Woelige tye

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-08-03
Text: 
Daniël 11:2-20
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 11:2-20

 

Voor mens begin om te kyk na die betekenis van Daniël 11, vir daardie tyd en vir vandag, moet jy jouself vooraf die basiese vraag vra:

Glo jy in ‘n God wat alwetend is?

Glo jy in ‘n God wat, in teenstelling tot mense, die toekoms ken?

As jy hierop ja kan sê, dan maak Daniël se profesieë sin.

As jy hierdie vraag nie vrymoedig kan beantwoord nie, dan maak hierdie hoofstuk nie sin nie.

Die probleem is naamlik dat Daniël in die sesde eeu geleef het, 500 – 600 jaar voor Christus, maar dat dit wat in hoofstuk 11 voorspel word, eers veel later gebeur het.

Daar is daar deesdae teoloë wat beweer dat dit eers in die tweede eeu op sy vroegste geskryf kon gewees het, dit wil sê eers na die dinge wat in hierdie hoofstuk staan gebeur het.

Ons moet ‘n keuse maak.

Òf jy impliseer dat die skrywer van hierdie hoofstuk gejok het.

Want hy maak dan asof hy Daniël is wat die toekoms voorspel, maar eintlik is dit ‘n onbekende skrywer gelewe eers na die gebeurtenisse waaroor hierdie hoofstuk kamstig profeteer.

Òf dit is inderdaad Daniël wat hierdie hoofstuk opgeskryf het, en dit wat daarin staan, is inderdaad dit wat God aan hom geopenbaar het, God wat alwetend is en die toekoms ken.

Wel gemeente, ek het ‘n keuse gemaak, en so hoop ek die hoofstuk in hierdie preek uit te lê.

God ken die details van die toekoms, en daarom het Hy besluit om iets daarvan aan Daniël mee te deel.

Met die doel om sy volk sou troos, wanneer hulle in daardie tye sou inbeweeg.

 

Met die profesieë aan die einde van die boek Daniël berei God sy volk basies voor op twee groot gebeurtenisse, twee groot krisismomente wat die toekoms sal bring.

Die eerste was die vervolging wat daar sou losbars tydens die skrikbewind van Antiochus Epifanes.

En die tweede is die verskyning van die Antichris en die wederkoms van die Messias en alles wat daarmee gepaard sal gaan, soos die opstanding van die dooies uit die graf.

Ons fokus vandag op die eerste deel van hierdie hoofstuk.

 

Tema: Woelige tye

- ‘n Profesie wat voorspel

- ‘n Profesie wat gerusstel

 

- ‘n Profesie wat voorspel

As die Bybel God se Woord is wat Hy aan mense openbaar het, hoef dit ons nie te verbaas dat daarin profesieë staan oor dinge wat nog nie gebeur het nie.

Omdat ons self die toekoms nie ken nie, is dit nie altyd maklik om vooraf alles wat God openbaar te kan plaas nie.

Selfs die profete – soos Daniël of Jesaja – het nie altyd presies geweet waarop dit dui wat hulle opgeskryf het nie.

Soos Petrus skryf: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het ...” (1 Petr 1:10-11)

Maar soos wat dinge gebeur, het die volk besef waaroor Daniël se profesieë handel, en hulle kon perspektief behou.

 

Net soos Daniël en die mense van sy tyd nog nie alles verstaan het nie, so geld dit ook vir ons.

In die Nuwe Testament het ons ook profesieë oor die toekoms ontvang, profesieë oor die eindtyd byvoorbeeld.

Ons moet versigtig wees om te spekuleer.

Maar soos wat die tyd aanstap en dinge gebeur, kan ons dit wat gebeur wel plaas in die raamwerk van hierdie profesieë.

En dit sorg dat ons perspektief behou.

Die volk wat Daniël se profesieë gelees en bestudeer het, het in die eeue wat gevolg het, houvas daaraan gehad.

Ons het ook vandag houvas.

Die profesieë help ons om perspektief te behou, die oë boontoe gevestig te hou, vanwaar Christus volgens die belofte sal terugkeer.

 

Wat eie is aan profesieë, is dat hulle ‘n boodskap het, nie net vir die mense van daardie tyd toe hulle uitgespreek is nie, maar ook vir mense van die toekoms wat nog gebore moes word.

Petrus skryf oor die profete van die Ou Testament:

“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is” (1 Pet 1:12).

En net soos dit vir Jesaja en Daniël gegeld het, so geld dit ook vir die profete van die Nuwe Testament.

Dit wat die apostel Johannes opgeskryf het, dit sal eers heeltemal duidelik word en sin maak sodra dit gebeur het.

Dit sal ons versigtig maak om te stellige uitsprake vandag te probeer maak oor al die details wat byvoorbeeld in Openbaring staan, maar ook rustig die tye af te wag, wel met die perspektief dat hulle nie vir God onkant sal vang nie.

 

Kom ons kyk nou bietjie meer in detail na hoofstuk 11.

Dit vorm een geheel met die voorgaande en volgende hoofstuk.

In hoofstuk 10 – daarna het ons laasweek gekyk – word die Man beskryf wat die profesie aan Daniël gaan openbaar.

Ons het gesien dat dit Christus self was.

Daniël het sy ontsagwekkende voorkoms beskryf, en sy reaksie van groot skrik.

Maar daarna het hierdie Man hom gerusgestel en hom weer laat regop staan.

Nou, in hoofstuk 11, is Hy aan die woord.

Christus vertel vir Daniël uitgebreid oor ‘n groot stryd wat voor die deur staan tussen die konings van die Suide en van die Noorde.

Hier voorspel Christus wat daar in die komende eeue hulle te wagte sou staan.

Die Suide verwys na die konings van Egipte.

Vanuit die land Israel se perspektief is Egipte inderdaad na die suide.

En die Noorde verwys na die konings van Syrië, geleë ten noorde van Israel.

Vir maar liefs die komende vyf eeue sal die wêreldpolitiek deur hierdie twee magte beheers word.

Die heeltyd sal daar skermutselinge wees tussen die Noorde en die Suide.

Maar, die groot probleem is dat Israel presies in die middel tussen hierdie magte lê.

Israel – die Pragtige Land – soos dit in vers 16 genoem word.

God se weerlose volk word ‘n speelbal van hierdie groot magte, met alle gevolge van dien.

Hulle sit ingeklem tussen die twee.

Soms is hulle deur die een oorheers, soms deur die ander.

Soms het ‘n groep Jode in opstand gekom teen die een koning.

Soms het hulle ‘n bondgenootskap gesluit met die koning van die Noorde, met die hoop om onder die koning van die Suide uit te kom.

 

Maar eers, in die nabye toekoms, voorspel Christus, sal die volk nog te make kry met die Persiese ryk, die ryk waarin Daniël geleef het.

Vers 2 noem drie konings van die Perse, en dan ‘n vierde wat nog veel ryker sal wees.

Ek beperk my nou tot die vierde een.

Dit was koning Xerxes, meer bekend vir ons as koning Ahasveros.

Ons ken hom as die man van koningin Ester.

In die boek Ester word beskryf hoe ryk hy was.

Dink aan die ses maande lange fees wat hy georganiseer het (Ester 1:4).

Ons ken daardie geskiedenis.

In ‘n toestand van dronkenskap het hy sy vrou Vasti verneder.

Vasti het geweier om so behandel te word, waarna hy haar verstoot het.

Onder koning Ahasveros was die Persiese ryk waarskynlik aan die toppunt van sy mag.

Maar koning Ahasveros het toe ‘n groot militêre veldtog teen Griekeland onderneem.

Dit het drie jaar lank geduur.

Bekend is die veldslag by Thermopolae wat hy gewen het.

Maar daar was ook ander veldslae teen die Grieke wat hy verloor het.

Ahasveros het met al die oorloë sy ryk op die punt van bankrotskap gebring.

Vanaf daardie oomblik sou Griekeland al hoe invloedryker word, en die Persiese ryk al hoe swakker, al het hierdie ryk nog vir 150 jaar bestaan.

Daniël profeteer daaroor.

 

Griekeland se groot deurbraak was tydens die skrikbewind van Alexander die Grote.

Reeds in hoofstuk 8 het Daniël ook al hieroor geprofeteer, waar Daniël vir Alexander vergelyk met ‘n bokram.

Teen die jaar 330 vC het hy die Persiese ryk ingeneem, net soos vele ander koninkryke in die toenmalige wêreld.

Maar hoe magtig hy ook was, Alexander sterf reeds op 32-jarige leeftyd.

Ooreenkomstig God se plan hier aan Daniël bekendgemaak, word sy groot ryk opgedeel onder vier van sy generaals, vers 4 noem: “sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word”.

Nou twee van hierdie generaals was swak – die koninkryke in die weste en in die ooste.

Maar die ander twee – die konings van die Noorde en van die Suide – het uitgegroei tot wêreldmagte.

En soos ek reeds genoem het, Israel was ingedruk, vasgeklem, tussen die twee.

Vir die volgende 150 jaar het hulle – die konings in die Noorde en Suide – steeds mekaar in die hare gevlieg.

Al hulle skermutselinge word hier in hoofstuk 11 voorspel.

Die konings van die Noorde – die Siriese ryk – teen die konings van die Suide – Egipte.

 

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die twee ryke waarvan hierdie hoofstuk praat.

Die konings van die Noorde – die Siriese ryk – het gestrek van Jerusalem in die suide tot Klein-Asië in die noorde, na die weste tot by Macedonië, en na die ooste tot by Irak en Iran.

‘n Klomp van hulle konings se naam was Antiochus, van die eerste tot die vierde.

Die ryk van die Suide, Egipte, se invloed het gestrek al langs die noordkus van Afrika na die weste toe, en na die suide al langs die Nylrivier op tot by die Victoriameer.

Die Egiptiese konings van hierdie tyd is die Ptolemeërs genoem.

 

In Daniël 11 vind ons dus ‘n oorsig van die stryd tussen hierdie twee koninkryke, en dit met die doel om God se volk voor te berei.

Nou was daar nie net fisies oorlog tussen noord en suid nie.

By tye was daar ook diplomasie.

Een van die vorme van diplomasie, waarvan ons in hierdie hoofstuk lees, was ondertrouery.

Ptolemeus van Egipte het sy dogter Bernice aan Antiochus die Tweede uitgehuwelik.

Geen wonder dat daar verskeie intriges gevolg het.

Verskeie konflikte het ook weer gevolg, soos Seleucus die Derde wat vir Ptolemeus die Derde verslaan het.

In vers 17 lees ons weer oor ‘n uithuweliking.

Antiochus die Grote (= Antiochus III) gee sy dogter aan die koning van Egipte.

Haar naam was Cleopatra.

Sy het die eerste koningin van meerderes geword wat daardie naam in Egipte sou dra.

Seleucus het uiteraard gehoop dat hy sy invloed in Egipte kon uitbrei noudat sy dogter daar was.

Die omgekeerde het egter gebeur.

Cleopatra het die kant van haar man gekies en teen haar pa gedraai.

 

En so gaan die geskiedenis verder.

Dit klink net soos vandag.

Oorlog op oorlog, verraad op verraad.

Konings wie se harte daarop uit is om kwaad te doen, leuens die wêreld in te stuur.

En soos ek genoem het, God se weerlose volk het presies tussen hierdie grootmagte vasgeklem gelê.

Met alle gevolge van dien.

Soms is hulle deur die een oorheers, soms deur die ander.

Soms het ‘n groep Jode in opstand gekom teen die een koning.

Soms het hulle ‘n bondgenootskap gesluit met die ander koning, met die hoop om onder die eerste koning uit te kom.

So sou die geskiedenis voortgaan, ‘n woelige tyd het voorgelê.

Maar, soos dit vir die Perse gegeld het – opgaan, blink en versink – so ook vir hierdie koninkryke.

Die koning van die Noorde, Antiochus, sou byvoorbeeld verslaan word deur die Romeine.

Dit was die nuwe mag wat op die wêreldtoneel verskyn het.

Antiochus is verslaan en van die uitgestrekte ryk van die noorde het maar ‘n klein koninkrykie oorgebly.

Hy moes swaar belastings aan Rome betaal, wat sy geldinsamelaars orals moes bymekaarskraap, ook in Israel (vers 20).

Tog was dit nie die einde van die naam Antiochus nie.

Nog een keer sou hierdie naam in die geskiedenis opduik, onder Antiochus die Vierde, oftewel die ongekend wrede Antiochus Epifanes.

Sy pa het hom aangestel as mederegeerder oor Israel, wat toe nog onder hulle bewind was.

In die tweede deel van hoofstuk 11 gaan ons nog nader met hom kennismaak.

‘n Verskriklike tyd vir God se volk sou dit word.

 

Ook vandag kan ons – die HERE se kinders – soms soos ‘n speelbal voel tussen groot magte.

Van twee kante word die kerk aangeval.

Rykdom kan ‘n bedreiging vir die kerk wees, net so armoede.

Sowel hulle wat polities links is, en hulle wat polities regs is, bedreig die kerk.

Die Evangelie is nie veilig in kommunisitiese lande nie, maar net so min in die losbandige Weste.

Daar is die in ons land wat die guns van Rusland probeer wen.

Daar is ander in ons land wat die guns van die president van Amerika probeer wen.

Maar die Bybel is duidelik:

“Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind – op die mens jou hoop nie bou nie ...”

Kom ons sing nou hierdie Psalm – Ps 146:2.

 

(Tema: Woelige tye

- ‘n Profesie wat voorspel)

 

- ‘n Profesie wat gerusstel

Gemeente, daar kan nog baie oor hierdie geskiedenis vertel word.

Eeue waarin daar baie dinge gebeur het.

En die Jode wat toe geleef het, kon dit vergelyk met Daniël se profesie.

Dit het hulle bemoedig, versterk, wetende dat al hierdie onsekerhede nie vir hulle God onkant gevang het nie.

Dat Hy die Heerser is oor al hierdie magte.

Dit is waaroor die tweede punt handel, naamlik dat hierdie profesie bedoel is om die gelowiges gerus te stel.

 

En dit bring ons weer by die toepassing vir vandag.

En dan begin ek by die laaste.

Die HERE is Heerser oor alle magte op aarde.

Hand in hand hiermee gaan dat Hy die toekoms ken, anders sou Hy nie almagtig wees nie.

Dit is ‘n punt wat vandag deur baie mense betwis word, ook deur sommige Christene, uitleggers, teoloë.

Volgens hulle sou God nie meer oor die toekoms weet as ek en jy weet nie.

Maar gemeente, as dit jou opinie is, dan strook dit nie met hierdie laaste hoofstukke van Daniël nie.

Tensy jy beweer – sonder enige historiese bewys – dat die skrywer van hierdie hoofstukke nie Daniël is nie, maar iemand wat homself voorgedoen het as Daniël, en wat eers eeue later geleef het.

Dan het ons te make met bedrog, literêre bedrog, ‘n kunstig verdigte fabel.

Maar, sê die apostel Petrus, ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die kragtige koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie (1 Pet 1:16).

En dit is sy koms wat reeds in Daniël voorspel is.

En dit is Hy, Christus, wat self hierdie profesie aan Daniël bekendgemaak het.

 

Dit in die eerste plek.

Dan nog in die tweede plek as toepassing:

Hierdie profesie wat werklikheid geword het, wys dat God sowerein is oor al die doen en late van alle nasies, van die hele mensdom.

Niemand op aarde kom aan bewind as God nie aan hom gesag verleen nie:

“daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel” (Rom 13:1)

Ons teks leer ons hoe waar dit is.

En dit geld ook vir vandag.

Die toepassing van hierdie profesie stem grootliks ooreen met die van laasweek se preek.

Daniël 10 en 11 vorm ‘n eenheid.

Die toepassing is troosvol.

Ons het ‘n God wat die toekoms ken en dit bepaal.

Dis Hy “wat alles werk volgens die raad van sy wil” – Efesiërs 1:11.

Die geskiedenis van die mensdom is nie vreemd aan Hom nie, dit vang Hom nie ontkant nie.

Ons God is soewerein, Hy beheer die toekoms.

Die Seun van God, en onder sy bewind Migael en sy leërskare, hou die wag.

Daarom weet ons “dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Rom 8:28).

 

En dan derdens, uit Daniël se profesie wat in vervulling gegaan het, kan ons ook leer hoe om die profesieë in die Nuwe Testament te gebruik.

Dink byvoorbeeld aan Jesus se profetiese rede (Matt 24; Mark 13; Luk 21).

Daarin voorspel Hy die verwoesting van Jerusalem.

Iets wat in vervulling gegaan het ‘n paar dekades later.

Maar daarin praat Hy ook reeds oor sy wederkoms.

Net soos in Daniël 11 is daar in die profetiese rede profesieë wat reeds vervul is, maar ander gedeeltes wat nog wag om vervul te word.

Dink veral ook aan die Bybelboek Openbaring.

Weer eens het sommige van die profesieë wat Johannes op Patmos ontvang het, werklikheid geword in die verwoesting van Jerusalem.

Ander wag nog om vervul te word.

Maar net soos die Jode destyds in Daniël se dae en die eeue daarna, kan ons vandag met Openbaring in die hand die toekoms tegemoet gaan.

Ons God ken die toekoms, die Bybel getuig daarvan.

Te midde van woelige tye is dit ons houvas.

Dit stel ons gerus.

En die belangrikste is dat ons die belofte het dat alles nie op ‘n ramp gaan afloop nie.

Maar ons sien uit na die finale verlossing vir elkeen wat glo en alles verwag van Jesus Christus, die Koning van die konings.

As Hy terugkom, ooreenkomstig die profesie, sal die verlossing aanbreek, vir alle gelowiges, en vir ‘n aarde in barensnood.

Hou moed, geliefdes.

Om af te sluit met die laaste woorde uit Daniël:

Welgeluksalig is hy wat bly verwag (Dan 12:12).

Weet verseker: Julle is oppad na julle bestemming aan die einde van die dae (Dan 12:13).

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:5,6

Wet

Ps 25:9,10

Gebed

Skriflesing: Ester 1:1-9 & Daniël 8:1-8

Ps 48:1,2

Teks: Daniël 11:2-20

Preek

Sing na 1e punt: Ps 146:2

Preek

Amenlied: Ps 34:4,7-9

Gebed

Kollekte

Ps 33:8,10,11

Seën