Die Gasheer en die gaste aan die nagmaalstafel

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-06-01
Text: 
Die nagmaal - nav Heidelbergse Kategismus Sondag 29-30
Preek Inhoud: 

Soos voor die diens afgekondig is, hoop ons om volgende week weer nagmaal te vier.

In hierdie week hoop ons om onsself daartoe voor te berei.

Ons word daartoe opgeroep.

In vanaand se preek maak ons ‘n begin daarmee.

Ek mag u die nagmaalsevangelie bring met die volgende tema:

 

Tema: Die Gasheer en die gaste aan die nagmaalstafel

 

1 Hoe die Here as Gasheer aanwesig is

2 Wie as gaste aan tafel moet gaan, wie hulle moet onthou, en wie afgehou moet word

 

1 Hoe die Here as Gasheer aanwesig is

In die Kategismus word uitgebreid aandag bestee aan die nagmaal.

Die rede is omdat toe dit geskryf is, daar baie debatte geheers het oor die nagmaal.

Dit was eintlik pynlik.

Juis oor die tafel wat die eenheid tussen gelowiges simboliseer, was daar verdeeldheid.

Nie net tussen Rooms en Protestants nie.

Ook tussen die Protestante onderling: Lutherane, Zwingliane, en Calviniste.

Dis hoekom die Kategismus so baie aandag hieraan bestee.

As iets baie gevoelig en ingewikkeld is, het mens ook meer woorde nodig om dit duidelik te maak.

 

Die Kategismus kies eintlik ’n middeposisie tussen uiterstes.

Die een uiterste was dat die nagmaal puur ’n herinneringsmaaltyd is.

Ons herdenk wat Jesus in die verlede gedoen het, en nie meer nie.

So was dit by die Zwingliane.

Die ander uiterste is dat brood en wyn deur ’n towerspreuk verander in die egte liggaam en bloed van Christus.

So was dit in die Roomse kerk.

Die woorde van die priester het soos ’n towerspreuk geklink.

Ons ken daardie spreuk tot vandag nog.

Hocus pocus.

Hocus pocus is ’n verdraaing van die Latynse woorde Hoc est corpus.

Die mense in die Middeleeue kon nie Latyn verstaan nie en hulle het Hocus pocus gehoor.

Maar die Latynse woorde Hoc est corpus beteken, as mens dit vertaal: Dit is my liggaam.

Hierdie spreuk is dus ’n fragment uit die woorde wat die priester by elke nagmaal uitgespreek het.

Dis ’n aanhaling uit Mattheüs 26, waar Jesus gesê het: “Neem, eet, dit is my liggaam.” (v26)

 

Dieselfde geld vir die tweede deel van die spreuk: Pilatus pas.

Hierdie fragment kom uit die apostoliese geloosbelydenis, wat ook by die nagmaal, oftewel die mis, deur die priester in Latyn uitgespreek is.

Pilatus pas is wat die volk gehoor het van die Latynse woorde: Pilatus passus.

As mens dit vertaal beteken dit: wat gely het onder Pilatus – ’n gedeelte dus uit die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Hocus pocus, Pilatus pas.

 

Maar in die Kategismus lees ons nie oor so ’n towerspreuk nie.

Christus is nie liggaamlik aanwesig nie, want Hy is nou in die hemel.

Daarom hef ons ons harte op, soos die nagmaalsformulier sê, tot Christus in die hemel.

Ons rig ons gedagtes gelowig op Hom.

Maar andersyds, verduidelik die Kategismus, is Christus wèl deur sy Gees aanwesig by die nagmaal.

Die Heilige Gees versterk ons geloof deur die brood en wyn.

 

Miskien dink u nou: Moet ek regtig al hierdie ingewikkelde dinge verstaan, voordat die nagmaal vir my iets beteken?

Nee, nie noodwendig nie.

Maar hierdie vrae skerp ons wel op, sodat ons ’n beter sig kry op wat die nagmaal presies is.

 

Nou staan daar in die Kategismus tussen al die troosvolle woorde oor die gemeenskap met Christus, skielik baie harde woorde rigting die Roomse kerk van die sestiende eeu:

Die mis is in die grond van die saak niks anders nie as ’n verloëning van die enige offerande en die lyde van Jesus Christus en ’n vervloekte afgodery.

Hierdie uitdrukking – ’n vervloekte afgodery – het die Kategismus al baie kritiek op die hals gehaal.

En wat opvallend is, is dat hierdie woorde – vervloekte afgodery – nie in die oorspronklike weergawe van die Kategismus, wat Ursinus geskryf het, te vinde was nie.

Dit is eers later bygevoeg.

Dit is bygevoeg as ’n reaksie op die sogenaamde Konsilie van Trente.

Konsilie is wat die Roomse kerk hulle sinode noem.

Hierdie konsilie het plaasgevind in die Noord-Italiaanse stad Trente en het vir jare geduur.

Dit was in die tyd van die Reformasie.

En as mens kyk na die besluite van hierdie Roomse sinode, val dit op dat hulle veral uitgevaar het teen die Protestante.

Hierdie konsilie het meerdere vervloekings uitgespreek teen die Protestante.

Uit hierdie konsilie met sy vervloekings het dan ook die bloedige vervolgings van die Protestante voortgevloei.

Dink aan die Bartholomeüsnag in 1572 waartydens duisende Franse Protestante of Hugenote vermoor is.

In reaksie op hierdie Roomse vervloekinge, is dus later hierdie frase aan Sondag 30 in die Kategismus ingelas.

 

Nou kan mens dalk redeneer:

Ja maar as jy self vervloek word, mag jy mos nie die ander met gelyke munt terugbetaal nie?

Die Here Jesus leer ons mos om ons vyande lief te hê en vir hulle te bid?

Inderdaad is dit so.

Maar terselfdertyd mag en moet mens dinge wat onbybels is, duidelik afwys.

 

Wat wel opval, is dat in teenstelling tot wat die Konsilie van Trente gedoen het, hierdie frase in Sondag 30 nie ’n vervloeking van mense is nie, maar van ’n valse leer.

In daardie sin kan ons die Kategismus nog steeds onderskryf, ook omdat die Roomse kerk sy nagmaalsleer nooit aangepas het nie.

Dit neem nie weg dat ons nie waardering mag hê vir die dinge wat nog goed is in die Roomse kerk nie.

So staan ons vandag in die wêreld sy aan sy met die Roomse kerk in die stryd teen abortus, feminisme, homoseksualiteit, morele verval, en sekularisasie.

Terselfdertyd het ons ook vandag nog die taak om dwalings in nie onduidelike terme af te wys.

Ook wat betref die nagmaal.

Daarom bely ons dat Christus persoonlik as Gasheer by die nagmaal aanwesig is.

Maar nie op ‘n hocus pocus-manier nie, om dit oneerbiedig te sê, maar deur sy Gees en Woord.

 

(Tema: Die Gasheer en gaste aan die nagmaalstafel

  1. Hoe die Here as Gasheer aanwesig is)

 

  1. Wie as gaste aan tafel moet gaan, wie hulle moet onthou, en wie afgehou moet word

Ons het die taak om dwalings af te wys, dwaling in leer, sowel as in lewe.

Die laaste vergeet ons soms bietjie vinnig.

Wie kritiek het, moet by homself begin.

Hier in Pretoria is daar nie baie Roomse kerke nie.

Maar daar is wel dwalings as dit by die nagmaal kom.

Dan moet ons na ons eie leer en lewe kyk.

En ook daaroor moet ons ’n vervloeking uitspreek.

Dit bring ons by die vraag:

Wie roep Christus eintlik aan die nagmaalstafel?

Die laaste twee vrae van Sondag 30 gaan hierop in.

Christus het die nagmaal ingestel vir almal wat Hom ken, liefhet, en navolg in hulle alledaagse lewe.

 

In v/a 81 vind ons die bekende driedeling terug: ellende – verlossing – dankbaarheid, wat die struktuur vorm van die hele Kategismus.

Aan die hand van hierdie driedeling vind die selfondersoek plaas, die voorbereiding op die viering.

Ons kyk in die spieël, dit is God se wet, en besef ons sondes en tekorte.

Ons dink daaroor na hoe die duiwel elke dag probeer om strikke vir ons te stel.

Soms kry ons dit reg om sy strikke te vermy, raak te sien, nie daarin te trap nie.

Ander kere kom ons eers te laat agter, dat die Satan êrens op ‘n onverwagte tyd of plek ’n strik gespan het.

So val ons daagliks in sondes.

Waardeur dit so belangrik is om elke dag die hemelse Vader vir vergewing te vra.

 

Dit is belangrik om te besef dat daar ’n verskil is tussen val in sonde, en leef in sonde.

Leef in sonde, beteken jy gee ’n bepaalde sonde ’n strukturele plek in jou lewe.

Jy soek bewus die strik van die Satan op, waar hy dit gespan het, by die huis, by die werk, by jou vakansie, op internet, op sosiale media, waar of hoe ook al.

Plus dat jy begin planne beraam hoe om die sonde te kamoefleer.

Voorbereiding op die nagmaal beteken in so ’n situasie dat jy die sondige gewoonte eerlik onder oë sien.

Dat jy opreg daarvoor vergewing vra.

En vervolgens dat jy opstaan.

Dat jy breek met die gewoonte.

En as dit moeilik is, dat jy hulp soek.

Hulp, of hulpmiddels.

As die sonde te sterk vir jou is, bly uit die buurt.

As jy hierdie stappe nie neem nie, is jy ’n huigelaar as jy aan die nagmaal deelneem.

Dwalings in leer of lewe wat ons by onsself opspoor, behoort ons te vervloek.

 

So te hore is die voorbereiding op die nagmaal nie iets swewerigs is nie.

Dit gaan heel konkreet oor jou daaglikse lewe.

Ons kry ‘n ‘afkeer’ van onsself, soos die nagmaalsformulier sê.

Nie dat dit die bedoeling is dat ons onsself depressief maak nie.

Wel dat ons ons verootmoedig en klein word voor God.

Besef dat ons sonder Hom niks is nie.

Kennis van jou ellende, dit is iets wat ’n Christen lewenslank nederig maak.

Lewenslank moet ons stry, teen tal van sondes wat op 101 verskillende maniere jou lewe probeer binnesluip.

Die stryd hou ons slegs vol, danksy die vaste vertroue dat Christus ons sondes regtig wil vergewe.

Sy offer aan die kruis is ook vir jou en my bedoel.

Die geloof dat Jesus ons red staan altyd in ’n sekere spanning met ons ervaring.

Vandaar dat in v/a 81 die woordjie ‘tog’ gebruik word.

TOG mag ons op Hom vertrou, al is daar nog so baie gebreke, as ons na onsself kyk.

 

Mense wat nagmaal bywoon, lê hulleself nie neer by hulle swakhede nie.

Bemoedig en versterk deur Christus, verlang hulle om soos nuwe mense te leef.

Aangevuur deur die Gees, span hulle hulle in om hulle lewe te verbeter.

Aan die een kant is God se genade gratis, aan die ander kant is dit nie goedkoop nie.

 

So te hore is daar dus duidelik ’n drumpel.

Jy kan nie sommer na die nagmaal kom nie.

Eers as jy toelaat dat Christus alle kompartimente van jou lewe skoonmaak.

Jy kan nie bepaalde kasdeurtjies toesluit, dat Jesus nie daarin mag kyk nie.

As dit gebeur, kom jy aan die nagmaalstafel, slegs gedeeltelik gereinig.

So onteer jy die tafel van die HERE.

Die nagmaalsformulier sê:

Solank jy in sondes volhard, moet jy jou van die nagmaal onthou, om nie nog swaarder veroordeel te word nie.

As jy wel kom, eet en drink jy tot jou eie oordeel.

 

In ons kerklike tradisie is dit soms die geval of dit lyk of die drumpel na die nagmaalstafel verdwyn het.

Laat ons besef, die kerk wat die viering van die nagmaal ontheilig, loop die risiko dat die Here Jesus daardie kerk verlaat.

Dat – soos die Bybel dit noem – die kandelaar weggeneem word.

Ons moet deeglik bewus wees van die feit dat die Here Jesus aanwesig is tydens die viering.

Hy gee jou ook die moontlikheid om heeltemal rein aan tafel te kom.

Maak jy ten volle daarvan gebruik?

 

Dit is die aspek waarvoor v/a 82 ons aandag vra.

Wie oppervlakkig die nagmaal benader, bring nie net homself in gevaar nie, maar die hele gemeente.

Antwoord 82 sê: So word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente verwek.

Hulle wat nie self verantwoordelikheid vir hulle eie lewe neem nie, mag nie ongehinderd hulle gang kan gaan nie.

Juis daarvoor het die Here Jesus gesagsdraers in sy gemeente aangestel.

Die Christelike Kerk, sê antwoord 82, is verplig volgens die ordening van Christus, om sulke mense deur die sleutels van die hemelryk uit te sluit, tot hulle hulle lewe verbeter.

In die volgende Sondag – Sondag 31 – word daar uitgebreid aandag geskenk aan die sogenaamde sleutels van die hemelryk.

Hoe Christus aan die gesagsdraers in die kerk die taak gee om te waak oor die nagmaalstafel.

Beter gesê: om te waak oor die welstand van die gemeente.

Want, die optrede van een sondaar kan die hele gemeente onder  God se toorn bring, as daardie sondaar ongesteurd sy gang kan gaan.

 

In hierdie verband het ons ’n gedeelte gelees uit Jakobus en uit 2 Johannes.

In beide gedeeltes klink die oproep om bepaalde mense nie te ontvang nie, om hulle met hulle lewenswyse nie ruimte te gee nie.

Dalk mag hierdie oproep in stryd klink met die boodskap, dat God mos juis sondaars opsoek, en ook wil hê dat ons moet opsoek hulle wat dreig om verlore te gaan.

Inderdaad is dit so.

Maar in hierdie gedeeltes gaan dit oor iets anders.

Dit gaan hier oor mense wat bewus volhou met die sonde.

Mense wat die Woord goed ken, maar tog kies om die sonde vas te hou, wat selfs redenasies voer en verskonings het dat dit aanvaarbaar is.

Die apostel Petrus sê byvoorbeeld in sy tweede brief:

“Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.” (2 Petr 2:20-22).

En nou klink in Jakobus en Johannes die oproep om sulke mense juis te vermy.

2 Johannes, vers 10: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.”

En Jakobus: “weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God ...” (Jak 4:4)

 

Jy kan nie met mense – selfs al is hulle gemeentelede – wat openlik bepaalde sondes in hulle lewe koester, omgaan asof niks aan die hand is nie.

Wie maak of alles OK is, kry deel aan die skuld en word self besmet.

Dit is noodsaaklik dat ons God bid dat Hy aan ons onderskeidingsvermoë gee, en wysheid, om goed met mense om te kan gaan.

Mense binne en buite die kerk.

Dat ons aan die een kant die liefde van ons Heiland uitstraal, dat ons kontak soek met elke mens, hoe groot sondaar hy ook al is, vanuit die besef dat ons ook sondaars is.

Maar dat ons aan die ander kant ’n afkeer uitstraal van wat onrein is en nie pas in ’n lewe in diens van God nie.

Wie tot seën nagmaal wil vier, moet ook ’n vervloeking uitspreek oor alle leer en lewe wat God se toorn teen die gemeente opwek.

 

Om saam te vat: Aan die een kant bestaan daar geen drumpel by die nagmaalstafel nie.

Christus roep sondaars by Hom aan tafel, hoe groot ook jou skuld, hoe diep jy ook gebuk gaan onder die las van jou sonde, hoe weinig jy ook ’n nuwe mens voel, hoe kragtig die ou mens jou nog parte speel.

Christus roep jou aan tafel!

Kom, sê Hy!

Lê jou las op my skouers, jou HELE las!

Ontvang vergewing en ’n nuwe lewe.

Moenie jou laat ophou deur ’n gevoel van minderwaardigheid nie.

As Ek, Christus, vir jou kies, as Ek vir jou ’n plek ooplos aan tafel, wie is jy om te twyfel?

Dus aan die een kant geen drumpel nie.

 

Maar aan die ander kant wel ’n drumpel:

Vir wie met die genade van Christus omgaan soos ’n goedkoop gebruiksartikel.

Wie meen dat hy sowel aan Christus kan behoort, en terselfdertyd ’n wêreldgelykvormige lewe kan lei.

Hy behoort te stop voor die drumpel.

En as hy dit nie doen nie, behoort die ampsdraers hom te keer, totdat hy sy lewe verander het.

 

Broer, suster, maak al die deure van jou hart oop, dat Hy kan skoonmaak.

Lê al jou laste op sy skouers, want sy las is lig en sy juk is sag.

Mag die Here Jesus Christus, ook in hierdie week van voorbereiding op die nagmaal, sy werk doen in jou en my lewe.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 89:1,2

Gebed

Skriflesing: Jakobus 4:1-12

Ps 89:7,13

Skriflesing: 2 Johannes

Ps 89:17,18

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 29-30

Preek

Sb 19.1-7

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Ps 66:7

Kollekte

Slotlied: Ps 66:8,9

Seën