Die Here van die Lewe konfronteer die Dood by die poort van Nain

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2025-11-02
Text: 
Lukas 7:11-17
Reference: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Ek’s so jammer om te hoor…  My innige meegevoel…  Ons bid vir julle…
Tipiese dinge wat ‘n mens sê by ‘n begrafnis, as jy langs ‘n oop graf staan.

Maar dit voel so leeg… dit voel asof sulke woorde niks help nie, leë woorde.  Wat is daar nou wat ‘n mens kan sê oor die dood.  Meer nog as dit onverwags is, as dit skielik is, as dit so tragies is.  Sommer net so uit die bloute gebeur so iets.

Maar ek mag vir julle die evangelie verkondig vandag:

 

Die Here van die Lewe konfronteer die Dood by die poort van Nain

Ons gaan kyk na 4 momente in die teks:

1. Die dood,

2. die meegevoel,

3. die opstanding, en

4. die reaksie.

 

1. Die dood

v11: Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan.  Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis.

Nain is ‘n dorpie so 30 km suidwes van Kapernaum.  Dit beteken dat Jesus en sy dissipels heeldag oppad was en teen die aand se kant daar aankom, net betyds om die skare wat uit die stad kom, teë te kom.  Die seun is waarskynlik daardie selfde dag oorlede, want volgens Joodse tradisie word ‘n mens dieselfde dag nog begrawe.

v12: Hy [Jesus] het naby die poort van die dorp gekom.  Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee.

Kan jy hierdie prentjie voor jou sien?  Hier kom die twee groepe op mekaar af… die een groep met Jesus vooraan, die ander groep met die weduwee vooraan, oppad om haar enigste seun te gaan begrawe.  Dis soos ‘n “kragmeting”, dood teenoor lewe.
Die een groep is oppad die stad uit om die seun te gaan begrawe.  Hy is gereed gemaak vir die begrafnis: hy is op ‘n draagbaar, gesalf en voorberei.  Nou-nou is die begrafnis, en dan sal hulle afsluit met die woorde uit Deuteronomium 4: "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here".   En dan sou hulle rou vir 30 dae.

En toe Jesus nader kom, sê hulle: “Kyk!”  Wat kom daar?  ‘n Begrafnisstoet.  Die geroep kon van ver af gehoor word.  Jy kan jou voorstel hoe die mense by Jesus ongemaklik raak. 
Wat doen ons nou…

Sommige vertalings het hier die woorde: "En kyk", "Behold".  Die teks sê vir ons "Let op": hierdie is nie ‘n gewone begrafnis nie, daar is iets baie erg hier aan die gang.  Dit is ‘n weduwee – iemand wie se man oorlede is – wie se seun nou ook dood is.  ‘n Jong man, Jesus noem hom later "Jong man".
Kan jy jou indink wat deur hierdie weduwee se gedagtes moes gegaan het?  Hoe die herinneringe in haar kop moes gemaal het: die mooi oomblikke met haar seun wat sy onthou; sy manier van lag; die manier hoe hy eet; sy stem as hy opgewonde is.  Mooi gedagtes.

Maar daarmee saam ook die hartseer gedagtes… van dit wat nooit sal wees nie.  Nooit sal sy hom sien verlief raak nie, nooit sal sy kleinkinders sien nie, nooit rustig sit en uitkyk oor sonsondergang op ‘n stil someraand nie.  Die toekoms hou niks meer in nie, dis leeg; en die verlede is vir altyd verby.

Nie alleen dit nie, maar die feit dat sy nou sonder man en seun is, plaas haar in ‘n baie moeilike sosiale en finansiële posisie.  Sy weet nie meer waarvan sy sal leef nie, wie vir haar sal sorg nie, sy staan letterlik op die rand van ‘n afgrond, sy het geen toekoms meer nie.

Ja, die dood is iets verskrikliks.  Die dood laat ons met niks.  Dit neem weg wat vir ons die kosbaarste is.  Enigiemand wat al by ‘n begrafnis was, ken die gevoel.  Die Woord wil hê ons moet hierdie weduwee se pyn voel.  Die Bybel draai nie doekies daaroor om nie.  Hierdie weduwee se hartseer is intens.

Dis selfs so dat, as die OT profete intense verdriet wou beskryf, dan sou hulle die dood van ‘n enigste seun gebruik om dit te beskryf.  Bv. Amos 8:10: "...Ek verander julle feeste in rou en al julle liedere in klaagsang,... Ek maak dit soos by die rou oor 'n enigste kind en die einde daarvan soos 'n bittere dag.

v12: "… daar was heelwat mense van die dorp saam met haar."

Dit was ‘n gewoonte in daardie tyd, by ‘n begrafnis was altyd ‘n skare en rouklaers.  By hierdie een sou daar ‘n groter skare wees omdat dit ‘n enigste seun was.
Die dood trek altyd ‘n skare.   Vandag nog.   Sommige families kom net bymekaar as iemand oorlede is.  Hoekom trek die dood mense so na mekaar toe?  Omdat ons weet dis ‘n einde.  Hierdie skare is deur die dood bymekaar gebring.

Die toneel is alte bekend in ons wêreld.  ‘n Wêreld waar God binnegekom het.  Want hier in ons teks sien ons nie ‘n skare rondom die dood nie, maar ‘n skare rondom die lewe. Hier is ‘n skare wat gevorm het rondom Jesus – die opstanding en die lewe!

Wat is die dood?  Die dood is die eindresultaat van die sonde, die kloof tussen die mens en God.  En daar is net Een wat daardie kloof tussen God en mens kan oorbrug – ‘n Middelaar – wat weer lewe kan gee.  Sien julle Hom aankom, geliefdes?

Geestelike dood kan ons dikwels soos fisies dood laat voel.   Die sonde maak nie net fisies dood nie, maar geestelik ook.  Ons voel leeg.  Geen vreugde nie.  Geen toekoms nie.  Maar dit is hoekom Christus gekom het oms ons liggaam en ons siel te red. 

2. Die meegevoel

v13: Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

Die begrafnisstoet is al amper by die begraafplaas, en dan lees ons in ons teks hierdie pragtige woorde: die Here sien haar.  So mooi!  "Toe die Here haar sien…". Jesus sien haar hartseer, Hy sien haar pyn, Hy sien haar stukkende hart, die gat wat die dood daarin geslaan het. Hy sien meer as wat ons dink!
Miskien sou die meeste van die skare by Jesus maak soos ons baie keer by begrafnisse maak – skuifel maar verby, vermy oogkontak.
Maar nie Jesus nie.  Jesus stop.  Jesus kyk.  Jesus sien.

Maar Jesus het haar nie net gesien nie.  Hier, vir die eerste keer in die evangelie, noem Lukas Hom "Here".  Jesus, die Here.  Hier is die Koning van die hemel wat sien.  Die Een met gesag sien.

Behoeftige mense en behoeftige situasies kan oral om ons wees en ons in die gesig staar, en tog, om een of ander rede, sien ons hulle nie raak nie.  Ons is te besig met ons eie dinge.  Maar nie Jesus nie.

Jesus is nie te besig om jou pyn raak te sien nie.  Jesus, die Here, het hierdie moeder gesien.  Hy het haar stukkende hart gesien, Hy het haar wanhoop gesien.  Die Here het haar raakgesien.

Ek hoop dat jy, as jy ‘n bietjie later hier uitstap, diep in jou hart sal weet dat die Here jou sien.  Hy sien jou seer.  Hy sien jou wanhoop.  Hy sien jou kommer, jou vrede…  Hy sien jou sonde.  En Hy het medelye, Hy het simpatie.

Hy betuig diep medelye.  Hy kry haar, en jou, innig jammer. Dit is sy hart vir sondaars en lydendes.  Medelye, die woord beteken "saam ly", saam swaarkry. As jy swaarkry, kry Hy swaar.  As jy ly, dan ly Hy saam met jou.
En let op, hier staan nie: Jesus het simpatie in die algemeen, met die skare, nie.  Maar hier staan: Jesus het haar innig jammer gekry.

En weet jy wat maak dit so besonder?  Want Jesus se simpatie, Jesus se jammer kry, troos nie net nie, dit maak beter!   
As die Here saam met jou ly; of beter nog; as die Here vir jou ly, dan gebeur daar iets.  Jesus se medelye is nie magteloos soos ons s’n nie. 

Hy kan iets doen, en Hy wil iets doen.

Baie van julle ken swaarkry.  Baie van julle is al deur diep en donker vallei.  Miskien het jy jou swaarkry al so diep weggebêre dat dit jou afsluit van ander.  Mense verstaan nie, dan ly jy maar alleen.

Maar daar is Iemand wat jou sien, wat wel voel, wat wel weet, wat kan luister en woorde van vertroosting kan spreek.  Jesus Christus, die Here.

Dit gaan nie net oor sy medelye vir een vrou in Palestina 2000 jaar gelede nie.  Maar dit is wie Christus is.  CS Lewis het eens gesê: "Wonderwerke is ‘n oorvertelling in klein letters van dieselfde storie wat in groot letters oor die hele wêreld geskryf is, te groot vir sommige van ons om dit te sien".

En let op wat sê Jesus.  Hy sê vir die vrou: "Moenie huil nie".  Wat bedoel Jesus: "Moenie huil nie"?  Hoekom mag sy nie huil nie?  Sy het alles verloor.  Maar kyk wat gebeur hier:  Jesus roep hierdie vrou om in Hom te glo.  Voordat sy mag sien, moet sy eers glo.  Jesus wek nie eerste haar seun op uit die dood nie, nee, Hy praat eers met die vrou.  Moenie huil nie.  En voor sy kan ophou huil, is dit nodig dat sy glo dat Jesus haar stukkende hart kan heelmaak.  Kan Jesus meer as net woorde bied? 

Baie godsdienste praat oor hoop.  Maar daar is net Een wat hoop gee.

 

3. Die opstanding

Kan Jesus meer as net woorde bied?  Ja, Hy kan!  Die pad van die lewe ontmoet die pad van die dood.  Hy bewys die waarheid van sy woorde van vertroosting.

v14: Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak

Het jy al gemerk, elke keer as jy woorde soos "nader gegaan" lees in die Bybel, dan is dit vlak voor Jesus met gesag optree.  Jesus ignoreer die feit dat die dooie liggaam onrein is (Num. 19:11, 16), Hy raak aan die draagbaar.   Verseker moes die mense geskok gewees het!  Hoekom doen hierdie rabbi so iets?  Hoekom maak hy Homself onrein?   Geen regdenkende Leviet of priester sou so iets doen nie.  Maar let mooi op wat gebeur hier as Jesus die draagbaar aanraak.  Jesus neem die onreinheid van die dood op homself (x2).  Maar die skare weet dit nog nie.  Alles stop, die draers stop, die skare stop.

v14: … Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!”

Jesus praat met die man deur die "sluier" van die dood.  dit is verstommend.   As dit enigiemand anders as Jesus was, sou dit of tragies of belaglik wees – wie kan met ‘n dooie praat?  Maar nie vir Jesus nie.   Hy roep die jong man op sy eie gesag.  Jesus sê nie eens: "In die naam van God" of so iets nie, nee, op sy eie gesag sê Hy eenvoudig die woorde: "Staan op".  God se woorde gee lewe.

Net ‘n woord!  Dit in teenstelling met die profete uit die OT.  Elia het homself drie maal oor die weduwee se seun uitgestrek in 1 Konings 17.  Elisa het 2 maal op die kind van die Sunamitiese vrou gaan lê in 2 Konings 4.  Maar vir Jesus is die dood sonder mag.  Net ‘n woord is genoeg: "Staan op", en die seun staan op.

Nou gebeur daar onmiddelik drie dinge:

1 v15: Die dooie het regop gesit.

Die dooie het regop gesit!   Maak dit sin?  Het jy al ooit so iets gesien?  Hierdie woord "gesit", die enigste ander plek in die Bybel waar ons dit teëkom is in Handelinge 9 waar Paulus die dogtertjie Tabita opwek uit die dood.

2 – en begin praat

Wat sou sy eerste woorde gewees het!  Hoe wonderlik moes dit gewees het toe sy ma sy stem weer hoor.  Toe hy weer met haar kon praat.  Kommunikasie beteken verhouding.

3 - En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee.

Dit is woord vir woord dieselfde as wat gebeur het in 1 Konings 17, in Sarfat, toe Elia die weduwee se seun uit die dood opgewek het en vir sy ma teruggegee het.  En Jesus gee nie net haar seun vir haar terug nie, Hy gee haar haar lewe terug, haar toekoms.  Van die drie dinge is hierdie die grootste seker, die mooiste.  Jesus gee die weduwee haar verhouding met haar seun terug, ‘n egte, lewende verhouding.  (Een groter as Elia is hier).

As ons dink aan opstaan uit die dood, ‘n oorlede persoon wat weer lewendig geword het, dan dink ons al gou: hoe werk dit?  Hoe werk dit biologies?  Hoe kan dit? 

Maar ek verseker jou die weduwee het op daardie oomblik nie daaroor gewonder nie.  Sy was nie verwonderd oor hoe dit gebeur het nie, maar dat dit gebeur het.   Netso moet ons nie in die eerste plek wonder oor hoe dit gebeur nie, ons moet verwonderd staan oor die hoop wat die opstanding gee.

Dis wat hier gebeur het met die weduwee.  Jy sien haar daar soos sy haar seun vashou, in trane, dankbaar.  Sy dink nie oor die biologie van die opstanding nie.  Sy dink aan verhoudings.  Sy dink aan die nuwe hoop wat sy gekry het.  Sy sien weer haar toekoms opleef, die dinge wat ‘n oomblik gelede verby was, daarna kan sy weer uitsien.  Die lewe eindig nie in die dood nie.  In Christus is die lewe ewig.  Die toekoms is nie verby … nee, dit het weer begin.  Die lewe het die dood oorwin.

Jesus gee haar nie net die oomblik nie, maar ‘n toekoms.  Jesus maak ‘n dooie toekoms lewend.  God wek die dooies op.  [As jy Hom vertrou, word jou sondes vergewe en die ewige lewe gegee.  Ons hoef nie lewend gemaak te word nie, ons het opstanding nodig.  Ons almal!]

En dit is presies wat die Here Jesus Christus vir jou en vir my gee.  Dit is wat Hy doen as Hy jou roep uit die dood na die lewe.  Jesus sê vir jou en vir my: "Staan op".  Hy gee lewe aan die dooies.  Hy is Heer oor die lewe.  Hy gee ‘n toekoms waar daar geen toekoms was nie.  Hy gee hoop waar daar net donker was.  Hy gee lewe waar daar net dood was.

En wat doen die mense, wat doen jy en ek?  Die reaksie?

 

4. Die reaksie

v16: Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof

Hulle herken die krag van ‘n profeet – en die krag van God in daardie profeet.  Vrees het almal beetgepak.  Wat sou jy doen as jy iemand ‘n dooie sien aanraak, en daardie dooie persoon staan op? 

En dit het daar reg voor hulle gebeur!  Hier is ‘n man met gesag oor die dood.  Maar, net God het mos sulke mag!  So, wat doen hulle?  Hulle het God geloof.  Hierdie is die einddoel van Christus se werk.  Dat God geloof word.  Dat God die eer kry.  Nie die weduwee nie, nie die jongman nie (hy was dood!). 

Sy wonderwerke was ‘n sigbare preek.

Dit is ‘n metafoor vir verlossing.  Verlossing kom deur genade.  Ons was dood.  Maar Hy het ons lewend gemaak.   En aan die einde van daardie redding is daar nie net ‘n dankbare weduwee nie, nie net ‘n dankbare individu nie, maar ‘n skare!  ‘n Hele skare wat God loof.  Jesus sien daardie een vrou, en die hele skare loof God.

En moenie dink: ja, dis ‘n mooi storie, nie.  ‘n Pragtige verhaal wat lank terug gebeur het.  Nee, hierdie man ons Here – Hy leef vandag!  Hierdie profeet uit Nasaret, wat met ‘n woord die dood ongedaan kan maak, praat vandag met jou en my.  Sy Woord is lewegewend.  En eendag sal hierdie woord wat hy vir die jongman gespreek het: "Staan op", tot almal gespreek word wat gesterf het terwyl hulle in Hom glo!   En almal sal uit die dood opstaan, en dan sal die oorwinningsroep van die kerk weerklink!  Dood, waar is jou angel?

Mag hierdie Man en sy werk ons vul met ‘n gevoel van ontsag – met ‘n heilige vrees vir sy mag en majesteit.  Een groter as Moses is hier!  God het sy volk besoek.

v16: … en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.

Ja!  Meer as ‘n profeet.  Hier is die Woord van God self.  Hulle was in die teenwoordigheid van ware mag.  Hulle was in die teenwoordigheid van Iemand wat gevul was met die Gees van God!  Hulle het dit geweet en hulle het neergebuig!

Dit is die Een voor wie julle vanoggend verskyn, geliefdes.  God het sy volk besoek. 

God het sy volk besoek.  Hierdie woord "besoek", dit word altyd gebruik in die Bybel wanneer God na sy volk toe kom in oordeel en in verlossing!

Of beter nog: oordeel deur verlossing!  Nou dink jy dalk: is daar enige oordeel in hierdie verhaal?  Wel, die jongman het gesterf omdat hy ‘n sondaar was.  Want die straf vir die sonde is die dood.  Vir hierdie jongman om te lewe, moet iemand anders die straf vir die sonde dra.

Hy sou self die oordeel van God se toorn moes dra.

Om hierdie eniggebore seun van die weduwee te red, sou Hy as die eniggebore seun moes sterf.  Die Vader en Hy sou die pyn en verdriet van verlies wat die weduwee gedra het, in ‘n veel dieper mate moes dra!  Daar is oordeel wat verlossing bring!  Die kruis is die oorwinning oor sonde, die opstanding die oorwinning oor die dood!  God het sy volk besoek!

Die laaste vers, v17: En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.

Weer eens: die nuus het versprei.  Het jy gehoor?  ‘n Profeet het gekom wat mense uit die dood opwek. 
Dis ek en jy wat dood was in ons sondes en oortredings, maar God het ons lewend gemaak!

Die wonderwerk wat daardie dag gebeur het, gebeur vandag nog, vir elkeen hier aan wie die Here nuwe lewe gegee het. 

Ewige lewe!  En daardie lewe wys uiteindelik na ewige vlees en bloed, ‘n nuwe skepping sonder gebrek of sonde.

Dit is ons hoop.  Dit is ons toekoms!  Glo dit!  En mag die omgewing gevul word met die nuus oor Hom!

Amen.

Liturgie: 

Lees:    Lukas 7 : 1 – 17      

Teks:     Lukas 7 : 11 – 17                       

Sing:     Psalm 92 : 1, 2   

            Psalm 119 : 29, 30      

            Psalm 116 : 1, 2, 5  

            Psalm 27 : 1, 2 

            Psalm 134 : 3, 4 (ampsdraersbevestiging)   

            Psalm 23 : 1, 2 (1ste beryming)