

(Ps 8:7 berymd)

 

Die nagtelike hemel, die heelal waar mens in staar, en ook die oseaan, dit gee ons ‘n klein idee van God se oneindigheid.

 

Die afgelope weke het ons al verskeie kere ‘n eienskap van God behandel wat met die voorvoegsel –on begin.

Vanaand staan ons stil by nog ‘n eienskap in artikel 1 wat met die voorvoegsel –on begin, naamlik God wat oneindig is.

Ons gaan vanaand weer op speurtog deur die Bybel, om agter te kom wat God se oneindigheid is, en dan tweedens, wat dit vir ons beteken.

 

Tema: God is oneindig in oneindig baie opsigte

1. Die werklikheid van sy oneindigheid

2. Die betekenis van sy oneindigheid

 

1. Die werklikheid van sy oneindigheid

In die eerste plek is die Skrif baie duidelik oor die feit, die werklikheid, dat God oneindig is.

Oneindig in meerdere opsigte.

Oneindig in tyd, soos daar in Openbaring 4 staan: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” (vers 8, sien ook Openb 11:17)

Ook oneindig in wysheid en kennis.

Sy verstand is oneindig –  Ps 147:5: “Ons Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.”

Verder ook oneindig in vermoë, soos Jesus sy dissipels verseker het:

“Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Matt 19:26)

En dan, oneindig ook in ruimte, in die sin van alomteenwoordig.

Een van die mooiste voorbeelde is toe koning Salomo die tempel ingewy het.

Ons kan in Samuel en Konings lees hoe daar jare lank voorberei is vir die bou van die tempel.

En toe die tempel uiteindelik daar gestaan het, was dit ‘n skitterende gebou.

Baie groot, baie kunssinnig ontwerp, en van die kosbaarste materiale.

Van heinde en verre is absoluut hoogwaardige materiale aangevoer.

Toe die gebou uiteindelik klaar was, was dit iets waarop Salomo met reg trots kon wees.

Duisende derduisende mense was bymekaar vir die inwyding.

Maar, as ons dan Salomo se gebed by die inwyding lees in 1 Konings 8, gebruik hy baie sober woorde.

Uit sy gebed klink die besef dat hierdie manjifieke tempel eintlik niks is vir die HERE, as mens naamlik sy grootheid, ja sy oneindigheid, in ag neem.

“... sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” (1 Kon 8:27)

Dit is dus die realiteit van God se oneindigheid wat die Skrif ons openbaar.

Wat ‘n voorreg vir ‘n land, as die magtigste man in die land dit besef.

Dat dit wat hy gebou het, eintlik niks is vergeleke met God nie.

ook hyself, al is hy hoe magtig, is nietig voor God.

Hierdie woorde word herhaal in 2 Kronieke: “... wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou ...” (2 Kron 2:6 en 6:18)

In hierdie besef het Salomo daar gestaan.

“Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde ...” (Ps 33:13-14)

Die Skrif sê dit asof dit vanselfsprekend is.

Maar ons as mense, wat eindig is, se koppe begin draai as ons nadink oor die feit dat daar Iemand is wat in een keer al die bewoners van die aarde kan sien.

Dit kan ons nie verstaan nie.

Maar inderdaad, Hy is alomteenwoordig!

Hierdie werklikheid is ‘n basiese vertrekpunt in die Skrif as dit oor God gaan.

Soos ons sing in Psalm 113: “Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (Ps 113:4-6)

Dit is ‘n retoriese vraag.

Inderdaad, is die antwoord, daar is niemand soos die HERE nie, niemand so oneindig nie.

 

Dit is hierdie boodskap wat Paulus op sy sendingsreise die heidenwêreld ingedra het:

“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” (Hand 17:24)

 

God se alomteenwoordigheid word in Psalm 139 ook treffend onder woorde gebring.

Dawid besef die realiteit dat dit nie sin het om vir God te probeer wegvlug nie.

Waarheen sal ek vlug van u aangesig af weg?

Klim ek op na die hemel, U is daar.

Maak ek die doderyk my bed, U is daar.

Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan woon ek by die uiteinde van die see.

Selfs daar sal u hand my lei en u regterhand my vashou.

Ook donkerte of lig maak nie ‘n verskil nie.

Want selfs die nag is vir U soos daglig.

 

Die profeet Jona het dit proefondervindelik ervaar.

Jona was soos ‘n opstroppelis peuter wat net by sy ouers wou wegloop.

Maar letterlik nêrens het die HERE hom uitgelos nie.

Waarheen Jona ook al gevlug het, elke keer was God alreeds daar.

In die skip op see was Hy reeds daar.

Hy het ‘n storm gestuur.

In die dieptes van die see was Hy reeds daar.

Hy het ‘n groot vis gestuur.

Op die strand het Hy hom weer gevind.

In Ninevé was Hy reeds daar.

Net buite Ninevé het Hy vir hom ‘n wonderboom laat groei.

God se alomteenwoordigheid was vir Jona danig irriterend.

Maar Psalm 139 leer vir ons om dit te aanvaar, beseffende dat dit aan die einde van die dag vir ons beswil is.

Hy deurgrond my!

En Hy gebruik alle omstandighede, en alle plekke, en al sy skepsele, om sy kinders op die ewige weg te lei.

Glo jy dit ook, broer, suster?

Het jy dit ook al leer raaksien in jou eie lewe?

 

Niks ontgaan sy alsiende oog nie.

“Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” – Spreuke 15:3.

Ja sy grootheid is ondeurgrondelik, sê Dawid in Psalm 145(:3).

En nie net sy grootheid nie, ook sy verstand, dit wil sê sy denke, sy beplanning van alle dinge.

Soos ons in Psalm 147 sing: “Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (vers 5)

Die menslike brein is vir die mediese wetenskap vir ‘n groot deel nog ‘n raaisel, wat betref hoe ingewikkeld dit is, en hoe kragtig dit is.

Die menslike brein is soveel kragtiger as enige dierebrein.

Slim diere, soos dolfyne of sjimpansees, kom nog nie naby die mens se brein nie.

Dit kan die mens groot en magtig op aarde laat voel.

Hy is inderdaad in beheer, hy kan alle ander lewende wesens manipuleer soos hy wil, hoe groot en gevaarlik daardie diere ook is.

Maar op sy beurt is die mensebrein niks vergelyke by God se oneindige verstand nie.

Net soos die pottebakker en die klei net nie op dieselfde vlak is nie.

 

Dit is dus wat die Skrif aan ons openbaar, by herhaling, in alle toonaarde:

God is oneindig.

Dit is die werklikheid!

Ja God is oneindig in oneindig baie opsigte.

Oneindig kwadraat.

In grootheid, in wysheid, in verstand, in almag, in tyd, in alomteenwoordigheid.

In God se teenwoordigheid voel die mens nietig, soos in die middel van ‘n oneindige oseaan.

 

Broer, suster, voel jy soms nietig?

Het die gejaagde lewe in die stad daardie gevoel heeltemal op die agtergrond gedruk?

Maar van tyd tot tyd sit die HERE ons weer op ons plek.

Deur sy skepping, of dalk deur ‘n siekte, of die afsterwe van ‘n geliefde ...

Dan word ons weer pynlik herinner as ons eindigheid, altans die eindigheid, die vlugtigheid, van ons huidige bestaan.

 

Maar, en daarna mag ons in die tweede punt kyk:

Wie by die oneindige God skuil, vind by Hom wel ‘n oneindige troos.

Want die Skrif openbaar aan ons nie net die feit van God se oneindigheid nie.

Uit die Bybel leer ons ook wat die implikasie daarvan vir ons is, die betekenis vir ons.

 

(Tema: God is oneindig in oneindig baie opsigte

1.  Die werklikheid van sy oneindigheid)

 

2. Die betekenis van sy oneindigheid

Hierdie oneindigheid van God het ook ‘n implikasie, ‘n boodskap, ‘n betekenis.

Jesaja roep die volk op, wat die ballingskap in die gesig staar, om hulle troos by die Oneindige te vind.

“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.” (Jes 40:28)

Die implikasie van die woorde is: Die land waarheen hulle in ballingskap gevoer gaan word is ook binne sy magsbereik.

Dis Hy wat hulle daarheen stuur, as straf op hulle jarelange sondes.

Dis Hy wat hulle daar ook sal bewaar.

In daardie verre land van ballingskap, selfs al is dit aan die einde van die aarde, ook daar sal God wees.

“As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” (Jes 43:2)

Ook die profeet Jeremia kom met ‘n skitterende boodskap.

Jeremia het geleef tydens die ballingskap.

‘n Tyd van groot ontnugtering vir die Jode.

Alle aardse dinge waarop hulle gesteun het, is van hulle weggevat.

‘n Tyd waarin hulle opnuut moes leer om hulle vertroue net op Een te stel.

Hy wat alles gemaak het, in wie se hand alles is – Jeremia 32:17:

“Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.”

Ja hierdie God is alomteenwoordig.

Dit is ‘n herinnering vir hulle wat van God af probeer wegvlug – hulle sal nêrens heen kan wegvlug nie.

Dis ook ‘n troos vir hulle wat by God skuil – die vyande sal nêrens vir Hom kan wegkruip nie.

“Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE” (Jer 23:24)

“... daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” – Hebreërs 4:13.

 

En net soos God die Vader alomteenwoordig is, so is sy Seun dit ook.

As dit nie so was nie, sou Christus nie in byvoorbeeld Mattheüs 18 kon sê nie:

“waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (vers 20)

Wat ‘n heerlike boodskap kom hierin na ons toe.

Christus is in ons midde.

Met hierdie besef hou ons ook vanaand ‘n erediens hier waar ons is, êrens in Afrika.

Ook hier is Christus, Hy wat alomteenwoordig is.

Ook hier is Hy in ons midde.

“Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebreërs 13:5).

Net iemand wat alomteenwoordig is, kan so ‘n versekering gee.

Die Hebreërskrywer noem dit in die konteks van die feit dat sy lesers vry moet wees van geldgierigheid.

Die bron van geldgierigheid is dikwels ons onsekerheid oor die toekoms.

Hoe meer onsekerder ons oor die toekoms is, hoe meer geld hou ons vas vir onsself.

Dit kan verdedig word as synde verantwoordelike rentmeesterskap.

Maar aan die ander kant, as hierdie houding die plek inneem van ons vertroue op God, dan is iets nie reg nie, dan word ons geld juis ‘n struikelblok.

Dit maak ons so maklik hoogmoedig.

Paulus skryf: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie” (1 Tim 6:17).

Dit is ook wat die Hebreërskrywer sy lesers voor waarsku.

Sy waarskuwing is tegelykertyd ‘n vertroosting:

“Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5)

Ook hier waar ons woon in Afrika met al sy uitdagings en onsekerhede, is dit net so waar.

Waar soek jy jou sekuriteit in die lewe?

Is dit by die feit dat Christus ons nooit sal verlaat nie?

Soos ons in die Kategismus bely:

“Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.” (antw. 47)

 

Kom ons kom terug by artikel 1 van die NGB.

Dit beskryf God met ‘n aantal woorde wat elkeen met die voorvoegsel -on begin.

Daardie voorvoegsel -on dui daarop dat iets buite die grense val van wat ons kan verklaar.

Dit is alles woorde wat aan die Skrif ontleen is.

Dis opvallend hoe dikwels die Bybel die HERE beskryf met woorde wat aandui dat Hy bo ons grense, bo ons verstaansmoontlikhede uitstyg.

In menslike taal word iets beskryf van die in feite onbeskryflike werklikheid van God.

Alles wat God is en alles wat Hy het, is net soveel groter.

Keer op keer moet die voorvoegsel -on gebruik word.

Onmoontlik om dit te definieer, onmoontlik om dit vas te vang, te verstaan.

Hy “wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag.” (1 Tim 6:16)

En soos Paulus byvoorbeeld aan die Efesiërs skryf: Hy is bevoorreg om aan hulle die evangelie te bring van die onnaspeurlike rykdom van Christus (Ef 3:8).

Ja God is oneindig in tyd, wysheid, mag, ruimte, en noem maar op.

God is in feite oneindig in oneindig baie opsigte – soos die tema sê.

Vir almal wat by Hom skuil, vir ons sy kinders, is dit ‘n groot troos.

Vir sy vyande is dit ‘n waarskuwing.

By alle skepsele roep dit verwondering op.

Dis soos wanneer mens aan die kant van die oseaan staan, en voor jou strek die waters uit, tot verby die horison, oneindig ver, en ook onpeilbaar diep.

Of soos wanneer jy na die sterrehemel staar in ‘n donker Karoonag.

Ons kan Hom nie bevat nie.

Ons is maar net bewus van ‘n deeltjie.

Wie God is, in soverre Hy Homself kenbaar gemaak het.

Hoe God is, sy karaktereienskappe.

Wat God op aarde doen.

Ja ook sy raadsplan is onnaspeurlik, onbevatlik, alwys en goed.

En dit alles, openbaar die Skrif, het ‘n betekenis vir ons.

Dit laat ons klein voel, maar ook veilig.

Dit stel ons gerus, want Hy die Alomteenwoordige slaap nog sluimer.

Dit moedig ons aan om trou ons diens op aarde vervul.

Want Christus is met ons tot aan die voleinding van alle dinge.

Christus besit oneindige mag en heerlikheid.

Jy behoort aan Christus!

Hy die Oneindige, het gesterf.

Maar die dood het op Hom – die Oneindige – nie kon vashou nie.

Deur sy Middelaarswerk koop Hy sondaars vry, en gee hulle ‘n oneindige toekoms.

Ons kan maar net in verwondering uitroep saam met die Skrif:

“o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom 11:33-36)

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 139:1,3

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 8:1-30

Ps 33:7

Skriflesing: Psalm 147

Ps 147:1,2

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is oneindig)

Preek

Ps 139:4,9

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 145:1,2

Kollekte

Ps 145:3-6

Seën