Een van die eerste woorde wat ‘n kind leer, is ‘amen’.
Vanaf die vroegste jare is bid en amen sê deel van ‘n kind se daaglikse roetine.
Net so gewoon as om ‘pappa’ of ‘mamma’ te leer sê.
So wil gelowige ouers al vanaf die begin hulle kinders laat besef dat hulle net so afhnaklik van God is as van hulle pappa en mamma, ja selfs nog meer.
Almal van ons was ‘n kind, en met die opgroei het ons leer verstaan wat die woordjie ‘amen’ beteken.
Ons het ook die Onse Vader leer opsê.
En aan die hand van die Kategismus mag ons vanaand verder leer wat ons presies bid, as ons hierdie woorde dag na dag uitspreek.
Ek verkondig u die Evangelie met hierdie tema:
Tema: Christus leer ons om op gepaste wyse ons gebed af te sluit
1. Besef tot wie jy jou gebed rig (want aan U behoort die koninkryk en die krag)
2. Gee Hom die eer wat Hom toekom (aan U behoort die heerlikheid)
3. Gee blyk van jou vertroue in Hom (Amen)
1. Besef tot wie jy jou gebed rig (want aan u behoort die koninkryk en die krag)
Die slot van die Onse Vader word kortliks aangedui as die lofprysing of doksologie.
Lofprysing is eintlik die diepste rede vir ons bestaan.
Die Bybel is vol van voorbeelde van lofprysing.
Dink aan die gedeelte wat ons gelees het, 1 Kronieke 29.
Dit kom uit die geskiedenis van koning David.
Hy het tydens sy regeerperiode daarvoor gesorg dat daar ‘n groot reserwe opgebou word vir die beplande tempelbou.
Hierdie groot hoeveelheid kapitaal is bymekaar gemaak uit die belastings.
Dawid het ook persoonlik baie geskenk.
Drie duisend talente goud, sewe duisend talente silwer.
Duidelik het die tempelbou hom na aan die hart gelê.
Daarna het Dawid ook ‘n beroep op almal gedoen.
“Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ‘n offer aan die HERE?” (vers 5)
Almal het entoesiasties Dawid se voorbeeld gevolg, en aan die oproep gehoor gegee.
Ons het gelees wie almal met donasies gekom het.
Die owerstes van die families.
Die owerstes van die stamme.
Die owerstes oor duisend en oor honderd.
Ook die owerstes oor die diens van die koning – ons sou vandag sê die ministers en staatsamptenare.
Al met al is daar ‘n fenomenale bedrag ingesamel.
Goud, silwer, koper en yster.
Daarbenewens was daar baie mense wat vrywillig met besittings gekom het om dit te skenk, soos edelstene.
Dit was een groot entoesiastiese aksie ten bate van die tempelbou.
En almal was verheug oor die ongekende opbrings.
Dawid nie in die laaste plek nie.
En dan gebeur daar iets opvallends.
Wat is die eerste wat Dawid nou gaan doen?
Hy bedank nie die volk nie.
Hy stuur – by wyse van spreke – nie ‘n bedankingsbrief aan elke donateur nie.
Maar, ten aanskoue van die volk, prys hy die HERE.
Vers 10 en verder: “U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit; ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.”
Tussen hakies, hoor u hierdie dieselfde woorde as in die lofprysing van die Onse Vader: die heerskappy (= koninkryk of koninskap), die mag (= krag), en die heerlikheid.
En dan word Dawid baie konkreet:
“die rykdom en die eer kom van U” (vers 12).
In die lig van hierdie woorde begin Dawid vervolgens om al die baie gawes en geskenke te relativeer:
“wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.” (vers 14)
Hierdie is ‘n pragtige uitspraak.
Dit laat mens dink aan ‘n klein kind wat vir sy pa ‘n geskenk gee.
Ook daarvoor geld: hy gee ‘n geskenk aan sy pa waarvoor sy pa self betaal het.
Want waar sal ‘n kleuter die geld vandaan haal om self ‘n geskenk te koop?
Nee, ma het dit gekoop en dit ingepak, en die kleuter mag dit gee.
Dit alles neem egter nie weg dat dit vir pa baie spesiaal is nie.
So is dit ook met God.
God is so bly as sy kinders Hom loof.
As sy kinders ‘n deel van die gawes wat Hy aan hulle gegee het, teruggee.
As erkenning van die feit: Ons lewe uit u hand!
As ons in ons gebed dus bid: want aan U behoort die koninkryk en die krag,
dan gee ons daarmee te kenne waarom ons juis vir God bid.
Daar is immers niemand anders vir wie ons die ses bedes sal kan vra nie.
Slegs ons Vader is God.
Ons vra juis U, omdat U ons almagtige Koning is.
Dit is ‘n koning se taak om na sy onderdane te luister.
En nie net te luister nie, maar hulle probleme ook aan te spreek.
Om vir hulle te sorg.
Geliefdes, staan dus daarby stil tot wie jy jou gebed rig.
Aan Hom behoort die koninkryk.
As ons vir ‘n oomblik terugdink aan die tweede bede: laat u koninkryk kom; dan mag dit teenstrydig klink, maar dit is nie so nie.
God het al sy koninkryk.
Die hele wêreld is alreeds totaal afhanklik van Hom.
Maar met die tweede bede bid ons dat hierdie feit ook erken sal word deur alle mense op die aardbodem.
Besef tot wie jy jou gebed rig.
Hy het die krag om te kan verhoor.
Maar moenie vergeet: Sy almag kom nooit in stryd met sy wysheid nie.
Ons almagtige Vader werk omsigtig met elkeen van ons.
Sy almag en wysheid is altyd in harmonie.
Sy krag gaan gepaard met die opperste goedheid, en met oneindige geduld.
Ons wens soms dat God minder geduld moet hê met ons vyande.
Maar God luister, en volgens sy wysheid verhoor Hy, op sy tyd.
Dis nie gebrek aan krag nie, Hy is almagtig, dis ‘n kwessie van geduld.
Besef: Jou gebed steun op die majesteit, koningskap en krag van God.
Jou gebed steun nie op jouself, op jou eie selfvertroue nie.
Jy kan op Hom vertrou.
Dit was die eerste punt: besef tot wie jy jou gebed rig.
Dit is Hy aan wie die koninkryk en krag behoort.
Daarom maak dit sin om tot Hom te bid, en alles van Hom te vra.
Dis nie te veel gevra nie, Hy is almagtig, Hy het krag, Hy kan dit verhoor.
(Tema: Christus leer ons om op gepaste wyse ons gebed af te sluit
Besef tot wie jy jou gebed rig (want aan U behoort die koninkryk en die krag)
2 Gee Hom die eer wat Hom toekom (aan U behoort die heerlikheid)
Met die woorde want aan U behoort die koninkryk en die krag, maak ons duidelik hoekom ons juis tot God bid.
Ons besef dat ons juis tot Hom bid.
En dan nou met die woorde: aan U behoort die heerlikheid, word die doel van ons gebed duidelik.
Die doel is die eer, die heerlikheid, van God.
Hy verdien om lof te ontvang.
Nie ons nie, maar Hy.
Ons word nie verhoor danksy ons inspanning nie.
Ons word verhoor danksy sy koningskap en krag.
Ons bid tot vermeerdering van sy heerlikheid.
Ons sou die eer aan niemand anders gun nie.
Die Skrif gaan ons hierin voor, veral die psalms.
Neem byvoorbeeld Psalm 115:
“Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer.” (vers 1)
En Psalm 72:
“geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (vers 19)
En Psalm 106:
“Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!” (vers 48)
Ek kan nog baie meer voorbeelde noem.
God is werd om geprys te word.
In verband hiermee is dit belangrik om te besef dat die HERE met ons ‘n verbond gesluit het.
Sy Naam en eer is daarom direk gekoppel aan ons naam en eer.
Dit beteken dat sy heerlikheid op aarde vir ‘n deel van ons afhnaklik is.
Dit klink dalk voorbarig, dink ons dan nie te veel van onsself nie?
Dit klink so ja, tensy jy besef wat die verbond inhou.
Dis naamlik ‘n geweldige voorreg, maar dit bring ook ‘n verantwoordelikheid.
As ons, God se verbondskinders, ontrou is, word sy Naam om ons ontwil gelaster.
Dit gebeur as sy heerlikheid nie meer van ons afstraal nie.
Dit het destyds ook gebeur toe die volk Israel in ballingskap moes gaan.
Nie net die volk Israel nie, maar ook God se naam, en ook sy tempel, het ‘n voorwerp van spot geword.
Die omliggende volke het hulle vrees vir die God van Israel verloor.
Daardie God, wat die see kon droogmaak, wat son en maan tot stilstand kon bring, daardie God kon sy volk nie teen die Assiriërs en Babiloniërs beskerm nie.
God se kinders het sy Naam skade berokken.
Gelukkig het God dit nie eindeloos geduld nie.
Ook al het die heidenvolke dit nie besef nie, die ballingskap was juis ‘n manier van God om sy Naam weer in ere te herstel.
Om sy eie volk met die neus op die feite te druk: Van wie is die heerskappy, die koningskap en krag op aarde?
En hierdie oneindig groot en oneindig troue Verbondsgod sê dan in Jeremia 33:
Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het ... Dan sulle hulle weer vir My tot ‘n blye Naam word, tot lof en eer by alle volke op aarde, wat sal hoor van al die goeie dinge wat Ek aan hulle doen, ja, hulle sal verbaas wees en hulle verwonder oor al die goeie, al die heil, wat Ek aan hulle gaan doen. (Jer 33:8-9)
So het God sy Naam aan sy kinders verbind.
As daar iets slegs met sy kinders gaan gebeur, affekteer dit ook sy Naam.
Moses het destyds in die woestyn die HERE herinner aan sy eer, sy goeie Naam herinner, toe Hy sy volk wou uitroei.
Laat ons, as die Naam van die HERE toenemend gelaster word in die wêreld, as al hoe minder mense kerk toe gaan, die HERE vra om self in te gryp!
Ter wille van sy Naam!
Laat ons Hom bid vir verandering.
Laat ons Hom bid of Hy daardie kinders van ons, of daardie broers en susters, of daardie familie, of daardie vriende, wat nie meer trou is in die diens aan die HERE nie, of Hy hulle wil terugbring.
God kan sy kerk vandag ook tugtig, net soos sy volk destyds.
Laat ons Hom smeek vir verandering.
Hy is almagtig.
Nie net oor mense wat sy Naam bely nie, ook oor mense wat niks van Hom wil weet nie.
Soos in 2 Petrus 2 staan: “die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word.” (vers 9)
Die ongelowiges sal nie vir sy Vaderhand kan vlug nie.
Hulle mag nou lewe uit al die gawes wat sy hand bied, maar as hulle hulle nie bekeer nie, sal hulle in die toekoms ook die straf uit sy hand ontvang.
Want die HERE laat nie toe dat sy heerlikheid onophoudelik afgetrek word nie.
En ons mag Hom daaraan herinner: Dink tog aan u groot en heerlike Naam!
Dat u Naam nie voortdurend gelaster of geïgnoreer sal word nie, maar juis verheerlik word.
Vir ewig, letterlik staan daar in die Bybel: tot in die eeue.
Dit beteken, vir altyd.
Tot die tydperk, die eeu, aanbreek, waarin Hy alle dinge sal herstel.
Wanneer die vrede uit die hemel op aarde sal neerdaal.
Die Messiaanse eeu, die nuwe aarde.
Dan sal almal blywend, vir ewig, Hom die eer gee wat Hom toekom.
(Tema: Christus leer ons om op gepaste wyse ons gebed af te sluit
Besef tot wie jy jou gebed rig (want aan U behoort die koninkryk en die krag)
Gee Hom die eer wat Hom toekom (aan U behoort die heerlikheid)
Gee blyk van jou vertroue in Hom (Amen)
Volgens die Kategismus beteken ‘amen’ waar en seker.
Die verhoring van my gebed is nie afhanklik van my gevoel nie.
Onafhanklik van my gevoel verhoor God my.
My gevoel is wisselend.
Soms is my gevoel baie sterk, baie intensief.
Dan voel ek myself baie naby aan God.
Maar dit kan ook gebeur dat daar dae is waarop ek geen enkele gevoel het nie.
Byvoorbeeld as ek depressief is.
Of as ek medisyne gebruik wat my gevoel aantas.
In alle omstandighede wil God dat ons tot Hom bid.
Want onafhanklik van my gevoel, of ek nou ‘n goeie gevoel het of dalk glad geen gevoel nie, onafhanklik daarvan verhoor God my gebed.
Dit is wat die woordjie amen sê.
God is betroubaar.
Amen is oorspronklik ‘n Hebreeuse woord.
Dit is sinoniem vir vertroue, vir betroubaar, vir geloof.
Neem as voorbeeld wat van Abraham gesê word in Genesis 15:
“En hy het in die HERE geglo” (vers 6)
Mens kan ook vertaal: en hy het amen gesê op die belofte van die HERE.
Dieselfde vind ons ook in Nehemia 8.
Daar staan dat Esra die HERE geloof het.
En in reaksie hierop het die volk hulle hande omhoog gehef en gesê:
Amen, Amen! (vers 7)
Bedoelende: Dit is waar, dit is geloofwaardig!
Vir die Jode in die sinagoges het die woord ‘amen’ die gebruiklike woord geword om te reageer op God se beloftes, op die prediking van die Woord.
Om te bely: Dit is betroubaar, ons glo dit!
Hierdie gebruik is deur die Christelike kerk oorgeneem.
Dink aan 1 Korinthiërs 14.
Daar vra Paulus homself af of dit sin maak as iemand die seën uitspreek in ‘n onverstaanbare taal.
Want, skryf hy, hoe kan jy dan as toehoorder wat niks verstaan het, daarop ‘amen’ sê?
Vir ons het die woord amen dikwels net ‘n stopwoord geword.
Bloot ‘n teken dat die gebed nou verby is en ons ons oë kan oopmaak.
Maar laat ons die ryke betekenis van hierdie woordjie dus nie vergeet nie.
Daarmee beaam jy God se beloftes.
Jy gee blyk van jou geloof.
Jy erken: Alles wat God sê is waaragtig, onwankelbaar, betroubaar!
Ja God is betroubaar.
Dit het Hy in sy Seun Jesus Christus bewys.
Jesus noem Homself die Amen, die Betroubare.
Dink aan die laaste Bybelboek:
“Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie” – Openbaring 3:14.
En Paulus skryf aan die Korinthiërs:
“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen” (2 Kor 1:20)
Geliefde broers en susters, kom ons gebruik die woord amen baie, maar ook bewus!
Dit is nie net ‘n stopwoord aan die einde van die gebed nie.
Ons mag gerus hierdie woord meer dikwels gebruik!
As ons uit die Woord lees, of as ons in gesprek met mekaar is, en iemand herinner aan God se beloftes, iemand getuig van die Evangelie, laat ons daarop amen! sê.
Amen herinner ons aan ons Heiland, Jesus Christus, die Amen, die Betroubare!
Ons mag ons klein kindertjies leer amen sê as een van hulle eerste woordjies.
En dit is hierdie woord – amen – wat ons deur die lewe dra.
Ons mag ons lewe hier op aarde ook afsluit met die woord Amen! op ons lippe.
Ja, waaragtig, God se beloftes is ja en amen, betroubaar.
In Christus, die Amen, die eersgeborene uit die dode.
En so kom ons aan die einde van die behandeling van die Onse Vader, die volmaakte gebed wat Christus ons geleer het.
Dit is goed om hierdie gebed gereeld te bid, byvoorbeeld een keer elke dag.
Maar meer nog, ons kan ook leer uit hierdie volmaakte gebed om ons eie gebede vorm te gee.
Soos die Onse Vader met ‘n lofprysing begin, laat dit by ons gebede ook so wees.
Soos die Onse Vader begin met die eerste drie bedes, wat op Hom en sy koninkryk gefokus is, laat dit by ons ook so wees.
Laat eers daarna al ons wense en vraelysies aan die orde kom – soos die laaste drie bedes.
En laat ons nooit vergeet om ons gebed ook met lofprysing af te sluit nie.
Want aan Hom kom toe, in alle eeue en in alle lande en uit die mond van elke skepsel, die lof en eer en krag en heerlikheid tot in ewigheid.
Gemeente, kom ons sê nou saam in geloof amen! op die Evangelie met die sing van ons amenlied.
Amen.
Votum
Seën
Ps 115:1,2,9
Gebed
Skriflesing: 1 Kronieke 29
Ps 106:20
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 128-129
Preek
Ps 138:1,2
Dankgebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 28:4
Kollekte
Ps 72:9-11
Seën