Duisternis en lig is in sy hand!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2025-05-18
Text: 
Exodus 10:21-29
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 10:21-29

 

In teenstelling tot vorige plae was die negende plaag nie direk lewensbedreigend nie.

Die hael het byvoorbeeld baie mense doodgeslaan.

Die sprinkaanplaag het akute hongersnood veroorsaak.

Maar wat was so erg aan die negende plaag?

Dit was vir ‘n paar dae pikdonker.

Maar ‘n mens kan dit mos oorleef?

 

Ook vandag ken ons soiets as psigologiese oorlogsvoering.

Angs en onsekerheid is groot faktore as dit by ‘n oorlog kom.

Dit kan veroorsaak dat ‘n bevolking teen hulle leiers draai.

Die effek van die negende plaag was dan veral ook psigologies.

En ek wonder of dit vandag nie ook so sal wees nie.

As die son vir drie dae nie opkom nie, ek dink dit sal vir die mensdom skokkender wees as enige van die vorige plae, soos die verwoestende haelstorm, of die sprinkane, of wat plaag tot dusver.

Kan jy jouself indink dat die son op ‘n dag nie opkom nie?

En dan moet ons rekening hou met die feit dat die Egiptenare nie geweet het dit sou slegs drie dae duur nie.

As die son vandag ineens nie sou opgekom het nie, en môre ook nie, die hele wêreld sal in absolute paniek gedompel wees – ook vandag.

En wat dan ook nog in Egipte die geval was, dit het alles met hulle godsdiens te make gehad.

Want met hierdie plaag teiken die God van Israel vir Egipte se hoofgod.

Ons gaan nou-nou daarna kyk.

Die god wat elke dag die son laat opkom het.

Hy is nou lamgelê.

Dink net watter immense impak dit op die Egiptenaars en hulle denke, hulle godsdiens, gehad het.

Die Bybel sê: Niemand kon van sy plek af opstaan ne.

 

Tema: Duisternis en lig is in sy hand!

 

Net soos by die vorige plae, is die HERE besig om met die gode van Egipte af te reken.

Daar was byvoorbeeld die Egiptiese god Horus.

Hy was die god van die sonsopkoms.

Daar was die god Aten, die god van die middagson.

Daar was die god Atum, die god van die sonsondergang.

Maar die belangrikste was die songod Ra, ook wel genoem Re.

Hy was die oppergod van Egipte.

Nadat die Egiptiese skrif, die hiërogliewe, ontsyfer is, kon historici ou tekste uit Egipte begin lees wat oor hierdie god gaan.

Hy word byvoorbeeld beskryf as die god wat vir homself sy eie naam gegee het.

Daar was dus niemand voor hom nie.

Hy was ook die skepper van die aarde.

Simbolies het elke sonsopkoms sy skeppingskrag gesimboliseer.

Die son wat elke dag weer opkom, is ewig.

So is Ra ewig.

 

Wat ook belangrik is om te weet, is die verhouding tussen Ra en die Farao.

In een van die ou hiërogliewe staan:

Ra het die koning op aarde geplaas ... Die naam van die koning is in die lug soos die naam van Ra.

Ra word ook die vader van die Farao genoem.

Farao is dus die seun van die oppergod.

Dit is natuurlik Godslasterlik.

Daar is slegs een wat die Seun van God genoem mag word.

Farao was anti-Christelik.

Hy het beweer dat die oppergod vir hom op die troon geplaas het.

Dat hy die hoogste heerser oor die aarde is.

Dat die son uit hom skyn.

 

Terug na die negende plaag.

Hiermee oordeel God dus die gode van Egipte en verheerlik Hy Homself.

Dit is al die soveelste gode wat die onderspit delf.

Maar hier, by die negende plaag, is dit ‘n klimaks.

Want nou delf die oppergod van Egipte die onderspit.

God het die grooste god laaste bewaar.

Maar ook hierdie god, Ra, was nie moeilik om te verneder nie.

Al wat God moes doen, was om die ligknoppie van die son af te skakel.

So bewys Hy dat dit Hy is wat beheer het oor die son.

Moses moes weer sy hand uitsteek om duisternis oor Egipteland te bring.

 

Die sielkundige en godsdienstige impak op Egipte was onbeskryflik.

As jou god die son is, en dit verdwyn ineens, dan bly jy met niks oor nie.

Egipte was lamgelê.

Die Bybel praat van ‘n dik duisternis.

Dis ‘n soort duisternis wat ons nie hier in die stad ken nie.

Dis soos ‘n maanlose nag ver weg in die bosveld.

Dan is dit so donker dat jy nie jou hand voor jou oë kan sien nie.

Al tastende sal jy jou weg moet probeer vind.

Die Egiptenare kon niks doen nie, vers 23:

“niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank.”

Hierdie duisternis was simbool vir God se oordeel.

 

Maar gemeente, net soos by die vorige plae, was daar ook eksegete wat gesoek het na ‘n natuurlike oorsaak vir hierdie duisternis.

Sommiges dink aan ‘n sonsverduistering, soos die maan wat tussen die aarde en die son inskuif, of ‘n ander planeet.

Dis iets wat baie sterk skemer op aarde kan bring.

Maar nog nooit in die geskiedenis het soiets drie dae lank geduur nie.

Ander verwys na ‘n moontlike Arabiese sandstorm, iets wat van tyd tot tyd in Egipte voorkom.

Die hele land word bedek met ‘n donker wolk van sand en stof.

Dan moet Egiptenare in hulle huise bly, dit is te guur om uit te gaan.

 

Maar gemeente, hierdie natuurlike verskynsels kom nie naby aan dit wat in ons teks beskryf word nie.

En, as die negende plaag ‘n herhaling was van iets wat tog van tyd tot tyd voorkom, hoekom was Farao so paniekerig?

En hoekom word hierdie plaag dan nie net gewoon ‘n sandstorm genoem nie?

Ons teks benadruk egter hoe donker dit was.

Die donkerte was as ‘t ware voelbaar.

Al met al, hierdie was maar net nog ‘n bonatuurlike wonder, soos die voorgaandes.

En hoe die HERE dit reggekry het, watter middele Hy moontlik hiervoor gebruik het, daaroor moet Egitpe en ook ons in die duister tas.

 

In elk geval toon hierdie plaag God se beheer oor sy skepping.

Selfs die son se bane is in sy hand.

God kan ook dit wat Hy destyds met die skepping aangeskakel het, weer afskakel.

Op ‘n manier kan mens sê dat God met die plae sy skepping in Egipteland terugneem.

Waar Hy in ses dae ‘n skitterende geskape werklikheid uitgerol het, is Hy nou besig om dit weer op te rol.

Hy het aan die begin – dink aan Genesis 1 – al die water geskep, wat gewemel het van lewende wesens.

Nou maak Hy dit bloed en neem alle lewe daaruit weg.

Waar Hy in die begin al die plante op aarde geskape het, neem Hy nou alle groenigheid uit Egipte weg.

Waar Hy in die begin allerhande diere geskape het, neem Hy hulle nou weg uit Egipte deur peste en plae.

Waar Hy as kroon op die skepping vir die mens geskape het, gaan Hy in Egipte alle eersgeborenes laat sterf.

En dan, wat betref ons teks – die negende plaag – waar Hy heeltemal aan die begin die lig geskape het – “Laat daar lig wees” (Gen 1:3) – neem Hy nou in Egipte die lig weg.

Egipte, wat Hy ook geskape het, word nou as ‘t ware deur die tien plae ‘ontskep’.

Die HERE neem terug wat Hy gegee het.

So toon Hy sy absolute beheer oor hierdie land.

Hy maak een groot bespotting van Egipte se afgode.

Nie Ra, en geen ander god, is verantwoordelik vir Egipte se bestaan en voortbestaan nie.

Net Hy, die lewende God, wat HERE genoem word.

 

Broers en susters, ook vandag is dit dieselfde God wat nog steeds alle geskape dinge in stand hou.

Water en land, en alles wat daarin en daarop wemel.

Die groenigheid van die veld.

Die mense wat hulle op aarde bevind.

En net so ook die lig, die son wat elke dag weer opkom.

Is jou lewe gevul met hierdie besef?

Die plae van Egipte leer ook vir jou en my dat God, wat alles so geskape het, dit weer kan oprol, as dit Hom behaag.

Jesaja skryf dat Hy die son, maan en sterre weer sal oprol soos mens ‘n boekrol oprol (Jes 34:4, sien ook Openb 6:14).

Hy kan dit doen om mense op hulle fondamente te skud.

Mense aanbid vandag nie meer ‘n god met die naam Ra nie.

Maar mense bou hulle lewens nog steeds rondom afgode.

Waarvan die eie ek dikwels die belangrikste is.

Of mense stel hulle vertroue op hulle finansies, of hulle gesondheid, of hulle familie, op hulle sekulêre wêreldbeeld.

Mense vertrou op die wetenskap, wat skynbaar onwankelbaar is.

Dit is alles dinge wat God skenk.

Onthou, Hy wat dit skenk, kan dit ook wegneem.

En dit doen Hy soms, sodat ons weer stilstaan by wie ons eintlik moet dien.

En Hy is genadig.

Net soos die plae maar tydelik was in Egipte, so straf Hy mense meestal tydelik.

Hy gee die kans om weer na Hom terug te keer, om werklik in afhanklikheid van Hom te lewe.

In die hede is God nog vol genade vir ‘n sondige wêreld.

 

Gelukkig is elkeen wat na Hom vlug, wat by Hom skuil, wat alles van Hom verwag.

Hy mag in die lig lewe.

Want, gemeente, die teenstelling in Egipte was groot.

Die Israeliete, sê die teks, het lig in hulle woonplekke gehad.

Weer het die ramp vir Gosen nie getref nie.

Was die god Ra dan wel in Gosen?

Of was dit ‘n ander God wat die lig in Gosen gegee het?

Dit was ‘n pynlike vraag wat die Egiptenaars moes beantwoord.

 

Al was hierdie dus ‘n psigologiese aanslag, al was daar nie direkte lewensgevaar vir Farao en die Egiptenaars nie, dis duidelik dat hierdie plaag ‘n mokerslag was.

Farao ontbied weer vir Moses, en nou is hy selfs meer toegeeflik as by die vorige plaag.

Nou mag selfs al die Israeliete die woestyn ingaan om die HERE te dien.

Net hulle kleinvee en beeste moes agterbly.

Farao is steeds meer toegeeflik, wil dit voorkom.

Na die vierde plaag mog Israel vir hulle God offer, solank hulle dit in Egipte gedoen het (Ex 8:25).

Daarna het hy hulle toegelaat om dit in die woestyn te gaan doen, solank hulle nie te ver sou weggaan nie (Ex 8:28).

Later staan hy die mans toe om te gaan, maar die vroue en kinders mog nie saam nie (Ex 10:10-11).

Nou laat hy dus almal toe om te gaan, solank hulle diere agterbly.

 

Net soos Farao, het elke mens die neiging om so met God te onderhandel.

Ek sal elke dag bid, solank ek nie elke Sondag kerk toe hoef te gaan nie.

Ek sal my tiendes vir die kerk gee, solank ek nie deur die week met kerklike take lastig geval word nie.

Ons dink ons kan gered word, onder die plae uitkom soos Farao gedink het, op eie terme en voorwaardes.

Maar weer eens is daar by Moses geen onderhandelingsruimte nie.

Geen klou mag agterbly nie!

As daar nie diere saamgaan nie, wat sal ons vir die HERE moet offer?

 

En dan, weer eens, vervies Farao hom.

Hy verhard sy hart, hy kom terug op sy besluit om hulle te laat trek.

Hy jaag Moses weg.

Hy waarsku hom selfs dat hy hom nooit weer wil sien nie.

Mog hy ooit weer by die paleis opdaag, sal hulle hom doodmaak, hierdie moeilikheidmaker.

 

Harde woorde.

Maar Moses se antwoord was ook hard.

Inderdaad, sê hy vir Farao, ek sal u nie weer sien nie.

Nou mag mens dink daar is ‘n teenstrydigheid in die Bybel, want twee hoofstukke verder lees ons, na die tiende plaag:

“Toe staan Farao in die nag op ... en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie. Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit ...” (Ex 12:30-31)

Is dit ‘n teenstrydigheid?

Want nou praat hy weer met Moses.

Mens kan daarvan uitgaan dat Moses bedoel het:

Ek sal nie weer uit eie beweging hier by die paleis opdaag nie.

Tot nou toe was die HERE genadig, deurdat Hy elke keer Moses en Aäron gestuur het na die paleis.

Hulle het die moeite gedoen.

Maar dis nou verby.

Die HERE het elke keer weer sy profete gestuur om te soebat.

Maar daar kom ‘n dag dat dit ook verby is.

 

En toe daal die duisternis op Egipte neer.

Duisternis word in die Bybel geassosieer met sonde, opstand, dood.

Die weg van die goddelose is soos duisternis (Spr 4:19a).

“die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Joh 3:19)

“mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Ef 4:18).

En 1 Johannes 1:6: As ons “in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.”
Die duisternis was so ook in Egipte die simbool vir Farao se verharde hart.

As God sy lig wegneem, dan bly mense agter in die algehele duisternis.

 

Behalwe vir die negende plaag, is die bekendste voorbeeld in die Bybel van duisternis wat op die aarde neergedaal het, natuurlik toe Christus aan die kruis gehang het.

En ook daar het dit alles te make gehad met sonde en straf.

Ook toe was dit nie ‘n toevallige natuurlike verskynsel nie.

Simbolies, tasbaar, het die HERE die aarde laat voel wat gebeur.

Dis sy straf wat neerdaal.

Hierdie keer op sy eie geliefde Seun.

Tydens daardie drie ure toe Hy die helse smarte en pyn moes verduur, omdat sy eie Vader Hom gestraf het.

Maar Hy het dit gedoen as Middelaar.

Nie vir sy eie sonde nie, maar vir die van jou en my.

En God het sy Middelaarsoffer aanvaar – want dit het weer lig geword.

En drie dae later, op die opstandingsdag, het nog ‘n helderder lig geskyn.

Oogverblindend.

Die engel by die gaf se voorkoms was soos weerlig, so helder.

 

Ja net soos duisternis het lig in die Bybel ‘n simboliese betekenis.

“God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.” (1 Joh 1:5)

Die apostel Petrus vergelyk die profetiese woord met “'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Petr 1:19).

God het julle uit die duisternis geroep “tot sy wonderbare lig” (1 Pet 2:9).

“Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel soos kinders van die lig.” (Ef 5:8)

En so is daar nog verskeie tekste.

 

Duisternis en lig.

Oordeel en genade.

Die Bybel is vol daarvan.

Tot in die laaste Bybelboek.

In Openbaring 16:10 lees ons: “En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister”.

Dieselfde gebeur hier met die duiwel en sy koninkryk as wat met Farao en Egipte gebeur het.

Duisternis sak neer.

Weer dieselfde plaag.

So is die plae van Egipte ’n voorbode vir die finale oordeel wat nog moet kom.

En die enigste manier om aan hierdie duisternis te ontsnap is om te glo in Hom wat die duisternis oorwin het, wat die Lig van die wêreld is, ons Here Jesus Christus.

Christus se koms na die aarde het die omgekeerde gebring as die negende plaag.

Jesaja het dit geprofeteer, en die evangelis Mattheüs noem dit: “die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan.” (Matt 4:16)

’n Heerlike profesie wat in ons Heiland vervul is.

Jy en ek mag dit op onsself toepas.

Het daardie groot lig oor jou lewe opgegaan, al lewe jy nou tans nog aan hierdie kant van die skaduwee van die dood?

Die stralende verheerlikte liggaam waarmee Hy opgestaan het, dit word ook beloof aan wie in Hom glo.

Skyn daardie lig reeds in jou hart?

Paulus bely dankbaar in 2 Korinthiërs: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Kor 4:6)

Vir elkeen wat op Hom vertrou, is reeds waar wat Johannes skryf: “die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds.” (1 Joh 2:8)

Soos daar steeds lig was in Gosen, in die Israeliete se huise, so mag ons ook vandag reeds in helder verligte huise lewe.

Sy lig skyn in ons huisgesinne, al is ons omring deur ’n donker wêreld.

Wat ’n genade!

Ons mag reeds in die Lig wandel!

Want ons behoort aan Hom, Hy wat gesê het:

“Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Joh 8:12)

Gemeente, broer, suster, volg Hom, soek Hom, die Bron van lig en krag, elke dag in jou lewe!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 36:3

Wet

Ps 119:39

Gebed

Skriflesing: Exodus 10:21-29

Ps 27:1

Skriflesing: 1 Johannes 1:1-7

Ps 27:4

Teks: Exodus 10:21-29

Preek

Ps 80:1,2,4,5,10

Gebed

Kollekte

Ps 97:6,7

Seën