Vanoggend het ons na die pragtige Psalm 36 gekyk, met as teks:
“Want by U is die fontein van die lewe” (vers 10a).
As daar in artikel 1 van die NGB staan dat God die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is, kom daardie woorde uit Skrifgedeeltes soos hierdie.
Vanaand wil ek met u verder kyk na hierdie wesenskenmerk van God.
Dat Hy goed is.
Soos ons gesing het:
“Loof God omdat Hy goed is,
En goed is sonder end!” (Ps 107:1)
Tema: God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is
In ‘n warm, droë en waterarme land soos Suid-Afrika kan ons onsself goed inleef in hoe onmisbaar ‘n fontein vir lewe was in Israel.
Hier in Suid-Afrika is een van die sprekendste voorbeelde van ‘n fontein, die oog by Kuruman.
Soos u weet, is die Noord-Kaap dor en droog.
Maar sodra mens Kuruman binne ry, word jou oog getref deur die groen gras en palmbome.
Die fontein van Kuruman is ‘n wonder.
Tot vandag toe weet mense nie mooi waar al daardie ondergrondse water vandaan kom nie.
Daar is vermoedens dat dit verbind is met die Okavango Delta, waar die water in die grond insak.
Vir eeue was Kuruman al ‘n oase waaromheen daar mense gebly het.
Behalwe vir ‘n fontein in Nieu-Seeland, is dit die kragtigste fontein in die suidelike halfrond.
Behalwe vir die dorp se behoeftes, vloei die water van die oog van Kuruman uiteindelik in die Oranjerivier in.
Een soos u weet, waar die Oranjerivier ook al deur die droë Noord-Kaap stroom, is dit ‘n bron van lewe.
Die land Israel is vir die grootste deel ook ‘n waterskaars gebied.
Maar sodra daar ‘n fontein is, skep dit moontlikhede, gunstige lewensomstandighede vir mens en dier.
Hoe dikwels lees ons nie in die Bybel van konflik oor die beheer van ‘n fontein of ‘n waterput nie.
Dit is dan ook nie toevallig dat die Skrif die HERE meer as een keer met ‘n fontein vergelyk nie.
Waar daar ‘n fontein in ‘n droë land is, daar ontstaan lewe.
Daar waar die HERE is, is daar ook lewe.
Die HERE is die fontein van die lewe.
Alle lewe vloei uit die HERE uit voort.
Wie ’n lewe wil hê, moet dus naby die HERE lewe.
Dit is die boodskap wat ook die Spreukeboek bring.
“Die vrees van die HERE is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.” (Spreuke 14:27)
En net soos daar vanaf ’n fontein ’n rivier begin stroom, en net soos daar vanuit die rivier almal kanale gegrawe word, om die lewewekkende water al hoe dieper in die dorland in te lei ... so is dit ook by die HERE.
Die HERE is ’n fontein van lewe, en die vrees van die HERE is ook ’n fontein van lewe.
En selfs hulle wat die HERE vrees, word op hulle beurt ’n fontein van lewe.
Daaroor dig Salomo ook in die Spreukeboek:
“Die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe ...” (Spreuke 10:11)
Besonder is dit, dat ’n regverdige ook ’n fontein van lewe kan word!
Dis net moontlik omdat die regverdige verbonde is aan die HERE, wat die uiteindelike fontein van lewende water is!
Net soos ’n kanaal of leivoor oorspronklik verbind is met die fontein.
’n Wonder is dit, dat ‘n regverdige se lewe ook so kan word vir sy omgewing.
’n Fontein van lafenis vir sy omgewing.
Dit mag julle wees vir julle omgewing, gemeente, broers en susters, as jy gevoed word vanuit die werklike fontein.
Ons het vandag die lewende water aan die nagmaal ontvang – Jesus Christus – en nou kan ons die week ingaan met die lewende water.
Jesaja verwoord dit pragtig in hoofstuk 58:11: “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” (Jesaja 58:11)
Hierdie sin begin met die HERE as onderwerp.
In die eerste deel van die sin is die HERE die onderwerp, en die mens is die voorwerp.
Die HERE is die fontein van lewende water wat jou siel versadig en jou gebeente sterk maak.
Jou lewe word ’n kanaal vol vars water, afkomstig van die HERE, Hy wat die fontein van lewe is.
Maar dan, in die tweede deel van die sin, die bysin, word jy self die onderwerp.
“... jy sal wees soos ’n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie”!
Wat ’n kragtige versekering.
Ons ken almal seisoensgebonde riviere in ons land.
Die meeste riviere in ons land is seisoensgebonde, en nie standhoudend nie.
’n Standhoudende rivier stroom egter kragtig die hele jaar deur.
So ’n rivier mag jy wees, as jou siel versadig word deur die HERE self.
Wie se siel aan Hom verbonde is, word nooit droog nie, maar word self ’n fontein van water wat nooit teleurstel vir sy omgewing nie.
Wat ’n voorreg om so iemand vir jou omgewing te wees!
Dis slegs moontlik as jy onafgebroke verbonde bly aan die Bron van alles wat lewe.
Dit is dan ook die aanklag van die profeet Jeremia teen die volk Israel.
Die feit dat hulle weggegaan het vanaf hierdie fontein van lewende water.
Die feit dat hulle kanale begin grawe het na afgode wat geen standhoudende water kan verseker nie!
Jeremia 17: “almal wat U verlaat, sal beskaamd staan ... want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat. Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.” (Jer 17:13-14)
En Jeremia 2: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” (Jer 2:13)
Nou die Israeliete kon hierdie beeldspraak baie goed verstaan, net soos ons in die droë Suid-Afrika.
As jy êrens in die Kalahari met gebarste reënbakke gaan probeer om ’n lewe op te bou, gaan jou lewe nie lank duur nie.
Eerstens omdat daar bitter weinig reën val, tweedens omdat jou reënbakke gebars is, so die water wat jy kry, sal wegstroom.
So dom was die Israeliete toe hulle die HERE, die standhoudende nimmer teleurstellende Bron van lewende water, ingeruil het vir die afgode.
Dit was die domste besluit wat hulle kon geneem het.
Tog het die Israeliete dit gedoen.
Tog doen mense dit vandag nog steeds.
Hulle stel hulle vertroue op dit wat nie betroubaar is nie.
Hulle gaan bly op plekke waar daar nie water is nie, en waar hulle van dors gaan sterf.
Geestelike dors.
Pleks van om jou lewenshuis naby die HERE te bou, en naby hulle wat Hom dien.
Want daar kry jy standhoudende kristalhelder water.
By Hom, die Bron van die lewe.
Hierdie boodskap uit die Ou Testament, dat die HERE die fontein van die lewe is, en dat hulle wat by Hom skuil ook ’n bron van lewende water word, vind ons net so terug in die Nuwe Testament.
Jesaja het al geprofeteer dat julle water met vreugde sal skep uit die fonteine van heil (Jes 12:3).
Dit het in Christus tot vervulling gekom.
In die Nuwe Testament openbaar Christus Homself as die Bron van die water van die ewige lewe.
Dit het pragtig uitgekom in die gedeelte wat ons gelees het.
Jesus het deur die droë sentrale deel van Israel gereis, van suid na noord, en Hy het deur die landstreek gekom waar die Samaritane gewoon het.
Daar het hy op die warmste van die dag by ’n put gaan sit om uit te rus.
’n Put is ’n diep gat in die grond, waar mense met behulp van ’n skepding, ’n emmer of so, water diep uit die grond kon skep.
Dis sê maar soos ons boorgate vandag.
Dis water, maar nie lewende water nie.
Lewende water was water wat self, soos met ’n fontein, uit die aarde geborrel of gespuit het.
In elk geval moes Jesus tevrede wees met hierdie water uit die put, omdat daar nie ’n fontein in die omgewing was nie.
’n Put was ook waardevol.
Spesifiek hierdie put, soos die Samaritaanse vrou genoem het, het teruggegaan na die dae van Jakob.
Skynbaar het Jakob òf die put gegrawe, òf dit vir sy nageslag verwerf deur die grond waar dit geleë was, te koop.
Sedertien het die put al vir eeue sy dienste bewys, deur in ’n droë warm land die mense toegang te skenk tot grondwater.
In die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou, wat toe daar by die put ontstaan, nooi Jesus haar uit om toegang te kry tot lewende water.
Die vrou, wat die omgewing goed geken het, was verbaas, amper verontwaardig.
Asof hierdie man haar iets beters kon bied as haar voorvader Jakob, wat vir hulle die put gegee het.
Maar inderdaad, Jesus kon haar iets veel beters bied!
Inderdaad: lewende water!
Hy sê in vers 14: “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14)
Nou later uit die gesprek blyk dat Jesus nie hier gewone water bedoel het nie.
Later in die gesprek handel dit oor waar die HERE gedien moes word.
Moes dit in Jerusalem gebeur, waar die tempel van die Jode gestaan het?
Of moes dit op die berg Gerisim gebeur, waar die Samaritane dit gedoen het?
Christus lei die vrou egter na Homself toe, as Hy profeteer dat in die toekoms geeneen van hierdie heilige berge meer nodig sal wees nie, maar dat die ware aanbidders Hom in gees en waarheid sal aanbid.
Ja Hyself is dus die lewende water!
En daardie uitdrukking verwys dan na die ewige lewe, wat Hy gewaarborg het deur sy plaasvervangende dood op Golgota, deurdat Hy die dood oorwin het deur uit die graf op te staan.
Sy regverdiging aan die kruis is lewende water vir elke siel wat Hom aanbid, wat by Hom skuil, wat dors na Hom.
“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6)
Christus self is die fontein van die lewe.
Hierdie goeie boodskap het die Samaritaanse vrou toe saamgevat na haar dorp toe.
Sy het van Christus getuig, die Bron van lewende water.
Die Bybel sê: “En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo ...” (Joh 4:39)
Hierdie pragtige beeld, dat Jesus die fontein van lewende water is, vind ons later weer in die Evangelie van Johannes.
In Johannes 7 word beskryf hoe Jesus die Huttefees in Jerusalem besoek.
Tydens die Huttefees was daar by die tempel ’n seremonie met water.
Dit het herinner aan die pragtige visioen van die profeet Esegiël, van die lewende water wat vanuit die tempel gestroom het – Esegiël 47.
Dit het ’n river geword wat hoe langer hoe dieper en kragtiger gestroom het.
Hierdie rivier het, sê vers 8, tot in die see gestroom, en die waters van die see het gesond geword.
Hou in gedagte, Esegiël bedoel hier die Dooie See, wat so sout is dat geen vis daarin kan lewe nie.
Maar die water uit die tempel het die see gesond gemaak, met die gevolg dat dit begin wemel het van visse, net soos in die Groot See – die Middellandse See.
Lieflike en bekorende beeldspraak is dit, hoe die invloed van die tempel die nasies sal genees!
Nou gemeente, op Loofhuttefees is daar elke jaar ‘n seremonie gehou, wat hierdie asemrowende visioen in herinnering geroep het.
In Johannes 7 sluit Jesus by hierdie seremonie aan, as Hy uitroep:
“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh 7:38)
Jesus verklaar hier dus dat daardie magtige visioen van Esegiël in Hom vervul gaan word!
Hy is die tempel waaruit die lewende water sal stroom!
Op Pinksterdag, skryf Johannes, as sy Gees uitgestort word, dan sal die rivier begin stroom!
En daardie Pinksterrivier sal wees tot genesing van die nasies!
Gemeente, dit is die skitterende boodskap wat artikel 1 van die NGB saamvat:
God is regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is!
En solank ons naby Hom bly, en naby die wat Hom opreg dien, sal ons ook ononderbroke toegang hê tot
Geliefde gemeente, dit is die kragtige blye Evangelie van die Fontein van lewende water wat ek vandag aan u mag bring.
Kom, drink, kom skep julle lewensbakke en emmers vol, kom grawe kanale, sodat die heil van Christus julle lewe steeds dieper binnedring, julle lewens genees en gelukkig maak!
Die fontein van versoenende bloed, wat by Christus se kruis ontspring – dink aan die gedig wat ek vanoggend gelees het.
En die fontein van lewende water, wat sy Gees is.
God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is!
En in Christus het dit kristalhelder geword.
Sy kristalhelder lewende water wat vanaf Pinksterdag die wêreld in begin stroom het, genees die nasies, genees die ganse skepping.
Ons sien met reikhalsende verlange uit na sy wederkoms,
Ons dors na Hom.
Ons lewe met sy belofte: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6)
Amen.
Votum
Seën
Ps 23:3 (2e beryming)
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed
Ps 19:5
1e tafel: Skriflesing: Jesaja 12:1-6, 58:11; Jeremia 2:13, 17:13-14; Esegiël 47:1-12; Johannes 5:1-15, 7:37-39. Sing: Ps 107:1
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1
Preek
Ps 87:5
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 13:5
Kollekte
Sb 14:1,2