Paasfees – die fees van bevryding en toewyding

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-07-20
Text: 
Exodus 12:13-15
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 12:13-15

 

Hierdie is die laaste preek in die serie wat ek oor die tien plae gehou het.

Meeste van ons het die tien plae al op laerskool uit ons kop geleer:

water in bloed, paddas, muskiete, steekvlieë, pes onder die vee, swere, hael, sprinkane, duisternis, en die dood van die eersgeborenes.

Die HERE het Egipte ongekend swaar getref.

Vir Farao, en ook al sy onderdane.

Wat ons ook in hierdie serie gesien het, is dat die HERE by elke plaag ook die gode van Egipte verneder het.

Hy het gedemonstreer dat hulle ‘n nul op ‘n kontrak is.

Hulle kon nie red nie.

Hulle het diep teleurgestel.

So het die HERE die Egiptenare aan die dink gesit.

Dit help nie om op al die afgode te vertrou nie, want hulle bestaan nie.

Hulle is die bedenksels van mense.

Wat ons ook in hierdie serie preke gesien het, is dat die HERE vir Homself ‘n Naam gemaak het.

Al het Farao en die Egiptenare dit vooraf nie geweet nie, was dit vooraf sy beplanning dat daar tien plae sou kom.

Hiertoe het Hy meerdere male Farao se hart verhard.

Nie dat Farao nie verantwoordelik was vir sy eie hardkoppigheid nie.

Hierdie tien plae het wêreldnuus geword.

En vir eeue na die Exodus het dit in die kollektiewe geheue vasgesteek – in die geheue van Israel, maar ook van die heidennasies.

Die HERE het vir Homself ‘n Naam gemaak.

Hy het bewys dat Hy troon oor die aarde, dat alles in sy hand is en dat alles na Hom luister.

Sy leërmagte oortref elke weermag op aarde.

As Hy hulle nodig het, kan Hy enigeen van sy skepsels oproep om vir Hom te stry.

Dit het ons ook in die tien plae gesien.

Daar is die paddas wat in sy leër gestry het.

Selfs die muskiete, steekvlieë en sprinkane.

Daar is die bakteriële divisie in sy weermag, wat pes en swere veroorsaak het.

Winde, wolke, weerlig en hael het vir Hom gestry.

En moenie vergeet nie, ook son en maan staan in sy diens.

Hy kan hulle afskakel net wanneer Hy wil.

Die HERE het vir Homself inderdaad ‘n Naam gemaak.

Hy troon oor al die afgode.

Geseënd is die volk wat by Hom kan skuil.

 

Ons kyk vandag dus vir oulaas na die plae, spesifiek die tiende plaag, en ook dit wat direk aan hierdie laaste plaag vooraf gegaan het.

Naamlik die instelling van die Paasfees.

 

Tema: Paasfees – die fees van bevryding en toewyding

1. Die bloed (bevryding)

2. Die suurdeeg (toewyding)

 

1. Die bloed (bevryding)

Tot dusver het die plae telkens die Egiptenare getref, terwyl die Israeliete gespaar is.

Daar was ‘n onsigbare muur tussen Gosen en die res van Egipte.

Die paddas, muskiete, sprinkane, hael kon nie Gosen binnedring nie.

By die laaste plaag sien ons dieselfde.

Weer is die genademuur daar.

Tog is daar ‘n belangrike verskil.

Want nou gee die HERE spesifieke instruksies aan sy volk.

Daarmee maak Hy die genademuur sigbaar.

En tereg kom die woord genade hier ter sprake.

Want die Israeliete was uit hulleself nie minder sondig as die Egiptenaars nie.

Hulle het ook die doodsvonnis verdien.

En daardie nag sou God ook verby elke Joodse huis kom in Gosen, met die doel om die eersgeborene te tref.

Maar, vooraf maak God bekend hoe hulle aan die straf kan ontsnap, sodat die verderwer (vers 23) nie die huise kon binnedring nie.

 

‘n Hele oplugting.

Maar aan die ander kant was dit ook ‘n skok vir die Israeliete.

Waar hulle teen hierdie tyd, na nege plae, dalk op hulle louere begin rus het.

Die HERE is aan ons kant, niks sal met ons gebeur nie ...

Maar nou skielik kom Hy met die boodskap dat hulle ook behoort gestraf te word.

Nou breek die HERE enige meerwaardigheidsgevoel af, enige gedagte wat mog begin posvat het dat hulle as die Israeliete beter was, regverdiger as die Egiptenaars.

Feit is dat hulle die straf net soveel verdien het.

En as God nie met ‘n plan sou gekom het, sou hulle eersgeborenes inderdaad ook gesterf het.

Met hierdie laaste plaag prent die HERE dit in:

Julle, my volk, is ook sondig.

Julle verdien ook die dood.

 

En mens hoef nie ver terug te gaan in die verlede om genoeg voorbeelde daarvan te vind nie.

Aanvanklik het die Israeliete vir Moses verwerp, toe God hom na hulle gestuur het.

En nadat Moses en Aäron met Farao gaan onderhandel het, was die volk vies vir hulle:

“Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle 'n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.” (Ex 5:21)

En, ons moenie vergeet nie, die Israeliete het hulle ook skuldig gemaak aan afgodery.

En hulle kon, selfs na die bevryding, maar moeilik daarvan ontslae raak.

Josua het nog daarop gewys, toe hulle op die drumpel van die beloofde land gestaan het:

“Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” (Josua 24:14)

Nie minder as die Egiptenaars het Israel ook die dood verdien.

Paulus skryf in Romeine: Jode en heidene is almal onder die sonde. “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (Rom 3:9-10)

En: Die dood het tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom 5:12).

Hierdie les leer die HERE vir sy volk, op die valreep van die uittog.

Hierdie les leer God ook vandag nog, vir elke mens op aarde, kerklik of onkerklik.

 

Maar hierdie les het gepaard gegaan met genade.

Die rede hoekom Hy ook by hulle huise sou verbykom, was nie om hulle te dood nie, maar om hulle sy verlossing bekend te maak.

Net soos die Egiptenare het hulle die oordeel verdien, maar in teenstelling tot hulle ontvang hulle die moontlikheid tot redding, uit genade, en deur geloof.

So leer God vir sy volk: Julle het versoening nodig.

Versoening deur ‘n lam.

‘n Lam wat geslag moet word as ‘n betaling vir die sonde.

En so gee die HERE aan sy volk instruksies hoe om ‘n lam te offer.

Elke gesin moes ‘n lam uitkies, ‘n lam sonder gebrek.

Vir die offer om vir God aanvaarbaar te wees, moes die lam sonder gebrek wees.

Hulle moes die vleis daarvan eet.

En, hulle moes die bloed smeer op die deurposte van hulle huis.

Met hierdie instruksies leer die HERE sy volk:

Ek sal voorsien.

En is dit nie hoe die HERE altyd al was nie?

Dink terug aan Abraham.

Het Hy nie ook aan Abraham ‘n lam voorsien, sodat Isak nie hoef te gesterf het nie?

Abraham moes slegs op God vertrou, dat Hy sou voorsien.

En Hy het.

Nou gebeur die weer.

Die HERE wys die pad na redding vir elke huisgesin.

Al wat hulle moes doen, was gehoorsaam in vertroue God se instruksies uitvoer.

 

Daar is eintlik ‘n progressie in die Bybel.

By Abraham voorsien God ‘n dier vir die redding van Isak – een persoon.

In Egipte is daar ‘n lam wat plaasvervangend is vir ‘n hele gesin.

Later, na die uittog, toe die Paasfees by die tabernakel gevier is, was dit een lam vir die hele volk.

En u besef seker al waarheen dit gaan.

In die Nuwe Testament lees ons oor die Here Jesus: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” – woorde van Johannes die Doper (Joh 1:29).
Hierdie laaste Lam se bloed was duidelik die kragtigste!

Die kan die sonde van die hele wêreld wegneem!

 

Dit is dus die rooi draad deur die hele Bybel.

Wie met God versoen wil word, moet voor Hom nader vergesel van ’n lam.

’n Lam sonder gebrek.

En dit geld ook vir jou en my.

Vir die Here Jesus om as Paaslam te kwalifiseer, moes Hy ook sonder gebrek wees.

Waar dit by die lammetjies in die Ou Testament daaroor gegaan het dat daar geen liggaamlike gebreke mog wees nie; geld vir Jesus dat Hy moreel sonder gebrek moes wees.

Sondeloos.

En dit was Hy, daaroor is die Skrif duidelik.

“Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie” – 1 Petrus 2:22.

Christus het Homself “aan God sonder smet geoffer” – Hebreërs 9:14.

So vervul Hy die simboliek van al die lammetjies van die Ou Testament.

Dis ook nie toevallig dat Christus gekrusig is tydens die Paasfees nie.

Hy het sy dissipels daarop gewys dat hulle dit sou besef, toe Hy met hulle die Pasga gevier het:
“Neem, eet, dit is my liggaam ...”

En: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Matt 26:26-28)

Christus lê vir sy dissipels daardie verband.

Destyds met die uittog het die HERE gesê:

“die bloed sal vir julle 'n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.” (Ex 12:13)

Net so sal my bloed vir julle, sê Jesus, daardie selfde teken wees!

Die Israeliete moes in hulle huise wegkruip agter die deurposte vol bloed.

So het die oordeel aan hulle verbygegaan.

Die woord pasga is afgelei van die Hebreeuse werkwoord wat verbygaan, oorslaan beteken.

Gemeente, ek en jy skuil ook agter ‘n deurpos vol bloed.

Dit is die kruis van Christus.

Dit beskerm ons teen die oordeel, wat ons net so goed verdien het.

Maar danksy sy bloed gaan die oordeel aan ons verby.

Dis nie vanselfsprekend nie, maar daarvoor moes ‘n duur prys betaal word – bloed moes vloei, ‘n lewe geneem, en nie sommer ‘n lewe nie, maar die van God se Seun self!

En dit is in ‘n neutedop die kern van die pragtige Evangelie.

In die Nuwe Testament word dit oor en oor aan ons verduidelik, telkens wysende op Christus se bloed.

“Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.” – Romeine 5:9.

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed” – Efesiërs 1:7.

Julle is losgekoop “deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos” – 1 Petrus 1:18-19.

Baie eksplisiet word in hierdie laaste vers die verband gelê tussen Christus en die vlekkelose lammetjies van die Paasfees.

Hy is die Lam wat geslag is.

Ons skuil agter sy bloed.

Daarom gaan God met sy regverdige straf, wat ons ook verdien het, tog aan ons verby.

Die Israeliete het op daardie bloed vertrou op die deurposte.

Hulle het geglo in die krag van die plaasvervangende bloed.

Die smeer van die bloed op die deurposte was vir hulle ‘n geloofsbelydenis.

So staan dit eksplisiet tin Hebreërs 11:28:

“Deur die geloof het hy [Moses] die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.”

God het die Lam voorsien, met ’n hoofletter.

Sy bloed is genoeg vir ’n versoening van die sondes van die hele wêreld.

Dit is die les, ja die Evangelie, van die tiende plaag.

Neem jy dit ter harte?

Vertrou jy daarop?

Moenie aarsel nie, geliefde broer en suster.

Gaan skuil agter die kruis vol bloed, elke dag van jou lewe!

 

(Tema: Paasfees – die fees van bevryding en toewyding

1. Die bloed (bevryding)

 

2. Die suurdeeg (toewyding)

Die HERE het Egipte met tien plae getref sodat Israel sou onthou, nooit sou vergeet nie.

Ook het die HERE die Paasfees ingestel, sodat sy volk sou onthou, nooit vergeet hoe Hy hulle bevry het nie.

Die woord onthou vind ons dikwels in die Bybel.

Dink maar net aan die wet, soos ons dit vanoggend gehoor het:

“En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland 'n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het” (Deut 5:15).

Daaraan dink ... dit is om te onthou.

Elke keer het die HERE sy volk op die hart gedruk: onthou, onthou, onthou!

Soos die bekende Afrikaanse liedjie dit verwoord: vergeet om te vergeet ... onthou om te onthou!

Daarvoor was die Paasfees dus bedoel.

God het dit ingestel, dis die eerste keer daar in Egipte gevier, maar die opdrag was om dit jaarliks weer te herhaal, juis ook as hulle bevryd was.

Selfs as hulle in die beloofde land aangekom het:

“En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou.” (Ex 12:25)

God stel die Paasfees in vir toekomstige geslagte.

 

Ons het in die eerste punt gefokus op die lammetjie en sy bloed.

Maar daar is nog instruksies wat met die Paasfees gekom het.

So lees ons byvoorbeeld oor die bitter kruie en ongesuurde brode.

Soos almal wat brood bak weet, dit vat ‘n rukkie vir suurdeeg om deur die hele brood te trek.

Maar die deeg sal rys, veral as dit in die son staan.

Israel se vlug uit Egipte was egter onverwags, hulle kon nie nog wag vir die deeg om te rys nie.

Daarom God se opdrag – bak die brood sonder suurdeeg.

Hulle moes haastig eet.

Toe die geleentheid kom om weg te ontsnap uit die slawerny, moes hulle dit met beide hande aangryp.

Hulle moes nie talm nie.

En vir toekomstige geslagte het dit ook ‘n boodskap gehad.

Dit geld ook vir die bitter kruie – wat moes herinner aan die bitter tyd in Egipte.

 

Maar, soos ek al in die eerste punt genoem het, nie net die Egiptenaars het die plae verdien nie, maar ook Israel.

Dit was net genade dat die tiende plaag nie ook vir hulle getref het nie.

Hulle kon skuil agter die bloed op die deurposte.

Maar, en dis die les van die brood sonder suurdeeg, noudat hulle bevry is, moet dit nie net ‘n liggaamlike bevryding wees nie.

Nie net ‘n bevryding van nie, maar ook ‘n bevryding tot – naamlik tot ‘n nuwe lewe.

Nou moet hulle die sonde in Egipte agterlaat.

En dis ook waarvoor die suurdeeg simbool staan.

In die Bybel word suurdeeg dikwels geassosieer met die sonde.

Paasfees gaan nie net oor die bevryding uit Egipte nie, maar dit gaan ook oor die nuwe toewyding aan die HERE.

 

Die instruksies oor die suurdeeg was baie duidelik.

Dit word meer as een keer herhaal.

Daar word gewaarsku dat enigeen wat steeds suurdeeg by hom het, uit Israel afgesny moes word.

Hoekom so ernstig oor die suurdeeg?

Weer eens, gemeente, omdat dit ‘n simbool vir die sonde is.

En dat sonde soos suurdeeg jou hele lewe suur maak.

Suurdeeg trek deur die hele brood heen.

Dis wat sonde ook doen.

As jy nie heeltemal daarmee wegdoen nie, gaan dit ook deur jou hele lewe trek.

Sonde is per definisie soos suurdeeg.

Dit deurtrek alles as dit nie gestop word nie.

En dit hou nie op nie.

Solank daar deeg is, maak nie saak hoeveel nie, dit sal net aanhou en aanhou.

Ek ken iemand wat nog suurdeeg het uit die tyd van die Boere-oorlog.

Sy het dit van haar ma gekry, en die weer van haar ma, ensovoorts.

Elke keer as sy brood of beskuit bak, kan sy dit gebruik.

So is ook die sonde.

As dit nie heeltemal weggegooi word nie, gaan dit net aan en aan, deur die geslagte heen.

 

Maar dis nie wat God met sy kinders wou gehad het nie.

Sy plan was om hulle te bevry, heeltemal te bevry, liggaamlik en van die sonde.

Om aan hulle ‘n nuwe lewe te gee, ‘n mooi en gelukkige lewe, aan Hom gewy.

Die suurdeeg van die afgodediens moes hulle in Egipte agterlaat.

God het strafgerigte oor die gode van Egipte voltrek – vers 12.

Elke gedagte aan hierdie gode moes Israel in Egipte agterlaat.

En so is die ongesuurde brode by die Paasfees ‘n simbool vir ‘n breuk.

Tot die laaste stukkie suurdeeg moes in Egipte agterbly.

‘n Nuwe begin word gemaak.

Dit word ook onderstreep deur die feit dat Paasfees voortaan die begin van elke nuwe jaar sal wees.

 

Gemeente, dis nie moeilik om te verstaan hoe hierdie boodskap van Paasfees nog honderd persent vir ons ook toepaslik is nie.

Die Nuwe Testament maak dit so duidelik.

Dink aan wat Paulus aan die Korinthiërs skryf:

“Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.” (1 Kor 5:6-8)

Die ou suurdeeg verteenwoordig ons ou sondige lewe.

En selfs dalk net ‘n klein sondetjie in ons oë is net so gevaarlik.

Dis wat die beeld van suurdeeg leer.

Christus wil, nadat Hy ons met sy bloed gewas het, dat ons ‘n nuwe lewe ingaan, en dat ons nuwe lewe skoon sal bly.

Moenie dink: Ek sal eers aan ‘n sondige gewoonte werk as dit begin hand-uitruk nie.

‘n Klein sondige gewoontetjie gaan soos suurdeeg deur jou hele lewe trek.

 

Maar die HERE vir ons dit wat Hy vra.

Hy is so goed vir ons.

Hy maak dit moontlik dat ek en jy alle suurdeeg verwyder.

Christus het sy Gees in ons uitgestort.

Die Heilige Gees gee ons die krag en wil om alle suurdeeg weg te gooi, om ons lewe skoon te hou.

Dit noem ons die lewensheiliging, nuwe dankbare toewyding van ons lewe aan Hom.

Sowel ‘n gawe as ‘n opdrag.

En soos die Paasfees Israel telkens daarby bepaal het, so doen die nagmaal vandag.

 

Gemeente, so kom ons aan die einde van hierdie prekeserie oor die tien plae.

Elke plaag het ‘n ryk boodskap gehad, ook vir ons.

By die tiende plaag is dit miskien nog die duidelikste.

Die HERE het sy volk bevry uit slawerny, vir hoër diens verkore.

Die HERE bevry jou en my net so uit die slawerny van die Satan, verkies tot hoër diens.

Ons mag nou in die lig wandel.

Laat ons nie terugkeer na die suurdeeg van Egipte nie.

Laat ons ons lewens skoon hou, ‘n tempel van die Heilige Gees.

Ook ons mag nou saamsing:

“So het die HERE uit slawerny

sy volk met blydskap uitgelei.” (Ps 105:23 berymd)

Dis nie net ‘n Psalm wat oor die verlede handel nie.

Dit handel ook oor my en jou lewe.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Ps 105:11

Seën

Wet

Sb 36:4,5

Gebed

Skriflesing: Exodus 12

Ps 81:3-6

Teks: Exodus 12:13-15

Preek

Ps 105:19,20,23,24

Gebed

Kollekte

Sb 37:1-3

Seën