‘n Vaste burg is onse God

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-05-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 52,127 (6e Bede van die Onse Vader)
Preek Inhoud: 

‘n Kind voel by die huis meestal die veiligste.

Toe jy as kind vir die eerste keer skool toe gegaan het, was dit ‘n groot ding.

Toe jy as kind vir die eerste keer vir jou ma winkel toe moes gaan, was dit ‘n groot stap in jou lewe.

Ook grootmense voel tuis die veiligste.

As jy vir ‘n tyd in die hospitaal moet deurbring, verlang jy dat jy maar net tuis kan wees.

Tuis is dit veilig.

Tuis is die mense wat jy ken, wat jou liefhet.

Tuis wag jou ma, jou pa, jou man of vrou, jou broers, jou sussies, noem maar op.

Ons het nounet uit Psalm 46 gesing: “Die God van Jakob sal vir ons ’n veil’ge vesting wees.”

’n Vesting, ’n burg, ’n kasteel, dit is ’n plek waar jy veilig kan voel.

Dis ‘n tuiste.

’n Vesting wat bestand is teen aanvalle van buite.

As ons in die lewe bedreig voel, dan kan ons na God toe vlug.

Ons mag tot Hom bid dat Hy ons bewaar vir alles wat ons bedreig.

Dit is waaroor die 6e bede gaan.

As ons bid: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose;

dan gee ons daarmee te kenne dat ons by God veilig voel.

Die tema vir die preek is daarom:

 

Tema: ‘n Vaste burg is onse God

1 Die noodsaak van hierdie bede

2 Die krag van hierdie bede

 

1 Die noodsaak van hierdie bede

Ons is in onsself so swak ...

Met hierdie nugter woorde begin die Kategismusantwoord.

Dieselfde Kategismus het ’n paar Sondae gelede gepraat oor die ou en nuwe mens.

In Christus is ek ’n nuwe mens.

Hoewel dit ’n feit is dat ek in Christus ’n nuwe mens is, moet daar nog steeds aan toegevoeg word:

Ek bly nie uit myself staande nie.

Uit myself is ek nog baie swak.

Die ou mens wat nog êrens in my wegkruip, laat my keer op keer struikel.

Die woorde van ons Heiland klink ons telkens in die ore: “sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).

Daarom die noodsaak van hierdie bede.

 

’n Gesonde dosis nugterheid.

Petrus skryf:

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” (1 Pet 5:8)

As jy nugtur is, hou jy rekening met die duiwel.

As jy nugter is, hou jy rekening met die mag van die kwaad.

Broer, suster, hou u daarmee rekening?

Is u nugter in hierdie opsig?

 

As eerste doodsvyand noem die Kategismus die duiwel.

As ons die bede bid: Verlos ons van die Bose, bedoel ons dus daarmee die duiwel.

Dit word met ‘n hoofletter geskryf, nie om vir die duiwel eer te gee nie, maar om daarop te wys dat hy magtig is, dat jy hom nie moet onderskat nie.

Die woord Bose is dus nie net ‘n algemene woord nie.

As Jesus ons hierdie bede leer, dan het Hy ’n spesifieke persoon op die oog: die duiwel.

Dit blyk byvoorbeeld uit sy gelykenisse, byvoorbeeld die gelykenis van die saaier in Mattheüs 13.

Daar staan: dan “kom die Bose [hoofletter] en roof wat in sy hart gesaai is” (Matth 13:19).

As ons hierdie selfde gelykenis in ’n ander Evangelie lees, naamlik in Markus, staan daar:

“En dit is hulle wat langs die pad is – waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.” (Markus 4:15)

Die Bose is dus die Satan, die duiwel.

 

As ons bid: lei ons nie in versoeking nie, dan dink ons dus konkreet aan die werk van die duiwel.

In die Bybel word Satan die versoeker genoem.

Byvoorbeeld in 1 Thessalonisense 3 sê Paulus: “of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie.” (1 Thess 3:5)

 

Die duiwel, die Bose, die versoeker is dus ons doodsvyand.

Dit was hy ook vir Jesus.

Hy het ook vir ons Heiland aangeval.

Hy het Hom ook versoek.

Hy het geen geleentheid verby laat gaan om Hom te laat struikel nie.

Hy het alle middele gebruik wat hy in die hande kon kry.

Selfs die vriende en dissipels van Jesus.

Die doodsvyand het mag gekry oor Petrus.

Jesus moes hom waarsku: Gaan weg agter my, satan!

Die doodsvyand het ook mag gekry oor Judas.

Hy het Judas die dood ingedryf.

So het die duiwel alles in sy vermoë gedoen om die wêreld rondom Jesus in sy mag te kry.

 

Dit is dan ook die tweede doodsvyand wat die Kategismus noem: die wêreld.

Nou is dit nie die bedoeling dat mens by die woord wêreld dink aan dinge soos kos en klere, geld en besit nie.

Hierdie dinge is nie vyande nie.

Dis nie die geskape dinge in die wêreld wat sondig is nie, maar die mense wat daarop rondloop.

Die woord wêreld dui hier op die mensheid wat God die rug toegekeer het.

En wat dus ook God se gawes misbruik.

As mens so die woord wêreld verstaan, maak die uitspraak van Jesus in Johannes 15 sin, as Hy sê:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” (Joh 15:18)

Met die woord wêreld bedoel Jesus dus hier daardie mense wat in opstand teen God se Gesalfde kom.

Heel konkreet: die afvallige Joodse volk van daardie dae.

 

Met die woord wêreld bedoel die Kategismus dus:

Die van God afvallige wêreld vir sover ons daarmee te make kry.

Jesus het te make gekry met die Joodse volk wat die Messias verwerp het.

Die opstellers van die Kategismus het onder andere aan die afvallige Roomse kerk gedink.

Vandag kan ons dink aan die afvallige kerk, die afvallige Christenheid, en aan almal wat ons Christelike lewenswandel negatief beïnvloed, wat ons probeer verlei om water by die wyn te doen, oftewel om nie voluit vir die HERE te lewe nie, en nie in alles sy gebooie voorop te stel nie.

Die wêreld lewe vir homself, vir sy eie genot, en vind nie meer sy hoogste vreugde in God nie.

Die wêreld gaan te gronde in sy eie egoïsme.

 

En dit bring ons by die derde doodsvyand.

Ons eie vlees, oftewel ons eie sondige natuur, jou ou mens, jou ego.

Die ou mens bly helaas tot op jy sterfdag nog ’n doodsvyand.

Jy ervaar die kompetisie, die stryd, in jou eie liggaam.

Die ou mens teen die nuwe mens.

Paulus het hierdie kompetisie as slopend ervaar.

Hy het uitgeroep: “as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:21-24)

En dan volg die antwoord direk daarna as ’n geweldige oplugting:

“Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom 7:25)

In die brief aan die Galasiërs skryf Paulus:

“want die vlees [dit is die ou mens] begeer teen die Gees [dit is die Heilige Gees wat die nuwe mens in ons skep], en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar” (Gal 5:17) – dit wil sê hulle is aartsvyande.

En: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal 5:24).

Broer, suster, jou ou mens bly ’n dodelike vyand.

Luister daarom na Jesus se oproep: Waak en bid – ja bid veral hierdie bede – sodat julle nie in versoeking kom nie.

Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.

Jesus het hierdie woorde die eerste keer vir Petrus gesê, ons het dit gelees.

Helaas het Petrus die woorde in die wind geslaan.

Hy het gedog dat hy self sterk genoeg sou wees.

Dat hy hierdie bede nie nodig het nie.

Maar later het hy die noodsaak van hierdie bede ingesien.

Later het hy nie meer groot gedink oor homself nie.

In sy eerste brief skryf hy: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petr 5:5)

Wees op jou hoede vir jou eie sondige natuur, jou hoogmoed.

Dit kan ’n welkome invalspoort vir die Satan wees.

Besef daarom die noodsaak van hierdie bede: Lei ons nie versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Beskerm en verlos ons van ons doodsvyande.

 

(Tema: ‘n Vaste burg is onse God

1 Die noodsaak van hierdie bede)

 

2 Die krag van hierdie bede

 

In die Middeleeue was ’n kasteel – ‘n burg – ‘n vesting waar die vyand nie binne kon dring nie.

As mense rondom, burgers en boere, die berig ontvang het dat daar gevaar dreig, het almal na die kasteel gevlug.

Daar was hulle veilig, en van daaruit kon hulle die stryd voer.

God is vir ons so ’n veilige vesting.

Met die sesde bede vestig ons ons oë op Hom, ons vesting.

Dit gee ons vastigheid en veiligheid in die stryd.

As ons oog in oog met ons doodsvyande staan, bly ons nie uit onsself staande nie.

En dan kan ons maar net bid, met die woorde van die Kategismus:

“Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie”

Met God aan ons kant kan ons bly staan.

Sonder Hom sak ons in mekaar; gee ons toe aan die versoeking.

Met die sesde bede bid ons of God ons staande wil hou te midde van versoeking.

 

Nou is dit goed om op hierdie punt vir ’n oomblik stil te staan by die woord versoeking.

Hierdie woord het al vir heelwat misverstande gesorg.

In die Jakobusbrief lees ons byvoorbeeld:

“Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” (Jak 1:13)

Hoe rym ons dit met die sesde bede, waar ons vir God vra: Lei ons nie in versoeking nie?

As Jakobus sê dat God niemand versoek nie, hoekom moet ons dan vir Hom bid: Lei ons nie in versoeking nie?

In hierdie verband is dit goed om te kyk na die presiese betekenis van die woord versoeking, of versoek.

As ons die woord versoeking hoor, het dit vir ons ’n negatiewe klank.

Soos Jesus byvoorbeeld vir die duiwel in Mattheüs 4:7 sê: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”

Dit is sondig, dit is negatief.

Tog is hierdie woord vroeër ook gebruik om iets positiefs aan te dui.

In die Statevertaling lees mens byvoorbeeld in Deuteronomium 8: Die HERE het Israel in die woestyn met honger versoek, om te toets of hulle wel op Hom vertrou het.

Ons sou vandag eerder sê: God het die volk op die proef gestel.

Vroeër in die Nederlandse spraakgebruik kon die woord versoek dus gebruik word vir sowel iets positief as negatief.

Deesdae gebruik ons die woord net nog vir iets negatiefs, terwyl vir die positiewe kant ons ’n ander woord verkies, soos byvoorbeeld op die proef stel, beproef.

Daarom klink dit vandag vir ons snaaks in die ore as ons in die Bybel lees dat God iemand versoek.

Ons sou eerder die woord beproef vir God gebruik.

Maar goed, in ons Bybelvertaling het ons dus nog te make met hierdie ou gewoonte om die woord versoek vir sowel iets positiefs as iets negatiefs te gebruik.

As God versoek, is dit positief.

As die satan versoek, is dit negatief.

Ek noem dit sodat ons nie ’n verkeerde beeld van God kry nie.

’n Soort godsbeeld wat ons vir Hom sou bangmaak.

Want dit sou nie in ooreenstemming met die Bybel wees nie.

“Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” (Jak 1:13)
 

Wat wel so is, is dat ons in ’n spesifieke gebeurtenis in ons lewe terselfdertyd ’n beproewing en ’n versoeking kan ervaar.

Ons voel die kompetisie, hoe daar aan ons getrek word.

As ons met ‘n situasie gekonfronteer word, voel ons hoe die ou mens eenkant toe trek, en die nuwe mens die ander kant toe.

God beproef ons, Hy bring jou in ’n situasie waar jy as gelowige, as nuwe mens, die regte keuse moet maak, waardeur jy nog sterker in jou geloof te staan kom.

Maar in dieselfde situasie doen die duiwel sy bes om jou ou mens vorentoe te druk.

En wat is die nut as ons dan die sesde bede bid: Lei ons nie in versoeking nie?

Dan vra ons vir God of Hy ons nie in sulke moeilike situasies sal bring wat ons nog nie sal kan bolwerk nie.

En ons vra vir die krag van die Heilige Gees.

Die krag van die Heilige Gees hou die nuwe mens regop.

Sê nou maar, om ’n konkrete voorbeeld te noem, jy loop in die winkel en iemand voor jou laat per ongeluk ’n R200 val.

Tel jy die geld op en steek jy dit vinnig in jou eie sak?

Of tel jy dit op en gee dit vir die persoon terug?

Met die sesde bede vra ons God dat Hy ons die krag van sy Gees gee, sodat ons ’n goeie besluit neem.

Of, anders gesê, ek vra God, as ek as Christen nog nie so stewig in my skoene staan nie, om my liewerste nie in so ’n situasie te bring nie.

Want dit sou daartoe kon lei dat ek ten val kom.

 

Ons bevind ons elke dag midde in ’n geestelike stryd.

Dit is dus noodsaaklik dat ons elke dag hierdie bede bid.

Die sesde bede bid jy as jy die Onse Vader opsê.

Jy kan dit ook bid in jou vrye gebed, in jou eie formulering.

Maar moet net nie dink dat jy sonder hierdie bedde heelhuids deur die lewe gaan kom nie.

Onverskilligheid in jou gebedslewe is, veral wat hierdie bede betref, dodelik.

In 1 Korinthiërs 10 waarsku Paulus:

“wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1 Kor 10:12)

Alleen deur die krag van die Heilige Gees bly jy staan.

Sonder Hom lê jy by die eerste die beste versoeking op jou rug.

Maar as jy op die Here vertrou, dan het Paulus nog ’n boodskap vir jou:

“God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Kor 10:13)

Pragtige versekering!

 

Die duiwel kan dit regkry dat jou lewe snaakse draaie maak.

Maar as jy dan nie meer grond onder jou voete voel nie, kyk op na God.

Hy is ons vaste burg.

Die lewe bly ’n stryd.

Jy ervaar dit dalk nie elke dag so nie, maar dit is wel so.

Van twee kante word daar aan jou getrek.

Die liefde van God trek, maar ook die suigkrag van die sonde.

Jy ervaar die aanmoediging van God, maar ook die verleiding van die doodsvyande.

Deur die geloof sal jy staande bly.

Die geloof is die bewys dat die Heilige Gees in jou werk.

En hierdie stryd het gelukkig nie ’n onbesliste einde nie.

God belowe dat Hy vir jou ‘n vaste burg sal bly.

Kom daarom elke keer om by Hom te skuil!

In hierdie lewe, tydens die geestelike stryd, is die sesde bede elke dag noodsaaklik.

In hierdie lewe beteken hierdie bede vir ons ontsaglik veel.

Hierdie bede is kragtig.

Dit hou ons staande.

 

Ons weet dat ons in Christus reeds oorwinnaars is.

In die Kategismus staan: “totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.”

Let goed op hoe dit hier verwoord word.

Ons het alreeds die oorwinning behaal, maar ons het dit nog nie volkome nie.

Ons ou mens is nog nie finaal oorwin nie.

Dit gebeur eers as ons hemel toe gaan, of die dag as Christus terugkom.

Dan behaal ons die oorwinning ook volkome, volledig.

Hou vas aan die oorwinning – jy het dit al!

Moenie dat dit weer van jou afgevat word nie.

Verlang na die volkome oorwinning.

Dan sal die doodsvyande – die duiwel, die wêreld, en jou ou mens, nie meer daar wees nie.

Dan is die oorwinning volkome.

Dan sal jy voluit kan leef!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 46:1,3

Gebed

Skriflesing: Lukas 22:39-62

Sb 28:1,2

Skriflesing: Jakobus 1:1-18

Sb 28:3,4

Teks: 6e Bede – nav Heidelbergse Kategismus Sondag 52 (v/a 127)

Preek

Ps 46:4,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 18:1

Kollekte

Ps 31:1-3

Seën