Daar is twee hooftemas wat ons die afgelope weke in Lukas gesien het wat vanoggend in ons gedeelte bymekaarkom: gesag en barmhartigheid.
Lukas toon Jesus se gesag in hierdie hoofstukke deurdat Hy die gesag het om te genees, dissipels te roep, melaatses te reinig, sondes te vergewe, en nou is Hy die gesag oor die sabbatdag.
Die tweede hooftema is barmhartigheid. Nadat Hy in hoofstuk 4:18-19 aangekondig het dat dit is waaroor sy bediening gaan, naamlik om die evangelie aan die armes te bring, . . . om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig, bewys Hy dan barmhartigheid aan die besetenes, die siekes, die melaatses, die verlamdes en Levi.
En dit is die dag wat afgesonder is vir die betoon van barmhartigheid. Hosea 6:6 sê: Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers. ’n Hart vir God en barmhartigheid teenoor mense. Amos 5:24: Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom. Miga 6:7-8 sê: Sal die HERE 'n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? Jeremia praat van sy vader Josia en sê vir Sallum in Jeremia 22: Is jy 'n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan. Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die HERE. (v.15-16)
Hosea, Amos, Miga en Jeremia wys dat diegene wie se hart God ken en gehoorsaam, diegene is wat anders optree. Genade. Ware genade. Barmhartigheid. 1 Johannes 3:17 sê: Maar wie die goed van die wêreld het en sy broer sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?
Die Seun van die Mens is Here van die Sabbat:
1. Gesag
2. Barmhartigheid
Gesag
En op die ... sabbat. Dit was nie sommer enige ander dag vir Jesus nie. Dit was 'n dag toe Hy gerus het soos God gerus het. Dit was 'n dag waarop Hy gerus het en daaraan gedink het dat sy volk slawe in Egipte was!
Lukas 4 beskryf dat Jesus soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge... (Lukas 4:16). Dit was 'n gewoonte! Dit behoort ‘n gewoonte te wees! Dit is hoe volmaakte gehoorsaamheid lyk. Dit is meer as 'n gewoonte, maar nie minder as dit nie.
En op hierdie lente- of vroeë somer-sabbatdag loop Jesus deur 'n paar koringlande. En Hy het deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en en met hulle hande uitgevrywe en geëet. (v. 1). Jy kan jou voorstel hoe hulle deurloop en die pitte neem en die koring eet. Daar is 'n gelukkige vryheid by die dissipels wat in skrille kontras staan met die kritiese, harde gees van die Fariseërs. Selfs in die kerk kan jy dikwels die verskil sien tussen die ware volgelinge van Christus, in die vreugde wat hulle in die Here het! Hulle vier fees, die Fariseërs vas. Hulle volg Jesus, die Fariseërs volg tradisies.
Die probleem lê nie by wat hulle doen nie. Deuteronomium 23:25 sê: As jy in die ongesnyde graan van jou naaste kom, mag jy met jou hand are afpluk; maar 'n sekel mag jy nie swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie. Jy kan maar ‘n paar are eet, maar moenie die land gaan oes nie.
Terwyl hulle dit doen, sê sommige van die Fariseërs: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? (v. 2) Die vraag is: Wat is geoorloof op die sabbatdag? En wie besluit? Die Fariseërs met eeue se tradisie, of Jesus? Wie het die gesag? En op wie se gesag laat Jesus hulle toe om dit te doen?
Die probleem was nie dat hulle graan van die land af eet nie, maar dat hulle dit op die sabbat doen. Die Fariseërs het dit as werk beskou. Dit was mos nie wettig om manna op die sabbat te versamel om te eet nie; net so, het hulle aangevoer, is die insamel van graan ook as teen die wet beskou. Trouens, volgens ‘n antieke Joodse wetboek, die Misjna, het hulle vier wette oortree – hulle het geoes, gedors, gewan en kos voorberei. 'n Viervoudige oortreding!
Waarvoor was hierdie wette? Dit was ekstra wette bo en behalwe om seker te maak dat niemand toegelaat word om die sabbat te oortree nie. Ons kan dit ook maklik doen. Voeg by, en verskerp God se wet, asof dit nie voldoende is nie. Ons kan maklik God se rus soos Hy dit vasgestel het, in menslike slawerny verander.
Jesus antwoord met die Skrif. Vers 3-4: En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees …
Het julle nie gelees nie?! Het julle jul Bybels gelees? Hier kom julle na My toe met die wet gebind op julle koppe en om julle polse vasgemaak. Het julle dit gelees?! Dit was 'n nie-so-subtiele teregwysing aan die godsdienstige leiers wat vol vertroue was in hul kennis van die Skrif. Allerhande tradisies wat net as vanselfsprekend aanvaar word, maar wat nooit met die Skrif vergelyk word nie.
Liewe gemeente, dit is moontlik om die Skrif noukeurig te lees, om die Bybel van voor tot agter te ken, om dit woordeliks aan te haal en enige eksamen daaroor te slaag – en tog die ware betekenis daarvan heeltemal te mis! Natuurlik het hulle dit gelees, maar hulle het dit nooit verstaan nie! Hulle was blinde gidse! Hulle was nie bekommerd oor God se heiligheid nie; hulle was bekommerd oor hul eie reputasies. Hulle was nie bekommerd oor die liefde vir hul naaste nie, maar oor hulself!
… wat Dawid gedoen het nie – toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was – hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?
Dit is 'n klassieke Hebreeuse manier om van die mindere na die grotere te redeneer. Die verhaal word in 1 Samuel 21:1-6 gevind. Dawid en sy manne vlug vir Saul, en hulle kom in Nob en het brood nodig, en heilige brood (toonbrode) word aan hom gegee om te eet. Dit was brood wat elke sabbat vervang sou word. 12 brode wat God se voorsiening vir hierdie volk verteenwoordig het. God se sorg! 'n Simbool dat God sou voorsien.
Die toonbrode was heilig, en slegs vir die priester. Was dit nou wettig? NEE! Jesus sê: hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Jesus erken dat dit 'n skending van die letter van die wet van Moses is. Die vraag is: wat kom eerste, offer of barmhartigheid?
Jesus wil hê hulle moet die vraag anders sien. Die wet gaan nie oor die neem van lewe nie, maar oor die redding van lewe. Dit is waarvoor die sabbat was. Vir die herstel van lewe. Om ons te verkwik! Dawid en sy manne was uitgehonger. En in Dawid se geval was daar diegene wat probeer het om lewe te neem, en diegene wat lewe bewaar. Saul en sy manne probeer om lewe te neem. Dawid bewaar lewe. So wil die Fariseërs lewe neem, maar Jesus gee lewe.
Menslike nood moet nie onderworpe wees aan koue wettisisme nie.
Maar daar is 'n selfs dieper punt, en dit is die verhouding tussen Jesus en Dawid. Die Fariseërs was meer as gewillig om Dawid te verdedig vir sy dade, wat volgens ‘n spesifieke wet onwettig was, omdat Dawid die gesalfde van die Here was. Maar hulle wou Jesus en sy dissipels veroordeel, en tog was daar geen spesifieke wet waarop hulle kon wys nie. Dawid het slegs die belofte ontvang, maar Jesus was die vervulling van daardie beloftes! Hy was die Here van die Sabbat. Een groter as Dawid was hier!
Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die Sabbat. Dit is 'n verstommende bewering. Hy is die Here van die sabbat en in daardie sin is Hy die een wat die uiteindelike sabbatsrus bring! Hy het rus gebring van die slawerny van die sonde. Rus van die slawerny om onsself te probeer red. Om te dink dat ons vir onsself moet sorg. Rus van die slawerny van werk, of geld, of skool, of ons selfbeeld! RUS!
Jesus sê nie dat die sabbat nie saak maak nie. Hy debatteer nie oor die korrekte gewoonte of gebruik nie, maar Hy veroordeel die misbruik van die sabbat!
In 'n evangelisasiediagram was daar 'n prentjie met al die dinge wat jy doen met sirkels daaromheen. En as jy by een betrokke is, moes jy 'n “x” in daardie sirkel plaas. Die kruis en die kerk was net een van daardie sirkels. Op die volgende bladsy was die kruis en die kerk die middelpunt van dit alles, en al die ander sirkels was daaromheen gesentreer. Die twee diagramme was bedoel om die verskil te illustreer tussen Jesus as deel van ons lewens en die erkenning van Jesus as die middelpunt en Here van die lewe wat alle ander dinge oriënteer.
Dit is waarvoor die sabbat was. 'n Weeklikse heroriëntasie. Is dit wat gebeur? Soos in die diagram, is dit so dat Jesus sy plek op die troon inneem en die Sabbat op sy gepaste plek plaas. Hy is die Een wat die Here van die Sabbat is – in sy koninkryk en onder sy gesag alleen is daar ware rus. Laat ons ons harte, wat op selfgeregtigheid gerig is, onderwerp om ons rus in Hom te vind.
Barmhartigheid
En op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor. Hier sien ons weer eens die gewoonte van Jesus. En hier is 'n man met 'n verdorde hand. Dit was duidelik dat iemand genesing nodig gehad het, maar dit was nie krities nie. Dit kon tot môre wag. Dit was die Fariseërs se houding wat betref die sabbat. As dit nie nodig was nie, dan moes dit wag. Slegs noodsaaklike werk moes gedoen word. Dus, as daardie persoon in gevaar was en sy lewe of ledemaat kon verloor, sou hulle geen probleem met genesing gehad het nie. Maar hier was iemand wie se situasie nie teen môre sou verander nie.
Met dit in gedagte staan daar in vers 7: En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die Sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind. Die woord hier vir “in die oog hou” of “dophou” (2020) is om te bespied, of om “uit die hoek van jou oog te waak”. Om met afwagting te waak. Wat sal Jesus doen? Hier het hulle onder die prediking van die Woord gesit. Onder die mees geseënde leermeester, net op soek na kritiek. As jy elke week kom soek na iets verkeerds met die prediking, sal jy dit vind. Ek vind dit, en ek is die prediker. Maar jy sal glad nie daarby baat vind nie.
Dit is hartverskeurend. Hier is selfbewuste godsdienstige manne, totaal en al verlore, totaal en al onbarmhartig. Totaal en al verslaaf – aan 'n rusdag.
Ons lees: Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En Hy het opgestaan. Dit is die vervulling van die profesie in hoofstuk 2:34: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek word …, sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word. Jy kan nie truuks met Jesus speel nie. Hy ken jou gedagtes. Hy het hulle gedagtes geken. En Hy het regdeur hulle gesien. Ironies genoeg wou hulle Hom op die sabbat seermaak, maar hulle wou nie hê Hy moes op die sabbat genees nie. Hulle het nie omgegee om ander seer te maak nie, solank jy nie die uiterlike reëls oortree het nie. En hoewel hulle in die geheim wil funksioneer, is Hy openlik daaroor.
En omdat Hy hulle gedagtes ken, konfronteer Hy hulle. Hy kon die konflik maklik vermy het deur niks te doen nie. Maar Hy doen dit nie. Hy roep die man na vore, reg in die middel. Stel jou voor hoe daardie man moes gevoel het, met die verdorde hand? Om voor almal na vore geroep te word! Dis reeds genoeg verleentheid wanneer niks fout is nie, maar verbeel jou jou hand was heeltemal verdord.
En Hy sê: Ek sal aan julle ‘n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat – om goed te doen of kwaad te doen; om ‘n lewe te red of óm te bring? Is dit beter om te doen wat ek gaan doen en te genees, of om hierdie man in ellende te laat? Om sy lewe en lewensonderhoud te red (dit was immers sy regterarm), of te vernietig?
Liewe gemeente, ek hoop julle sien dat die goeie wat weggelaat word, is kwaad wat gepleeg word. Om te weier om genade te betoon, is 'n openbaring van verdoemenis. Weer eens kom dit hierop neer: waarvoor is die sabbat? Vir wie is dit? Dit is die belangrikste vraag. As ons dit verstaan, dan sal ons verstaan wat geoorloof is op die sabbat. Dit is sodat die genade van God ontvang en gedeel kan word. Sodat ons die begin van die nuwe hemel en aarde kan vier. Herstel in Christus.
En nadat Hy almal rondom aangekyk het ... Ek sou ek nie graag aan die ander kant van daardie kyk wou wees nie. Hy wag vir hulle om te antwoord. Niks. Hul stilte veroordeel hulle. Dus sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En Hy het dit gedoen; en sy hand is herstel. Hy het die man beveel om iets onmoontliks te doen in sy huidige toestand. Hy kon nie! Is dit 'n wrede grap soos wat 'n boelie op 'n kreupele persoon sou speel?! Deur te sê: “Staan op en loop”, wetende dat hy nie kon nie?!
Dit is Jesus. Jesus het beide die opdrag en die vermoë gegee om dit uit te voer, en die man het die moeite gedoen en is genees.
Wat Jesus jou elke dag beveel om te doen, is onmoontlik, geliefdes. Maar ek het nie 'n verdorde arm nie, sê jy?! Ja, maar jy het 'n verdorde hart! 'n Hart wat nie kan optree nie. Jy is nie in staat om te glo nie, maar in staat gestel om te glo! Om vir Hom te leef, ander te aanbid en lief te hê.
Om ander werklik lief te hê, was onmoontlik vir die Fariseërs. Hulle was, soos ons bely, geneig tot alle kwaad en nie in staat om iets goeds te doen nie. Hy beveel ons om ons te bekeer en te glo, om herstel te word, maar Hy gee ons ook die krag om dit te doen. Die man kon maklik gesê het: Ek kan nie. Ons kon dit selfs in ons lewe gesê het! Ek kan my nie bekeer nie. Ek kan nie verander nie. Genesing is nie meer moontlik nie. Maar dit is die Here van die sabbat voor jou. Die Here van herstel, genesende lewe, skepping, vryheid! Hy sê: glo! Hy neem daardie verdorde hart en in die daad van jou hand van geloof na Hom uitsteek, genees Hy jou.
Die man het gehoorsaam. Hy het geloof in die woord van Christus gehad, en hy is genees. Maar kon diegene rondom hom bly wees? Natuurlik nie. Hoekom? Omdat hulle vasgevang was in hul tradisies! Ons lees in vers 11: En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen. Iemand is op die sabbat tot lewe opgewek, en hulle wonder wat om aan Jesus te doen.
Dit is so hartseer. So pateties. So 'n gebrek aan liefde. As hulle maar net na Jesaja geluister het en hom verstaan het toe hy in hoofstuk 56:1-2 gesê het: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word. Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie.
Sabbatsonderhouding beteken om goed te doen in plaas van kwaad, om op lewensgewende maniere op te tree in plaas daarvan om skade te veroorsaak of skade ongemerk te laat verbygaan. Dit is die vryheid van Christus om God en ander vrylik lief te hê. Om barmhartigheid te toon! Ja, Hy is die Here van die sabbat. Hy het ons rus gegee! Hoe kan ons dit nie met ander deel nie! Ware geloof bring 'n barmhartige hart voort. Die Fariseërs het nooit genade aanvaar nie. Hulle kon dit nie toon nie.
Laat ek 'n paar vrae vra voordat ek afsluit: Hoe sou die sabbat lyk as ons minder daaraan sou dink as individuele selfversorging en meer as onderwerping aan die evangelie in ons lewe saam as 'n gemeenskap? As ons minder daaraan sou dink as 'n tyd om vry te wees van verantwoordelikhede en om "niks te doen nie" en meer as 'n tyd om op lewensgewende maniere op te tree, beide vir onsself en vir ander? As Jesus werklik Here van ons sabbat is, hoe sou dit lyk?
Die ritme van werk en rus wat in die skepping ingebed is, was nie vir enige individu nie, maar tot die voordeel van die menslike gemeenskap. In Exodus 23:12 is die sabbatsrus nie net vir die Hebreeuse volk as God se uitverkorenes nie, maar ook vir hulle diere en hulle slawe en die vreemdelinge wat onder hulle woon. Dit gaan daaroor om 'n verbond-teenkultuur van rus in 'n verslaafde samelewing te wees.
Ons moet die soort mense wees wat verstaan dat God barmhartigheid vereis, nie offerande nie. Om Hom lief te hê deur Hom te aanbid en ander lief te hê. Ons moet hiervoor plek maak in ons skedules. Dit is duur. Dit is ongerieflik. Dit kan spanning en konflik bring wat nederig maak. Maar dit sal natuurlik wees vir die Christen. En hierdie soort radikale barmhartigheid, in gehoorsaamheid aan die Here van die sabbat, sal heeltemal soos ‘n teenkultuur lyk. Dit mag selfs vir die Fariseër soos werk lyk!
Gesag en barmhartigheid. Dit is 'n dag om die gesag van God te eerbiedig deur die barmhartigheid van God te doen! Die sabbat was nooit veronderstel om slawe van mense te maak nie, maar om hulle vry te maak! Dit is die Here van die sabbat wat gekom het!
En laastens, as jy ongelowig is. Daar is genade vir jou. In Christus.
Hy sal jou diepste behoefte vervul.
Hy sal jou diepste behoefte vervul deur die verdorde hart te herstel.
Hy sal jou diepste behoefte vervul deur jou die kerk as moeder te gee.
Hy sal jou diepste behoefte vervul deur hoop en lig in die duisternis te gee.
Hy sal jou herstel.
Glo slegs in Hom as Here van die sabbat, en 'n sabbat vir sondaars.
Amen.