Soek die dinge daarbo waar Christus is.

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2025-05-29
Text: 
Kolossense 3:1b
Preek Inhoud: 

Preek: Kolossense 3:1b

 

As jy vir ’n oomblik ons gemeentes vanaf ’n afstand bekyk, die dinge waarmee ons besig is, die tyd wat ons aan die gemeentelewe spandeer, en jy vra jouself af: Hoekom doen ons dit eintlik alles?

Wat is ons doel met alles?

Wat is die doel van die kerk?

Hoekom hou ons vanaand hierdie erediens, terwyl die mense om ons heen nie eers weet dis Hemelvaartsdag nie?

In ons samelewing word kerklidmaatskap oor die algemeen gesien as een van die baie opsies waarvoor jy kan kies om jy vrye tyd mee op te vul.

Kerklid wees, altans gemotiveerd kerklid wees, word amper gesien as ’n stokperdjie.

Sommiges spandeer die naweke baie tyd aan die kerk, maar ander aan rugby of sokker, ander om met hulle 4x4 in die bos te gaan ry, ander om te gaan kamp ...

Ander hou dalk van vlieg.

Van al hierdie klubs is dit nie moeilik om hulle doel te definieer nie.

’n Sokkerklub wil so goed as moontlik sokker speel, en liefs die toernooie wen.

’n Oldtimersklub wil ervaring en kennis oor ou motorkarre met mekaar deel, oor naweke rondry in hulle spoggerige voertuie.

’n Karavaanklub wil lekker kuier, onderweg na en op ’n kampeerplek.

’n Natuurklub wil van die natuur geniet en dit beskerm.

Maar die doel van die kerk, hoe omskryf mens die doel van die kerk?

Wel, gemeente, laat ons nie te moeilik hieroor wees nie.

Die kerk het inderdaad ’n doel.

Maar wat lastig is, die kerk het eintlik nie net een doel nie, maar vele doele.

En dit maak dit lastig om ’n kort antwoord te gee.

Want mens kan soveel sê!

 

In hierdie preek kyk ons na die hoofdoel van die kerk.

Dit lees ons in Kolossense.

Kolossense 3:1 “soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”

Dit is die doel van die kerk.

En dit het natuurlik alles te make met die hemelvaart van Christus.

 

Tema: Soek die dinge daarbo waar Christus is.

 

In elkeen van die kerk se geloofsbelydenisse word die hemelvaart van Christus bely, en die feit dat Hy nou aan die regterhand van God regeer.

Dit is ‘n waarheid, ‘n werklikheid, wat by herhaling in die Skrif aan ons geopenbaar word.

Wat het hierdie heilsfeit ons te biede?

Wat is die waarde daarvan?

Elkeen van die heilsfeite is nie net droë feite nie, maar het ‘n konkrete praktiese waarde.

Dit geld vir Christus se geboorte, sy offer aan die kruis, sy opstanding, maar ook vir sy hemelvaart en die feit dat Hy aan die regterhand van God sit.

 

Ons lees in 1 Johannes 2: “as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”

’n Voorspraak, ‘n advokaat, pleit in die regsaal vir sy kliënt, selfs in sy afwesigheid, met die doel om hom vry te kry.

So pleit Christus, in ons afwesigheid, by die Vader in die hemel om ons vry te kry.

Ons wie niks anders as die dood verdien het nie, ons het ’n bondgenoot in die hemel.

 

Dis nie ‘n onbekende iemand nie.

Dis iemand wat ook as mens – as verheerlikte mens – na die hemel opgevaar het.

Dit skep verwagtings vir die toekoms.

As jy en ek sterf, mag ons ook kom daar waar Hy is.

Christus is die Hoof, sy kerk is die liggaam.

Ons vorm die lede van hierdie liggaam.

As die Hoof in die hemel is, sal die lede agter Hom aan volg.

Hoof en liggaam hoort bymekaar, is onlosmaaklik verbonde.

Ons het ons Heiland as waarborg in die hemel.

Ons menslike natuur in die hemel, want Jesus het vlees geword – en dit is ’n waarborg, dat Hy as Hoof, ook ons sy lede tot Hom sal neem.

Die feit dat Hy na die hemel gegaan het, is vir u en my ’n waarborg.

Dit is geweldig waardevol.

 

En dan ook gaan ons oor tien dae Pinkster vier.

Die uitstorting, die gawe van die Gees, het gekom danksy hemelvaart.

Die dissipels moes in Jerusalem wag tot hulle die belofte van die Vader ontvang het, dat hulle die Heilige Gees sou ontvang (Hand 1:4-5).

Jesus herinner vlak voor sy hemelvaart hulle aan sy woorde, Johannes 14:16-17: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid”.

 

Op hemelvaart mag ons dalk teenstrydige gedagtes hê.

Jesus beloof aan die een kant dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.

Aan die ander kant sê Hy vir sy dissipels dat Hy nie meer lank by hulle sal bly nie.

Dat hulle die arm mense altyd by hulle sal hê, maar nie vir Hom nie.

Hoe kan mens hierdie teenstrydige uitsprake met mekaar rym?

Gemeente, hierdie uitsprake is nie teenstrydig, as mens oog het vir die Drieëenheid van God nie.

Vader, Seun en Gees is een.

Hulle vorm saam so ’n hegte eenheid, dat Jesus rustig kan sê dat Hy ons nie in die steek sal laat nie, omdat Hy van plan is om sy Gees te stuur.

In die Heilige Gees is Jesus ook aanwesig.

Ons bely in die Kategismus: wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

Vergelyk hierdie Drieëenheid vir ’n oomblik met die tweeëenheid van ’n huwelik.

As pa of ma saans weggaan, dan maak dit eintlik nie vir die kinders saak wie by die huis bly om hulle op te pas nie, solank een van beide ouers maar tuis is, dan is hulle rustig en voel hulle veilig.

So het Jesus sy Gees gestuur as Oppasser, as Trooster.

En deur sy krag soek ons wat daarbo is, waar Christus sit aan die regterhand van God, en nie wat op die aarde is nie.

 

Deur sy krag soek ons wat bo is, waar Christus is aan God se regterhand, en nie wat op die aarde is nie ...

Dit is wat ons lees in ons teks, Kolossense 3:1.

Ons het hierdie preek begin met ons af te vra wat eintlik die doel van die kerk is.

Het die kerk ’n duidelik omskrewe doel?

Soos ‘n sokkerklub, ‘n 4x4 klub, ’n karavaanklub?

Wat is die doel van die kerk?

Ek het genoem dat die kerk eintlik vele doele het, en dat dit juis daarom lastig is om die doel van die kerk in een kort sin te verduidelik.

Maar gemeente, die doel van die kerk kan pragtig met die woorde van ons teks saamgevat word: “soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”

Nou moet u wel besef dat hier ’n misverstand op die loer lê.

Naamlik: O ja, die doel van die kerk is dus om die dinge te soek wat daarbo is, dit wil sê: die doel van die kerk is dus in feite om mense in die hemel te kry.

Alles wat in die kerk gebeur: eredienste, katkisasie, vereniging, sending, evangelisasie, dit het alles ten doel om siele vir die hemel te wen.

Soek die dinge wat daarbo is ...

Dis mos wat dit beteken ...

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Ons is oppad boontoe, hier benede is dit nie.

Ons gaan hemel toe.

 

Maar gemeente, hierdie is ‘n misverstand.

Ek dink dat baie mense wat nie kerklid is, so oor die kerk dink.

En miskien dink baie van ons ook so.

Die doel van die kerk is om mense in die hemel te kry.

Maar gemeente, laat dit vir eens en vir altyd duidelik wees:

Dit is nie die hoofdoel van die kerk nie.

Natuurlik gaan ons hemel toe, as ons sterf, elkeen wat in Christus glo.

Dit staan vas.

Maar dit is nie die hoofdoel van die kerk nie.

Net soos dit nie die uiteindelike doel van Christus se reddingswerk is om sieltjies in die hemel te versamel nie.

Sy uiteindelike doel is om hierdie aarde te herskep.

’n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, wat saamkom –

“En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien”, kan ons in Openbaring 22:1 lees.

’n Herskepping.

’n Aarde oordek met vrede en harmonie.

En die doel van die kerk lê in die verlengde van hierdie doel van Christus se Middelaarswerk.

Kerk in die wêreld.

Herskepping van hierdie aarde.

As Kolossense 3 skryf: Soek die dinge daarbo waar Christus is, bedink die dinge wat daarbo is;

dan word dus nie bedoel dat ons ons aandag van hierdie wêreld moet aftrek nie.

Maar hiermee word bedoel dat ons elke dag kontak moet onderhou met ons hoofkwartier.

Ons moet in verbinding bly met ons hemelse beheertoring.

In die gedeelte wat ons gelees het, staan nêrens die woord ‘hemel’ nie.

Die hemel word hier anders omskryf.

Hier staan: bo waar Christus is, gesete aan die regterhand van God.

God se regterhand – hierdie uitdrukking wys daarop dat Jesus op die troon sit.

Van daar voer Hy bewind oor die aarde.

Dis die hoofkwartier.

As ons dus lees: Bedink die dinge wat daarbo is, en nie wat op die aarde is, wil dit sê:

Bly in verbinding met Christus, wat opgevaar het na die hemel, wat van daaruit regeer.

Dit is die hoofkwartier van waaruit sy bevele klink.

Dit is die hoofkwartier van waaruit jy bevoorraad word.

Dit is die hoofkwartier van waaruit jy jou motivering behou.

Die kerk moet steeds in verbinding bly met die hemel, die hoofkwartier.

Want daar regeer Jesus, van daaruit berei Hy die koms van sy koninkryk voor.

Die kerk is as ’t ware ’n leërbasis in vyandelike gebied.

Vanuit hierdie leërbasis word die omliggende area vir Christus in besit geneem.

 

Ons vra weer die vraag: Wat is die doel van die kerk?

Dit, om hierdie sondige en gebroke wêreld te reformeer.

Dus nie net om siele vir die hemel te wen nie.

Maar om mense en hulle hele bestaan vir Christus te wen.

Christus wat na die hemel opgevaar het, maar wat nog 100% ook hier by ons is deur sy Gees.

Ons is medewerkers om mense tot geloof in Christus te bring, dat hulle voor sy troon sal buig.

Geloof is iets wat nie net in mense se harte leef nie.

Hierdie is ’n geloof wat hande en voete kry.

Geloof is ingebed in God se herskeppingsplan met die aarde.

As iemand dus vir jou sou vra:

Wat is die doel van julle kerk?

Hoekom bestaan julle?

Dan kan jy antwoord:

Ons kerk ontvang sy instruksies uit die hemel, vanwaar Christus oor die wêreld regeer.

Christus se bedoeling met ons as kerk is dat ons diensbaar is op die plek waar Hy ons geplaas het hier op aarde.

Dat ons dit vir sy heerskappy wen.

Dit hou in dat ons sy wil in praktyk bring, op alle terreine van die lewe.

Of dit gaan oor etiek, lewenswyse, menseverhoudings, natuurbewaring, ekonomie, verkeer, skole, media, politiek, owerheid, ontspanning, maak nie saak wat nie.

Daar is immers geen duimbreed van hierdie wêreld wat buite Christus se hemelse heerskappy val nie.

Op alle verskillende terreine beywer ons onsself daarvoor om Christus se heerskappy in praktyk te bring.

Dit hou natuurlik primêr in dat ons elke mens oproep tot bekering en geloof in Christus, tot erkenning van sy heerskappy.

En vervolgens dat elke terrein van die lewe vir Hom teruggewen word.

 

Dit is dus die doel van die kerk.

En nou verstaan u waarskynlik hoekom die doel van die kerk so baie omvangryk is;

wat dit soms moeilik maak is om dit in een sin te verduidelik.

Maar mens kan die doel van die kerk dus wel saamvat met die woorde van ons teks:

“soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit”.

Dit beteken dat ons steeeds in verbinding bly met ons hoofkwartier, die troon in die hemel.

Ons probeer nie om die aarde agter ons te laat en na die hemel te vlug nie.

Ons staan juis gereed om op aarde die hemelse instruksies van Christus uit te voer.

Ons staan gereed as kerklede, net soos die engele, om gewillig die instruksies wat Hy vanuit die hemel vir ons gee, in praktyk te bring hier op die aarde, daar waar Hy ons ’n plek gegee het.

So staan die kerk in diens van God Drieënig se groot plan: die herskepping van alle dinge.

En die Heilige Gees sorg daarvoor dat die kerk steeds in verbinding bly met sy Hoof, Christus op die troon.

Soos Efesiërs 1:20-23 sê: God het Hom laat sit “aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige, en Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

Soos iemand ’n keer gesê het: Die kerk is taak is nie om siele te vang voordat hulle verdrink in die goddelose wêreld nie.

Maar die kerk se taak is baie meer omvangryk: Dit is om ook die goddelose wêreld in sy totaliteit te suiwer en aan God toe te wy.

Die kerk se taak is nie net om visse te vang uit die stinkende water van die dam nie.

Die kerk se taak is om ook die dam skoon te maak.

 

Die tema van hierdie preek is die waarde van die hemelvaart van Christus.

Ons kan konkludeer dat sy hemelvaart van onskatbare waarde is vir die kerk, ja vir die hele skepping.

Sê nou maar Christus sou nie opgevaar het na die hemel nie, sê nou maar Hy sou nie die regeerposisie aan God se regterhand ontvang het nie, dan sou die kerk, dan sou jy as gelowige, magteloos gewees het.

Dan sou die kerk nie ‘n Hoof in die hoofkwartier gehad het om instruksies uit te deel, om te bemoedig, om ons te bevoorraad en te bewapen, om die krag en volharding te gee wat ons alles so nodig het nie.

En as die kerk geen instruksies van Christus kan ontvang nie, dan het die kerk ook geen boodskap vir die wêreld nie.

Dan kan die kerk maar sy deure sluit.

Maar noudat Christus dus wel op die troon sit in die hemel en van daaruit regeer, het die kerk ’n duidelike doel, en ook ’n baie omvangryke doel,

naamlik om al die instruksies van haar Hoof, Christus, in hierdie wêreld in praktyk te bring, met die oog op die herskepping van hierdie wêreld.

En ons kan, want ons word bevoorraad uit die hemel.

Deur sy Gees ontvang ons alles wat ons nodig het.

 

Dit bring ons weer by u posisie hier in hierdie area waar u woon.

Ons het ’n omvangryke taak.

Daar is nie tyd om te verloor nie.

Maar omdat Christus op die troon regeer, weet ons dat wat ons doen, nie vrugteloos sal wees nie.

Fokus jou eie lewe boontoe, waar Christus is.

Wat jy ook al doen, in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, Hy wat op die troon regeer.

As elkeen van ons dit doen, die werklikheid van Christus se hemelvaart en magsposisie in die hemel ter harte neem, sal ons kragtige gelowiges wees, en saam ‘n kerk met uitstraling.

So mag ons ’n gedugte taakspan vorm in diens van Christus, ook hier in ons eie omgewing.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Hemelvaart:

Votum

Seën

Ps 47:1-4

Gebed

Skriflesing: Kolossense 3:1-17

Sb 10:1-6

Teks: Kolossense 3:1b

Preek

Amenlied: Ps 68:3,8,9,15,16

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:3-5

Kollekte

Slotlied: Ps 148:1,3,5

Seën