Lewe en dood is in sy hand!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-06-15
Text: 
Exodus 11
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 11

 

In Exodus beskryf Moses die tien plae so lewendig dat mens dit amper soos in ‘n film kan sien.

En net soos in ‘n goeie film word die spanning opgebou rigting die hoogtepunt.

Moses doen dit ook by die tiende plaag.

Tussen die aankondiging van hierdie plaag en die uitvoering daarvan, vertel Moses eers oor die instelling van die Paasfees.

Die verwagtings loop hoog, die Israeliete besef die tyd is nou daar.

Hulle moet gereedmaak om te trek.

Die regte klere moet aangetrek word vir die reis.

En net voor hulle vertrek moet die Paasfees gevier word.

Hierdie fees het alles met die tiende plaag te make.

Deur die bloed van die lammetjies gaan hulle veilig wees teen hierdie plaag.

 

Tema: Lewe en dood is in sy hand!

 

1 Met die tien plae openbaar die HERE wie Hy is

2 Met die tiende plaag kom die HERE persoonlik na Egipte

 

1 Met die tien plae openbaar die HERE wie Hy is

Met die vorige plaag, duisternis, het die HERE vir Egipte se hoofgod, Ra, verneder.

En daarmee saam vir Farao, wat beskou is as die godeseun.

Maar sodra die duisternis gewyk het, was Farao vinnig weer terug in sy ou rol as goddelike heerser, met wie niemand moeilikheid moet soek nie.

Hy verloor sy humeur en dreig vir Moses: Die dag as jy my aangesig weer sien, sal jy sterwe (Ex 10:28).

Hierdie woorde is skrynend in die lig van wat ons elders in Exodus lees.

Toe Moses op die berg Horeb geklim het, het God vir hom gesê: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Ex 33:20)

Al houding wat by ‘n mens pas teenoor God, is om diep vooroor te kniel met jou aangesig na die grond.

Dit het Moses byvoorbeeld gedoen by die brandende doringbos.

Maar voor Farao het Moses nie gebuig nie.

Hy het regop gestaan en hom reg in die oë gekyk.

Farao verloor sy humeur.

Berou en ontsag vir God het hy nog nie.

Na al die wonders het hy nog steeds die houding dat hy in beheer is van lewe en dood.

Soos ‘n koning van ouds besluit hy wie mag lewe en wie moet sterf.

Moses moet dit goed verstaan!

 

Maar nou het die regte tyd gekom vir die tiende plaag.

God openbaar aan Moses dit gaan die finale plaag wees.

En Moses moet dit aan Farao bekend maak, en Moses doen dit sonder om te skroom:

Die dood van alle eersgeborenes in Egipte.

En soos ons gesien het, met hierdie aankondiging eskaleer die situasie volledig.

Farao dreig Moses met die dood, en Moses is daar weg in gloeiende toorn.

Ja die boodskap wat ‘n profeet bring, laat homself nie onberoerd nie.

 

En so is dit tyd vir die laaste plaag.

Nege dodelike plae het Egipte al getref, maar hierdie een gaan die dodelikste wees.

Ons het God se grootheid, sy Goddelike kenmerke, in elkeen van hulle gesien.

In hierdie een gaan ons dit veral sien.

 

Kom ek noem weer enkele van sy Goddelike kenmerke.

Eerstens is Hy almagtig.

Elkeen van die plae kon nie op natuurlike wyse verklaar word nie.

 

Tweedens sien ons in die plae dat God soewerein is.

Hy besluit wanneer om te straf en wanneer om genadig te wees.

Hy besluit wie om te straf.

Hy het besluit om onderskeid te maak tussen Gosen en die res van Egipte.

 

Derdens is God ‘n jaloerse God, soos ons uit die tweede gebod weet.

Hy deel sy eer met niemand anders nie.

Die Egiptenare het die rug op hulle Skepper gekeer en hulle eie gode uitgedink.

Hulle het geskape dinge begin aanbid, van die son tot diere soos paddas.

Paulus beskryf sulke heidense dwaasheid in Romeine 1:

“Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ‘n afbeelding soos die van ‘n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (vers 23)

Ons het by elkeen van die plae aandag geskenk aan hierdie heidense dwaashede in Egipte.

Hoe hulle God verruil het met afbeeldings van diere.

Die godin Heket is afgebeeld as ‘n padda (2e plaag).

Die god Khepri is afgebeeld as ‘n kewer (4e plaag).

Die godin Hathor is afgebeeld as ‘n koei (5e plaag).

Die godin Sekhmet is afgebeeld met die kop van ‘n leeu (6e plaag).

Hoe onnosel, hoe dwaas!

Tog is dit wat in Egipte gebeur het.

Die mensheid wat sy rug op God keer raak onnosel, dwaas.

En God is ‘n jaloerse God, Hy laat nie toe dat mense dinge wat Hy geskep het begin vereer, dat daardie dinge hulle eer kry wat Hy verdien nie.

Of dit diere is, die son, maan of sterre, of mense, of dit konings en presidente is, heiliges soos Maria, of wie ook al.

 

Vierdens sien ons ook in die plae dat God regverdig is.

Daar was geen plaag wat Egipte nie verdien het nie.

Dink aan die tweede plaag, toe die vrugbaarheidsgodin verneder is.

Dit was ‘n straf op Farao se pogings om Israel se seuntjies uit te roei, hulle in die Nyl te verdrink.

Dit was in reaksie daarop dat God die vroedvroue van Israel geseën het en sy volk baie talryk geword het.

Die tweede straf was verdien, vir al die Joodse seuntjies wat verdrink is.

 

En dan, vyfdens, sien ons tegelyk in die plae dat God ook genadig is.

Selfs met behulp van die straf bewys Hy genade, gee Hy uitkoms aan sy volk, sy kinders wat verdruk is.

Hulle hulpgeroep het opgestyg na God oor die slawejuk.

En God het hulle gekreun gehoor, so lees ons aan die begin van Exodus (Ex 2:23-24).

Die plae was sy antwoord op hulle gekreun.

Maar selfs was God genadig teenoor die Egiptenare.

Want die strawwe was slegs tydelik.

Hulle het gekom en gegaan.

Egipte het meer verdien.

Maar God het ook vir hulle nog kans op bekering geskenk.

En dit word inderdaad genoem dat sommiges ontsag vir Israel se God begin kry het, sommiges het selfs saam met hulle Egipte verlaat.

 

So het God sy Goddelike eienskappe openbaar deur die tien plae, aan Egipte, aan Israel, aan die hele wêreld.

En God is vandag nog steeds dieselfde.

Maak jou oë oop, kyk om jou heen.

God se almag, soewereiniteit, jaloersheid, regverdigheid en genade is nog steeds sigbaar in die wêreldgeskiedenis.

Hy laat nie onbeperk met Homself spot nie.

Groot beskawings kan Hy onderstebo keer.

 

Gemeente, kom ons fokus nou spesifiek op die tiende plaag wat in ons teks aangekondig word.

 

(Tema: Lewe en dood is in sy hand!

1 Met die tien plae openbaar die HERE wie Hy is)

 

2 Met die tiende plaag kom die HERE persoonlik na Egipte

Ons kom nou by die tiende plaag, waaruit so duidelik blyk dat lewe en dood in sy hand is.

Ook by die tiende plaag was daar uitleggers wat ‘n natuurlike, of menslike oorsaak, hiervoor probeer vind het.

Maar tevergeefs.

Want, sê nou maar net Farao se oudste het gesterf, dan sou mens dalk nog geneig kon wees om te dink: Dit was ‘n sluipmoord.

Al was die prins hoe goed beskerm – net soos troonopvolgers vandag – skynbaar was daar ‘n Israeliet wat dit tog reggekry het om tot in sy slaapkamer binne te dring en hom dood te maak.

Maar dis nie wat die tiende plaag was nie.

Elke eersgeborene, nie net van Farao nie, maar selfs van die slavin agter die handmeul, selfs van die vee het gesterf, en almal in dieselfde nag.

Daar is nie ‘n natuurlike oorsaak wat dit kan verklaar nie.

Inteendeel, God self het daardie nag Egipte besoek.

Soos Psalm 135 sê: Dis Hy “wat die eersgeborenes van Egipte getref het, van mense sowel as van vee” (Ps 135:8).

En Psalm 136: Dis Hy “wat die Egiptenaars getref het in hulle eersgeborenes” (Ps 136:10).

Waar Hy met die vorige plae ‘n middel gebruik het, soos die paddas, of sprinkane, of hael, gebruik Hy nou nie ‘n middel nie, maar Hy kom persoonlik na Egipte om die laaste plaag uit te deel.

 

En weer eens, ook by hierdie plaag, teiken die HERE een van die afgode van Egipte.

Ja, want Egipte het ook ‘n god gehad wat hulle genoem het die god van die dood en van die hiernamaals.

Die Egiptenaars het buitengewoon baie aandag bestee aan die dood en die hiernamaals.

Tot vandag toe is Egipte se mummies en piramides wêreldberoemd.

Die piramides was basies kolossale grafmonumente.

Ons is hier in Suid-Afrika daarmee bekend dat mense baie geld spandeer aan die dooies, om hulle reg te begrawe, om ‘n duur grafsteen te plaas, om die grafsteen te onthul met ‘n seremonie.

Maar dit vergelyk nog by verre nie by hoeveel geld die Egiptenaars aan hulle oorledenes spandeer het nie.

Die god van die dood was Osiris, en sy kneg was Anubis, wat die god van die onderwêreld was.

Anubis het toesig gehou oor die proses wanneer gestorwenes gebalsem is.

En hy het die gestorwenes begelei op hulle reis na die hiernamaals.

En net soos by die ander afgode, is Anubis ook as ‘n dier afgebeeld.

As ‘n hond.

Gaan kyk gerus weer op internet na muurskilderinge en beelde wat in Egipte opgegrawe is.

Anubis as ‘n hond.

In die lig hiervan is dit opvallend wat daar in vers 7 staan: “Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal 'n hond sy tong verroer nie”.

Die 2020-Vertaling vertaal die Hebreeus so: “sal nie eers ’n hond grom nie”.

Dis ’n hond wat sy tande wys.

Honde was destyds nie troeteldiere nie, hulle was aaseters wat op die strate rondgeloop het.

Hulle was gevaarlik vir mense.

Anubis het, volgens die Egiptenare, as ’n hond die lewendes kom haal om hulle na die onderwêreld te begelei.

Wel, hy was daardie nag baie aktief – dis nou vanuit die Egiptenare se perspektief.

Baie mense het hy in hulle slaap aan die tande beetgekry en na die hiernamaals gesleep.

Maar nie in Gosen nie.

Daar was nie ’n enkele hond wat sy tande gewys het nie.

Onder die Israeliete en hulle diere was daar geen sterftes nie.

Maar nog nooit was daar in Egipte in een nag soveel sterftes nie.

Die boodskap, die les aan Farao en sy volk is duidelik:

Lewe en dood is nie in die hande van Anubis, of Osiris nie, maar in die hand van die God van Israel!

Ook Farao is nie die een wat kan besluit oor lewe en dood nie.

En die pynlikste dood was uiteraard die van die prins, die eersgeborene van Farao wat op die troon sit, soos vers 5 hom beskryf.

Ja ook Farao het nie die ewige lewe nie, sy nageslag sal nie vir ewig op die troon sit nie.

 

Nou sou mens kon vra: Het God nie te ver gegaan met hierdie plaag nie?

Was dit regtig nodig om elke eersgeborene in elke huis in Egipte weg te neem?

En inderdaad, hierdie was die ergste plaag vir Egipte.

Tog kan ons nie met God redeneer oor wanneer en hoe en vir wie Hy kies om te straf nie.

Elke mens staan onder God se oordeel.

Dit moet ons nie verbaas dat die eersgeborenes getref is nie.

Ons moet eerder verbaas wees dat nie almal getref is nie.

En nog meer verbaas oor die feit dat Israel gespaar is.

Daar was meer as genoeg rede om Egipte te straf.

Hulle het, onder leiding van Farao, nie net vir Israel slawe gemaak vir vier honderd jaar nie, maar uiteindelik ek weet nie hoeveel babaseuntjies in die Nyl verdrink.

Israel het daaroor gejammer, staan daar in hoofstuk 3:7.

Daardie selfde woord – jammer – word weer in ons teks gebruik.

Maar hier verwys dit nou na die Egiptenare: “daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees” (vers 6).

Nou is dit Egipte se beurt om te jammer, en die straf is heeltemal regverdig.

Eintlik moes almal van hulle gesterf het.

En dis nie dat God hulle nie gewaarsku het nie.

Met nege plae is hulle alreeds gewaarsku.

Maar hulle wou nie luister nie, Farao voorop.

 

Maar uit genade het God nie almal gestraf nie.

Hy het naamlik – dit het Egipte toe nog nie geweet nie – reeds ook ander planne met hierdie land gehad.

Gemeente, ons het in vorige preke reeds daaraan aandag geskenk.

Op Pinksterdag was daar ook bekeerdes uit Egipte!

Ons sing oor God se beloftes in Psalm 87: “Egipte, Babel, Filistyn en More, ook Tirus ken my Naam as hoogste skat. Hul almal noem jou nou die moederstad.” (vers 3 berymd)

Uit alle volke, tale en nasies, ook uit Egipte, versamel Christus sy kerk.

Ek het ‘n vriend in Amerika, ‘n Christen, wat van Egiptiese afkoms is.

Ek mog al in die verlede aan Egiptenare Bybellesse aanbied.

Ja ons het ‘n genadige God, wat selfs met Egipte – na al die strawwe – steeds groot planne vir die toekoms gehad het.

 

So bly daar ‘n lyn loop deur die geskiedenis.

Aan die een kant is daar hulle wat hulle verhard.

In die hede is dit so en in die toekoms gaan dit steeds so wees.

In Openbaring word geprofeer dat die plae sal terugkeer, nie net oor Egipte nie, maar oor die hele aarde: swere, bloed, duisternis, paddas, hael, en ook dood – Openbaring 16.

En, staan daar ook, “hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.” (Openb 16:9)

Klink soos Farao van ouds.

Maar aan die ander kant is daar hulle wat tot inkeer kom.

God is soewerein, en ons kan maar net in diepe dankbaarheid raaksien hoe Hy aan vele mense genade bewys.

 

Dan is daar nog ‘n aspek in die teks wat by ons vrae oproep.

Na afloop van die tiende plaag moes die Israeliete goud en silwer eis by die Egiptenaars.

In die volgende hoofstuk staan selfs dat hulle die Egiptenaars berowe, geplunder het (Ex 12:36).

Was dit wel toelaatbaar?

Staan dit hier as ‘n smet op Israel se naam?

Dis opvallend dat in die Bybel geen afkeur daaroor uitgespreek word nie, God het hulle selfs opdrag gegee.

God het skynbaar toegelaat dat Israel nou die beloning ontvang vir die 400 jaar van slawe-arbeid.

In elk geval was die Egiptenaars maar al te gretig om dit weg te gee.

So desperaat was hulle na die tiende plaag.

Hulle die Israeliete selfs gesoebat om net weg te gaan.

Uiteindelik het hulle, en veral Moses, begin respek afdwing.

Vers 3: “die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland”.

Sommige Egiptenare het God begin vrees.

Hulle het Moses begin vrees.

Hulle het sy volk begin vrees.

Hulle het selfs voorstanders geword dat Israel maar moes trek.

Hulle het selfs gesmeek dat hulle moes gaan, belaai met goud en silwer.

Skielik was Egipte respekvol en vrygewig – wie sou dit verwag het?

Die plae het duidelik vir hulle een te veel geword!

 

Gemeente, hoe pas mens hierdie tiende plaag nou op vandag toe?

Soos ek genoem het, die lyn, die skeiding, tussen Israel en Egipte duur voort.

Nie dat die lyn ‘n soliede lyn is nie.

Soos genoem, sommiges in Egipte het selfs saam met Israel uitgetrek.

Ook vandag is daardie lyn sigbaar tussen God se kinders en hulle wat hulle eie gode dien.

Soms gebeur dit dat sulkes sover gebring word dat hulle God se bestaan sal erken.

Dat hulle die bestaansreg van sy kerk sal erken, al is daar steeds ook tye wat sy kerk vervolg of gediskrimineer word.

Maar erkenning is nog nie ‘n lewende geloof nie.

Tog stap God nog steeds ‘n pad met ‘n sondige wêreld.

Nog steeds het Hy die wêreld, soos Egipte destyds, nie afgeskryf nie.

Waar Hy destyds Moses gestuur het, het Hy inmiddels meer as Moses gestuur.

Ons Here Jesus Christus is nog groter as Moses, Hy is God se hoogste Profeet.

“Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses” (Hebr 3:3).

Ook Hy waarsku teen die plae wat op koms is.

Maar terselfdertyd bring Hy redding, exodus uit die slawerny van die sonde.

Om van die plae verlos te word, is erkenning van ‘n God nie voldoende nie.

Maar ‘n lewende vertroue op sy Seun Jesus Christus wat Hy gestuur het.

Sy boodskap van redding klink steeds deur die wêreld.

God het destyds sy volk uitgelei sodat hulle Hom kon dien.

So bevry Christus elkeen wat in Hom glo uit die slawerny van duiwel, sonde en dood, sodat ons weer in diens van ons God en Skepper kan staan.

Sodat Hy weer alle eer in ons lewens sal kry.

Dit is ons hoogste doel op aarde, en dit bring ook vir ons die meeste geluk.

So het God dit geskape, dit was die doel van sy skepping, dit is hoe sy skepping kan floreer:

Naamlik dat as ons gerig is op Hom, Hom liefhet en eer bo alles, dan gaan dit met ons goed.

 

Is dit die doel van jou lewe?

Erken jy dat lewe en dood in sy hand is?

In ons samelewing dink mense soms dat lewe en dood in die hande van dokters, spesialiste, hospitale is.

Of dat dood en lewe in die hand van die politici en regerings is.

Of dat hulle dit self in die hand het.

Eintlik maar net soos destyds, toe Farao – in diens van die afgode – kwansuis oor dood en lewe beskik het.

Maar dis die HERE wat gee, en dis Hy wat neem, op sy tyd.

Daarin moet ons, mag ons berus.

Wetende dat sy planne goed is.

Hy het mooi planne gehad met sy volk Israel, dis hoekom Hy die plae gestuur het.

Hy het selfs mooi planne vir Egipte gehad, so het later ook geblyk.

Hy het mooi planne met hierdie hele aarde, al sal dit eers blyk deur sy regverdige oordele heen.

God gaan die aarde met sy eindgerig besoek, soos Hy destyds persoonlik dwarsdeur Egipte getrek het.

Dan sal die wat by sy Seun skuil, agter sy bloed op die deurposte van hulle lewens, veilig wees!

Net soos Israel destyds, mag ons selfs uitsien na die oordeel, omdat ons weet dat die plae ‘n voorbode is van die bevryding wat op hande is!

En soos Israel, toe hulle eenmaal oorkant die Rooisee gestaan het, uitbundig begin dans en sing het, so sal ons dit op die nuwe aarde doen.

Ons blydskap sal eindeloos wees, ons harte brandende van begeerte om aan ons God alle eer te gee.

Dan sal Hy alles in almal wees, en almal sal gelukkig wees.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:1-3

Wet

Ps 19:1,5

Gebed

Skriflesing: Exodus 11

Ps 135:5

Teks: Exodus 11

Preek

Sb 8:1,4,5

Gebed

Kollekte

Sb 45:1,3,10-12

Seën